Bron: Vox Viva. 3 bladsye.

Tekens, simbole en rituele

Die kreatiewe benutting van allerlei tekens, simbole en rituele in eredienste en kerkvergaderings (van die N.G. Kerk) as ‘n poging om die kerk te vernuwe en die Christelike geloof relevant te maak in die sogenaamde “post-moderne konteks”, is nie meer vreemd nie. Dinge soos liturgiese kerse, kleure en ampsdrag wat by die “kerklike jaar” pas, spesiale feesdae soos Palmsondag en Aswoensdag, kerse by die doop, allerlei rituele soos koordanse, allerlei simbole en die aanwending daarvan, passiespele, simboliese kruisigings van Christus, kerse by begrafnisse ensovoorts is nou aanvaarbaar in talle N.G. gemeentes en selfs kerkvergaderings. Dit is duidelik dat daar aan hierdie simbole ’n bepaalde religieuse waarde toegeken word, anders sou die aanwending daarvan geen sin hê nie. Dit is egter moeilik om te peil wát hierdie waarde is. Kortom sou gesê kon word dat dit as hulpmiddel (by die Woord) dien om die Evangelie te kommunikeer aan die post-moderne gevoelsmens wat op sintuiglike waarneming ingestel is. ’n Blik op die ontwikkeling van hierdie simbole binne hoogkerklike kringe, bring die volgende aan die lig:

Kerse en hul liturgiese funksie:🔗

In die Christelike erediens is kerse veral as simbole op die altaar gebruik (sedert die 12de eeu). In die liturgiese diens is hulle, afhangende van die aard van die diens, op verskillende momente aangesteek. So het die aansteek van die kers byvoorbeeld die begin van die mis aangedui. Dankofferkerse (votive candles) word voor standbeelde of ikone in die kerk aangesteek as persoonlike offers. Kerse is as heilig en vol krag verstaan. Die besit daarvan het die lekestand bemagtig. So is prosessiekerse gedra om Jesus te verteenwoordig. Die soeke na geestelike kommunikasie met God het deur kerse en die uitbeelding van tonele uit die lewe van Jesus geskied. Selfs met liturgiese danse.

Olie salwing:🔗

Die salwing met olie is ‘n seremoniële ritueel wat mense skei van die profane en wat die instorting van goddelike genade bemiddel. In die Middeleeuse Christelike kerk is sakramenteel hiervan gebruik gemaak by die doop, die konfirmasie, die ordening van ampsdraers en die laaste olie salwing, of die salwing van die siekes. Die salwing vind plaas op die voorkop en die hande van die siekes. Die salwing by die doop het in verband gestaan met die uitdrywing van duiwels, waarna die “gereinigde” kind dan met “gewyde” water gedoop is.

Die kerklike jaar:🔗

Die sogenaamde “liturgiese jaar” begin op die eerste Sondag van Advent, dit wil sê op die Sondag naaste aan die Fees van die Heilige Andreas (30 November). Andreas was die broer van Petrus. Advent kom van die Latynse “adventus” wat “koms” beteken. In hierdie sin die koms van Christus. Die eerste verwysings na hierdie deel van die liturgiese jaar kom uit die sesde eeu. Die sober karakter van hierdie feestyd word uitgedruk deur die gebruik van pers as liturgiese kleur. Daar is vier Sondae in Advent en een of twee na Kersfees, wat die gaping na Epifanie (6 Januarie) oorbrug. Epifanie kom van die Griekse woord wat “manifestasie” beteken. Dit staan dus in verband met Christus se manifestasie aan heidene – die besoek van die wyse manne uit die ooste. Die Sondae van die jaar begin met die Sondag ná Epifanie en hulle word dienooreenkomstig getel. Dit sluit die lydenssondae tot by Pinkstersondag egter uit. Daar is gevolglik 33 of 34 Sondae in die jaar. (Dit is veelseggend dat die Heidelbergse Kategismus 52 Sondae erken.) Daar is dus 6 lydenssondae. Dan volg die 5 Sondae na die Paasfees tot by Hemelvaart en die Sondag wat daarop volg. En dan kom Pinkstersondag. Hierop volg die Drie-enigheid Sondag.

Palmsondag:🔗

(Dominica in Palmis). Dit is die Sondag voor paasfees, wat die begin is van die Heilige Week. Die seremonies op hierdie Sondag sluit in die seën van die palms en die prosessie wat die intog van Christus in Jerusalem simboliseer. Die palms word gedra as simbole van Christus se triomf-intog, sowel as beskerming teen die duiwel. Dikwels het die prosessie van een kerk na ‘n ander beweeg, met ‘n kruis, ‘n evangelie, ‘n figuur wat as verteenwoordigend van Chrístus, in die prosessie gedra is. Soms word die geseënde sakrament ook in die prosessie gedra. In die huidige ritueel word die gemeente met die palms geseën, indien moontlik in ‘n ander gebou as dié een waarin die mis gevier sal word.

Aswoensdag:🔗

Aswoensdag is die eerste dag van die lydingstyd, ses en ‘n half weke (40 dae) voor paasfees. Die oorsprong lê min of meer in die 7de eeu. In die Rooms Katolieke tradisie was hierdie dag dalk al in die 10de eeu geassosieer met ‘n algemene boetedoening van die gemeente. Dit is gesimboliseer deur die strooi van as op die koppe van die geestelikes en leke. Hierdie ritueel word steeds deur die Roomse missaal (misboek) sowel as die Anglikaanse Prayer books voorgeskryf. Dit gaan gewoonlik gepaard met vas.

Liturgiese Kleure:🔗

Aanwysings om sekere kleure vir die stolas (togas) en kerklike ornamente te gebruik, wat saamhang met die kerklike jaar, kom in die 12de eeu vir die eerste keer voor. Pous Innocentius III verwys daarna in sy De sacro altaris mysterio. Die werklike vasstelling van die liturgiese kleur is van ‘n baie later datum. Die kleure wat in die moderne Roomse liturgiese boeke voorgeskryf word is wit, rooi, groen, pers en swart. Wit word gebruik op bv. Drie-eenheidsondag, op die feeste van Christus, op Corpus Christi. (Terloops, die fees van Corpus Christi val op die Donderdag na Drie-eenheidsondag. Dit bring die gawe van die instelling van die Heilige Eucharistie in herinnering. Dit dateer uit die 13de eeu. Rooi word gebruik op bv. Pinkstersondag en op die feeste van die Apostels (behalwe Johannes) en die martelare en sedert 1970 ook op Palmsondag en Goeie Vrydag. Groen word op Sondae gebruik en op die weeksdae tussen Epifanie en die begin van die lydingstyd., asook tussen Drie-eenheidsondag en Advent. Pers word in die lydens- en adventstyd gebruik. Soms ook by begrafnisse. Swart word by die mis en by die dienste vir afgestorwenes gebruik.

Aanvanklik was die gebruik van tekens, simbole en rituele (binne die N.G. Kerk) hoofsaaklik deur BUVTON (vanuit Stellenbosch) aangevuur en in 2002 deur Algemeen-Sinodale besluite vasgelê. Deur middel van die gebruik van die “Leesrooster” asook die “liturgiese voorstelle” wat die Leesrooster vergesel, word die gebruik van simbole en rituele wyd bekend gestel en aanbeveel. Die Leesrooster is gebaseer op die internasionale “Revised Common Lectionary” uit Rooms-Anglikaanse kringe en volgens die samestellers van 2004 se weergawe van die Leesrooster is die bedoeling om “lidmate die vastigheid te gee wat in die tradisie van die kerk en in die ekumene gewortel is.” (Voorwoord). Dit is duidelik dat met “tradisie” nie die gereformeerde belydenis bedoel word nie. Met “kerk” word ook nie die kerke van gereformeerde belydenis bedoel nie en met “vastigheid” word nie die eenheid in die een ware geloof (Sondag 21 HK) bedoel nie! Nee, hier kom veral die nie-reformatoriese hoogkerklike tradisies in die visier. Die huidige liturgiese beweging moedig ook leraars aan om weekliks “kreatief” met die liturgie om te gaan en sodoende letterlik nuwe liturgieë te skep. Sodoende is elke Sondag se liturgie vir die gemeente ’n verrassing. Dit blyk dat die huidige vernuwingsproses in verband staan met die liturgiese beweging van die eerste helfte van die 20ste eeu (wat ‘n groot impak op sommige kerke gemaak het) asook met ‘n heroriëntering aan die Ortodokse, Roomse en Anglikaanse tradisies, waar ‘n omvattende teologie rondom simbole en rituele opgebou is. ’n Teologie wat deur die Reformasie ter syde gestel is – op goeie gronde.

Die reformatore het geoordeel dat die gebruik van simbole en rituele onskriftuurlik is en nie deur die eerste kerk gebruik was nie. Dit was ’n latere ontwikkeling júís uit die tyd toe die kerk begin verval het. Om in 2004 die kerk relevant te vernuwe met middele wat juis die vervalle Middeleeuse kerk gekenmerk het, is riskant en onverantwoord. Die reformatore het vasgehou aan die absolute genoegsaamheid, duidelikheid (claritas – helderheid) en verstaanbaarheid (perspicuitas) van die Skrif soos dit in sy heilshistoriese verbondenheid met Christus lewend verkondig word in die gemeente. Die Bybelse openbaring word as volkome duidelik en genoegsaam geag en het nie nodig om deur mensgemaakte middele ondersteun te word nie. Dit is nie die mens wat die Bybel duidelik maak nie. Die Bybel maak homself duidelik. Die reformatore het aan Christus, wat lewend teenwoordig is in die erediens deur Sy Gees en Woord, genoeg gehad. Die teenwoordigheid en volheid van Christus het nie die bemiddeling van simbole nodig nie. Die belydenis van Chalcedon (451n.C.) dat Christus se goddelike en menslike nature nie geskei kan word nie, is dus deur die Reformasie gehandhaaf. (Sien Artikel 19 NGB). Hy laat Hom nie in ’n simbool vasvang nie! Om drie kerse aan te steek as simbool van die teenwoordigheid van die Drie-enige God is, om dit vanuit reformatoriese hoek te sien, onhoudbaar. Hoe ernstig hierdie saak vir die gereformeerde gelowiges was, blyk uit die feit dat hulle bereid was om marteldode te sterf vir hul oortuiging van die Sola Scriptura (Die Woord alleen) beginsel.

Een en twintigste eeuse gemeentes wat met volle geloofsoortuiging gereformeerd wil bly en wil vashou aan die Woord en die Drie Formuliere van Eenheid, behoort dus te waak teen énige poging om die duidelikheid en genoegsaamheid van die Woord te ondermyn. Christus is steeds in staat om deur Sy Woord en Gees met post-moderne mense te kommunikeer sónder die bemiddeling van mensontwerpte hulpmiddels.

Die volgende drie boekies van K. Deddens, wat handel oor die geskiedenis van die liturgie, kan met groot vrug gelees word: Het begon in Jeruzalem (1976), Het liep uit op Trente (1981), en Herstel kwam uit Straatsburg (1986). Al drie boekies is uitgegee in Goes deur Oosterbaan & Le Cointre B.V.