Hoorder onder hoorders?
Hoorder onder hoorders?
Sou dit oordrewe wees om te sê dat ons vandag (in sommige kerke van gereformeerde belydenis) ’n krisis in ampsbesef beleef? Dink maar aan die profielverandering wat die leraar die afgelope dekade ondergaan het. Dat die leraar ’n ampsdraer is, raak al hoe meer buite sig. Veel eerder word die leraar as ’n professionele persoon gesien wat vanuit ’n bepaalde deskundigheid in die gemeente voorgaan. ’n Mens sien dit byvoorbeeld in die wyse waarop “vakatures” geadverteer word en hoedat ’n leraar “aangestel” word in ’n “pos.” Al meer beklee die leraar maar net ’n beroep tussen sovele ander beroepe en het predikantskap sy sakrale karakter begin verloor.
Te same hiermee word ook sig verloor op die amptelike karakter van die bediening van die Woord. Die preek verloor al meer sy verkondigende karakter en verander van bediening van die Woord na ’n gesprek oor die Woord. ’n Gesprek waar die dominee saam met die gemeente soek na die betekenis van die Skrif. Die leraar wat reken dat hy met ’n boodskap van God kom, oorskat homself. So word geredeneer. Veel eerder is hy slegs maar iemand wat meer deskundigheid het as ander gemeentelede. Terselfdertyd is die lidmate “mondig” en wil self van dinge oortuig raak en nie outoritêr oorval word met ’n stuk gesagvolle verkondiging nie. Die leraar is nie meer ’n geroepe dienaar van God wat die Woord in Sy Naam spreek sodat dit amptelike bediening van die Woord is nie. Die leraar is nie die amptelike verkondiger/aankondiger van die heil nie, maar eerder ’n hoorder onder die hoorders – iemand wat met behulp van bepaalde kundigheid die lidmate moet “help” om self die Woord te ontdek. Die leraar word sodoende ’n skakel in ’n kommunikasiekringloop. Waar die gemeente besig is met “groepswerk” en waar elkeen self met die Bybel kommunikeer, word die leraar die persoon wat hierdie prosesse moet fasiliteer en die lidmate help Bybellees. Uitdrukkings soos “bediening van die versoening” en “verkondiging” het by die era van die Apostels gepas, maar nie meer by moderne predikante nie. Predikante hoor ook maar net tweedehands. Predikante lê net die Skrif uit, lig dit toe, adviseer en bemoedig.
Hierdie beskouing is egter lynreg in stryd met die Skrif en die wyse waarop die Reformatore oor die amp van leraar gedink het. Indien die Here reformasie in hedendaagse gereformeerde kerke gee, sal dit ook beteken dat daar weer gelet word op die manier waarop die Bybel oor die amp praat en sal daar teruggekeer word na Skriftuurlike ampsbesef.
Volgens die Skrif is die leraar nie op die kansel besig as “hoorder onder hoorders” nie, maar as ’n geroepe dienaar van Christus wat met Goddelike gesag die Woord bedien. Die begrip “amp” is immers ten nouste gekoppel aan dienswerk en die dienskneggestalte van die geroepe persoon. Geen wonder dat Luther van sy eie prediking kon sê dat God self gespreek het en dat hy (Luther) ’n apostel en profeet van Christus kon wees! Hierdie tipe krasse uitspraak kom voort vanuit die Reformatore se oortuiging dat die Herder in die samekoms van Sy gemeente werklik Sy stem wil laat hoor en dat Hy daartoe Sy gesante roep en gebruik. Vandaar Bullinger se woorde (wat ook in die Tweede Helvetiese Konfessie opgeneem is): “Die prediking van die Woord van God IS die Woord van God.” Die Here se mondstuk verkondig immers amptelik die Woord in die Naam van die HERE. Die uitdrukking “in die Naam van” het in die Nuwe Testament ’n ryke betekenisinhoud. Dit beteken in opdrag van (2 Tes. 3:6), met beroep op (vgl. Joh. 16:26), in gehoorsaamheid aan (vgl. Mat. 18:20), in die krag van (vgl. Hand. 4:7) en op gesag van (vgl. Joh. 5:43).
Die amptelike Woordbediening is dus nie iets wat slegs tot die Apostels se prediking beperk was nie. So besweer Paulus (Apostel) vir Timoteus (nie-Apostel): “Verkondig die Woord” (2 Tim. 2:4). Die Griekse werkwoord “kerrusein” word gebruik. Paulus weet ook van talle ander predikers wat Christus verkondig (“kerussousin”) met goeie bedoelings (Fil. 1:15). Ook die “bediening van die versoening” was nie eksklusief aan die Apostels toevertrou nie. Paulus gebruik in hierdie verband die woordjie “ons” (2 Kor. 5: 18-19).
Die Reformatore het ook altyd die prediking as genademiddel verstaan. Dit behaag immers God om deur die dwaasheid van die prediking diegene te red wat glo (1 Kor. 1:21) en hóé sal iemand in Hom glo sonder dat hy van Hom gehoor het en hóé sal iemand hoor sonder een wat preek? (Rom. 10:14). Die gesagvolle verkondiging van die Woord is die middel waardeur die Heilige Gees die geloof in ons werk (Sondag 25 HK). Die Woordbediening in die samekoms van die gemeente dra dus ’n amptelike karakter. Hóé deskundig die leraar ook al is, tree hy nie op as ’n deskundige nie en nog minder as iemand wat ’n professionele beroep beklee. Die dominee staan op die kansel as ’n ampsdraer, ’n dienaar van Christus. Christus het aan die leraar bepaalde gawes gegee (1 Tim. 4:14, 2 Tim. 2:2). Die gemeente het hierdie gawes raakgesien (vgl. Hand 6:3) en die leraar verkies tot die amp (vgl. Hand 6:5). Só het Gód se keuse bekend geword. Kragtens hierdie roeping staan die leraar op die kansel as gesant van Christus (vgl. 2 Kor. 5:20). Die predikant is geen selfaangestelde “prediker” of “geroepene” nie. Iemand soos Martin Bucer (reformator van Straatsburg) het dan ook baie klem gelê op Goddelike roeping van die dienaar van die Woord. Hy het verwys na Rom. 10:15: “Hoe sal iemand preek indien hy nie gestuur is nie?” Die prediker kom nie op eie (selfaangestelde) gesag nie, maar in opdrag van Christus.
Iets van hierdie Skrifgefundeerde ampsbesef sal weer in gereformeerde kerke posvat wanneer die Here Sy kerk reformeer en terugbring na die Skrif alleen (sola scriptura). Indien leraars hierop attent is, kan hulle self veel doen om nie ampsbesef verder af te breek nie, maar eerder te herstel tot Bybelse formaat. Leraars kan byvoorbeeld daarop let hoe hulle na hulle eie arbeid verwys. Uitdrukkings (tydens die erediens) soos die volgende moet doelbewus vermy word: “Ek wil vanoggend saam met u stilstaan by…”, “Ek wil vanoggend enkele gedagtes met u deel..”, “Ek wil met u gesels oor…”, “Ons gaan vanoggend saam nadink oor..” Leraars moet daarteen waak om geselsies oor die Woord te hou en begin om die versoening met Bybelse gesag te bedien. Die Boodskap van Christus moet verkondig word. Dan sou uitdrukkings soos “Ek bedien vanoggend Gods Woord aan u” of “Luister na die verkondiging van die Evangelie” of “Ek mag vanoggend die versoening aan u bedien” meer gepas wees.
Wat ’n hoopvolle dag sal dit wees wanneer gemeentes en kerkrade weer hierna verlang wanneer ’n leraar beroep moet word. Om slegs ’n dienskneg van Christus as leraar te wil hê – iemand wat die versoening kan bedien… in die Naam van die Here. Dit beteken op Sý gesag.
Hierdie artikel is ’n verwerking van ’n hoofstuk uit die boek van dr. AN Hendriks: Verkondig het Woord. Bedum, Nederland. Uitgeverij Woord en Wereld 2004. Bladsye 56-64