Die Gemeente en die Sending
Die Gemeente en die Sending
In Hand. 13 stuur die kerk die sendelinge uit om die Evangelie aan die heidene te verkondig. En in Hand. 19 sien ons die omgekeerde. Daar stuur die sendeling die kerk uit om die Evangelie aan die heidene te verkondig. In Hand. 13:1-5 lees ons van die uitsending van Paulus en Barnabas met hulle helper Johannes Markus. Watter manne word hier uitgestuur? Dit is manne wat al in die kerk van die Here gewerk het. Ons lees dit in Hand. 11:26. Dit is goed as 'n sendeling eers 'n tydjie in die gemeente werk voor hy sendingveld toe gaan. En wat vir die sendeling geld, is ook van toepassing op sy helpers. Watter mense moet die kerkraad toerus en uitstuur? Hulle wat al in die gemeente gewerk het. Jongmense byvoorbeeld wat getrou gehelp het by die katkisasie of wat in die Jongeliede-vereniging met toewyding gewerk het. Daar moet die kragte gesoek word wat ook buitekant die gemeente op die sendingveld kan werk. Ons kan nie maar net so enigiemand uitstuur omdat daar nie ander is nie. Binne-gemeentelike arbeid is baie belangrik as voorbereiding vir die buite-gemeentelike arbeid op die sendingveld.
In ons tyd waarin die funksie van die kerk ten koste van sy wese so sterk beklemtoon word — die kerk is slegs daar vir en ten behoewe van die wêreld — is belangrik om te besef, dat die Nuwe Testament so sterk die klemtoon lê op die opbou van die gemeente, want dit en dit alleen maak 'n kerk tot 'n regte sendingkerk. Getuienis en diens het alleen krag as hulle ontspring aan die teenwoordigheid van die Gees van Christus in sy liggaam nl. die gemeente. Sending kan jy eintlik nie organiseer nie. Sending is nie in die eerste plek 'n georganiseerde werk nie maar 'n geïnspireerde werk. Die sendelinge wat deur die gemeente te Antiochië uitgestuur is om aan die heidene die Evangelie te verkondig, keer aan die end ook weer tot dieselfde gemeente terug om verslag te doen van alle dinge wat God met hulle gedoen het en dat Hy 'n deur van geloof vir die heidene geopen het (Hand. 14:27). By ons verdwyn die verslag van die sendeling in die rapporte aan kerkrade, Klassis, Sinodes en algemene sendingdeputate. In die Nuwe Testament kom die sendelinge telkens weer by die gemeentes terug om die gelowiges te inspireer en te aktiveer.
Die gemeente word geroep om met die arbeid van die sendelinge mee te lewe, mee te bid en mee te arbei. In die Nuwe Testament sien ons dat daar van die kant van die sending 'n voortdurende worsteling is om die kerk by die werk van die sending te betrek. Alle briewe van die apostel Paulus is op die sendingveld geskrywe, het J. H. Bavinck opgemerk, en dit is gedoen om die gemeentes op te wek om saam met die sendeling in die gebede te stry (Rom. 15:30) vir die geloof van die Evangelie (Fil. 1:27). Ons moet in die gemeentes, of hulle dit wil hoor of dat hulle dit nie wil hoor nie, veel meer informasie verskaf oor en voorbede vra vir die sendingwerk. Ons probleem is dat die sendingveld te naby is. Wanneer die sendingveld ver weg is dan lyk dit asof dit gemakliker gaan. Maar dit is dikwels ook maar die sendingromantiek wat niks met die Heilige Gees te doen het nie. Die gemeente kan vir sy innerlike opbou en sy geestelike groei die voortdurende kontak met die sendingveld en met wat daar gebeur, nie ontbeer nie. Daar moet dus 'n voortdurende beïnvloeding wees van die sending op die kerk. Wat op die sendingveld gebeur moet aan die gemeente bekend gestel word.
Omgekeerd moet ook die kerk inwerk op die sending en wel op 'n besondere manier. Want in Hand. 19 lees ons die omgekeerde van Hand. 13. In Hand. 13 het die kerk die sendelinge uitgestuur en in Hand. 19 stuur die sendeling die kerk uit. Paulus het op sy derde sendingreis in Efese gekom. Die grondleggende sendingwerk is egter al deur Apollos verrig in daardie stad. Die eerste fase van die sendingwerk het al in Efese plaasgevind wanneer Paulus in daardie stad aankom. In verband hiermee sien ons 'n merkwaardige wending in die sendingmetode van Paulus.
Wanneer hy in Efese, 'n plek met 'n groot bevolkingskonsentrasie aangekom het, gaan hy nie onder die heidene arbei nie, maar dan rig hy hom in sy sendingwerk tot die gelowiges.
Paulus bly drie jaar lank in Efese om die jong gemeente toe te rus sodat daardie gemeente hom kan ontwikkel tot 'n brandpunt van sendingaktiwiteit in die hele provinsie Klein-Asië. Laat ons net kyk na Hand. 19:10. Ons moet besondere aandag gee aan die woordjie ,,sodat": “sodat al die inwoners van Klein-Asië die woord van die Here Jesus gehoor het, Jode sowel as Grieke”. Al die inwoners van Asië hoor die Woord van die Here Jesus. Paulus het die gelowiges in Efese geïnspireer en geaktiveer met die oog op hulle roeping om 'n getuigende kerk te wees. Alle gelowiges moet ingeskakel word in die arbeid van die gemeente met die oog op hulle roeping om 'n getuigende kerk te wees.
In die brief wat Paulus later aan die gemeente te Efese geskryf het, lê hy daarom die volle nadruk op die opbou van die gemeente. In die Efesebrief wat ons die kerkbrief kan noem, wys die apostel op die toerusting van die heiliges i.v.m. met die opbou van die gemeente (Ef. 4:12), maar dan is die innerlike selfopbou altyd bedoel om meer en meer 'n getuigende, 'n sendingbewuste, 'n missionêrbewoë kerk te kan wees.
Wanneer daar gevra word hoe daardie toerusting tot sendingwerk prakties gerealiseer moet word, vind ons die antwoord in vs. 9 van Hand. 19. Daar staan dat Paulus elke dag met sy dissipels samesprekinge gehou het. Letterlik skrywe Lukas: hy was altyd maar besig om te dialogiseer. Dit wil sê: hy het in 'n gespreksvorm die Woord van die Here vir hulle verduidelik. Hy het sy dissipels uit die Woord van God geleer en hulle gehelp om te kan getuig. Daar is 'n bekende handskrif (D — Beza) wat daar aan toevoeg: van die vyfde tot die tiende uur, d.w.s. van 11 uur tot 4 uur. Th. Zahn, 'n bekende nuwe Testamentikus wys daarop dat hierdie mededeling reg kan wees. Griekse onderwysers het gewoonlik vroeg in die môre skool gehou en na 11 uur was die skool beskikbaar.
Ons moet aan hulle wat bereid is om saam te werk in die sending oordra wat ons self uit die Woord van die Here ontvang het. Dit kan heel eenvoudig gedoen word deur saam 'n preek te maak of die gedagtes vir 'n preek gesamentlik uit die teks te versamel. Dan kan ons hulle op 'n eenvoudige manier iets vertel oor die belangrikste heilswaarhede soos bekering, geloof, regverdiging ens. om dit op die sendingveld uit te dra. Die lidmate wat bereid is om saam te werk in die spontane sendingarbeid behoef nie alles tegelykertyd te leer en te weet nie. Die groot ding is net hulle moet met wat hulle geleer het uitgaan en dit verkondig. Dit maak hulle honger om meer te mag leer.
Hierdie wyse van sendingwerk is goedkoop en doeltreffend. Wanneer dit biddend gedoen word, sal die Here dit ryklik seën.