1 Samuel 17 - Roeping
1 Samuel 17 - Roeping
Jy kom na my met 'n swaard en met 'n spies en met 'n lans, maar ek kom na jou in die Naam van die HERE van die leërskare, die God van die slagordes van Israel, wat jy uitgedaag het.
1 Sam 17:45
⤒🔗
Geroep tot Aktiewe Ampsdiens←⤒🔗
Die geskiedenis van Dawid en Goliat is ongetwyfeld een van die bekendste gebeure in die Skrif. Dit is 'n gebeurtenis waaruit die koninklike majesteit van die Here heerlik en helder straal. Tegelyk word ons daarmee onderrig oor ons gelowige ampsbediening.
Uitdaging←⤒🔗
Goliat word in die Skrif voorgestel as 'n baasvegter in die Filistynse leër. Sy voorkoms is indrukwekkend. Buiten dat hy 'n reus is (hy is meer as drie meter lank!), hanteer hy die mees gevorderde wapentuig van daardie dae. Daarby beskik hy ook oor die vermoë om met sy woorde ontsag in te boesem.
Dit was Goliat se gewoonte om soggens en saans uit die Filistynse laer uit te trek en die leër van die Israeliete met sy geskreeu te beïnvloed. Die boodskap wat hy oordra, is duidelik: "Ek daag die slagordes van Israel vandag uit!" Hierdie uitdaging is meer as bloot sielkundige oorlogvoering. Goliat daag die "slagordes van die lewende God" uit Hy daag God self uit. Hy sê teen die verbondsvolk en die Verbondsgod die stryd aan.
Reaksie←⤒🔗
Koning Saul en die manskappe van Israel se reaksie op Goliat se uitdaging is ontstellend. Hulle was verskrik en baie bevrees. Waarom? Omdat hulle hulself blind gestaar het teen die goed gewapende heidense reus. Hulle vrees vir die mens oorheers hulle eerbied vir die lewende God. Niemand sien kans om die lasterende baasvegter te weerstaan nie. Koning Saul gaan selfs sovêr om 'n beloning uit te loof vir die man van die Godslasteraar verslaan. Dit getuig nie van moedige optrede in diens van God nie. Inteendeel, hier is ongeloofsreaksie op die blatante Godsonterende uitdaging.
Roeping←⤒🔗
As Dawid hoor wat in die kamp van die Israeliete gebeur, oorval verbasing hom. Wie is hierdie onbesnede Filistyn, dat hy die slagordes van die lewende God durf uitdaag. Waar is die Godsvrees van Israel dat hulle niks aan hom doen nie? Dawid begryp onmiddellik waarop die heiden se uitdaging neerkom. Dit gaan oor 'n klein mensie wat die ryk van Satan verkies om hom teen die almagtige God te verhef.
Ooreenkomstig sy geloofsinsig in die gebeure tree Dawid op. Hy maak geensins gebruik van Saul se wapens nie — dit sou beteken dat hy op die reus se vlak neerdaal en op sy terme teen hom sou stry.
Dawid gaan die reus tegemoet in die Naam van die Here van die leërskare — met 'n eenvoudige slingervel en klippies. In dit alles wys Dawid dat hy as gesalfde koning in diens van die Here reeds verstaan wat sy roeping beteken. Die Here word beledig. In die Naam van die Here moet daar gestry word. Daardie stryd moet plaasvind met die wapens wat die Here daarvoor beskik. Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees — sê die Here van die leërskare.
Aksie←⤒🔗
Wie sy roeping voor die Here verstaan, verstaan ook dat daar tot kragdadige aksie oorgegaan moet word. Dawid het die reus tegemoet gegaan. Hy knoop die stryd aan met sy skaapwagterstoerusting. Die uitslag is oorweldigend. Die kragtige wapentuig van die heidense reus hou nie stand voor die eenvoudige werktuie van die Here se getroue ampsdraer nie. So het Dawid dan die Filistyn oorweldig met 'n slingervel en 'n klip.
Roepingsaksie versus Uitdaging — Reaksie←⤒🔗
In sy eerste openbare optrede het Dawid laat blyk wat dit beteken om op sterkte van die Here se roeping tot vreeslose, beginselvaste aksie oor te gaan. Sy optrede staan lynreg teenoor Saul se vreesagtige reaksie op 'n heidense uitdaging.
Hierin spreek die Here al sy geroepe diensknegte — al sy kinders in hulle amp van gelowige — aan. Hy eis roepingsbewustheid. Dit staan teenoor passiewe wag op 'n uitdaging. Hy eis verder beginselvaste, positiewe aksie. Dit staan teenoor reaktiewe optrede wat deurgaans geken word aan negatiewe vrees, wat op sy beurt aangedryf word deur menslike willekeur. Die lewe van die gelowige is geen stryd om oorlewing nie. Dit is wel diensbaarheid aan die lewende God. Die stryd behoort aan die Here. Die lewe behoort aan die Here. Hierdie jaar behoort aan die Here. Dit is die gelowige se roeping om uit hierdie wete in Godsvrees te wandel.