Bron: Die Kerkblad, 1988. 3 bladsye.

Wat sê die Bybel oor die Natuur?

Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.

Psalm 19:2

natuur en Bybel

Op hierdie wyse word daar baiemaal in die Bybel oor die natuur gepraat…

En as ons nou die bril van die Heilige Skrif opsit (om die beeld van Calvyn te gebruik), en ons kyk daardeur na die natuur om ons heen, dan sien ons hoedat die Naam van God uit alle oorde verheerlik word. Dan vind ook die boer sowel as die natuur­wetenskaplike baie stof tot bewondering van God, die Skepper, se onmeetlike krag en intellek!

Ja, die Bybel praat baie oor die natuur, maar dan nie in sistematiese ver­handelinge en in die taal van die natuurwetenskap nie, maar in die gewone taal wat ons almal kan verstaan. Ook is dit opval­lend dat in Skrifgedeeltes waarin die natuur ter sprake kom, die digterlike taal orals deurslaan. Want seker nêrens tree die grootheid van God, sy almag, sy majesteit en heerlikheid so sterk na vore as in die natuur nie!

As ons nou maar net enkele van die ligstrale wat die Bybel op die na­tuur werp, wil opvang, wys ons op die geopen­baarde feit: Alle natuur­verskynsels en natuur­kragte het hul oorsprong aan God te danke. Hy het alles in aansyn geroep (Genesis 1:1) sonder dat daar vooraf enige stof bestaan het waaruit Hy die dinge kon vorm (Hebreërs 11:3). M.a.w. alle ma­terie en energie is van die lewende God afkomstig. So is die ontstaan en groei van selle in elke lewende organisme aan God se krag te danke. Dieselfde geld van elektriese krag, atoomkrag, ens. God is die bron van alle energie.

Die eenheid en verskei­denheid, die planmatig­heid en doelmatigheid, die orde en die balans in die natuur, dit alles kan eers reg gesien en verstaan word as die feit onthou word dat 'n alwyse en almagtige Skepper ver­antwoordelik is vir die ont­staan van die dinge wat Hy alles in sy ewige raad beplan het.

voël

  • God onderhou en re­geer ook alles wat Hy gemaak het (Psalm 104)
    Hy sorg dat daar kos is vir mens, dier en plant (Psalm 145, 147).
    Deur sy magswoord hou Hy alle dinge in stand (Hebreërs 1:3).
    Hy regeer dus oor alles wat Hy geskep het, ook die natuur (Jeremia 31:35).
    Alle natuurkragte is aan sy Koningswoord onder­worpe (Matteus 8:27).
    Hy heers, as opperste Koning, ooreenkomstig die wette wat Hyself vir die natuur daargestel het (Psalm 148:5, 6, 8) en wat deur ons wetenskaplik nagevors en aangewend kan word, as onderkonings (Psalm 8:7).
  • In die natuur openbaar God Homself.
    Sy werke in die skepping vertel iets van Homself (Romeine 1:20; Psalm 91:2). Dit spreek van sy deugde, van sy almag, wysheid (Spreuke 6:6-8), sy goedheid en sy heerlikheid.
    Die kennis van God wat uit 'n studie van die natuur verkry word, dring die gelowige tot Godverheer­liking (Psalm 19 en Openbaring 4:11). Maar ook in hierdie deel van God se ryk het die son­de binnegedring.
  • Die Skrif leer dat ook die natuur ly onder die gevolge van die mens se sondeval.
    Oorspronklik was alles 'baie goed' geskape (Genesis 1:31).
    As gevolg van die sonde van die mens is die aarde egter 'vervloek' (Genesis 3:17). Lees ook Genesis 6:5-7.
    Die gebrokenheid in die natuur word oral waarge­neem: siektes van plante en diere; natuurrampe soos droogtes, oorstromings en plae; besoede­ling van die water en die lug; die verganklikheid van alles. Uit die ganse skepping gaan 'n gesug op in hierdie toestand van gebrokenheid (Romeine 8:22).
  • Maar ook op hierdie terrein hoor ons in die Bybel die klanke van genade.
    Die genade van God, soos geopenbaar in die soge­naamde natuurverbond, waardeur die voortbestaan van die lewe in die gebroke wêreld (ná die sondvloed) van God se kant verseker word (Genesis 9:1-17).
    Die genade van God, waardeur ook die natuur deel kry aan die vrug van Christus se versoeningswerk (Romeine 8:21). Hy is immers die Middelaar van die ganse skepping (Kolossense 1:16-20).
    En eenmaal sal die hemel en die aarde (die ganse natuur) weer nuutgemaak word (2 Petrus 3: 13; Openbaring 21:1-8).
  • Die Bybel leer verder dat God die mens aange­stel het om oor die natuur te heers (Genesis 1:27, 28; 2:15; Psalm 8:7).
    Die feit dat hy na God se beeld geskep is, hou in dat hy God se verteenwoordiger op aarde is, veral waar hy moet heers oor die werk van God se hande. So verrig die mens konin­kryksdiens wanneer hy die natuurkragte onder­werp en gebruik. Deur wetenskaplike navorsing ontdek hy die wetmatig­hede wat God in die natuur gelê het. En deur die toepassing van die ontdekte wette (in tegnologie, boer­dery ens.) heers die mens oor die diere en die plante, en wend hy die natuur­kragte in diens van sy medemens aan… tot verheerliking van God.
  • Maar ook op hierdie vlak is die liefdeswet (as die hoogste gebod van God) onmisbaar vir die mens se voortbestaan. Want natuurwetenskap sonder God, sonder liefde, is gevaarlik. Dit lei tot die dood, soos o.a. die splitsing van die atoom reeds bewys het.

sterrehemel

In 'n artikeltjie soos hierdie kan maar net ge­raak word aan die talle relevante Skrifgegewens i.v.m. die natuur. Daarom opsommenderwys slegs nog die volgende:

  • Die onmeetlike ruimtes en groot getalle in die sterrehemel verkondig die grootheid en heerlikheid van God (Psalm 8:4; 19:2). God het sy wette vir die hemelliggame vasgestel (Job 38:33; Psalm 148:6). En deur sy krag word die hemelliggame in hul bane gehou – dink maar aan swaartekrag (Job 26:7).
  • Die verskeidenheid lewenssoorte (onder plante, diere, mense) wat al­mal hul oorsprong aan God te danke het, elkeen na sy eie aard geskape.
  • Die orde en bestendig­heid in die natuur, soos die wisseling van seisoene, en van dag en nag (Genesis 1:14; 8:22; 9:11).
  • Die aandag wat land­bou ontvang (Genesis 2:15; Jesaja 28:24-29).

Eindelik net 'n kort woordjie oor die sg. konflik tussen sekere Skrifge­gewens enersyds, en wat die natuurwetenskappe andersyds leer, 'n 'konflik' wat veral rondom vrae oor die ouderdom van die aar­de en die afkoms van die mens sentreer.

Van werklike sodanige konflik kan daar vir die gelowige geen sprake wees nie. God weerspreek Homself nie in sy boek van besondere openbaring (die Bybel) en sy boek van die algemene openbaring (die natuur) nie. Kontro­leerbare feite uit die natuurwetenskappe bots nêrens met wat in die By­bel geopenbaar is nie. Waar wel botsings voor­kom, is dit tussen verskillende verklarings van sowel die feite as die Skrif­openbaring self.

Daar moet onthou word dat ook t.o.v. die natuur ons kennis nou nog ten dele is (Job 26:14). Hoe wonderlik sal dit nie wees om ook in hierdie opsig in die hiernamaals ten volle onderrig te word nie (1 Korintiërs 13:12).