Wat sê die Bybel is waar?
Wat sê die Bybel is waar?
Van kleins af glo ons dat die Bybel waar is. Later begin 'n mens soms die vraag vra: Is die Bybel regtig waar?
Hierdie vraag is vir 'n jongmens belangrik omdat niemand daarvan hou om iets te moet aanvaar wat nie eg is nie. Ons geloof is tog daarop gebaseer dat die Bybel dit vir jou sê. Daarom moet ons seker wees dat die Bybel waar is, anders val die bodem uit van alles wat ons glo.
Nie die kerk nie⤒🔗
Die waarheid van die Bybel se inhoud kan nie daarop berus dat die kerk so sê nie. Die kerk kan nie gesag aan die Bybel verleen nie. Die kerk is juis gebou op die fondament van die apostels en profete (Efesiërs 2:20), daarom kan die kerk nie nou beskou word as die fondament vir die Bybel nie.
Die kerk is wel die verkondiger van die waarheid van die Bybel. Maar geen sinode of kerkraadsvergadering kan sê: Ons besluit dat die Bybel waar is — en nou moet alle lidmate van hierdie kerk of gemeente dit so aanvaar nie. So 'n besluit maak nie die Bybel se inhoud waar nie.
Nie die mens nie←⤒🔗
Die geskiedenis het bewys dat die menslike verstand nie die waarheid van die Bybel kan bewys nie. Sodra die kritiese mens met selfversekerdheid beweer dat die mens self moet bepaal wat in die Bybel werklik waar is, dan is daar probleme.
Die gevolge van so 'n menslik-kritiese benadering was dat sekere teoloë begin beweer het dat die Bybel uit oudtydse mites op volksverhale saamgestel is en dat die waarheid "agter" hierdie mites gesoek moet word. Nou begin die mens besluit wat is waar en wat nie. Ander het weer gesê dat God wel in die Bybel aan die woord is, maar nie in alle gedeeltes nie. Daarom moet jy as mens besluit wat is in die Bybel werklik die ware Woord van God. Nou kan die mens mos uit die Bybel neem wat hom pas en wat hy bereid is om as Woord van God te aanvaar – die res aanvaar hy nie!
Die Heilige Gees←⤒🔗
Ons het die werk van God nodig om ons van die waarheid van die Bybel te verseker. Volgens 1 Johannes 2:20 ken ons die waarheid omdat ons deur die Heilige Gees gesalf is. Die Heilige Gees getuig in ons harte dat die Bybel waar is (Johannes 15:26).
Hierdie werk van die Heilige Gees is 'n wonder van God se genade. En die spore van hierdie werk word deur die geskiedenis van die kerk heen aangetref. Die feit dat gelowige kinders van God deur al die eeue heen die Bybel as waar beleef en aanvaar het, is 'n sterk getuienis in elke gelowige se lewe.
So voer die Here uit wat Hy as 'n verbondsbelofte gee aan verbondsouers met die doop van hulle kinders. Dit is Hy wat hierdie geloof gee, want Hy het Hom aan hierdie kindjie verbind en met die doop beloof dat Hy as Drie-enige God hierdie kind versorg. 'n Mens mag dus nie beweer dat ons van kleins af "gekondisioneer" of "geïndoktrineer" is om die Bybel as waar te aanvaar nie. Eerder moet ons sê dat die Heilige Gees deur die opvoeding van gelowige ouers die geloof in die Bybel aan verbondskinders gee.
Jesus Christus←⤒🔗
Enige gelowige wat die Evangelie van Jesus Christus in die Bybel hoor en dit met 'n ware geloof omhels, weet verseker: Hierdie Evangelie is waar. 'n Gelowige ervaar dit in die krag wat dit jou gee. Jy beleef dit in die geloofsekerheid van jou verlossing.
'n Gelowige sien dan hoe die profesieë vervul is in Jesus Christus en tans in jou lewe waar is. Jy sien hoe duidelik die historiese feite in die Bybel bevestig dat die werke van God in Christus tans jou lewensgeskiedenis bepaal. Soos Hy dit, volgens die Bybel, nog altyd gedoen het, doen Hy dit vandag nog. Die waarheid van die Bybel is hiervan 'n vaste fondament.