Bron: Die Kerkblad, 1986. 2 bladsye.

Draers van hoop: God lewe!

luike

Toe Luther op 'n keer terneergedruk was, het sy vrou al die luike van die huis toegemaak. Luther vra toe waarom sy alles donker maak. Haar antwoord was: "God het tog gesterf, want Maarten Luther het geen hoop meer nie".

Daarmee het Luther se vrou 'n baie waar ding gesê: die lewende God en lewende hoop hoort onlosmaaklik by mekaar. As jy nie meer hoop nie, het jy eintlik ook jou geloof in God prys gegee. As Paulus die Efesiërs se toestand beskryf toe hulle nog heidene was, dan sien hy die dieptepunt van hulle ellende as "sonder hoop en sonder God in die wêreld" (Efesiërs 2:12). Kan daar iets uitsigloser wees as dit?

Ons beleef tye waarin dit al hoe moeiliker word om vorentoe te kyk. Dit voel telkens of daar nog 'n venster toegemaak word, of ons nêrens meer 'n opening het om deur te kyk en te bly hoop nie. Daar is die onrus en die geweld. Gaan dit nou deel van ons samelewing bly? Daar is die voelbare vyandskap van 'n hele wêreld. Daar is finansiële terugslae, werkloosheid, kinders wat honger ly, onskuldige mense wat swaarkry. Daar is die loodsware besef dat dit vorentoe nooit meer maklik sal gaan nie. En die pynlikste is die geloofsworsteling, die verwarring onder Christene en die verwydering tussen gelowiges. Soms voel dit of elke straaltjie lig uitgedoof word.

Is daar vir ons nog hoop?

God is nog daar. Daarom is daar nog hoop!

Hoe werk Hy?🔗

Dit beteken nie dat God die waarborg is vir al ons ideale en verwagtings nie. Inteendeel. Moes ons nie telkens weer leer dat ons God nie voor óns kar kan inspan nie? Was God nie met ons besig in al die onrus en teenspoed nie? Die ware hoop is nie sommer net optimisme nie. Dit hang nie van ons voorspoed of sukses of beplanning af nie.

Moet die teenspoed nie ons oë weer oopmaak vir die nulpunt waarvan Paulus praat nie as "sonder hoop en sonder God in die wêreld?"

Ons mag dus nooit die hoop assosieer met ons voor­spoed en sukses nie, maar dit verbind aan die lewende God. Al het ons alles, maar sonder God, dan het ons geen hoop nie. Hy is "die bron van hoop" (Romeine 15:13).

God het sy Seun gegee op wie die nasies hulle hoop sal vestig (Romeine 15:12). Hy was sonder God in sy verlatenheid aan die kruis, sodat ons nooit meer sonder God en sonder hoop sal wees nie. Hy het gesterwe en opgestaan uit die dood, sodat ons 'n lewende hoop kan hê (1 Petrus 1:3). In Hom het ons die hoop as "'n veilige en onbeweeglike lewensanker" (Hebreërs 6:19). Dit is hoop wat koers en vastigheid gee en wat niemand van ons kan wegneem nie. Dit is vuurvas, dit loop selfs deur die dal van die dood.

anker🔗

Hele skepping betrokke🔗

Maar dit is nie net 'n hoop vir individuele sieleheil nie. Nee, sê Paulus in Romeine 8, hierdie hoop sluit God se ganse skepping in. Die sugtende skepping. Die hoop maak nie die kinders van God los van die skepping om net oor die hiernamaals te droom nie. Dit maak hulle oë en ore oop vir die pyn en swaarkry van die skepping. Hulle sug saam met die sugtende skepping. Juis by hulle, wat die Gees as eerste gawe ontvang het, met die verlange en die hoop lewe dat God eendag alles nuut sal maak (Openbaring 21:5).

Maar hulle wat die Gees as eerste gawe ontvang het, dra ook al iets van God se toekoms in hierdie ou wêreld in. Die vrug van die Gees in mense se lewens beteken dat mense vernuwe word en dat hande heel gemaak word. In ons stukkende wêreld.

'n Christen is 'n draer van hoop. As jy hom oor sy geloof uitvra, gee hy nie 'n uiteensetting van sy geloof nie. Nee, dan praat hy oor "die hoop wat in hom lewe" (1 Petrus 3:15). Want die Christelike geloof is nie 'n teorie nie. Dit is 'n lewende hoop wat sin aan ons lewens gee en ook die moed om vorentoe te kyk, al word dit donker.

Ons tyd is dus, ondanks alles, een van hoop — omdat God nie dood is nie. Elke tyd het sy besondere roeping. Is jy steeds gereed om antwoord te gee oor die hoop wat in jou lewe?