Sondagviering
Sondagviering
Dit is asof Christene nou ewe skielik agtergekom het dat hulle hulle lewe lank iets besonders mis – die Sondag as dag van heerlike ontspanning, 'n luilekker lewe van maak wat jy wil. Het ons ouers en die kerk ons dan nog altyd mislei met hulle eng siening van die Sondag? Mislei hulle ons nie op baie ander terreine nie? Hoekom gebeur dit vandag al meer en meer dat dinge toegelaat word wat vroeër verbode was?
Ons mislei onsself as ons gaan kyk wat mense doen op Sondag of wat deur ander Christene toegelaat word. Ons moet altyd eers vra: Maar wat wil God hê moet ek doen? Die rusdag wat ons om Skriftuurlike redes op Sondag vier, is 'n instelling van God self. Hy het die rusdag ingestel as:
- Gedenkdag, 'n dag waarop ons kan terugdink aan God se Skeppingswerk soos Hy self die sewende dag gedoen het. Ons moet veral terugdink aan die herskeppingswerk van Jesus Christus. Dit doen ek nie deur in die natuur rond te loop of te ontspan nie, ek doen dit onder die geklank van die Woord in die huis van God.
- Dankdag, soos die Jode op die Sabbat God moes dank vir hulle verlossing uit Egipte, moet ons God dank vir ons verlossing van die slaweband van sonde. Waar doen 'n mens dit? Natuurlik in die gemeente deur gemeenskap met die Woord en met ander gelowiges. Daar verseker God ons nie net van ons verlossing nie, maar versterk Hy ons om soos verlostes te lewe.
- Dag van verlustiging deur nie jou gewone gang te gaan nie (Jesaja 58:13, 14), maar jouself te verdiep in die wonder van die verlossing. Dit doen jy deur jouself te verryk met opbouende leesstof, sendingwerk te doen, medegelowiges in nood te besoek en te bemoedig.
Wil God ons dan vasmaak en geen beweegruimte gee nie? Nee, Christus het juis aan die rusdag 'n nuwe karakter gegee deur dit los te maak van die werkheilige karakter wat die Fariseërs daaraan gegee het.
Hy genees siekes op die dag en doen talle ander wonders.
Hy pluk saam met sy dissipels are om vir hulle kos te maak.
Christus skep 'n nuwe ruimte vir die rusdag, maar dan nie om die dag te maak wat jy wil nie. Die belangrikste beginsel wat Christus aan die dag gee, is dat die dag ten volle (in alles wat jy doen) geleef moet word tot die eer van God.
Miskien het ons self hier en daar in 'n wettiese strik getrap in die uitlewing van die dag, maar dan mag ons nie na die ander uiterste oorgaan en die wêreld navolg in wat hulle doen nie. Ons moet steeds die dag vier tot eer van God. Is dit tot eer van God as ek die dag glad nie kerk toe gaan nie? Is dit tot eer van God as ek op die Sondag krieket speel, studeer, verkoop en koop?