Bron: Die Kerkblad, 1986. 2 bladsye.

Om te hoop is om te doen

sleutelgat

Nuwejaar 1986 was dit weer so: mense het die toekoms ingestaar, "die onsienlike probeer sien" en – gegewe die hewige stroomversnellings waardeur ons tans gaan – gewonder of '86 darem beter as '85 sal wees.

  • Hierdie toekomskykery ontlok ge­woonlik een van twee tipies mens­like reaksies:
  • By die Jan Salies wanhoop en pessimisme – dinge kan en sal vorentoe net slegter gaan.
  • By die Blinkpiete goedkoop op­timisme: dinge móét vorentoe beter gaan … en dan beteken "dinge" ekonomiese of politieke of sosiaal-maatskaplike dinge.

Misplaas🔗

In terme van werklike hoop — hoop soos God dit bedoel — is al twee die voorgaande houdings misplaas:

  • Wanhoop betaam ons hoege­naamd nie: die kind van God is óók toekomsmens … en die uiteindelike toekoms wat vir ons berei is, is louter vreugde – maak nie saak wat met ons gebeur voordat ons daar uitkom nie.
  • "Vorentoe beter met ons gaan" beteken egter ook nie dat dit in terme van ons tydelike sekerhede met ons beter hoef te gaan nie. Dit kan ten opsigte van die dinge waarop dit werklik aankom juis baie goed met ons gaan te midde van 'n kreupel ekono­mie, politieke woeling en onrus en maatskaplike nood; lyding louter … en stroop 'n mens van pretensie.

"Aktiewe" kenmerke🔗

Om te hoop beteken nie om 'n inven­taris op te stel van gevare wat jou bedreig of om hande gevou te sit en wag vir "beter dae" nie. Die hoopvolle kind van God vertoon (aktief) sekere kenmerke. Ek noem vier:

  • Hy vertrou nie op tydelike sekerhede nie. Die ekonomie, die poli­tiek, die samelewing in den bre­de, my volksidentiteit, my werk, my gesin en selfs my lewe is mid­dele waarmee en/of terreine waarop God gedien en sy opdrag­te gehoorsaam moet word. Hulle is egter tydelik. Soos wat ons hulle tans ken, sal en moet hulle verbygaan … en daarom is hul­le geen redmiddele nie. Hy wat hoop, sien (soos 'n Abraham) dit raak waarop dit werklik aankom: "…die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is" (Hebreërs 11:10).
  • Hy besef en bely sy eie skuld – ook aan dit wat op die terreine hierbo genoem verkeerd is. Daardeur gryp hy meteen na God se redding in Christus – en dan het hy inderdaad rede tot hoop!
  • Juis as hy onreg moet ly benut hy die geleentheid om (soos dit in 1 Petrus 3:15 gestel word) "die hoop wat in julle (d.w.s. God se kinders) lewe" te verduidelik. Almal in ons land vrees 'n "bede­ling van onreg" meer as enigiets anders. Dink egter daaraan: so 'n bedeling kan juis die geleent­heid bied om te getuig dat dit die moeite werd is om te hoop … veral wanneer jy self onregver­dig moet ly!
  • Geloof, hoop, liefde

pilare

In die finale instansie beteken om te hoop om te doen. Hoop is een van 'n trilogie; geloof, hoop en liefde (1 Korintiërs 13). Die een kom tot uitdrukking in die ander. Gaan lees maar weer wat in Hebreërs 11 oor die "geloofshelde" of liewer, geloofsbegenadigdes van die Ou Testament gesê word. Een goue draad is duidelik sig­baar:

  • God word onvoorwaardelik ver­trou (geloof).
  • Daarom word sy opdragte gehoorsaam – daar word "reg ge­doen" (liefde).
  • Só word die ewige toekoms – die "stad met vaste fondamente" – in die hede (hier en nou) werklikheid (hoop).

Die vraag of daar vir ons in 1986 hoop is, hoef nie in terme van of met verwysing na nuwejaarsvoorspel­lings beantwoord te word nie. Hier­die vraag is bykans twintig eeue ge­lede al beslissend beantwoord.

Nuwejaarsvoornemens betaam ons daarom meer as nuwejaars­voorspellings. Vir 1986 is die deurslaggewende vraag: hoe wil God hê dat ons Hom met wat ons in ons land — óók en veral aan en teenoor me­kaar — doen, onvoorwaardelik sal gehoorsaam. Immers, van geloof, hoop en liefde bly die liefde steeds die grootste.