Bron: Die Kerkblad, 1986. 2 bladsye.

Deurweekse Christenlewe

posbusse

Die lewe van 'n Christen behoort een groot geheel te wees. Daarby moet elke deel sy geïntegreerde plek en taak in hierdie totale opset hê. Dit is dan soos met die menslike liggaam — wat die Skrif ook gebruik as beeld vir die funksionering van die geheel van die gemeente: oë, hande, voete, ore, hart, longe. Elkeen het 'n eie­soortige wese en funksie; maar almal saam vorm 'n pragtige en ondeelbare eenheid.

Nou bestaan die neiging wel om die lewe in bepaalde afdelings of vakkies in te deel — soos posbusse langs mekaar, elkeen met sy afsonderlike sleutel en eienaar wat dit gebruik. Daar is die werk-, die eet-, die slaap-, die ontspan-bussies. En ook nog die godsdiens/geloof­bussie, waarvan God die sleutel dra en wat net met sekere tye per dag of week oopgesluit word en aan die beurt kom.

Die gelowige wat wesenlik uit die Skrif lewe, sal direk weet dat so iets radikaal verkeerd is. God as ons Skepper is nie tevrede met 'n deeltjie van die mens se bestaan nie, en hy het reg op die geheel. En die Here Jesus Christus het deur sy versoening die mens na liggaam en siel vrygemaak van die oorheersing van die duiwel.

Daarom behoort gelowiges in die totaliteit van hulle bestaan aan Christus. Dit is waarom Hy ook gesê het dat jy God met jou hele hart, verstand, wil en al jou kragte moet liefhê. Dit beteken natuurlik totale diens. Geen enkele deeltjie van jou bestaan of sekonde van jou tyd val dus buite die seggenskap van die Here nie — of jy by 'n stopstraat stilhou of 'n lemoen eet of met jou kinders speel. Die Woord sê dat die Here nooit rus of insluimer nie; daarom is daar ook geen af periode of vakansie van die diens van die Here nie. Maar die wonderlikste vir 'n kind van die Here is dat dit nie as lastig of dreigend ervaar word nie. Vir die gelowige is dit immers die wonderlikste ding op aarde: jy is vrygekoop en dit is vir jou louter vreugde om die Here altyd en oral te dien. Dit is waartoe die inwonende Gees van Christus jou bekwaam maak.

Nou wil ons naas die algemene tog die aandag op 'n bepaalde aspek van hierdie saak vestig. Daar moet volgens die voorafgaande ook 'n organiese, lewende band wees tussen die lewe-in-die-week en die besondere­ diens-van-God-op-die-Sondag, veral met die erediens.

Dink maar net aan enkele fasette.

Jou week-se-lewe moet altyd sodanig wees dat jy tussen God se kinders Hom in die erediens kan ontmoet. Dit hou ook in dat jy nie só gedaan gewerk of gesport is dat jy nie met eerbied en vrug in die samekoms kan verkeer nie. Dit hou verder in dat jy nie skaam sal wees om vrymoediglik aan die erediens deel te hê, met luister, sang, gebed en gawe van dankbaarheid vir alles wat jy in die week en op Sondag ontvang het.

Daar moet dwarsdeur die week voortgewerk word met die genade wat jy op die eerste dag ontvang het. Dit blyk in jou eie lewe: dat die vrug van die Gees deurwerk en jy in die geloof groei. Dit blyk ook deur jou lewe, in dade en woorde: dat ander kan sien dat jy kind van God is, sodat hulle opnuut of nuut aan Hom eer gee en aan Hom verbind wil wees.

saam bid

Jy moet deur die week dan nog besig wees met voorbereiding vir die samekomste van die gemeente vir die komende Sondag. Een belangrike deel hiervan, wat binne die vermoë van elke kerkganger is, is om voor­bidding vir die bedienaar van die Woord te doen.

Daar is verskeie voorskrifte hieroor in die Skrif opgeteken. Dink maar aan Prediker 4:17; 2 Tessalonisense 3:1. Opvallend is wat Paulus in Kolossense 4 geskryf het. Ons moet onthou dat hy in die tronk sit. Maar hy vra nie voorbede dat die tronkmure wankel of die deure oopgaan nie (soos hy in Filippi beleef het — Handelinge 16:26). Hy sê:

Volhard in die gebed! Wees daarby waaksaam en dankbaar en bid tegelykertyd ook vir ons. Bid dat God vir ons 'n deur vir die woord oopmaak sodat ons die geheimenis van Christus kan verkondig…

Dieselfde vra hy van die Efesiërs (6:19).

Eintlik kan die bedienaar nie preek maak en lewer as hy nie deur die voorbidding van die gemeente gedra word nie. En diegene wat week-deur vir die prediking saamworstel, sal beslis sorg dra dat hulle Sondag by die kerk is om te hoor hoe God hulle in die prediking ontmoet.

Sommige gemeentes bied nou al hierdie Sondag voorligting oor die Skrifgedeeltes waaroor die volgende Sondag gepreek gaan word. Dan kan lidmate hulle nog beter voorberei. En dan kom die eenheid van die Chris­telike lewe nog beter tot sy reg.