Moenie ophou kyk nie!
Moenie ophou kyk nie!
Daar is byna twee maande van die nuwe jaar verby en almal is gefokus op die take wat ons hierdie jaar beplan – DV. Dit is van groot belang hoe ons na dinge kyk en watter instelling ons daarteenoor het. Die kort woordjie kyk bied ’n hele aantal perspektiewe in hierdie verband. Daar is, om te begin, die woordjie opkyk wat ons ganse lewenshouding bepaal.
Opkyk⤒🔗
Hierdie lewensinstelling word pragtig in Psalm 121 verwoord, waar die digter vra: “Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal my hulp kom?”
Nou weet ons dat in die Ou Testament die bergtoppe dikwels verbind word met die afgodery van die Kanaäniete. “Op die hoogtes” is die offers aan die afgode gebring, dit is as ‘t ware hulle woonplek. Die digter van Psalm 121 breek egter radikaal met hierdie gedagte. As hy na die berge kyk, dan bely hy dat sy hulp nie van magtelose afgode kom nie, maar van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Dis Hý wat sy kinders bewaar, waar hulle ook gaan, vir nou en vir altyd. Nuwe Testamenties gesien, word hierdie beeld nog ’n stappie hoër gevoer wanneer ons kyk na die heuwel Gólgota, na die gekruisigde maar ook opgestane Christus. En opkyk na die wolke, vanwaar ons Hom terugverwag. Opkyk is ’n onmisbare element van die Christelike lewe. Daarsonder word die lewe neerdrukkend en verstikkend. Dis die Gees van God wat ons steeds Boontoe laat kyk, vol verwagting en hoop.
Maar daar is nog ’n paar ander “kyke” wat belangrik is.
Terugkyk←⤒🔗
Terugkyk is ook ’n belangrike faset van ons geloofslewe, want daarsonder ly ons aan geheueverlies. Dit is belangrik om “te dink aan wat vroeër gebeur het” (Jes 46:9) en om “na die ou paaie te vra” (Jer 6:16; vgl. Job 8:6). Die verlede is inderdaad belangrik.
“Soek in die verlede al die goeie en skone wat daarin ontdek kan word, vorm daarna u ideaal en probeer om daardie ideaal vir die toekoms te verwesenlik,” sou pres. Paul Kruger aan die einde van sy lewe gesê het (hoewel hierdie woorde volgens D.W. Krüger in ’n groot mate van W.J. Leyds afkomstig is). Dit is in elk geval baie waar woorde, want wie die gebeure van die verlede vergeet, gaan in die toekoms altyd weer die foute van die verlede herhaal.
Dis egter ’n foutiewe lewensinstelling om nét na die verlede te kyk en die verlede te verheerlik, altyd weer terug te verlang na “die goeie ou dae”, want, het die Deense filosoof Sören Kierkegaard tereg opgemerk, “die lewe word terugwaarts verstaan, maar voorwaarts geleef”. Dit bring ons by ’n derde aspek.
Uitkyk←⤒🔗
Die toekoms sonder verlede is blind, die verlede sonder toekoms is leeg – sou ons met reg kon sê. Daar kom tye dat ’n mens nie net “by die verlede moet stilstaan nie” (Jes 43:18), dat ’n mens jouself moet losmaak van wat agter is en jou uitstrek na wat voor is (Fil 3:13), ja, dat iemand wat aanhou omkyk na wat agter is, nie geskik is vir die koninkryk van God nie (Luk 9:62). Uitkyk, vorentoe kyk, is eweneens ’n wesenselement van die Christelike lewe.
Waarna moet ons op die uitkyk wees? Na die koms van die koninkryk van God in hierdie wêreld, in hierdie kontinent en in hierdie land! Die koms van die koninkryk is immers die sin van die wêreldgeskiedenis. Daaroor kon Jesus nooit uitgepraat en uitgedink raak nie, trouens, Hy is self die wese en inhoud van daardie koninkryk. Oral waar die bose magte vlug voor die Gees van Christus, dáár sien ons iets deurbreek van die koninkryk van God (Matt 12:28).
En vir diegene wat op ’n dwaalspoor is: dink net hoe die Vader op die uitkyk is vir die terugkeer van sy verlore seuns en dogters (Luk 15:20)!
Rondkyk←⤒🔗
Die koninkryk van God is egter nie iets vaag en ver weg nie, dit is baie naby, dit is bý ons (Luk 17:21). Daarom moet ons nie net vér kyk nie, ons moet ook naby kyk, ook rondom ons. Ons moet veral kyk na mense in nood, want in soverre ons iets goeds aan die geringste broers (en susters) van Christus gedoen het, het ons dit aan Hom gedoen (Matt 25:40). Oral waar iemand aan ’n geringe persoon ’n beker koue water gee omdat hy/sy ’n dissipel van Jesus is, sien ons ’n teken van die deurbraak van die koninkryk van God (Matt 12:42).
Ons moet met deernis kyk na mense in die plakkerskampe, na werksoekers, na armes, na swerwers. Ons moet met empatie dink aan die 4 miljoen mense in ons land wat in armoede leef, na die 4 (sommige meen 8) miljoen werkloses, die 5,5 miljoen wat met die vigsvirus besmet is en aan die duisende wat slagoffers van misdaad was.
Ons kan nie anders nie, ons mág nie anders nie, want ons is navolgers van Christus wat in deernis na die armes en hulpeloses in die samelewing uitgereik het.
Ons moet ook met skok en woede rondkyk na die ekologiese versteuring, die omgewingsbesoedeling en rommelstrooiery wat ons pragtige land – en wêreld – ontsier en op die lang duur kan vernietig.
Ons moet hierteen protesteer en agiteer – in die goeie sin van die woord – net waar ons kan. Die opdrag van die Here God is immers om die aarde te bewerk, maar ook op te pas.
←⤒🔗
Inkyk←⤒🔗
By al die “kykery” waarna ons tot dusver verwys het, was ons nog altyd besig om van ons wég te kyk, en kan ons so maklik daarvan vergeet om ook na onsself te kyk.
Maar inkyk, in jou eie hart inkyk, is ook ’n belangrike deel van die Christelike lewe. Die apostel Paulus skryf byvoorbeeld dat gelowiges hulleself moet ondersoek of hulle in die geloof lewe (2 Kor 13:5) en dat ’n nagmaalganger hom/haar vooraf moet ondersoek (1 Kor 11:28).
Ons Belydenis verwys selfs daarna dat die uitverkorenes in hulleself die onfeilbare vrugte van die uitverkiesing met geestelike blydskap en heilige vreugde (kan) waarneem (DL 1.12; vgl. HK 32:86). Maar dan moet hierdie uitspraak nie misverstaan word nie: in die gereformeerde belydenis is die fokus in die eerste plek nie op die vroom méns nie, maar op Christus wat deur sy Gees die geloof skenk.
Daarom moet daar altyd gewaak word teen ’n ongesonde introspeksie waardeur meer op die mens self as op Christus en sy heilswerk gefokus word. Die geloof omhels Christus en al sy weldade.
Slot←⤒🔗
Toe Jesus voor Pilatus tereggestaan het, het Pilatus opgemerk: “Kyk, die mens” (Ecce homo) (Joh 19:5)! Asof hy wil sê: “Kyk, daar is hy nou, die bespotte, gegeselde en armsalige mens, met ’n pers mantel om en ’n doringkroon op sy kop, sogenaamde koning. Die mantel en die kroon lyk nogal koninklik, maar wat is so ’n magtelose koning werd in vergelyking met die mag van die Romeinse wêreldryk?”
Maar hierdie Mens is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegdra. Aan Hom word uiteindelik alle mag in die hemel en op die aarde gegee. Hy is die Heerser oor die konings van die aarde.
Daarom word gelowiges opgeroep om onder alle omstandighede hulle oog gevestig te hou op Jesus, die Begin en die Voleinder van die geloof (Heb 12:2).
Die Bybel eindig met ’n grootse vergesig, met God wat sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense”, en: “Kyk, Ek maak alles nuut” (Openb 21:3, 5).
Alles. Die hemel. Die aarde. Mense. Wat ’n wonderlike vooruitsig!