Een persent van ons inkomste vir die armes?
Een persent van ons inkomste vir die armes?
Waarom is dit so dat wanneer daar iewers in ons land ’n noodtoestand ontstaan, ons altyd eerste daarvan hoor dat die Rooi Kruis of Wêreldvisie of die Engelssprekende kerke hulp verleen? Waar is die Gereformeerde diakens en die Gereformeerde Kerke dan?
Waarom is ons dikwels so onbewoë oor die hongersnood en huisnood en werkloosheid wat hom voor ons oë in Suid-Afrika en Afrika afspeel? Kan ons diakens werklik iets substansieel uitrig met die tien of twintig sent wat ons Sondae in die kollektesakkie gooi? Die bedrag wat baie van ons Sondae vir die armes bydra, is veel minder as wat ’n roomys deesdae kos. Ons sal in hierdie tyd van inflasie ons ‘kollektegeld’ grondig moet hersien!
Die Skrif⤒🔗
Dit is opvallend dat die Skrif nie breed uitwei oor die onderhouding van die ‘kerkdiens’ en die traktement van Woordbedienaars nie (kyk Luk 10:7; 1 Kor 9:14) maar wél oor die versorging van arm gemeentes en armes in die gemeentes. So gee die apostel Paulus in 2 Kor 8-9 breedvoerig aandag aan hulp aan die armes in die gemeente van Jerusalem. Hy praat hier van ‘dankoffer’ (2 Kor 9:5) en van ’n ‘blymoedige gewer’ (2 Kor 9:7) en van ’n ‘oorvloedige offer’ (2 Kor 8:7; 9:6, 9). Dit is dan uitdrukkings wat verband hou met die insameling van gawes vir die armes in die gemeente van Jerusalem. Dit gaan oor die insameling van gawes vir ‘barmhartigheidsdiens’ en nie vir ‘kerkdiens’ nie om dit in vandag se taal te sê. Dit gaan nie oor bydraes vir die traktement van die predikant nie, maar vir armes in ’n gemeente waar broodsgebrek heers. Die vraag is dus geregverdig of ons nie die Skrifgegewens in 2 Kor 8-9, wat duidelik gerig is op armversorging, gekaap het om ’n ander klem te lê nie – die predikant en koster en orrelis en skriba. (Wat natuurlik nie beteken dat ons nié oor die laasgenoemde sake mag beskik nie maar wél dat dit nie ten koste van die armes moet geskied nie.)
Natuurlik kan ons sê dat daar in die vroegste kerkgeskiedenis nie sulke fyn onderskeidings aangebring is as wat ons vandag doen nie. Ook dat ‘kerkgeld’ per slot van rekening tog maar ‘kerkgeld’ bly. Bowendien kan die onderskeidinge in die harde werklikheid nie, altyd haarfyn gemaak en toegepas word nie. Tog lyk dit my belangrik en ook verantwoord om, al kan ons nie hier ’n radikale skeiding maak nie, tog duidelik te bly onderskei tussen bydraes vir onderhouding van die ‘kerkdiens’ en bydraes vir ‘barmhartigheidsdiens’. Ons sal tog moeilik geld wat spesifiek vir arm ménse gegee is (en natuurlik kan dit ook ’n arm predikant wees), aan ’n ryk gemeente vir die oprigting van ’n kerksaal mag oorbetaal – net soos geld wat vir emeritusversorging bestem is, tog nie vir reiskoste uitbetaal mag word nie?
Calvyn←⤒🔗
Dit is interessant om daarop te let dat Calvyn daarvan melding maak dat die hoofstroom van kerkinkomste in die vroeë kerk na die dienaars van die Woord én die armes gegaan het (Institusie 4. 4.5 8). Dit was dus nie só dat die hoofstroom vir die onderhouding van die ‘kerkdiens’ gegaan het en slegs ’n ou dun stroompie na die armes uitgekeer is nie. Daarom striem hy die gulsige Rooms-Katolieke priesters wat die kerkvolk beweeg om geld wat vir die armes gegee moes gewees het, te bestee aan die bou van tempels, die oprigting van beelde en om kosbare kledingstukke aan te koop (Institusie 4. 5.18). Inderdaad het Calvyn ’n besondere ope oog vir die armes gehad. So sê hy dat as ons glo dat die hemel ons vaderland is, dan moet ons ons rykdomme daarheen stuur en dit nie by ons hou nie. En hoe kan dit gedoen word? “Deurdat ons dit aan die armes en behoeftiges meedeel ... want wie aan die armes gee, leen aan die Here” (Institusie 3. 18.6).
Een persent?←⤒🔗
Ons weet daar is die Bybelse voorbeeld (nie voorskrif nie) dat ons een tiende van ons inkomste vir diens in die koninkryk moet afsonder (diens in die koninkryk is ook weer meer as diens in die kerk). Gewoonlik verwag kerkrade dat lidmate vyf persent vir instandhouding van die kerkdiens moet bydra. Dit is myns insiens ’n billike verwagting; en waar dit nagekom word, is daar meesal ’n bloeiende finansiële situasie. Ek wil daarvoor pleit dat elke lidmaat sal probeer om hiernaas een persent van sy/haar inkomste vir die armes af te sonder. Dit kan dan direk in die plaaslike barmhartigheidskas gestort word en/of ook aan welsynsorganisasies oorgedra word. Die ou paar, sentjies wat ons Sondae vir die armes afdra, is tog totaal ontoereikend as daaraan gedink word wat die Here van ons verwag om aan die armes te gee. Het Christus, wat ryk was, dan nie ter wille van ons arm geword sodat ons deur sy armoede ryk kan word nie (2 Kor 8:9)? Moet ons dan nie mekáár verryk met die gawes waarmee Hý óns verryk het nie?
God aan die kant van die armes?←⤒🔗
Staan God dan aan die kant van die armes? Outomaties? Hierdie siening word vandag nogal volop aangetref, veral in bepaalde vorme van die Teologie van die Rewolusie. Soms vervang die onderskeiding armes/rykes die onderskeiding gelowiges/ongelowiges as ’n omskrywing van kerkwees/nie-kerkwees. Myns insiens word die siening op armes deur die moderne teologie in ’n groot mate oorspan. Dit lyk asof die feit dat ook armes sóndaars is en net soos die rykes slegs deur Christus verlossing kan ontvang, eintlik nie belangrik is nie. Dit lyk verder asof die uitlig uit die armoede belangriker is as die uitredding uit die sonde – hoe nou hierdie twee sake aanmekaar verbind mag wees.
Aan die ander kant moet nog iets gesê word. Dit is: Die onbewoënheid wat daar by baie lidmate teenoor die armes aangetref word, is ook hoegenaamd nie in ooreenstemming met die Bybelse boodskap nie. Dwarsdeur die Bybel tref ons ’n besondere bewoënheid by die Here God teenoor die armes aan. Veral die profetiese geskrifte is vol van vlammende woorde teen hulle wat die armes mishandel en manipuleer. Ook uit die optrede van ons Here Jesus Christus blyk sy besondere gerigtheid op en hulp aan die armes en ellendiges. In die oordeelsdag kan ’n mens se verhouding tot die armes dalk bepalend wees vir jou ewige bestemming (Matt 25:31-46).
Die Bybel beskou dit beslis as onbegryplik (ja, in die oë van die Here ’n baie groot sonde): as gelowiges wat ryklik deur die Here met aardse goed geseën is, hulle harte en hande vir hulle arm naaste toesluit. “Wie ’n arm mens verdruk, beledig sy Maker; wie hom oor ’n arm mens ontferm, eer God” (Spr 14:31); “Wie hom oor ’n arm mens ontferm, gee ’n lening aan die Here, en Hy sal hom ten volle vergoed” (Spr 19:17); “Wie vir ’n arm mens iets oor het, sal self niks kortkom nie, maar wie anderpad kyk, sal baie verwensinge hoor” (Spr 28:27).
In die lig hiervan is dit totaal onhoudbaar dat diakonieë derduisende rande in ’n barmhartigheidsfonds oppot terwyl dit nóu reeds kan en moet aangewend word. Dat, daar ’n klein voorsieningsfonds, sê van R5 000 opgebou word om in onvoorsiene omstandighede gebruik te kan word, kan nie besware oplewer nie. Maar om tienduisende rande op belegging uit te sit is – in die lig van die toenemende armoede rondom ons – eenvoudig ’n skreiende onreg teenoor die armes en ’n groot ongehoorsaamheid aan die Here self.