Kerkregering
Kerkregering
Die vraagstuk van kerkregering, in besonder dié van indepentisme teenoor denominasionalisme, het dikwels verdeeldheid in die kerk van Christus veroorsaak. Ons benader die saak dus met ʼn mate van huiwering.
Ons glo dat indepentisme nie net verkeerd is nie, maar ook dodelik vir die voortbestaan van die kerk. Ons beskou dit as ʼn baie belangrike rede vir die agteruitgang van die kerk op baie plekke.
Wanneer daar probleme ontstaan, laat die indepentisme die lidmate en die ampsdraers van die kerk sonder hulp of raad. Dit ignoreer die Woord van God in Spreuke 24:6 en soortgelyke gedeeltes. Dit volg nie die riglyn wat Handelinge 15 daarstel nie en bevorder nie eenheid op ʼn breër grondslag as die plaaslike kerk nie.
Foute kom ewewel ook aan die ander kant voor. Al te dikwels word die kerk “van bo af” bestuur deur kommissies en rade wat geen Bybelse bestaansreg het nie, met die gevolg dat die plaaslike kerk en sy lidmate geen sê in die kerk het nie. In sulke gevalle is die leiers van die kerk ook nie vir hulle optrede aan die lidmate (of enigiemand anders) verantwoordelik nie.
In Presbiteriaanse en Gereformeerde denominasies is dit ʼn hiërargisme, ʼn soort paapsheid, waarin kerkrade en kerkvergaderings die mag in die kerk het wat alleen aan Christus toekom.
Ons glo dat die Bybel ʼn antwoord gee op die probleme aan albei kante. Eerstens is die antwoord dat gemeentes moet saamkom ter wille van wedersydse hulp en opsig in die werk wat Christus aan hulle gegee het om te doen (Hand. 15) ter wille daarvan “om die eenheid van die Gees te bewaar” (Ef. 4:3).
Tweedens moet die outonomiteit (selfregering) van die plaaslike kerk bewaar word. Prediking van die evangelie, bediening van die sakramente en die handhawing van die Christelike tug is aan die kerk, en nie aan kerkvergaderings en kommissies opgedra nie (Hand. 13:1-4; 1 Kor. 5:4, 5). Die gesag wat Christus vir hierdie dinge gegee het, berus in die plaaslike kerk. Daarom word die kerk nie “van bo af” bestuur nie. Dit beteken ook dat kerkvergadering se funksies noukeurig beperk moet word. Hulle moet daar wees vir wedersydse hulp en advies. Aan Bybelse besluite wat deur die kerklike vergaderings geneem word oor sake wat voor hulle dien, moet gevolg gegee word, nie omdat ʼn hoër gesag dit besluit het nie, maar omdat die kerke self, ooreenkomstig die Woord van God, tesame so besluit het.
Derdens moet die ampte in die plaaslike kerk in ooreenstemming met die Skrif funksioneer en die ampsdraers moet almal aan die kerk self, dit wil sê die gemeenskap van gelowiges, verantwoording doen. Selfs met al die gesag wat Christus aan hulle gegee het, is hulle nie heersers in die kerk nie, maar dienaars daarvan (2 Kor. 34:5; Kol. 4:17).
Dit is die eerste stappe waarmee toegesien word dat alles in die kerk van Jesus Christus behoorlik en ordelik geskied. Dié goeie orde is noodsaaklik vir die rus en welsyn van die kerk.