Gesinsdoop
Gesinsdoop
Ons verkies om doop as “familie-“ of “gesinsdoop” te beskryf eerder as doop van “suigelinge”. Daar is verskeie redes hiervoor.
Eerstens doop niemand net suigelinge nie. Diegene wat later in hulle lewe bekeer word, word as volwassenes gedoop, ook in die kerke wat suigelinge doop.
Tweedens is familie- of gesinsdoop die doop wat deur die Skrif beskryf word, wanneer dit van diegene wat behoort gedoop te word, praat.
Derdensherinner “familiedoop” ons daaraan hoé en wáárom gedeeltes soos Handelinge 16 as bewys dien vir die doop van kinders én volwassenes.
Dit is baie duidelik dat die Skrif van die doop van huisgesinne praat. In Handelinge 16 is die huisgesinne van Lídia én die tronkbewaarder van Filíppi deur Paulus gedoop. In 1 Korinthiërs 1:16 vertel Paulus dat hy die huisgesin van Stéfanas gedoop het. In Handelinge 10:48 lees ons van die doop van die huisgesin van Cornelius deur Petrus. Dit is die patroon van doop in die Nuwe Testament.
Die gebruik om die kinders van gelowiges te doop, steun op hierdie Skrifgedeeltes. Dit is so dat ons nie weet of daar klein kindertjies in enigeen van die pasgenoemde huishoudings was nie, maar dit is onwaarskynlik dat geen suigelinge in die vier huise was nie. Dit is ewenwel nie moontlik om die praktyk van gesinsdoop, wat in die Skrif neergelê is, te volg sónder om suigelinge te doop nie, want die meeste huisgesinne bestaan ook uit hulle.
Ons wil hier byvoeg dat as “geloofsdoop” die enigste voorskrif van die Skrif is, soos wel deur die Baptiste geleer word, familie of gesinsdoop onmoontlik word. Selfs al gebeur dit dat verskillende lede van dieselfde familie bekeer en terselfdertyd in ʼn Baptistekerk gedoop word, hulle steeds nie as lede van ʼn huisgesin of familie gedoop is nie, maar as individue, elkeen op grond van sy eie belydenis van geloof.
Die doop van huisgesinne en families vloei uit die geloof in die familieverbond van God: dat Hy soewerein, genadig en onveranderlik die saligheid aan families en huisgesinne beloof, wanneer Hy beloof om die God van gelowiges én hulle kinders te wees (Gen. 17:7; Hand. 2:39).
Die gesinsdoop beteken ewenwel nie dat dit veronderstel word dat elke lid van ʼn gesin noodwendig gered is nie, maar ook die doop van diegene wat as volwassenes hulle geloof bely het, kan nooit ʼn waarborg wees nie. Die doop bewys of beweer nooit dat die dopeling gewis gered is nie.
Die praktyk van familie- of gesinsdoop, volgens die duidelike voorbeeld van die Skrif, is ʼn herdenking dat God self ʼn familie is — Vader, Seun en Heilige Gees — en dat Hy sy genade groot maak en Homself openbaar deur sy heil aan families te stuur. Hy is inderdaad die God van families (Ps. 107:41).1