2 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Doop en Dissipels maak van die Nasies

Matthéüs 28:19 is die opdrag van Christus watdie Nuwe Testamentiese kerk volmag gee om te doop en die doop as ʼn universele, nie net ʼn Joodse gebruik nie, vestig: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees”.

Ons wil op twee dinge in hierdie belangrike vers wys. Eerder as ʼn bewys teen kinderdoop, is dit die teenoorgestelde — ʼn baie sterk bewys daarvoor. Baptiste voer aan dat dat Jesus opdrag gee om eers van die nasies dissipels te maak en dan te doop. Kinders, so sê hulle, is nie oud genoeg om geleer of dissipels te word nie en kan daarom nie gedoop word nie. Hierdie argument vermy egter verskeie belangrike punte.

Eerstens kom, soos ons ook in verband met Markus 16:16 aangedui het, die woord dan nie in die vers voor nie. Jesus sê nie: “Maak dissipels van al die nasies en doop hulle dan” nie. As dit sou wees wat hy gesê het, was die Baptiste reg om te leer dat die doop net vir gelowiges is.

Tweedens praat die vers van nasies en nie van individue nie. Uiteraard vind die handelinge van dissipels maak en van doop dus terselfdertyd plaas. ʼn Mens kan nouliks wag dat ʼn hele volk klaar geleer is voordat daar met doop begin word nie; daar sou nooit gedoop word nie.

Die taal van die vers gaan teen die Baptistiese siening in. Die teks moet verstaan word om te sê: “Maak dissipels van al die nasies wanneer julle hulle doop” of  “Maak dissipels van al die nasies nadat julle hulle gedoop het”. Dit kan nie beteken “Maak dissipels van al die nasies voordat julle hulle doop” nie. Die gedeelte sê inderdaad niks oor die volgorde waarin die dissipels maak en die doop moet plaasvind nie.

Hierbenewens sluit nasies uiteraard kinders in. Dit is nie moontlik om dissipels van die nasies te maak en hulle te doop, sonder om ook van die kinders wat tot die nasies behoort, dissipels te maak en hulle te doop nie.

Ook mag nie vergeet word dat Matthêüs 28:19 ʼn vervulling van Jesaja 52:15: “so sal Hy baie nasies laat opspring”1 is nie. Die vervulling van Ou Testamentiese profesieë is een van die groot temas van die Matthéüs evangelie en ons moet voortdurend daarvoor op die uitkyk wees. Matthéüs teken Jesus altyd as die vervulling van die Ou Testament (lees in besonder hoofstukke 1 en 2). Jesaja 52:15 is in hierdie geval een van die mees ooglopende vervulde profesieë.

Die besprinkeling van die nasies in hierdie Jesaja-vers volg op die werk van Christus se lyding en sterwe vir sonde. Deur die werk van sy lyding, waar sy voorkomsmeer as die van enige mens misvormd was, besprinkel Hy die nasies (vs. 16). Ons sien dit in die Nuwe Testament gebeur in gehoorsaamheid aan die opdrag van Christus in Matthéüs 28:19.

Nie alleen vereenselwig Jesaja 52:15 die doop van die nasies met besprinkeling nie, maar deur die hele boek praat die profeet van die nasies wat vir hierdie besprinkeling saam met hulle kinders versamel word. Wanneer hulle na Christus vir besprinkeling en verlossing kom, bring hulle hulle seuns en dogters, ook die klein kindertjies, saam (Jes. 49:22; Jes. 60:4). Hierdie beloofde besprinkeling van die nasies wat in die verlossingswerk van die Here Jesus Christus vervul is, word in die doop afgeteken en in herinnering geroep. Gereformeerdes bedien die kinderdoop in gehoorsaamheid aan die Woord van God, nie in nabootsing van Rooms Katolisisme of as ʼn blote tradisie nie.

Endnotes🔗

  1. ^ Die Hebreeuse woord nâzâh wat in die AOV met “laat opspring” vertaal is, beteken letterlik “besprinkel” (in besonder ter versoening), en word in die KJV, wat deur die outeur gebruik is, met “sprinkle” vertaal. In die lig hiervan word in die res van my vertaling onder die opskrif hierbo, “besprinkeling” gebruik. – NG.