Doop as Teken en Doop as Werklikheid
Doop as Teken en Doop as Werklikheid
Waar oor doop gepraat word, is dit van die allergrootste belang om te besef dat die Nuwe Testament die woord doop op twee maniere gebruik. Versuim om dit raak te sien, lei dikwels tot misverstande en dwaling.
Op sommige plekke waar die Nuwe Testament na doop verwys, is die verwysing na die sakrament of die plegtigheid van doop — wat ons sou noem doop met water (Matt. 3:7; Matt. 28:19; Hand. 2:38, 41; 1 Kor. 10:2). Die doop met water is, streng gesproke, nie doop nie, maar die teken van doop, ʼn simbool wat na ʼn onsigbare, geestelike werklikheid heenwys.
Anders as die simbool of teken, is die werklikheid van doop die afwassing van sonde deur die bloed en Gees van Jesus Christus. Dít is die werklikheid, waarvan die doop met water net ʼn afbeelding is. As daar van die doop in hierdie geestelike sin gepraat word, is dit heeltemal geoorloof om te sê dat die doop ons red (1 Pet. 3:21).
Baie gedeeltes in die Nuwe Testament praat van hierdie geestelike reddende werklikheid en nie van die teken van waterdoop nie. Die mees ooglopende hiervan is Romeine 6:3-6, 1 Korinthiërs 12:13, Galasiërs 3:27, Efesiërs 4:5, Kolossense 2:12 en al die gedeeltes wat praat van doop in of met die Heilige Gees.
Nie een van hierdie gedeeltes gaan oor waterdoop nie. As ons dit nie besef nie val ons allerhande dwaling ten prooi en kom tot heeltemal verkeerde gevolgtrekking soos dat water red (1 Pet. 3:21) of dat water ons tot eenheid en gemeenskap met Christus bring (1 Kor. 12:13).
Die verskil tussen teken en werklikheid blyk uit die feit dat nie almal wat met water gedoop is die werklikheid van die doop ontvang nie. Ook ontbeer nie almal wat ongedoop met water bly die geestelike werklikheid van die doop waardeur ons gered word nie.
Die twee hou ewenwel verband. Die een is die teken of voorstelling van die ander, en ons mag dit nie vergeet nie. ʼn Teken wat sê “Paarl” maar na Wellington wys, sal mislei en bedrieg. As die teken vir ons tot hulp moet wees, moet dit altyd op die werklikheid wys. Die teken moet pas by die werklikheid en die werklikheid moet pas by die teken.
Die vraag na die manier van waterdoop kan byvoorbeeld tot ʼn mate beantwoord word deur te kyk na die manier van geestelike doop. Sou ons vra “Hoe word ons met die bloed en Gees van Christus gedoop?”, antwoord die Skrif “deur besprenkeling en uitstorting”. Dit sou vreemd en selfs misleidend wees as teken en werklikheid nie op dié punt ooreenstem nie.
Op dieselfde wyse moet die werklikheid ook by die teken pas. Dit sou nie gepas wees om die eet van brood en die drink van wyn, hoewel hulle ook die dood van Christus voorstel, as simbole van die afwassing van die sonde deur die offer van Christus te sien nie. Ook die teken moet afwassing voorstel.
Christus het die teken immers gegee om ons te help om die werklikheid te verstaan en glo. Ek mog sê, “Kan enigiets werklik my sonde wegwas — dit alles wegwas? Dit is te veel om te glo. My sondes is te veel en te groot”. Dan sê die teken van die doop, “So werklik as wat water die vuil van die liggaam afwas, so waarlik was die bloed van Christus die sonde af”. So word my geloof in Christus en sy offer versterk.