Die Sogenaamde Vrye Wil van die Mens
Die Sogenaamde Vrye Wil van die Mens
In die tyd van die Protestantse Reformasie het Martin Luther sy De servo arbitrio1 geskryf. Hierdie boek was gerig teen ʼn man met die naam Erasmus en dié se leer dat die mens se wil “vry” is; dat hy die vermoë het om te kies of hy gered word, al dan nie. In die boek sê Luther aan Erasmus dat die vraagstuk van die vrye wil die belangrikste vraagstuk in die reformasie was: “U het my nie met bykomstige kwessies, oor die pousdom, die vagevuur, die aflaat en dergelike dinge — wat beuselagtighede eerder as kwessies is — gekwel nie . . . U, net u, het die spil raakgesien waarom alles draai en u op die deurslaggewende vraagstuk gerig”.2
Teenoor die leer van Erasmus skryf Luther dat die gevalle mens nie “vry” is om te kies wat goed en aan God welgevallig is nie, maar dat sy wil — sy vermoë om te kies — aan die sonde verkneg is. Die leer van Erasmus oor die vrye wil het, ten spyte van wat Luther geskryf het, die leer van die grootste deel van die hedendaagse Protestantisme geword.
Ons glo soos Luther dat die wil van die mens aan die sonde verkneg is en dat hy nie alleen nie die goeie kan doen nie, maar dat hy nie eers kan kies om dit te doen nie (Rom. 8:7, 8). In die besonder kan die mens nie die vernaamste goed, om God en Christus te kies, doen nie. Ons glo dus dat die mens nie in Christus kan glo as dit nie vir hom van Bo gegee word nie (lees ook Johannes 6:44).
Ons glo ook dat dit nie die mens se wil is nie, maar die soewereine en ewige wil van God (predestinasie) wat in ons saligheid deurslaggewend is (Hand. 13:48; Filip. 2:13). As die mens nie kan kies om gered te word nie, moet God vir hom kies. God doen dit wanneer Hy soewerein besluit wie gered sal word en besluit om aan dié wat gered is, deur sy eie soewereine en almagtige genade, alle seëninge van die saligheid te skenk.
Die vals leer van die vrye wil ontken dus vele belangrike waarhede.
Eerstens is dit ʼn ontkenning van predestinasie. Predestinasie beteken dat God se wil (God se keuse) alle dinge voorbeskik het, ook wie gered word (Ef. 3:3-6). Die leerstuk van vrye wil leer dat die mens se keuse dié belangrike ding is om gered te word.
Tweedens is dit ʼn ontkenning van die Bybelse waarheid dat saligmakende geloof ʼn gawe van God is (Ef. 2:8-10). Die leer van vrye wil beweer dat geloof ʼn mens se eie besluit is om op Christus te vertrou.
Derdens is dit ʼn ontkenning van die waarheid dat Christus net vir sy volk gesterf het. (Matt. 1:21). Diegene wat in vrye wil glo, leer dat Christus vir almal, sonder uitsondering gesterf het en dat hulle saligheid nou daarvan afhang of hulle Hom aanneem, dit wil sê van hulle eie vryewillige keuse.
Vierdens is dit ʼn ontkenning van die wonderlike waarheid dat die heil deur genade alleen is (Ef. 2:8-10). Die leer van die vrye wil is dat die mens “iets moet doen” om gered te word, terwyl die skrif leer dat die saligheid nie afhang van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is” (Rom. 9:16).
Geloof in die vrye wil van die mens blyk ook in die prediking en evangelieleer wat vandag so gewild is; wat sondaars smeek om Christus aan te neem, wat met hande opsteek, beslissingstye, na vore kom, oproepe en ander taktiek, mense wil oorreed om Christus as saligmaker aan te neem. Al hierdie dinge voorveronderstel dat ʼn persoon se saligheid van sy eie keuse afhang.
Sommiges mag vra of daarin sin is om die evangelie aan almal te verkondig? Die evangelie is immers die “krag van God tot redding” (Rom. 1:16), die weg waarlangs God geloof en bekering aan almal wat Hy van ewigheid in Christus uitverkies en verlos het, gee. Mag dit daardie krag tot redding vir vele wees.