Die Noodsaaklikheid van Christelike Tug
Die Noodsaaklikheid van Christelike Tug
Daar is deesdae min te sien van Bybelse tug in die kerke. Ons hoor selde dat iemand van die kerk afgesny word, behalwe vir growwe sonde en mense word self daarvoor nie altyd getug nie. Mense wat onchristelike lewens lei word toegelaat om as lidmate van die kerk aan te bly. Ongelowiges dien in die kerklike ampte. Predikante word toegelaat om enigiets en alles te preek, hoe onbybels dit ook mag wees. Sonde, ongeloof, afvalligheid en ongehoorsaamheid word nouliks selfs vermaan.
Dit is in die besonder waar van dinge wat as “klein” sondes gereken word, maar baie afbrekend is wanneer dit sonder vermaning en onbelemmerd in die kerk voortgaan. Dit sou ongewoon wees as vir sondes soos kwaadsprekery of skinderpraatjies vermaan word, of dat sondes soos jaloesie, haat of tweedrag sondes genoem word, terwyl dit in die kerk én in die diens van God vernietigend is (Spr. 26:17-28; Matt. 5:21-24). Dit is die klein jakkalsies wat die wingerde verniel (Hoogl. 2:15).
Die gevolg van hierdie gebrek aan tug is dat die sonde met al sy afbrekende mag in die kerk groei en floreer totdat die kerk uiteindelik geruïneer is. Die Woord herinner ons daaraan wanneer dit van sonde in die kerk van Korinthe praat: “Weet julle nie dat ʼn bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak nie?” (1 Kor. 5:6). Selfs al was al die ander dinge daar, het die gebrek aan die eerste liefde vir die kerk van Éfese die dreigement gebring dat sy kandelaar verwyder sal word (Openb. 2:1-7).
Die afloop van Christelike tug is sensuur en afsnyding. Sulke optrede is nie aangenaam nie, maar dit is van die uiterste belang vir die veiligheid en welstand van die kerk en daarom praat die Skrif ook dikwels daarvan (Matt. 18:15-17; 1 Kor. 5:1-13; 2Tess. 3:14, 15; 1 Tim. 1;19, 20; Openb. 2:2).
In die Skrif word afsnyding beskryf as om iemand aan die Satan oor te lewer (1 Kor. 5:5; 1 Tim. 1:20) en om hom of haar van die gemeenskap uit te sluit (Matt. 18:17; 2 Tess. 3:14), in die besonder van die gemeenskap van die nagmaal van die Here (1 Kor. 5:11, 13). In sommige gevalle sluit dit ook ʼn daadwerklike verhoor van diegene wat gesondig het, in (Openb. 2:2).
Die uiterste maatreëls wat die Christelike tug behels, is waarskynlik die vernaamste rede waarom dit selde toegepas word. Dit is ewenwel noodsaaklik vir die welstand van die kerk én vir die heil van die sondaar. Nadat 1 Korinthiërs 5:5 die tug op die strengste moontlike manier uiteengesit het, beklemtoon dit die hoofsaaklike doel daarvan as “die verderf van die vlees, sodat die gees gered kan word in die dag van die Here Jesus” (lees ook 2 Tess. 3:14). Daarom verwys die Gereformeerde belydenis na afsnyding as “die uiterste geneesmiddel”.1
Tug beteken ewenwel nie net afsnyding nie. Dit sluit waaksaamheid en vermaning deur al die lidmate in. Matthéüs 18 leer dat die kerk as geheel nie by die saak betrek word nie tensy die sondaar, met sy sonde gekonfronteer, weier om te bekeer. Ons is daarvan oortuig dat daar min aanleiding tot formele tug en afsnyding van die kerk sal wees as lidmate hierdie verantwoordelikheid noulettend nakom.