Die Hemelvaart van Christus
Die Hemelvaart van Christus
Die hemelvaart is die derde stap in Christus se staat van verhoging. Die belang van sy hemelvaart as ʼn deel van sy verlossingswerk kan ten beste gesien word in die Ou Testamentiese gebeure, wat ʼn voorafskaduwing daarvan was, toe Dawid die ark na Jerusalem gebring het.
In ten minste vier Psalms, by name Psalm 24, Psalm 47, Psalm 68 en Psalm 132, word hierdie belangrike gebeurtenis in die geskiedenis van Israel besing en is dit duidelik dat dit ʼn voorafskaduwing van die hemelvaart van Christus is. Dit is baie interessant, want alhoewel ons waarskynlik die opstanding as van groter belang as die hemelvaart sou ag, word die opstanding in hierdie Psalms net baie kortliks genoem.
Hoe het die tog van die ark na Jerusalem, wat in dié Psalms besing word, die hemelvaart van Christus voorafgeskadu? Op vier maniere:
Eerstens is die ark na Jerusalem opgebring, soos Christus na die hemel opgevaar het (2 Sam. 6:121 ; Ps. 68:19; Ps. 132:8; Ef. 4:8).
Tweedens het die ark (op sigself ʼn tipe van Christus as die Een in wie God by sy volk woon en Hom aan hulle openbaar) in die dae van Dawid na lang omswerwing sy finale rusplek bereik. Só het Christus ook, nadat sy aardse werk klaar was, met sy hemelvaart die hemelse rus binnegegaan (Ps. 132:8, 13, 14; Heb. 4:10).
Derdens is Dawid, deur die opbring van die ark, in sy koninkryk bevestig nadat hy die oorwinning oor al die vyande van Israel behaal het. Net so is Christus by sy hemelvaart met eer en heerlikheid gekroon en, nadat Hy al sy vyande, én die van ons, oorwin het, geopenbaar as die Koning van die konings en die Heer der here (Filip. 2:9-11; Ps. 24:7-10; Ps. 68:2, 19, 25).
Vierdens het God, deur die oorwinnings van Dawid en deur die daaropvolgende vreedsame regering van Salomo, die beloftes wat Hy aan die Jode in die Ou Testament aangaande die land Kanaän gegee het, vervul (1 Kon. 8:56). Net so vervul God die beloftes wat Hy aan ons gegee het, deur die opgevare Christus wat uit die hemel deur die Gees aan ons al die heil van sy volbragte werk skenk (Ps. 68:20; Ps. 132:15, 16).
Die hemelvaart voltooi daarom die opstanding. Met sy hemelvaart ontvang Christus self die gawes en die loon van sy volbragte werk, en as ons opgevare Here stort Hy dieselfde gawes in ons uit, soos Dawid, toe die ark na Jerusalem gebring is, geskenke aan die hele Israel gegee het (2 Sam. 6:19; Ps. 68:19; Ef. 4:8-13).
Die hemelvaart is dan die belofte van God dat ons ook in die hemel by Hom sal wees. Ons word reeds saam laat sit in die hemele in Christus Jesus, omdat Hy ter wille van ons opgevaar het (Ef. 2:6).
Die hemelvaart van ons Here is nie ʼn geringe saak in sy verlossingswerk nie, maar ʼn wesenlike en noodsaaklike deel daarvan. Op grond daarvan kan ons met vreugde sê: “God vaar op met gejuig, die HERE met basuingeklank. Psalmsing tot eer van God, psalmsing! Psalmsing tot eer van ons Koning, psalmsing! . . . Hoog verhewe is Hy!” (Ps. 47:6, 7, 10).