Die Eenheid van die Kerk
Die Eenheid van die Kerk
Ons het gepraat oor die heiligheid, algemeenheid en apostolisiteit van die kerk. Die eenheid van die kerk is nog so ʼn kenmerk of eienskap.
Met die eenheid van die kerk bedoel ons dat daar in wese net een kerk en liggaam van Christus is. Christus het nie meer as een liggaam nie.
Dit is moeilik om die eenheid van die kerk in die talryke denominasies, gemeentes en kerke raak te sien. In sommige opsigte is hierdie verskeidenheid die gevolg van die sonde en swakheid van die kerk en haar lede; in ander opsigte is dit tog nie.
Geografiese ligging en taalverskille maak volledige eenheid van die sigbare kerk onmoontlik. Hierdie verskille sal eers met die nuwe hemel en die nuwe aarde verdwyn, wanneer “die see . . . daar nie meer [sal wees] nie” (Openb. 21:1). In die hemel sal geen afstand of verskil in taal of enigiets anders gelowiges van mekaar skei nie.
Op hierdie aarde maak die sonde van die kerk en haar lede institusionele eenheid moeilik, ook waar dit moontlik is. Verskille in leer en praktyk, wat die gevolg is van ʼn sondige versuim om die Woord van God te verstaan en gehoorsaam, skei gelowiges van mekaar.
Omdat sonde kerkeenheid vernietig en gelowiges uiteenhou, moet Christene alles in hulle vermoë doen om hierdie struikelblokke te oorkom deur studie van die Woord en gesprek met mekaar oor wat hulle glo. Hulle moet skeiding nie aanvaar en verdra nie. Selfs wanneer kerklike eenheid onmoontlik is, moet hulle so veel as moontlik gemeenskap met ander Christene onderhou. Hulle moet ander nie verwerp en praat asof daar nie ander Christene buite hulle eie groep is nie.
Gelowiges moet ewenwel nie eenheid ten koste van die waarheid soek nie — “Koop waarheid en verkoop dit nie” (Spr. 23:23). Hier gaan ekumenisme verkeerd. Dit verkoop die waarheid vir ʼn pot kerklike lensiesop wat sonder waarde is en wat nie ware eenheid teweeg bring nie.
Wanneer die heiliges eenheid soek en daarvoor bid, moet hulle nie vergeet dat hierdie eenheid in verskeidenheid is nie. Die eenheid van die kerk beteken nie dat alle gelowiges eenders moet wees nie. Dit beteken ook nie dat elke gemeente en elke kerk identies aan die ander moet wees nie.
In 1 Korinthiërs 12 word dit deur Paulus duidelik gemaak. Ons vergeet dikwels dat daar nie alleen ʼn verskeidenheid van lede en van gawes nie, maar dat elke lid noodsaaklik is. Só is die kerk die liggaam Van Christus.
Ewenwel sal daar, totdat die sonde vernietig is, skeiding wees en die eenheid van die kerk sal grotendeels ʼn saak van geloof wees. Christene glo en bely, met die woorde van die Geloofsbelydenis van Nicéa, “een, heilige, algemene en apostoliese kerk”.
Gelowiges moet daarom deur geloof, en nie deur aanskouing nie, wandel (2 Kor. 5:7). Hoe belangrik is dit nie! Geloof sal keer dat hulle die sigbare kerk verlaat, al sien hulle die foute, en die sonde en die skeiding daarin.
Hierdie geloof is ook nie tevergeefs nie. Wanneer Christus weer kom, sal Hy “alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus . . . verenig” (Ef. 1:10) en die sonde vernietig. Daar sal selfs nie meer die moontlikheid van onenigheid wees nie