Die Doop en Toegang tot die Koninkryk
Die Doop en Toegang tot die Koninkryk
ʼn Skrifgedeelte wat dikwels deur diegene wat suigelinge doop, gebruik word as bewys van wat hulle glo, is Markus 10:13-16 wat beskryf hoé Jesus die kindertjies1 geseën het. Dié wat by die sogenaamde “geloofsdoop” hou, vind die verwysing na hierdie gedeelte vreemd, omdat dit glad nie van doop praat nie.
Markus 10 is ewenwel ʼn bewysplaas wat gebruik kan word om suigelinge- of kinderdoop te steun. Dit is om verskeie redes waar, maar ons moet uit die staanspoor daarop let dat dié kinders inderdaad suigelinge was (Luk. 18:152)
Eerstens het Jesus die suigelinge van dié gedeelte in sy arms geneem en hulle geseën. Om in Jesus se arms ontvang en geseën te word, is die saligheid self. Dat hierdie kindertjies in Jesus salig is, word in Markus 10:14 en 15 duidelik, waar Hy sê dat hulle die koninkryk ontvang.
Die doop is ʼn teken of ʼn beeld van die verlossing en die ontvangs van die koninkryk, waardeur ons geleer word hoe ons die koninkryk ingaan. Die argument is dus: As die kindertjies die werklikheid waar die doop na wys, kan ontvang, waarom nie ook die teken nie? Anders gestel: As hulle die grotere kan ontvang, waarom nie ook die mindere nie? Ons glo dat hulle wat die werklikheid kan ontvang en inderdaad ontvang, die teken moet ontvang. In die genadeverbond word die saligheid aan hulle én aan volwassenes belowe.
Tweedens het Jesus gesê dat niemand die koninkryk ontvang anders as wat die kindertjies dit ontvang nie; dit wil sê, passief, sonder kennis en net deur die krag van die genade. Om die koninkryk soos ʼn kindjie te ontvang, beteken dus om dit sonder werke te ontvang — sonder enige inspanning van ons kant.
Dit is inderwaarheid, die enigste manier waarop enigiemand die koninkryk kan ontvang. Die verlossing kom tot ons wanneer ons nog nie daarna soek of dit begeer nie. Ons is immers dood in ons sonde en oortredings. Eers wanneer God ons die redding en die koninkryk genadiglik skenk deur wedergeboorte, begin ons soek en weet wat Hy vir ons gedoen het. Jesus leer ons dus dat daar net een manier is om die koninkryk te ontvang — soos ʼn klein kindjie. As ons dit nie op daardie manier ontvang het nie, het ons dit glad nie ontvang nie.
Hierin lê nog ʼn rede vir die doop van kindertjies. Ons sê nie dat elke gedoopte kind noodwendig gered is nie, maar ons sien in die doop van elke suigeling die beeld van hoe redding wel moontlik is vir ʼn suigeling ooreenkomstig die belofte van die verbond van God, naamlik deur die krag van soewereine genade.
In elke gedoopte kind sien ons inderdaad die beeld van hoe enigeen en elkeen van ons gered is — nie deur eie wil of inspanning nie, maar deur die almagtige krag van soewereine genade wat na hom gekom het sonder dat hy dit verwag of daarna gesoek het. God gee aan ons ʼn nuwe geboorte en ʼn nuwe lewe.
Die doel van die kinderdoop is dus om te wys hoe ons gered word; nié om die saligheid van die gedoopte kind te bewys nie (die waterdoop alleen kan dit geensins doen nie). Die doop wys na die enigste weg tot redding en herinner ons daaraan dat God beloof om die kinders van gelowiges te red deur dieselfde soewereine genade waarmee hulle ouers gered is. Hoe jammer dat so baie mense nie daardie getuienis in die doop van hulpelose suigelinge sien of ervaar nie.