Die Apostoliese Kerk
Die Apostoliese Kerk
Die Apostoliese Geloofsbelydenis verwys nie na ʼn “apostoliese” kerk nie, maar dit word wel bely in ander vroeë belydenisse van die kerk soos die Geloofsbelydenis van Nicéa wat sê: “Ons glo aan een, heilige, algemene en apostoliese kerk”. Wat word hiermee bedoel?
Die kerk van Rome beskou homself as apostolies vanweë sy aansprake dat die pouse in ʼn ononderbroke lyn die opvolgers van die apostels is. Hierdie aansprake is natuurlik nie waar nie.
Sommige protestantse kerke maak aanspraak op apostolisiteit omdat hulle glo dat hulle teruggekeer het na die leer en praktyk van die apostels. Hoewel dit waar mag wees, is dit nie wat in die Geloofsbelydenis van Nicéa bedoel word nie.
Die Geloofsbelydenis van Nicéa én die Gereformeerde teologie verwys na Efesiërs 2:20, wat die kerk beskryf as “gebou op die fondament van die apostels en profete”. Mattheüs 16:18, waar Jesus sê: “op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie”, is ooglopend nóú verwant.
Die kerk van Rome aanvaar dat hierdie rots Petrus self is en dat pouse die opvolgers van Petrus is, omdat die naam “Petrus” (wie se naam in Grieks Petros is) en die woord “rots” (in Grieks petra) gelykluidend is. Die grammatika van die teks laat dit nie toe nie. In Grieks is dit twee verskillende woorde; die woord petros wat na ʼn enkele rots of klip verwys, en die woord petra, wat ʼn rotswand, berg of bergreeks beteken. Jesus sê inderdaad nie dat Hy sy kerk op Petrus self gaan bou nie (hy was nie so groot dat hy die fondament van die kerk kon wees nie), maar dat Hy die kerk op die belydenis van Petrus, dat Jesus die Christus, die Seun van God is (Matt. 16:16), gaan bou. Dít is ʼn vaste en onvernietigbare fondament.
In hierdie lig moet Efesiërs 2:20 ook verklaar word as verwysend na apostoliese (en profetiese) leer; met ander woorde, die geïnspireerde Skrifte van die Ou en die Nuwe Testament. Dit is die fondament van die kerk.
Op die leer en leerstellings van die apostels gebou, is die kerk op Christus gebou. Hý is self “die hoeksteen . . . in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ʼn heilige tempel in die Here” (vs. 20, 21).
Dit is daarom vanselfsprekend dat die hele leer en dogma van die kerk oor Christus gaan. “Julle ondersoek die Skrifte”, het Jesus gesê, “dit is dié wat van My getuig” (Joh. 5:39). Namens al die apostels sê Paulus, “ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde” (1 Kor. 2:2).
ʼn Kerk wat waarlik apostolies is, is dus waarlik kerk van Christus. Dit is geen wonder dat die kerk wat op so ʼn fondament gebou is, selfs nie deur die poorte van die hel oorweldig sal word nie (Matt. 16:18)
Min kerke is vandag waarlik apostolies. Baie het min of geen van die leer van die apostels nie, en is kwesbaar vir die aanvalle van die magte van die hel. Mag God sy kerk help en bewaar en haar weereens op ʼn vaste fondament bou.