Voorsienigheid en beteueling van sonde
Voorsienigheid en beteueling van sonde
In sy voorsienigheid beheer en bestuur God alle dinge wat gebeur. Selfs die kleinste besonderheid van die mens se lewe is onder die soewereine beheer van God. “Na sy wil handel Hy met die leër van die hemel en die bewoners van die aarde” het Nebukadneser eens gesê (Dan. 4:35). In sy voorsienigheid beheer en bestuur God dan ook die mens se sondige dade, soos blyk uit die voorbeeld van Nebukadneser en ander (1 Sam. 2:25; 2 Sam. 16:10; 2 Sam. 24:1; 1 Kon. 22:19-22; Hand. 2:23; Rom. 9:18). By hierdie soewereine werk van God se voorsienigheid is ʼn beteueling van sonde ingesluit. God beteuel in sy voorsienigheid die boosheid van die mens op baie en verskillende maniere.
Die Skrif gee baie voorbeelde van hierdie beteueling van sonde. Genesis 6:3 is die eerste voorbeeld in die Skrif. Daar het God die sonde beteuel deur die lewensduur van die mens te verkort. Hy het ook die sonde by die toring van Babel beteuel deur die mens se spraak te verwar. Skrifgedeeltes wat daarvan praat dat God iemand aan sy sondes oorgegee het veronderstel ʼn vroeëre beteueling tot die een of ander mate (Ps. 81:12, 13; Hand. 7:42; Rom. 1:24-28).
Baie mense haal hierdie Skrifgedeeltes aan as voorbeelde van sogenaamde algemene genade. Dat God die sonde van die mens beteuel, sê hulle, is bewys van ʼn genadige gesindheid van God teenoor alle mense. Sommige sê selfs dat hierdie algemene genade die gevolg is van ʼn nie-saligmakende werk van God in die hart en die wil van die mens, wat hom nie heeltemal verdorwe laat nie en dat dit die weg vir die evangelie berei deur dit vir die mens moontlik te maak om die evangelie as ʼn aanbod van saligmakende genade aan te neem of te verwerp.
Dat daar hierdie beteueling van die sonde bestaan, bewys egter nie dat dit ʼn saak van genade is nie. Die vraag “Hoe en waarom word sonde beteuel?” moet steeds gevra word.
Dit word duidelik in die Skrif geleer dat die beteueling van sonde geskied deur die krag van God, nie deur ʼn genadige werking van die Gees wat ʼn verandering in die verdorwe natuur van die mens bewerk nie. Dit is dieselfde as wanneer ʼn mens ʼn hond met hondsdolheid muilband. Dit verhoed die hond om te byt, maar dit doen niks om hom van die hondsdolheid te laat herstel nie. God gebruik baie dinge, in die besonder die vrees vir die gevolge, om die mens se boosheid te beteuel sonder om hulle harte te verander. Een van die beste voorbeelde van soewereine maar nie-genadige beteueling van sonde vind ons in Jesaja 37: 29, waar God vir die koning van Assirië sê: “Ek [sal] my haak in jou neus sit en my toom tussen jou lippe en jou terugbring met die pad waarmee jy gekom het”. Hierin is daar geen genade nie.
Dieselfde gedeelte uit Jesaja herinner ons aan die doel van die beteueling. Dit het geen ander doel nie, as die beskerming en bewaring van God se volk in die wêreld.
Die algemene werking van God se voorsienigheid is nie algemene genade nie. Genade is die krag waardeur God sy volk red (Ef. 2:8-10). Daar is geen ander genade benewens hierdie verbasende, wonderlike, reddende genade nie. Prys God daarvoor.