Predestinasie
Predestinasie
ʼn Leer wat vir baie mense dikwels moeilik is om te begryp is die leer van predestinasie. Ons is seker dat die probleem daarby lê dat daar geen ander leer van die Skrif is wat so duidelik bewys dat God God is nie en wat van ons verwag om onsself voor Hom te verootmoedig en sy grootheid te erken. Sulke verootmoediging is baie moeilik vir ons trotse en sondige harte, want in ons dwase trots wil ons altyd self die bewerkers van ons lot wees.
Predestinasie beteken, soos die woord predestineer aandui, dat God in ewigheid die bestemming van sy redelike, denkende en willende skepsele, insluitend mense én engele, die gevallenes én die wat nie geval het nie, bepaal het. Hy het dit in sy ewige raad gedoen, voor die skepping van die wêreld (die voorvoegsel pre van die woord predestinasie beteken vooraf). In ewigheid kies God sommiges vir die hemel en verwerp ander. Die mens se ewige bestemming word deur hierdie ewige keuse van God en nie deur die mens se eie keuses nie, bepaal.
Daar is baie besware teen dié leer. Daar word gesê dat dit ons blote handpoppe van God maak; dat dit hardvogtig en tirannies van God is, in die besonder dat Hy van ewigheid besluit het om sommiges na die hel te stuur; dat dit God die bewerker van die sonde maak, en so voort. Nietemin leer die Skrif die predestinasie baie duidelik.
Die Engelse woord predestination word vier keer in die King James Bybel gebruik,1te wete in Romeine 8:29 en 30 en in Efesiërs 1:5,11 — juis dáár waar mens melding van so ʼn leer sou verwag. Die Griekse woord2wat in Engels met predestinate vertaal is , beteken “voor die tyd bepaal, verordineer” en word ook in Handelinge 4:28 en 1 Korinthiërs 2:7 gebruik maar anders vertaal.3 Die gedagte van predestinasie kom in baie ander Skrifgedeeltes voor, maar nêrens so duidelik as in Romeine 9:11-13 nie: “Want toe die kinders nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad gedoen het nie dat die voorneme van God volgens die verkiesing kon bly staan, nie uit die werke nie, maar uit Hom wat roep, is vir haar gesê: Die oudste sal die jongste dien. Soos geskrywe is: Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat”.
Selfs die engele en die duiwels is deur God vooruit bestem. Dit is duidelik uit 1 Timótheüs 5:11 wat van uitverkore engele praat en uit Judas 6 wat praat van gevalle engele wat die Here “vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis” bewaar. Soos dit met engele is, so is dit ook met die mens: sommiges is gekies vir die hemel en die ewige lewe, waarna in die Bybel verwys word as die uitverkiesing, en ander wat verbygegaan, waarna soms verwys word as die verwerping.
Baie mense aanvaar dat die Bybel die uitverkiesing leer, maar hou nie van die leer van die verwerping nie. Dit is egter duidelik dat uitverkiesing en verwerping saam gaan, want ons kan nie van die verkiesing van sommiges praat, sonder om ten minste te impliseer dat daar diegene is wat nie deur God tot die ewige lewe verkies is nie. Om nie verkies te word nie, is dieselfde as om verwerp te word, al word hierdie woorde nie uitdruklik gebruik nie. Ons sal weldra sien dat die Skrif die uitverkiesing én die verwerping duidelik leer.
Uitverkiesing én verwerping is bewys van die ewige handeling van God wat “na sy wil handel . . . met die leër van die hemel en die bewoners van die aarde, en daar is niemand wat sy hand kan afslaan en vir Hom kan sê: Wat doen U nie?” (Dan. 4:35).