God is barmhartig
God is barmhartig
Ons dink gewoonlik aan God se barmhartigheid met verwysing na onsself, omdat ons dié barmhartigheid nodig het. Ons dink veral daaraan as jammerte. God is vir ons barmhartig wanneer Hy ons jammer kry en ons bevry van die ellende en rampsaligheid van ons sonde (Spr. 16:6).
Daar is méér in barmhartigheid. Ons mag nooit vergeet dat barmhartigheid ʼn eienskap van God is nie, ʼn kenmerk van sy ware wese en iets waarsonder Hy nooit is nie. Dit hou in dat God barmhartig sou wees al het ons nooit as voorwerpe van sy barmhartigheid bestaan nie. Al sou niemand gered word nie en alle mense verlore gaan, sou Hy steeds barmhartig wees. Hy sou barmhartig wees al het Hy geen barmhartigheid aan enigeen betoon nie.
Dit herinner ons weer daaraan hoe uiters verkeerd dit is vir mense om te sê dat God nie barmhartig, liefdevol, goed en genadig kan wees as Hy nie almal red nie. Hy het nie nodig om enigiemand te red om barmhartig te wees nie. Hy het geen skepsel nodig om God van barmhartigheid te wees nie (Ef. 2:4). Hy is onafhanklik, algenoegsaam en het niks nodig nie. Hy is God.
Wat is barmhartigheid as ʼn eienskap van God? Daar is verskeie dinge waarvan ons by beantwoording van hierdie vraag moet kennis neem.
Ons moet besef dat, selfs met verwysing na onsself, genade baie meer is as die begeerte om iemand te bevry. Dit is bowenal die begeerte om te sorg dat iemand gelukkig en geseënd is en die jammerte wat mens voel vir hulle wat tenietgaan en die begeerte om hulle te bevry, is hieraan ver ondergeskik. Dit help ons om te sien dat God se barmhartigheid eerstens die begeerte is dat Hyself bo alles vir ewig geseënd sal wees. Hy vergaan nie en is nie behoeftig nie, en Hy is nooit die voorwerp van bejammering nie; nietemin verlang Hy sy eie, ewige seën en heerlikheid. Dit is sy barmhartigheid as eienskap van sy eie wese (Eks. 34:6).
Dit is net as God besluit om aan ons barmhartigheid te bewys dat dit sy begeerte om te seën, jammerhartigheid, deernis en die begeerte om te red insluit, want ons is verlore en besig om te vergaan en daarom die gevoeglike voorwerpe van sy erbarming (Jak. 5:11). Selfs wanneer Hy aan ons hierdie erbarming openbaar, is sy einddoel die heerlikheid en geluksaligheid van sy eie Naam en wese. Daarom red Hy ons nie net in sy barmhartigheid nie, maar verhoog ons om by Hom te wees en Hom vir ewig te geniet.
As ʼn eienskap is God se barmhartigheid ook kragtig. Dit is nie, soos sommiges beweer, ʼn blote hopelose gevoel van jammerte by God nie, ʼn gevoel wat Hy teenoor almal het, maar wat Hy nie in alle gevalle kan of wil vervul nie. Soos die ander eienskappe van God is barmhartigheid soewerein, almagtig, onveranderlik en ewig, en faal daarom nooit wanneer Hy dit, soos Hy doen, aan sommiges van die mensdom bewys nie (Ef. 2:4; Tit. 3:5; 1 Pet. 1:3). God se barmhartigheid kan nie ʼn leë en onvervulde gevoel wees, wat uiteindelik tog die voorwerpe van sy barmhartigheid hel toe laat gaan nie. Omdat barmhartigheid God se barmhartigheid is, en ʼn eienskap van sy eie goddelike wese, glo ons nie dat God se barmhartigheid en genade “algemeen” is, in die sin dat God teenoor almal barmhartig is nie.
Ons is dankbaar, meer as wat woorde kan sê, vir die barmhartigheid wat God aan ons betoon, in die besonder omdat ons weet dat dit geheel en al onverdiend is, en nie aan almal betoon word nie. Dat God mense soos ons seën en met ons medelye het, is ongelooflik, en tog word dit sielsverlangend geglo deur hulle wat aan Hom behoort.