Die skepping van die mens
Die skepping van die mens
Ons glo dat die mens deur God geskape is. Hy het nie geëvolueer nie. Die skepping van die mens was inteendeel die kroon van God se werk aan die begin, en ʼn kragtige getuienis van die grootheid van God en van die mens se unieke plek in die wêreld van God.
Die skrif toon op baie maniere die uniekheid van die mens:
- God het met Homself beraadslaag voor die skepping van die mens — Hy het dit nie gedoen voor die skepping van ander dinge nie (Gen. 1:26).
- God het die mens na sy eie beeld geskape (Gen. 1:26, 27).
- God het die mens deur ʼn tweevoudige handeling van Homself geskep (Gen. 2:7), en nie net deur hom in die lewe te roep, soos Hy met die diere, die visse en die voëls gedoen het nie.
- God het die mens geskape om in gemeenskap met Hom te lewe (Gen. 2:15-170.
- God het vir die mens ʼn spesiale plek geskep om in te lewe (Gen. 2:8).
- Nadat Hy die mens geskep het, het Hy hom direk aangespreek (Gen. 1:28).
- God laat die mens oor al die aardse skepsele heers (Gen. 1:28).
Die Skrif se weergawe van die skepping van die mens verskil drasties van die evolusieleer, wat die mens se verskil van die dier net as ʼn graadverskil sien en nie as ʼn verskil in natuur en soort nie; allermins in sy vermoë om God te ken en in gemeenskap met Hom te lewe. Omdat hulle nie ʼn werklike onderskeid tussen mens en dier sien nie, begin evolusioniste om die twee ook in ander opsigte te verwar. Só praat hulle van “diereregte” hulle behandel fetusse as iets wat weggegooi kan word en hulle verwys na heidense mense as “primitief”.
Van nog groter belang is egter dat die unieke skepping van die mens ons aandag vestig op die verhewe staat wat die mens by daardie eerste skepping gehad het, en hoeveel hy deur die sondeval verloor het. Net die heerlikheid van sy eerste staat kan die ellende van sy huidige staat verklaar. Net iemand wat geskape is om in gemeenskap met God te lewe kan nou in Satan se gemeenskap lewe. Net iemand wat só hoog geskape is, kan só laag val. Net iemand wat vir die ewige lewe geskape is, kan deur sy sonde die ewige dood oor homself bring.
Evolusioniste verstaan nie die mens se teenswoordige toestand nie, daarom plaas hulle die hoop op opvoeding, sosiale hervorming, politiek en ander menslike “oplossings” vir die mens. ʼn Evolusionis glo nie, en kan nie glo, dat die mens verlore is, sy toestand ellendig en sy staat hopeloos is nie. Hy kan nie sien dat aardse en tydelike oplossings vir die mens se probleme hopeloos is nie. Ons kan net uit die Skrif die regte begrip vorm van die mens se oorspronklike toestand en van sy groot sy nood.
As ons begryp wat die mens was, en wat hy geword het, sien ons dat dit vir hom onmoontlik is om hom uit eie vermoë weer op te hef of selfs die oplossings wat hy nodig het, te vind. Ons soek nie oplossings deur mense bedink nie, maar ons sien op na Jesus, die een, heilige oplossing en geneesmiddel vir die ellende van die mens.