Leierskap in die Kerk
Leierskap in die Kerk
Het ons in die gemeente leiersfigure nodig? Wie moet hulle dan wees? Wat is die aard van leierskap in die kerk? In diskussie oor hierdie tema word verskillend gedink en gepraat. Dit is voor die hand liggend. Die antwoord op die vraag na leierskap in die kerk word beïnvloed deur die beskouing van die gemeente van Christus; deur die beskouing van wat ʼn kerkverband is en wat die situasie van die plaaslike gemeente is.
Deurlopende ontwikkeling⤒🔗
Ons leef in ʼn kultuur waarin beheer en kontrole sentraal staan. Daar is baie organisasies wat hulle met leiding gee, beheer, kontrole, stimulasie besig hou. Die bestuur van ʼn maatskappy kan nie meer weggedink word nie. In diskussie oor die bestuur in allerlei instellings en bedrywe word reeds gesê dat ons besig is om dit te oordoen. As ʼn groot deel – tot die helfte? – van die bestuur sou verdwyn sal dit nouliks skade doen. Ook op kerklike terrein is daar allerlei organisasies wat hulle vanuit eie opdrag, beskouings en vaardighede besig hou met aspekte wat die bloei en welsyn van gemeentes moet bevorder. Ek sê niks sleg van sulke organisasies nie. Daar is blykbaar ʼn gaping in die ‘kerkmark’. Die vraag is waarom die gaping ontstaan het. Ontbreek dit in die gemeentes aan voldoende insig en kennis in verband met ontwikkeling? Want ontwikkeling is deurlopend. Daar is nie stilstand in die gemeentes nie. Na die aard van die Evangelie en die tydsverloop na die einde van die geskiedenis, sal ontwikkeling altyd voortgaan. Hiermee het ek nog niks gesê oor die aard van die ontwikkeling en hoe ons in die gemeente daarop moet reageer nie. Juis daarvoor is kennis en insig nodig. Juis daarvoor is geestelike wysheid met gepaardgaande vaardigheid nodig, om só op te tree dat daar vir die gemeente ʼn begaanbare, Bybelse pad aangewys word. As daar sprake is van stilstand in die gemeentes – hoe dié stilstand ook al genoem en beskryf word – sal dit altyd tot agteruitgang lei. Spanning tussen die opbou van die gemeente na binne en die getuigend besig wees na buite, sal bly tot op die jongste dag. Daar is geen gemeente wat haar kan onttrek aan die opdrag om van die Evangelie van die kruis en die opstanding en regering van die Here Jesus Christus in die wêreld om haar heen, te getuig nie. Gemeentes wat hulle daaraan onttrek, met watter argumente ook al, sal stadig maar seker (soms ook vinnig) van die aardbodem verdwyn.
Beweging in kennis van Christus←⤒🔗
Bybels gesien, is dit heeltemal reg dat daar aan die gemeente leiding gegee behoort te word. Die gemeente het leiding nodig. Dit is ʼn tweevoudigheid in die Bybelse spreke oor die kerk van Christus. Die gemeente is mondig. Sy behoort in Christus volwasse te wees. Maar volwasse wees, is altyd tegelyk ook volwasse word. Geestelike groei is die uitgangspunt én die doelstelling. Dit is die uniekheid van die gemeente van Christus. Die mondige gemeente moet mondig word. Dié proses gaan altyd voort. En dit nie omdat daar steeds nuwe jongmense in die gemeente bykom nie – mens hoop dat daar nog aanwas van binne kom – nee, dit lê veral in die aard van die kennis van Christus. Die kennis van Christus – ek gebruik hierdie omskrywing as ʼn samevattende term vir die kennis van die volle heil van God – is ʼn lewende kennis. ʼn Eiesoortige kennis met ʼn eie inhoud. Dit is veel meer as verstandelike kennis. Hierdie kennis omvat die geestelike insig – uit die Woord verkry! – in wie die drie-enige God is, wat sy dade is en waarom sy dade groot is. Hierdie kennis omvat ʼn baie persoonlike verhouding tot God in Christus deur die Heilige Gees. “En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het” (Johannes 17:3). Hierdie kennis van die geloof, tesame met die kennis van die hoop en die werk van die liefde, is ʼn kennis wat altyd in beweging is. En dit is nie altyd ʼn vooruitgaande en omhooggaande beweging nie; daar is ook agteruitgaande beweging. Maar daar ís beweging. Daarom is daar nie stilstand nie. Daar bestaan immers nie stilstaande beweging nie. Dit lyk na ʼn oorbodige opmerking, maar, gegewe die aarde van die geestelike kennis waaroor dit in die kerk van Christus gaan, is dit ʼn opmerking van die grootste belang.
←⤒🔗
Leiding is noodsaaklik←⤒🔗
Daar moet in die beweging van die kennis van Christus in die gemeentes – en dus ook in die persoonlike lewe – leiding gegee word. ʼn Leiding wat met die aard van die kennis ooreenkom. Derhalwe is dit geestelike leiding. Dit is leiding wat kennis van Christus as uitgangspunt en doelstelling het. Hierdie leiding kan nooit ofte nimmer gegee word deur mense wat self nie aan Christus deel het nie; wat die geloofskennis van Christus nie besit nie. Hulle sal die gemeente nie verder bring in die noodsaaklike kennis van Christus nie. Ek is baie ernstig daaroor dat leierskap in die kerk goed deurdink moet word. Hierdie leierskap moet onderskei word van ander leierskap in die samelewing. Dit beteken nie dat kundige leierskap in die samelewing nie vrugbaar kan wees vir aspekte van leidinggewing in die gemeente nie. Dit is byvoorbeeld tot seën as daar broeders op die kerkraad dien wat in die maatskappy ʼn leidinggewend loopbaan het (of gehad het). ʼn Kerkraad en gemeente kan voordeel trek uit hulle insigte. Ek stel my dus nie geheel teen goeie leierskap nie. Inteendeel. Probleme in die gemeente ontstaan dikwels juis weens gebrek aan goeie leierskap. Gemeentes wat op ʼn goeie manier gelei word, baat daarby. Op ʼn goeie manier: dit is geestelik, vol van die Heilige Gees, afhanklik van Christus en sy Woord, dit is dienend, daarop uit om harte te open. Dit laat mense tot hulle reg kom, probeer om dit wat God in mense gegee het, na buite te bring. Dit stimuleer die gawes wat Christus aan die gemeente gee. En dit kan deurdruk in situasies waarin sterk optrede vereis word.
Dit is van groot belang dat organisasies was só leidinggewend wil dien, kerklik van aard sal wees. Hulle moet deur kerklike vergaderings in die lewe geroep word en deur kerklike vergaderings beheer word – en ook dié beheer is geestelik van aard, al is ‘geestelik’ dan ook heel ‘konkreet’! Organisasies in die kerk moet nie ʼn selfstandige bestaan voer en ʼn doel in sigself word nie. Dan kan mens verwag dat daar vroeër of later probleme gaan ontstaan. Die dienende karakter van alles wat in die kerke plaasvind, moet die uitgangspunt en doelstelling wees.
Versigtig met leiersfigure←⤒🔗
Ek is huiwerig om van leiersfigure binne die gemeente van Christus te praat. Dat ampsdraers geroep word om geestelike leiding te gee, beteken glad nie dat hulle nou ook leiersfigure geword het nie. Iemand mag miskien so ʼn persoon vir ʼn leiersfiguur aansien, maar so ʼn aansien is nie te regverdig nie. Sodra die leiding in ʼn gemeente deur persone na hulleself getrek word, dreig die begin van probleme. Daar ís mense in die gemeente wat ʼn natuurlike aanleg van leiding gee het. Hulle ken ook die ‘verborge omgang met die Here’. Hulle stel hulleself dienend beskikbaar. Sulke mense word deur die hele gemeente waardeer ondanks moontlike verskille in persoonlike en geestelike ingesteldheid. Sulke mense kry by verkiesing van ampsdraers dan ook die stemme van byna al die lidmate. Dit is ʼn seën as ʼn gemeente sulke mense in hulle midde het. Tog hang die welsyn van die gemeente nie van hulle af nie. Niemand is onmisbaar nie. Leiding gee aan die gemeente is ʼn kollektiewe gebeure. Soos die kerkraad, so is ook die gemeente. Dit is tot ʼn groot mate die werklikheid. Daar is ook, wanneer mens die gemeente goed ken, die omgekeerde waarneembaar: soos die gemeente, so is ook die kerkraad. Maar ook hier moet daar omsigtigheid wees. Want die kerkraad is nie daar om die wil en wense van die gemeente uit te voer en as beleid te aanvaar nie. Die kerkraad is wel daar om noukeurig te luister na wat in die gemeente leef. En hulle sal ook sorgvuldig aan die gemeente oordra hoe hulle met die idees, voorstelle en planne wat uit die gemeente kom, wil handel of oorweeg om te handel. Want wat is ʼn kerkraad sonder ʼn gemeente? Geseënd is die gemeente waar daar ʼn hartlike, liefdevolle wisselwerking tussen die kerkraad en die gemeente bestaan.
Gestalte van Christus←⤒🔗
Vanuit die kollektiewe leiding gee aan die gemeente kom daar die persoonlike leidinggewing. Die lede van die kerkraad moet in die geheel van die kerkraad ʼn plek hê waarheen hulle hul vrae, probleme en vreugdes kan bring. Pastorale kerkraadsvergaderings met die oog op die vrae wat uit die ampsbeoefening spruit, is van onskatbare belang. Die ampsdraers kan al die sake van bestuur en beheer so doeltreffend moontlik reël en desnoods uitbestee om hulle so goed as moontlik aan die geestelike welsyn van die gemeente te wy. Want daar is geestelike nood in die gemeente. Kragtige prediking van die Woord van God en ʼn pastoraat wat daaraan beantwoord en daardeur gelei word, is die kragtigste lewensmiddele én geneesmiddel van die gemeente. Wat anders ook al, kom nie daarby nie. In effek beteken dit: ʼn beskeie profiel vir sowel predikant as gemeente, maar kragtige geestelike leiding. Want ons het net één groot doel voor oë: dat Christus in die harte van die lidmate gestalte kry. Dat mense dienend en getuigend deur die lewe kan gaan en ook die blye boodskap kan geniet. Laat ons, lawaaimakers wat ons is, nie die geestelike genietinge vergeet nie.