Selfbeheersing: Die Wêreld se Heimlike Begeerte
Selfbeheersing: Die Wêreld se Heimlike Begeerte
Gestel jy kry die geleentheid om met ʼn invloedryke egpaar oor Christus te praat. Hulle dring by jou aan. “Vertel ons meer oor hierdie Jesus,” sê hulle. Jy moet jou woorde mooi kies (amper soos wanneer jy in ʼn vasvra blitsvinnig die regte antwoord moet verskaf), anders kan hulle aanstoot neem of verveeld raak en die gesprek onmiddellik beëindig.
As hierdie geleentheid hom sou voordoen, hoeveel van ons sou uitwei oor selfbeheersing? Waarskynlik maar min. Tog het Paulus, toe hy voor die Romeinse goewerneur Felix en sy vrou verskyn het en gevra is om oor sy geloof te praat, dit gedoen en ... dít is die reaksie wat hy gekry het:
Maar toe Paulus praat oor geregtigheid en selfbeheersing en die komende oordeel, het Feliks bang geword en gesê: “Jy kan maar vir eers gaan. As ek ʼn geskikte geleentheid vind, sal ek jou laat roep.” Handelinge 24:25
Jou beurt is verby!
“Geregtigheid” – Paulus praat waarskynlik oor die geregtigheid van Christus wat ons toegereken word. Hy is besig om ʼn antwoord te gee op Feliks se uitgesproke of onuitgesproke kommer oor hoe ʼn mens se saak met God reg kan wees. “Die oordeel is aan die kom,” sê Paulus, “Ja, Feliks, jou intuïsie is reg. Ons sal voor God verskyn en, behalwe vir die geregtigheid van Christus wat ons toegereken word, sal ons saak met God nie reg wees nie en sal ons deur Hom veroordeel word.” Dit is waarskynlik waarom hy nie meer tyd gegun is om te praat nie. Maar iewers tussen geregtigheid en oordeel praat hy ook oor selfbeheersing. Aangesien die Romeinse samelewing genotsug verkies het, was dit klaarblyklik vir ʼn gevangene ʼn riskante onderwerp om aan te roer – waarom het hy dit dan gedoen? Miskien het hy geweet dat Felix en sy vrou, soos die meeste mense, selfbeheersing heimlik begeer het maar dit sonder Christus op geen manier sou kon verkry nie.
En ongelukkig het met verloop van 2000 jaar niks verander nie. Elke generasie speel aan die een kant met losbandigheid maar hoop aan die ander kant dat hy selfbeheersing aan die dag kan lê. Elke generasie ontdek dat ʼn lewe sonder grense spoedig gevolg word deur verslawing aan ons harstogte, en dat verslawing lei tot ellende. As jy met ʼn volmaakte wondermiddel wil smous, bied een aan wat selfbeheersing verskaf. Ons almal begeer dit en het dit nodig.
Die soeke na genotsug gaan onvermydelik gepaard met die droom van selfbeheersing, hoewel die een begeerte geneig is om die ander te oorheers. Dieselfde tydskrifte wat seksuele vryheid aanmoedig, wys vyf stappe aan om tien kilogram gewig te verloor en publiseer artikels oor hoe om nie deur onbedwingbare emosies oorval te word nie. Die Verenigde State is waarskynlik die land wat die res van die wêreld oortref wanneer dit kom by swaarlywigheid (onbeheerste eetgewoontes) sowel as oefening (selfdissipline). Tot nou toe het genotsug die botoon gevoer, maar verslawing daaraan het sy tol geëis, en ʼn mens kan amper voel hoe die skaal swaai ten gunste van selfbeheersing. Ons raadpleeg nou leefstyl-konsultante vir hulp en hulle staan nie bekend vir hulle maak-net-soos-jy-wil raad nie. Waar genotsug vroeër ons belangrikste oorweging en selfbeheersing ons laaste oorweging was, kan ons ons nou maklik voorstel hoe denkende mense vra: Wat moet ek doen om nie deur my gevoelens en begeertes beheer te word nie?
Die probleem is dat dit maklik is om aan genotsug toe te gee. Selfbeheersing – daarenteen is amper onmoontlik.
In elk geval kan ons sê dat selfbeheersing terug is in die prentjie – selfs in die sekulêre sfeer. In werklikheid was dit altyd daar en sal dit altyd daar wees. Die bedoeling was dat mense binne grense sou leef.
Ons kan net raai wat Paulus vir Felix gesê het. Ongetwyfeld was dit meer as “hou op daarmee”. En ongetwyfeld het hy nie enige nuwe reëls voorgestel nie. Sy brief aan die Kolossense gee die essensie van sy mening oor die onderwerp weer:
As julle saam met Christus die kosmiese elemente afgesterf het, waarom is julle, asof julle nog as deel van die wêreld leef, steeds verbonde aan voorskrifte soos: “Moenie daaraan vat of proe of raak nie”? Al hierdie voorskrifte is gebaseer op mensgemaakte voorskrifte en leringe wat mettertyd tot niet gaan. Hoewel hierdie voorskrifte met hulle selfopgelegde godsdienspligte, gewaande nederigheid en liggaamlike kastyding, die skyn van wysheid het, is dit heeltemal nutteloos, maar dien tot bevrediging van die sondige aard. Kolossense 2:20-23
Boeiend, nè? Die gelowiges van Kolosse het gesoek na ʼn hupstootjie om selfbeheersing te verkry deur engele te aanbid en sekere nuwe verbodsbepalings by te voeg, veral dié wat ʼn mate van pyn sou meebring. Dit sal niks help nie, sê Paulus, tog is daar inderdaad ʼn geheime kuns verbonde aan selfbeheersing en daardie geheim is verborge in Christus.
Dit is my doel dat hulle harte, deur liefde verenig, bemoedig mag word en dat hulle kan kom tot die volle rykdom van allesomvattende insig, ja, tot die kennis van die misterie van God, naamlik Christus, in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is.Kolossense 2:2-3
In sy brief aan die Kolossense verkies Paulus om na Jesus as die Christus – die Messias, die Koning te verwys. Dit is ʼn strategiese keuse. Hy wil dit benadruk dat Christene ʼn nuwe burgerskap het; ʼn lewe binne ʼn nuwe koninkryk, met ʼn nuwe maghebber. Slegs dit sal ons voorberei vir die stryd om selfbeheersing. Christus het die wetsvoorskrifte wat sou kon veroordeel, afgeskaf, die magte wat van jou ʼn slaaf van jou onbeheerbare begeertes gemaak het, ontwapen, vrede in jou hart gebring en liefde vir andere daarin geplant waar liefde vir jouself voorheen alles verdring het. Nou, sê Paulus, moet jy die lewe onder die banier van die Koning leef. Jy moet alles in sy Naam doen.
Welkom in die ryk waar Christus oppermagtig regeer.
Paulus gaan voort. Bly dus verbonde aan Christus deur geloof, sê hy. Hoe sou jy enigiets anders kon doen? Waar anders sal jy die krag vind as alles aan hom onderworpe is? Sou jy duisternis en slawerny verkies as die Koning gekom het om jou te bevry? Natuurlik nie.
Met al hierdie dinge in gedagte en met Christus se hulp, moet jy dan die soeke na genot wat nog in jou oorgebly het, doodmaak. Dinge soos “onsedelikheid, onreinheid, wellus, en slegte begeertes, en ook gierigheid, wat afgodediens is. As gevolg van sulke dinge kom die oordeel van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid” (Kolossense 3:5b-6). Laat jy dit geniet om hierdie begeertes dood te maak.
En onthou om ander begeertes na te streef, soos medelye met, vriendelikheid, goedheid en geduld teenoor andere. Wat het naasteliefde te doen met selfbeheersing? Volgens Paulus moet jy kyk en sien. Selfs Alkoholiste Anoniem het agtergekom dat daar ʼn verband is tussen die manier waarop ons met andere omgaan en die opvlamming van verslawing. Betoon liefde aan ander mense, dan beveg jy jou eie genotsug.
Per slot van rekening weet ons nie waarom Paulus deur Felix stilgemaak is nie, maar moontlik het jy uitgevind dat ʼn gesprek oor selfbeheersing ten minste die heimlike begeerte sal aanspreek van iemand wat meer by jou wil weet oor die evangelie. Probeer dit. As jy stilgemaak word – weet dat jy in die goeie geselskap van ander Christene verkeer.
(Alle Skrifaanhalings is uit Die Nuwe Testament en Psalms ‘n Direkte Vertaling, 2014.)