Bron: Nader Bekeken, 2004. 5 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Geestelike en Wêreldlike Mag in die Christendom en Islam

Koran en Bybel

Dit kan nie ontken word dat godsdiens ʼn belangrike faktor is in die botsings tussen mense en volke in hierdie wêreld nie. Godsdiensoorloë is geskiedenis bepalende gegewens wat betref die verlede en die hede. Ons verwag ook dat hulle nie uit die toekoms weggedink kan word nie.

Solank mense hulle geloof belewe en bely tussen die mure van hulle woning of hulle huis van gebed, is daar nie ʼn enkele probleem nie. Dit verander sodra die belyders van ʼn godsdiens vind dat hulle oortuiging ook betekenis moet hê vir die openbare lewe. So ʼn oortuiging het ook gevolge vir die verhouding tussen volkere.

In hierdie artikel word aandag gevra vir die manier waarop Christene en Moslems vorm gegee het aan hulle belydenis dat hulle God, respektiewelik Allah, Koning is oor die hele lewe.

Dit gaan hier by name oor die verhouding van die kerk en owerheid enersyds, en die moskee en owerheid andersyds. Die sentrale vraag is hier: het die owerheid die roeping om daarvoor te sorg dat die goddelike gebooie ook in die openbare lewe onderhou word?

Word die vraag bevestigend beantwoord: watter gevolge het dit vir die verhouding kerk en moskee enersyds en die owerheid andersyds?

Dit is sinvol om die geskiedenis hierby te betrek. Vandaar ʼn kort oorsig van sowel Christianisering en Islamisering. Met hierdie terme word dié vorme van geloofsverbreiding waarby die owerheid ʼn groot rol speel, aangedui.

Christianisering🔗

Toe keiser Konstantyn die Grote in 312 Christen geword het, het dit belangrike veranderings vir die Christene meegebring. In 313 word in die Rykswet van Milaan bepaal dat die Christene dieselfde regte moet ontvang as die aanhangers van ander godsdienste.

Enkele jare later, in 380, verhef keiser Theodosius die Christendom tot staatsgodsdiens. Die heidendom word strafbaar gestel en elke burger word verplig om in die leer van die Goddelike Drie-eenheid te glo. Elke burger wat ʼn staatsamp beklee, moes lid word van die staatskerk, anders kon hy nie sy pos beklee nie.

Hierdie Christianisering van die lewe het die voordeel gehad dat die kerk eindelik in alle rus haar werk kon doen. As groot nadele kom na vore: die kerk verloor haar selfstandigheid en die keiser word in feite hoof van die kerk (caesaropapie). Die keisers bemoei hulle dan ook baie aktief met die gang van sake op verskillende konsilies. Die kerk word ʼn bolwerk van mag. Daarmee verdwyn in hierdie verburgerlikte kerk die beginsel van kruisdra in navolging van die Here Jesus.

In latere tye is die rolle omgedraai. Nie elke pous het genoeë geneem met die tweede plek nie. So het pous Gregorius VII dit reggekry dat koning Hendrik IV in 1077 die pad na Canossa geneem het. En die verdrag van Worms (1122) het geblyk nie genoeg te wees om pous en keiser op hulle eie terreine te hou nie. In die jaar 1200 het die pous meer mag besit as wat hy ooit gehad het. Die pous het die magstryd op die end gewen.

ʼn Ernstige gevolg van hierdie vermenging van ampte sien ons in die Kruistogte. Peter van Amiëns trek deur die land met die steun van die pous om ʼn ‘kruisleër’ te organiseer. En die mense het gekom met uitroep van: God wil dit!

kruistogte

Hierdie kruistogte het nie vir die Christelike kerk ʼn diens bewys nie. Die mense het hulle onchristelik teenoor die ander volke gedra. Moslems en Jode is voor die keuse gestel: buig voor die kruis van Christus, of die dood.

Vir hedendaagse Christene is die Kruistogte iets uit die verre verlede. Wie Moslems oor die Kruistogte hoor praat, kry die indruk dat dit maar pas agter die rug is. Dit het geblyk toe George W. Bush op die vooraand van die stryd teen Irak die woord crusade gebruik het. Vir baie Moslems was dit bewys dat hy ʼn godsdiensoorlog wou begin.

Die geskiedenis van die Westerse Christendom laat nog ʼn voorbeeld sien van die vermenging van kerk en staat. Ek dink hier aan die cuius regio, eius religio beginsel wat in die tyd na die Reformasie in Duitsland praktyk geword het. As die vors ʼn Rooms Katoliek was, was die onderdane geag ook lede van die Rooms Katolieke kerk te wees. Dieselfde het gegeld vir ʼn protestantse vors en sy onderdane.

Ook nader tuis is daar voorbeelde van vervaging van die grense tussen kerk en staat. ʼn Deel van Protestantse Nederland gebruik nog die Statevertaling. Dit is ʼn vertaling wat gedoen is in opdrag van die State-Generaal van die Verenigde Nederlande. Hierdie geliefde en hoogstaande vertaling dateer uit die tyd toe burgermeesters die predikante benoem het. Hierdie selfde regente het vanaf 1618/19 verhinder dat die kerke in sinodale verband kon vergader. Daar is meer voorbeelde van hierdie grensvervaging.

Al hierdie voorbeelde toon dat die skeiding tussen kerk en staat soos ons dit vandag ken, nie vanselfsprekend is nie. Dit laat ook blyk dat die bemoeienis van die owerheid met kerklike sake nie altyd dramatiese gevolge gehad het nie.

Islamisering🔗

Kyk ons na Islam, sien ons dieselfde worsteling rondom ‘moskee en staat’.

Toe Mohammed van Mekka na Medina gevlug het, verander hy van vervolgde profeet na gevierde staatsman. In Medina stel hy die Grondwet van Medina op. Die besondere van hierdie grondwet was dat al die burgers van die stad as dieselfde geloofsgemeenskap, die oemma, beskou word. Dus ook die Jode in die stad. Hulle moes saam met die Moslems bydra tot die koste van die oorloë van Mohammed. Daarby het die Jode, soos die Moslems, die reg gehad op die vrye beoefening van hulle godsdiens. Ewewel het die grondwet van Medina teorie gebly, omdat konflik met die Jode in Medina verhoudinge totaal verander het.

In later tye sou die begrip oemma net die Moslems omvat. Jode en Christene het amptelik ʼn aparte posisie beklee, naamlik die status van dzimmi. Dzimmi beteken beskermling. Teen betaling van kopbelasting en grondbelasting kon hulle die land gebruik en hulle godsdiens beoefen. Daarmee het die Jode en Christene vanweë hulle geloof tweederangse burgers geword. Met verskillende reëls is deurgaans van die dzimmi’s respek en onderdanigheid verwag.

Dit was in feite die bloudruk vir die strewe wat ons in later tye herhaaldelik sien terugkeer: om die religieuse wet, die shari’a, die grondwet van die staat te maak.

In verband met ons onderwerp is dit belangrik om te weet dat die wêreld deur die Moslems in twee gebiede opgedeel word: die daar al-islam en die daar al-harb. Waar die Moslems in die meerderheid is en die sê het, is daar al-islam. Die daar al-harb is die gebied wat die Islam nog moet verower, die ‘gebied van oorlog’.

Die geskiedenis laat blyk dat dit nie altyd vir minderhede te moeilik was om onder Moslem oorheersing te lewe nie. Dit het van plek tot plek en tyd tot tyd verskil.

Mens kan hier ʼn onderskeid maak tussen Moslem lande en Islamitiese lande. In die Moslem lande is die meerderheid inwoners wel Moslems, maar druk nie die stempel van die Islam op die openbare lewe af nie. Dit is wel die geval in Islamitiese lande. In hierdie samelewings word veral gestreef na aanvaarding van die godsdienstige wet (shari’a) as grondwet vir die nasie. Mens dink aan lande soos Iran, Saoedi-Arabië, Somali en Nigerië. In verskeie ander lande probeer fundamentalistiese Moslems dieselfde bereik.

shari’a

Dit is nie net Christene wat uit hierdie lande vlug en in die Weste asiel soek nie. Net so goed is daar onder die vlugtelinge Moslems wat hulle nie met die geestelike diktatuur van die land van herkoms kan vereenselwig nie.

Die feit dat ook Moslems uit Islamitiese lande vlug is veelseggend. Dit wys wat die mees bedreigde aspek van die Islam is: die strewe om die godsdienstige wet die grondwet van die staat te maak. Die verwerkliking van hierdie strewe laat min of geen ruimte vir die geestelike vryheid van andersdenkendes en ander gelowiges.

Met sy boekie Tegen de Islamisering van Onze Kultuur (1977), het Pim Fortuyn tereg hierop gewys. Op bl. 33 skryf hy: ‘In ʼn deur fundamentalisme bepaalde maatskappy, is die maatskappy-beskouing of religieuse opvatting totalitêr, dit wil sê dit strek oor alle lewensterreine, of dit nou openbaar of privaat is, en waarteen geen beroep moontlik is by ʼn regter wat onafhanklik is van een van die maatskappy-beskouings nie.’

Boetie en sussie?🔗

Moet ons op grond van voorbeelde uit die geskiedenis aflei dat Christendom en Islam sterk verwant is wat die verhouding tussen kerk en moskee enersyds en die staat andersyds betref? Is dit ʼn kwessie van lood om ou yster? Is Islamisering en Christianisering boetie en sussie van mekaar?

So ʼn stelling is nie houdbaar nie.

Laat dit duidelik wees dat die Kruistogte ʼn ontsporing in die geskiedenis van die Christendom was. Verbreiding van die Christendom deur geweld is in stryd met die norm van die Evangelie. Dit geld ook vir ander, meer subtiele vorme van Christianisiering van die samelewing waarby die owerheid voor die kar van die kerk gespan word.

Wat is die posisie by Islam? Vloei die praktyk van Islamisering voort uit die norme van Islam? Ek meen dat dit wel die geval is. Ek wil die een en ander nader toelig.

Die koning en die priester🔗

Wat die Christendom betref wil ek teruggaan na die Ou Testament. Dit is opvallend dat die konings van Israel nie terselfdertyd die funksie van hoëpriester vervul het nie, ook al het Dawid en Salomo priesterlike take verrig. Daarmee neem Israel ʼn besondere posisie in ten opsigte van die omringende volke, waar die koning terselfdertyd die funksie van hoëpriester vervul het. Dit is ʼn boeiende vraag waarom die HERE dit so bepaal het. Ewewel getuig dit van Goddelike wysheid. Kyk maar: waar die priesterlike en die koninklike mag in die hande van één mens kom, lê die pad oop na geestelike diktatuur.

Dit is nie moeilik om voorbeelde hiervan te kry nie.

In Israel moes die konings hulle weerhou van die priesterlike werk. Hulle moes hulle toelê op hulle eie taak ooreenkomstig die koningswet, soos dit in 1 Samuel 10:25 genoem word: “Daarna het Samuel die reg van die koningskap voor die volk afgekondig en dit in ʼn boek geskrywe en voor die aangesig van die HERE neergelê”.

Ons kom wel vir Melgisédek, die koning van Salem, in die Ou Testament teë. Hy was priester én koning. Kennelik kon hy die vrede veilig bewaar. Daarmee was hy duidelik ʼn tipe van die Vredevors Jesus Christus, die priester na die orde van Melsgisédek. Juis die feit dat Melgisédek ʼn ongeëwenaarde uitsondering is (sien die brief aan die Hebreërs), laat ons sien dat die skeiding van die ampte die reël is, ter beveiliging van die geestelike vryheid en vrede.

In lyn met die Ou Testament sien ons dat Jesus sy dissipels oproep om aan die keiser te gee wat hom toekom (Lukas 20:25). En Paulus wy Hoofstuk 13 van sy brief aan die gemeente in Rome, aan die geheel éie taak van die owerheid.

Dit alles neem nie weg dat die kerk deur alle eeue met die vraag oor die grens tussen die ‘ampte’ van kerk en owerheid, geworstel het nie. Wat beteken dit wanneer die owerheid as ‘dienaar van God’ hom moet hou aan die gebooie van God in die openbare lewe? Beteken dit dat voetbalwedstryde op Sondag verbied moet word en swembaddens gesluit moet bly? Kan die owerheid toestemming gee vir die bou van moskees? Oor hierdie en dergelike vrae is baie gedink en geskryf. Die antwoorde was en is nie altyd dieselfde nie.

moskee

ʼn Duidelike bewys hiervan is die besluit van die Algemene sinode van Utrecht 1905 om die volgende woorde uit artikel 36 van die NGB te verwyder: ‘om ... alle afgodery en valse godsdiens teen te gaan en uit te roei, die ryk van die antichris te vernietig’.

By alle verskil in beskouing by die bepaling van die grense was daar altyd ooreenstemming in die oortuiging dat die Here skeiding tussen kerk en staat leer. In die Ou Testament al in beginsel en in die Nuwe Testament eksplisiet. En hierdie skeiding van bevoegdhede is ʼn versekering teen die geestelike diktatuur wat ontstaan sodra die swaard van die owerheid ʼn verlengstuk word van die kerklike amp.

Die maniere waarop die verhouding tussen ‘kerk en staat’ deur die eeue vorm gekry het, verskil nogal. Veranderende politieke en sosiale omstandighede het voortdurenden nadenke hieroor genoodsaak.

Dit is veral die konfrontasie met die Islam wat ons uitdaag om in die konteks van die 21e eeu oor hierdie vraagstuk na te dink.

Die kalief en die imam🔗

Hoe staan hierdie saak by die Islam? Word daar in Islam nie onderskeid gemaak tussen die ampte nie? Welseker. Tot in 1923 het die Islamitiese wêreld die kalifaat geken. Die kalief se opdrag was om die samelewing te orden en die aardse belange van die samelewing te behartig. Niks meer nie en niks minder nie. Dat die kaliefs hulle nie aan die opdrag gesteur het nie, is ʼn ander kwessie. Hulle gedrag kan vergelyk word met dié van die Christelike keisers wat ook nie kon nalaat om hulle met teologiese sake te bemoei, en beslissings met geweld af te dwing nie.

Waarin lê die onderskeid dan met die Christendom, nie prakties nie, maar normatief beskou?

Die beslissende verskil is daarin geleë dat die Islam die religieuse wet, die shari’a, sien as grondwet vir die samelewing binne die daar al-islaam. En die kalief moet toesien dat hierdie religieuse wet uitgevoer word.

Daar is wel ʼn onderskeid tussen ‘ampte’, maar net één wet vir kerk en wêreld. Om dit kort te stel: die kerklike tug geld ook vir die openbare samelewing. En dit lei tot onderdrukking, waarvan die geskiedenis baie voorbeelde laat sien. En die Islamiste wat hierdie situasie voorstaan, het indrukwekkende dokumente wat stel dat dit in lyn is met die ‘suiwer’ Islam.

Hoe ʼn samelewing het die Islamiete dan in die oog? Wat is hulle ideaal? Dit is die moeite werd om in die verband kennis te neem van die boekie van Dr. H. Kraemer van 1938: De Islam als Godsdienstig- en Zendingsprobleem. Hy gaan daarin onder meer in op die vraag waarom die Islam sulke fanatiese aanhangers het. By die beantwoording van hierdie vraag wys hy die strewe om ʼn verwêreldlikte teokrasie te wees as kern van die Islam, aan.

Om dit te verduidelik neem ek as invalshoek die gebed van Christene om die koms van die koninkryk van God. Die Here Jesus het dié gebed vir sy dissipels geleer, al hoor hulle Hom óók sê dat die koninkryk “by julle gekom” het (Lukas 11:20). Dit wil sê Koning Jesus is al daar en laat sy heerskappy ken. Hy het ook al onderdane in hierdie wêreld (Filippense 3:20), maar die aarde is nog nie ʼn bevryde gebied nie. Wanneer Christene bid om die koms van die koninkryk, dan bid hulle om bevryding van die aarde van alle kwaad en teëstand.

Dit gaan nou daaroor om duidelik te maak dat daar in die Christelike spreke oor die koninkryk altyd ʼn spanning sit. Die koninkryk is al hier, maar dit is nog nie in volmaaktheid hier nie. En die volmaaktheid sal ook nie daar wees vóór die wederkoms van die Here Jesus nie.

moslim

Die spanning bestaan nie in die Islamitiese voorstelling van die daar al-islam, die gebied waar daar volgens die shari’a geleef word nie. Hendrik Kraemer noem die Islam dan ook die mees resolute en langste volgehoue poging om ʼn teokrasie, tot in die fynste besonderhede van alle dele uitgewerk, op aarde tot stand te bring. En daarby het die superioriteitsgevoel ʼn godsdienstige beginsel geword.

Die sement van die eenheid en die broederskap is nie die een waarheid en die een liefde tot dieselfde Here nie, maar die hoort tot dieselfde uitverkore oemma. Aldus Dr. Kraemer. Die ontwikkeling in die wêreld van die Islam het aan sy woorde ʼn hernude aktualiteit gegee. En is sy woorde nie ook bevestig deur die mees onlangse ontwikkelings nie?

Regsorde en religieuse orde🔗

In die bostaande het ons gesien dat die taak van die owerheid in die Christendom ʼn ander reikwydte en inhoud het as in die Islam. Terselfdertyd laat die geskiedenis blyk dat daar op hierdie punt baie variasies is. En wat die Christendom betref, moet dit gestel word dat die owerheid homself dikwels ʼn posisie toegeëien het wat vergelyk kan word met die Islamitiese beginsel van die kalifaat.

Noudat daar ʼn herlewing is in die wêreld van die Islam, kom die noodsaaklikheid skerper na vore om die Christelike beskouing van die taak van die owerheid te definieer. Dit spreek vanself dat hierdie noodsaak homself veral laat voel op die terrein van die aktuele politiek. Dr. R. Kuiper het ʼn boekie geskryf met die titel Dienstbare Overheid. Christelijk-Staatkundige Visie op Politiek en Overheid. Die boekie is uitgegee deur die wetenskaplike instituut van die Christen Unie. Hierin skryf hy dat die owerheid hulle moet beywer vir die regsorde en nie vir ʼn religieuse orde nie. Op bl. 71 skryf hy: ‘Ons sal hier moet verdiskonteer dat ʼn owerheid wat bewustelik werk aan ʼn maatskaplike konsensus, dit altyd moet doen in die gewaad van die reg. Hulle bewerk nie ʼn morele of religieuse orde nie, maar ʼn regsorde. Hierin lê die verskil met alle teokratiese beskouings wat dit aan die owerheid opdra om ʼn morele en religieuse orde in stand te hou.’

Die onderskeid wat Dr. Kuiper hier maak, is baie bruikbaar in die konfrontasie met die Islam. Die Islam wil hê dat die owerheid ʼn religieuse orde bewerk, terwyl die Christendom ʼn regsorde van die owerheid verwag.

Ek wil nie hiermee ʼn pleidooi lewer vir ʼn neutrale owerheid nie. Volgens Romeine 13:4 bly die owerheid ‘ʼn dienaar van God’ wat hom by handhawing van die regsorde moet hou aan die gebooie van God. Wat die kerk betref, beteken dit nadruklike beskerming. En wat die openbare lewe betref, moet gewaak word teen growwe openbare skending van die wet van God, ook wanneer derdes nie slagoffers is daarvan nie. Mens dink hier aan godslastering. Op haar beurt is die taak van die kerk om die burgers daarvan te oortuig dat die reëls wat God gee, goed is vir die lewe. En dit werk deur na die politiek.

Só staan owerheid en kerk voor die uitdaging om aan hulle eie ‘amp’ vorm te gee in ʼn voortdurend veranderende samelewing. Hierby is die opkoms van die Islam in die vanouds Christelike Nederlandse samelewing, één van die grootste uitdagings van hierdie tyd.