As deel van selfverloëning , moet elke volgeling van Christus sy eie kruis dra om te toon dat hy aan Christus se lyding deel het. Hul moet alle selfvertroue afsterf en hulle op God se genade alleen beroep. Gelowiges sal vervolging verduur, maar sal altyd in God rus vind. Verdrukking is noodsaaklik om gelowiges se lydsaamheid te beproef en hulle gehoorsaamheid te leer.

Gelowiges word deur die Here getugtig om nie saam met die wêreld veroordeel te word nie. Hulle gee wel uiting aan hulle droefheid en pyn, maar berus daarin dat dit deel is van God se raadsplan en nie noodlottige gebeurtnisse is nie.

1984. 14 bladsye.

Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 3 Hoofstuk 8 Kruisdra wat deel van selfverloëning is

1. Gelowiges moet toon dat hulle aan Christus se lyde deel het.🔗

Ja, 'n godvrugtige gemoed moet selfs nog hoër opsryg, naamlik na dit waarheen Christus sy dissipels roep, te wete dat elkeen sy eie kruis moet dra. Want almal wat die Here aangeneem het en waardig geag het om met die wat aan Hom behoort om te gaan,1 moet hulle voorberei vir 'n harde, inspannende, onrustige lewe wat vol van baie en verskeie soorte teenspoed is. So is dit ons hemelse Vader se wil om godvrugtiges so te beproef dat hulle 'n bepaalde ervaring daarvan kan kry. Hy het by Christus, sy eersgebore Seun, begin en Hy pas dit ook op al sy kinders toe. Want hoewel Hy Hom bo al sy ander kinders liefgehad het en sy vaderhart in Hom tevrede was,2 sien ons nogtans dat Hy Hom nie toegeeflik en sagmoedig behandel het nie. Gevolglik kan ons waarlik sê dat Hy nie alleen deur 'n voortdurende kruis beproef is solank Hy op die wêreld was nie, maar ook dat sy hele lewe niks anders as 'n toonbeeld van 'n aaneenlopende kruis was nie. Die apostel skryf die rede hiervoor daaraan toe dat Hy uit sy lyde gehoorsaamheid moes leer.3

Waarom sou ons ons dan van hierdie voorwaarde vrystel wat Christus, ons Hoof, moes ondergaan, veral aangesien Hy dit om ons ontwil ondergaan het om in Homself aan ons 'n voorbeeld van lydsaamheid te toon? Daarom leer die apostel dat hierdie doel vir al die kinders van God bestem is, naamlik dat hulle aan Hom gelykvormig moet word.4 Daaruit kom ook die sonderlinge troos tot ons dat ons in harde en moeilike omstandighede wat as rampe en teenspoed beskou word, aan die lyding van Christus5 deel het, sodat ons, net soos Hy uit 'n doolhof van alle kwaad tot die hemelse heerlikheid toegetree het, so deur verskeie verdrukkings tot dieselfde hemelse heerlikheid gelei kan word.6 Paulus praat immers self elders so wanneer hy sê dat wanneer ons leer om in sy verdrukkings te deel, ons terselfdertyd  ook die mag van sy opstanding begryp en wanneer ons aan sy dood gelykvormig gemaak word, so voorberei word om in die heerlikheid van sy opstanding te deel.7

Hoeveel kan dit nie bydra om al die bitterheid van die kruis te versag dat ons gemeenskap met Christus des te sekerder versterk word namate ons meer deur teenspoed getref word nie!8 Deur die gemeenskap met Hom word lyding self nie alleen vir ons seëninge nie, maar dit dra ook baie by om ons saligheid te bevorder.

2. Gelowiges moet alle selfvertroue afsterf en hulle op God se genade alleen beroep.🔗

Hierby kom nog dat ons Here nie nodig gehad het om die kruis op te neem en te dra nie, behalwe om sy gehoorsaamheid aan die Vader te betuig en te bewys. Om baie redes het ons egter wel nodig om voortdurend onder 'n kruis te lewe. Ten eerste - soos ons van nature al te geneig is om  alles vir ons vlees toe te eien - tensy ons swakheid as't ware met die oog aangedui is, waardeer ons ons eie krag maklik ver bo sy gegronde maat, en ons twyfel nie dat dit teen alle moeilikhede ongebroke en onoorwonne sal wees nie, wat ook al met ons gebeur. As gevolg hiervan word ons tot 'n onnosele en waardelose vertroue in ons eie vlees verhef. Wanneer ons daarop steun, is ons smalend hooghartig teenoor God self, net asof ons eie vermoëns sonder sy genade vir ons genoeg sou wees. God kan hierdie aanmatigende houding nie beter hokslaan as wanneer Hy deur ondervinding vir ons bewys nie alleen onder watter swakheid nie maar ook onder watter broosheid ons gebuk gaan. Hy slaan ons dus met skande, armoede of wegneming van dierbares, met siekte of ander rampe. Ons is op verre na nie opgewasse om dit te dra nie en sal sover dit ons aangaan, spoedig daaronder swig. Wanneer ons so verneder is, leer ons om ons op sy krag te beroep, en dit alleen veroorsaak dat ons onder die gewig van die verdrukkings staande bly.9 Ja, hoewel selfs die heiligste mense weet dat hulle deur die genade van God en nie deur eie kragte nie staande bly, is hulle nogtans houtgerus oor hulle eie sterkte en standvastigheid as God hulle nie deur die beproewing van die kruis tot grondiger kennis van hulleself bring nie.

Hierdie onverskilltghetd het Dawid ook oorrompel.10 Hy sê: "In my rus (voorspoed) het ek gesê. Ek sal tot in ewigheid nie versteur word nie. Here, U het uit welbehae my berg kragtig gemaak; U het u aangesig vir my verberg. Ek was verslae".11 Hy erken trouens dat sy sintuie tydens voorspoed deur sy traagheid so afgestomp is dat hy God se genade ter syde gestel het terwyl hy daaraan moes bly hang, en dermate op himself gesteun het dat hy vir homself die ewigheid kon belowe. As dit dan met so 'n groot profeet kon gebeur, wie van ons sou dan nie so vrees dat dit ons versigtig maak nie? Wanneer hulle dus deur teenspoed verneder is, leer hulle dat die indruk van groter standvastigheid en lydsaamheid waarmee hulle hulle in voorspoed gevlei het, huigelary was.

Ek herhaal: as gelowiges deur sulke bewyse aangaande hulle siektes vermaan is, vorder hulle op die pad na nederigheid, sodat hulle hulle van die verkeerde vertroue op hulle eie vlees stroop en hulle tot God se genade wend. Wanneer hulle hulle daarheen gewend het, ervaar hulle die nabyheid van God se krag waarin daar genoeg en meer as genoeg hulp is.

3. Verdrukking werk lydsaamheid en lydsaamheid beproefdheid en beproefdheid hoop, en die hoop beskaam nie (Rom. 5:3).🔗

En dit is wat Paulus leer wanneer hy sê dat deur die verdrukkinge lydsaamheid en deur die lydsaamheid beproefdheid bewerk word.12 Want gelowiges ervaar dat God se belofte dat Hy hulle in hulle verdrukkinge sal bystaan,13 waaragtig is wanneer hulle deur sy hand onderskraag word en in lydsaamheid volhard. Uit eie krag sou hulle nooit daartoe in staat gewees het nie. Lydsaamheid bring dus vir die  heiliges die ervaring teweeg dat God die hulp wat Hy belowe het inderdaad sal bied wanneer dit nodig is. Hierdeur word hulle hoop ook versterk, want dit sou 'n kenmerk van uiterste ondankbaarheid wees om nie die waaragtigheid van God waarvan hulle ervaar het dat dit bestendig en standvastig is, verder te verwag nie.

Nou kan ons uit die onderlinge samehang sien hoeveel goed daar vir ons uit die kruis voortkom, Dit vernietig tewens die valse indruk van eie krag  wat ons ons inbeeld, en ontmasker die huigelary wat ons streel, en verdryf die verderflike vertroue in ons vlees. Wanneer ons so verneder is, leer dit ons om op God alleen te steun om gevolglik nie onderdruk te word of te swig nie.

Wanneer ons oorwin het, koester ons weer hoop, naamlik in soverre die Here deur sy beloftes gestand te doen sy waaragtigheid vir die toekoms versterk. Selfs al was dit die enigste redes daarvoor, blyk daaruit nogtans hoe noodsaaklik die beproewing van die kruis vir ons is.14 Dit is immers nie van geringe belang dat jou blinde eieliefde uit die weg geruim word om jou eie swakheid nader te leer ken nie. Dit is belangrik dat jy jou eie swakheid aanvoel sodat jy kan leer om 'n wantroue in jouself te hê. Dit is belangrik dat jy 'n wantroue in jouself moet hê sodat jy jou vertroue op God kan oordra. Dit is belangrik dat die vertroue van jou hart in God berusting vind sodat jy op sy hulp kan steun en tot die einde toe onoorwonne kan volhard. Dit is belangrik om in sy genade staande te bly sodat jy kan begryp dat Hy in sy beloftes waaragtig is. Dit is belangrik dat jy die sekerheid van sy beloftes gevind het, sodat jou hoop daardeur versterk kan word.

4. God se doel met verdrukking is om gelowiges se lydsaamheid te beproef en hulle gehoorsaamheid te leer.🔗

Die Here het ook 'n ander doel wanneer Hy sy kinders slaan, naamlik om hulle lydsaamheid te beproef en hulle15 te leer om gehoorsaam te wees. Nie dat hulle inderdaad in staat sou wees om gehoorsaamheid aan Hom te betoon as Hy dit nie self aan hulle gegee het nie, maar dit behaag Hom om so met voortreflike bewyse die gawes wat Hy aan die heiliges gegee het, te toon en aan die lig te bring sodat dit nie binne-in hulle ledig en verborge bly nie. Wanneer Hy dus die deug van verdraagsaamheid en standvastigheid waarmee Hy sy diensknegte toegerus het, aan die lig bring, word daar gesê dat Hy hulle lydsaamheid beproef. Daaruit godsvrug daarin gevind het dat hy nie geweier het om sy eie en enigste seun te offer nie.16 Daarom leer Petrus dat ons geloof deur verdrukkinge beproef word net soos goud in 'n smeltkroes deur vuur beproef word.17 Wie sou dan beweer dat dit nie voordelig is dat die voortreflikste gawe, naamlik lydsaamheid, wat die gelowige van sy God ontvang het, aan die lig gebring word sodat hy dit so kan inspan dat dit seker en duidelik kan word nie? Want mense sal hierdie gawe andersins nooit met reg waardeer nie. Maar as God self reg doen wanneer Hy die middels voorsien om die deugde wat Hy aan gelowiges geskenk het, op te wek sodat dit nie verborge en verskuil bly, ja, nutteloos lê en verlore gaan nie, is dit die beste rede vir die verdrukkings van heiliges omdat hulle daarsonder geen lydsaamheid sou gehad het nie.

Ek sê ook dat hulle deur die kruis geleer word om gehoorsaam te wees, want hulle word geleer om nie na hulle eie wens nie maar na die goeddunke van God te lewe. As alles na hulle wens sou verloop, sou hulIe in elk geval nie geweet het wat dit beteken om God te volg nie. Seneca18 meld dat daar in die ou tyd 'n spreekwoord was wanneer mense iemand aangespoor het om sy teenspoed te verdra, naamlik: "Volg God".19 Daarmee het hulle natuurlik te kenne gegee dat 'n mens eers in die stadium waarlik die juk van God ondergaan wanneer hy sy hande en sy rug vir sy slae bied. Maar as dit dan volkome billik is dat ons ons in alles as gehoorsame kinders teenoor ons hemelse Vader betoon, moet ons ons sekerlik nie daarteen verset dat Hy ons op allerlei maniere daaraan gewoond maak om gehoorsaamheid aan Hom te betoon nie.

5. As 'n gelowige nie voortdurend sy kruis dra nie, is hy soos 'n steeks perd wat lank op stal gestaan het.🔗

Ons bemerk nogtans nog nie hoe nodig ons hierdie gehoorsaamheid het nie, tensy ons terselfdertyd daaroor nadink hoe groot ons vlees se teuelloosheid is om God se juk af te skud sodra dit 'n bietjie sagter en toegeefliker behandel word. Met ons gebeur juis dieselfde as met steeks perde wat, as hulle 'n paar dae lank niks gedoen het nie, en dik gevoer is, daarna as gevolg van hulle koppigheid nie in toom gehou kan word nie. Dan herken hulle nie hulle ruiter nie, hoewel hulle sy bevel tevore gehoorsaam het. Dieselfde weerspannigheid waaroor God kla dat dit onder die Israeliete was,20 is ook altyd by ons aanwesig, naamlik dat ons teen Hom wat ons gevoed en gelaaf het, agteropskop wanneer ons vetgevoer is en die vet uit ons uitpeul. God se milddadigheid behoort ons wel te lok om oor sy goedertierenheid na te dink en dit lief te hê, maar omdat ons kwaadwilligheid21 so groot is dat ons eerder voortdurend deur sy sagmoedigheid bederf word, is dit meer as noodsaaklik dat ons deur een of ander vorm van tug in bedwang gehou word om te verhoed dat ons in so 'n moedswilligheid ons perke te buite gaan. Namate Hy voorsien dat dit ons ten beste strek, gaan die Here self ons teë en onderwerp en beteuel die oordadigheid van ons vlees met die middel van die kruis om te verhoed dat ons as gevolg van 'n oormatige oorvloed aan rykdom oormoedig word, en wanneer ons deur ereposisies verhef is, hoogmoedig word of wanneer ons deur ander seëninge van siel of liggaam opgeblase is, verwaand begin word.

Hy doen dit op verskeie maniere, naamlik in die mate wat dit vir elkeen heilsaam is. Want ons swoeg nie almal ewe swaar onder dieselfde kwale nie, en ons het nie almal dieselfde moeilike behandeling nodig nie. Daaruit kan ons sien dat die een deur een en die ander deur 'n ander kruis beproef word. Hoewel ons hemelse Dokter party mense sagmoediger behandel en ander met skerper geneesmiddels reinig wanneer Hy almal se gesondheid in aanmerking wil neem, laat Hy niemand nogtans vry en onaangeraak verbygaan nie, omdat Hy weet dat almal, die laaste een, siek is.

6. Ons word deur die Here getugtig om nie saam met die wêreld veroordeel te word nie.🔗

Hierby kom nog dat ons genadigste Vader dit dikwels nodig vind om nie alleen ons swakheid te voorkom nie22 maar ook om ons sondes van die verlede reg te stel om ons by 'n behoorlike gehoorsaamheid jeens Hom te hou. So dikwels as wat ons daarom geslaan word, moet die herinnering aan ons lewe wat voorafgegaan het, ons dadelik te binne skiet. Ons sal ongetwyfeld vind dat ons die een of ander sonde begaan het wat so 'n tugtiging verdien. En tog moet ons nie veral deur ons sonde te beken tot lydsaamheid aangespoor word nie. Want die Skrif verskaf aan ons 'n baie beter oorweging wanneer dit sê dat ons met teenspoed deur die Here getugtig word om nie saam met hierdie wêreld veroordeel te word nie.23 Dit betaam ons dus om juis ook in die bitterheid van ons verdrukkinge ons Vader se goedertierenheid en barmhartigheid jeens ons te herken, want Hy sien selfs dan nie eens daarvan af om ons saligheid te bevorder nie. Hy rugtig ons dus nie om ons verlore te laat gaan of ons te dood nie maar eerder om ons van die oordeel oor die wêreld te vrywaar.

Die gedagte sal ons lei na wat die Skrif op 'n ander plek leer, naamlik: "My seun, moenie die tug van die Here verwerp nie, en moenie moeg word wanneer jy deur Hom getugtig word nie, want God tugtig hom wat Hy liefhet, en omhels hom soos 'n vader sy seun".24 Wanneer ons die tugtiging van die Vader herken, is dit dan nie ons plig om ons as gehoorsame en onderdanige kinders te betoon eerder as om hardkoppig wanhopige mense na te boots wat as gevolg van hulle wandade hard  geword het nie? God laat ons verlore gaan tensy Hy ons met sy tugtiging terugroep wanneer ons van Hom afgewyk het, sodat Hy tereg sê dat ons onegte kinders en nie ware kinders is as ons sonder sy tugtiging is nie.25 Ons is dus heeltemal verkeerd as ons Hom nie kan verdra wanneer Hy sy goedgunstigheid en sorg vir ons saligheid bewys nie. Die Skrif leer dat daar tussen ongelowiges en gelowiges die verskil is dat ongelowiges soos weerbarstige slawe met 'n diepgewortelde kwaadwilligheid met géselslae net slegter en hardkoppiger26 word, maar dat die gelowiges soos egte kinders tot boetvaardigheid vorder. Jv moet nou kies uit watter een van die twee groepe jy liewer wil wees. Maar omdat ek al elders oor hierdie onderwerp gepraat het,27 is ek tevrede dat ek dit hier kortliks aangeroer het en ek sluit dit dus nou af.

7. Vervolging ter wille van geregtigheid.🔗

Verder is daarin sonderlinge vertroosting geleë wanneer ons ter wille van geregtigheid vervolging ly. Want dan behoort dit in ons gedagte op te kom hoe 'n groot eer God ons waardig ag dat Hy ons so besonderlik vir sy krygsdiens aanmerk. Ek sê dat nie slegs mense wat ter wille van die verdediging van die evangelie swaarkry nie, maar ook die wat as gevolg van die een of ander vorm van beskerming van geregtigheid gebuk gaan, vervolging ly. As ons dus of teen die leuens van die Satan op die waarheid van God aandring of as ons die beskerming van goeie en onskuldige mense teen die onregte van goddelose mense op ons neem, moet ons ons noodwendig die afkeer en haat van die wêreld op die hals haal, waardeur ons lewe, ons goed of ons eer in gevaar gestel word. Dan moet dit vir ons geen verswaring of ergernis wees om soveel aan God op te offer of om te reken dat ons ellendig is nie, omdat Hy met sy eie mond verklaar het dat ons geluksalig is.28 As ons armoede op sigself na waarde sou skat is dit wel ellendig, en dit geld ook van verbanning, veragting, gevangenis en skande. Verder is die dood self die uiterste vorm van alle teenspoed, maar wanneer die guns van ons God ons bestryk, is daar geeneen van hierdie rampe wat nie tot ons voorspoed verloop nie. Ons moet derhalwe eerder tevrede wees met Christus se getuienis as met 'n valse skatting van ons vlees se waarde. Die gevolg daarvan sal wees dat ons volgens die voorbeeld van die apostels blymoedig sal wees so dikwels as wat Hy ons waardig ag om ter wille van sy Naam smaad te verduur.29

Waarom dan? As ons onskuldig is en deur 'n wandaad van mense van wie ons goed weet dat hulle goddeloos is, van ons vermoëns beroof word, word ons wel voor die mense in armoede gedompel, maar ons ware rykdom in die hemel by God groei so steeds aan. As ons uit ons huise verdryfword, word ons des te inniger in God se huisgesin opgeneem. As ons getreiter en verag word, skiet ons des te stewiger wortel in Christus. As ons met skimpe of skande gebrandmerk word, is daar vir ons 'n des te heerliker plek in die koninkryk van God. As ons doodgemaak word, gaan daar 'n toegang tot die geluksalige lewe vir ons oop. Ons moet ons skaam dat ons die dinge waarop die Here so 'n groot prys gestel het, van geringer waarde skat as die vae en verganklike verlokkings van die huidige lewe.

8. Die gelowige moet onder die felste aanslae steeds in God se troos rus vind.🔗

Aangesien die Skrif ons dus met hierdie en soortgelyke vermanings oorvloedig vertroos vir die skandes of rampe wat ons ter wille van die verdediging van geregtigheid op ons neem, is ons uiters ondankbaar as ons dit nie met graagte en blymoedig uit die hand van die Here aanneem nie, veral aangesien hierdie soort kruis besonderlik eie is aan gelowiges deur wie Christus in ons verheerlik wil word, soos Petrus ook leer.30 Omdat beskimping tewens vir mense met edel karakters31 bitterder is as om honderd keer te sterf, vermaan Paulus ons uitdruklik dat nie alleen vervolgings nie maar ook beledigings op ons wag, omdat ons op die lewende God hoop.32 So beveel hy ons elders om in oneer en in eer na sy voorbeeld te wandel.33

Daar word egter nie so 'n blymoedigheid van ons vereis dat dit alle gevoel van bitterheid en pyn van ons kan wegneem nie, anders sou heiliges geen lydsaamheid in die kruis gehad het as hulle nie sowel deur smart gefolter as van moeite benoud word nie. As daar geen hardheid in armoede was nie, geen foltering in siektes, geen angel in oneer en geen huiwering in die dood nie, watter soort moed of selfbeheersing sou dan daarin wees om dit nie op jou te laat aankom nie? Maar aangesien elkeen van hulle van nature met 'n ingebore bitterheid aan ons almal se siele knaag, kom 'n gelowige se moed daarin aan die lig as hy deur die ervaring van so 'n bitterheid beproef is en ofskoon hy swaar daaronder swoeg, nogtans moedig daarteen weerstand bied en daarmee worstel. Sy lydsaamheid kom daarin na vore as hy pynlik geprikkel is maar nogtans deur godvresendheid in bedwang gehou word om nie in die een of ander vorm van onbeheerstheid uit te bars nie. Sy bereidwilligheid skitter daarin as hy deur droefheid en rou verwond is maar nogtans in die geestelike vertroosting van God berusting vind.

9. Anders as die Stoïsyne gee gelowiges wel uiting aan hulle droefheid en pyn.🔗

Gelowiges voer hierdie stryd teen hulle natuurlike gevoel vir pyn wanneer hulle hulle vir lydsaamheid en matigheid beywer. Paulus beskryf dit pragtig met die volgende woorde: "In alles word ons verdruk, maar ons word nie benoud nie, ons swoeg maar is nie verlate nie, ons word vervolg maar is nie verlore nie, ons word neergegooi, maar ons gaan nie verlore nie".34 'n Mens kan sien dat om 'n kruis geduldig te dra, nie beteken om heeltemal oorbluf te word en van alle gevoel van smart gevrywaar te wees nie.

Eertyds het die Stoïsyne byvoorbeeld onverstandig iemand wat sy menslikheid laat vaar het, as 'n groot gees beskrywe omdat hy deur teenspoed net soveel as deur voorspoed, deur droefheid net soveel as deur blydskap beïnvloed word, ja, soos 'n klip wat deur niks geraak word nie.35 En wat het hulle nou eintlik met so 'n verhewe wysheid bereik? Dit naamlik dat hulle 'n beeld van lydsaamheid36 geteken het wat nog nooit onder die mensdom gevind is nie en ook nie kan bestaan nie. Ja, terwyl hulle 'n te noukeurige en presiese lydsaamheid wil hê, het hulle eerder die werking daarvan uit die mens se lewe weggeneem. Daar is nou ook onder Christene nuwe Stoïsyne,37 vir wie dit 'n ondeug is nie alleen om te sug en te huil nie maar ook om bedroef en onrustig te wees. Hierdie wonderlike leerstellings38 ontstaan oor die algemeen by ledige mense wat hulle eerder besig hou met bespiegelings as met dade en niks anders as sulke wonderlike leerstellings vir ons kan voortbring nie.

Maar met so 'n ysterharde filosofie het ons niks te doen nie, omdat ons Meester en Here dit nie slegs met die Woord nie maar ook met sy voorbeeld veroordeel het. Want Hy het oor sy eie teenslae sowel as oor die van ander gesug en gehuil en sy dissipels ook so geleer. Hy sê: "Die wêreld sal bly wees, maar julle sal treur en huil".39 En, om te voorkom dat iemand dit as 'n gebrek sou beskou, het Hy sy bedoeling verduidelik en verklaar dat almal wat treur, geluksalig is.40 Dit verbaas 'n mens ook nie. Want as alle trane afgekeur word, wat sal dan ons oordeel oor die Here selfwees toe trane van bloed uit sy liggaam gedrup het?41 As enige vorm van vrees as ongeloof gebrandmerk word, hoe sal ons dan sy huiwering beskou waarvan ons lees dat Hy nie maar net effens verslae was nie?42 As elke soort treurigheid ons dwars in die krop steek, hoe sal ons dan genoeë neem daarmee dat Hy verklaar dat sy siel tot die dood toe bedroef is?43

10. Daar is wel 'n tweestryd tussen die gelowige se natuurlike gevoel vir droefheid en sy vroom gesindheid om God te gehoorsaam.🔗

Ek wou hierdie dinge sê om godvrugtige gemoedere van wanhoop af weg te hou, sodat hulle nie hulle ywer vir lydsaamheid onmiddellik laat vaar omdat hulle nie by magte is om die natuurlike gevoel van droefheid af te weer nie. Dit is iets wat noodwendig moet gebeur met mense wat lydsaamheid in gevoelloosheid omsit en van 'n moedige en standvastige man 'n boomstomp maak.44 Die Skrif prys die heiliges trouens vir hulle verdraagsaamheid wanneer hulle so deur die ongenaakbaarheid van hulle teenspoed getreiter word dat hulle nie gebreek word of beswyk nie, en so deur die bitterheid daarvan gepynig word dat hulle terselfdertyd met geestelike blydskap oorstroom word; so deur angs verdruk word dat hulle weer asem skep wanneer hulle deur God se vertroosting verbly is. Intussen is daar die tweespalt in hulle harte, naamlik dat die natuurlike gevoel wat hulle ervaar, teenspoed ontwyk en daarvan terugdeins; en die gevoel van godsvrug, wat selfs onder hierdie moeilikhede stry om God se wil te gehoorsaam. Die Here het hierdie tweespalt tot uitdrukking gebring toe Hy vir Petrus gesê het: "Toe jy jonger was, het jy jouself gegord en gegaan waar jy wou.45 Maar wanneer jy oud geword het, sal iemand anders jou gord en bring waar jy nie wil wees nie".46 Dit is in elk geval onwaarskynlik dat Petrus, toe hy God met sy dood moes verheerlik, teen sy sin en terwyl hy hom daarteen verset het, getrek is om dit te doen - andersins sou sy martelaarskap weinig grond vir lof gehad het. Al sou Hy trouens met die grootste vurigheid van sy hart God se beskikking gehoorsaam het, isHy nogtans deur sy wil wat op twee gedagtes gehink het, verskeur omdat Hy nie van sy menswees ontslae was nie. Want toe Hy oor die bloedige dood wat Hy moes ondergaan, nagedink het, was Hy verslae van skrik daarvoor, en Hy sou dit met graagte ontwyk het. Toe dit Hom aan die ander kant te binne geskiet het dat Hy deur 'n bevel van God tot die dood geroep word, het Hy sy vrees oorwin en dit vernietig en met graagte en so met blymoedigheid die dood tegemoet gegaan.

As ons Christus se dissipels wil wees, moet ons ons dus daarop toelê dat ons gemoed met so 'n groot eerbied vir en gehoorsaamheid aan God deurdrenk word dat dit in staat is om alle teenstrydige gevoelens te oorwin en hom aan sy beskikking te onderwerp. Die gevolg daarvan sal wees dat, deur watter soort kruis ons ook al geteister word, ons nogtans selfs in die grootste benoudheid van ons siele ons lydsaamheid standvastig sal behou. Teenspoed sal trouens altyd eie bitterheid hê om aan ons te knaag. So salons wel deur siekte geteister word, daaroor sug en onrustig wees en na gesondheid hunker. So sal ons deur armoede geknel en deur prikkels van onrus en droefheid aan bande gelê word. So sal ons deur die smart van skande, veragting en verontregting ge tref word. So sal ons by die grafte van geliefdes trane wat ons van nature verskuldig is, stort. Dit sal egter altyd die einde wees. Dit was tog die wil van die Here; laat ons sy wil dus gehoorsaam. Ja, te midde van die pyn van droefheid, te midde van versugtinge en trane moet hierdie gedagte by ons opkom om ons gemoed daartoe te neig om juis daardie teenslae ter wille waarvan dit so geteister word, blymoedig te verdra.

11. Die onderskeid tussen wysgerige en Christelike lydsaamheid.🔗

Omdat ons egter die belangrikste rede om ons kruis te dra uit die oorweging van God se wil geput het, moet ons in 'n paar woorde beskryf wat die verskil tussen filosowe en Christene se lydsaamheid is. 'n Baie klein handjie vol filosowe het in elk geval tot die redelike afleiding gekom om te verstaan dat ons deur verdrukkinge deur God se hand beproef word en dat ons in hierdie opsig aan God gehoorsaam moet wees, maar hulle voer ook as rede daarvoor slegs aan dat dit noodwendig so moet wees.47 Maar wat beteken dit anders as om te sê dat ons voor God moet swig omdat 'n mens hom verniet inspan om Hom te weerstaan? Want as ons God slegs gehoorsaam omdat dit so moet wees, sal ons ophou om Hom te gehoorsaam as ons net daarvan kan wegkom. Die Skrif beveel ons egter om iets heel anders in God se wil te bemerk, naamlik ten eerste sy regverdigheid en billikheid en ten tweede sy besorgdheid oor ons saligheid.

Christelike aansporings tot lydsaamheid is dus van so 'n aard dat selfs al sou armoede, ballingskap, gevangenis of smaad, siekte of verlies van dierbares of iets soortgelyks ons teister, ons nogtans moet dink dat niks daarvan met ons gebeur het anders as deur die wil en voorsienigheid van God nie.48 Verder moet ons daaraan dink dat Hy niks anders as volgens sy uiters regverdige beskikking doen nie.49 Hoe dan so? Verdien ons talryke en daaglikse oortredings dan nie om strenger en met harder slae gestraf te word as die waarmee ons deur sy goedertierenheid gestraf word nie? Is dit nie uiters billik dat ons vlees getem en so aan sy juk gewoond gemaak word dat dit nie teuelloos volgens sy eie geaardheid voortwoed nie? Verdien God se geregtigheid en waarheid nie dat ons daarvoor swaarkry nie? As God se ontwyfelbare geregtigheid dan in ons verdrukkinge na vore kom, kan ons nie sonder onreg daarteen murmureer of ons daarteen verset nie.

Nou luister ons nie meer na hulle50 kil liedjie dat ons moet swig net omdat ons moet nie, maar ons hoor 'n bevel wat lewendig en kragtig is, naamlik dat ons gehoorsaam moet wees omdat ons Hom nie mag weerstaan nie. Ons moet ons verdrukking geduldig verdra, omdat ongeduld versmading van God se geregtigheid is. Nou erken ons inderdaad dat dit wat tot ons saligheid en voordeel strek, eintlik inderdaad vir ons aangenaam is. Daarom vertroos ons goedertieren Vader ons ook in hierdie opsig wanneer Hy verklaar dat Hy juis in die kruis waarmee Hy ons teister, ons saligheid ter harte neem. As dit dan duidelik is dat ons verdrukkings vir ons tot heil is, waarom sou ons dit dan nie met dankbaarheid en kalmte aanvaar nie? Wanneer ons dit geduldig verdra, swig ons nie voor noodsaak nie, maar ons berus daarin dat dit tot ons voordeel is.

Ek herhaal: hierdie gedagtes veroorsaak dat ons harte net soveel deur geestelike blydskap oorstroom word as wat dit deur ons natuurlike ervaring van die bitterheid in die kruis saamgetrek word. Daaruit volg ook dankbetoon wat nie sonder blydskap kan wees nie. As die lof aan die Here en dankbetoon slegs uit 'n blymoedige en vrolike hart kan kom, is daar egter niks wat dit in ons moet verhinder nie. Hieruit blyk hoe noodsaaklik dit is om die bitterheid van die kruis met geestelike blydskap te ternper.51

Endnotes🔗

  1. ^ Marg. Mat. 16.d.24. Vgl. OC 45:481 - 482.
  2. ^ Marg. Mat. 3.d.17, & 17.a.5. Vgl. OC 45:127,487 - 489.
  3. ^ 1561: + Marg. Hebr. 5.c.8. Vgl. OC 55:63 - 64.
  4. ^ Marg. Rom. 8.f2 (recte 1553 - 1561: Rom. 8.e.29). Vgl. OC 49:159 - 160.
  5. ^ Fr. 1541 e.v.. à la croix de Christ (Benoit 3:177).
  6. ^ Marg. Act. 14.d.22. Vgl. OC 48:330.
  7. ^ Marg. Philip. 3.b.10. vgl. ook die daarvolgende verse en OC 52:50.
  8. ^ In sy kommentaar by Matt. 16:24 meld Calvyn dat die nabootsing van Christus op twee maniere plaasvind, naamlik deur selfverloëning en vrywillige kruisdra: Sensus autem est, non posse censeri Christi discipulos, nisi qui veri sunt eius imitatores, ac in eodem currere stadio parati sunt. Porro brevem imitationis regulam praescribit, ut sciamus, qua praecipue in re velit sibi nos esse similes: ea vero duobus modis constat, abnegatione nostri, et uoluntaria crucis tolerantia - die betekenis hiervan is dat hulle nie as Christus se dissipels beskou kan word nie tensy hulle Hom waarlik naboots en bereid is om op dieselfde renbaan as Hy te hardloop. Verder skryf Hy 'n bondige reël ter nabootsing voor sodat ons kan weet in watter opsig Hy veral wil hê dat ons aan Hom gelykvormig moet wees. Dit bestaan uit twee aspekte, naam lik uit selfverloëning en die vrywillige dra van ons kruis (Harm. ev., OC 45:481). Vgl. Benoit (3:273, n. 2) se uiteensetting in verband met die nabootsing van Christus.
  9. ^ Vgl. hiermee Calvyn se preek oor Matt. 1:20: II faut que nostre Seigneur purge ses jideles et ses  enfans, en leur ostant occasion de se fonder ainsi sur leur prudenee. et qu 'ils se trouvent en telles perplexitez et angoisses qu 'ils n'en putssent plus aftn qu 'ils apprenent de recourlr à luy (OC 46:253).
  10. ^ Marg. Psal. 30.a. 7.Vgl. ook die daaropvolgende verse en Calvyn se kommentaar oor Ps. 30:7 - 8 (OC 31:295 - 297).
  11. ^ Fr. 1560: + pour estre rendu comme insensé, comme il le confesse (Benoit 3:178 - 179).
  12. ^ Marg. Rom. 5.a.3. Vgl. ook die daarvolgende verse en oe 49:90.
  13. ^ Vgl. 2 Kor. 1:4 (OC 50:10).
  14. ^ Vgl. in verband hiermee ook Luther, Tessaradecas consolatoria pro laborantibus et oneratis 1520 (WA 6':109 . 110)
  15. ^ 1545 - 1559: nos (recte 1539 - 1543: vos).
  16. ^ Marg. Gene. 22.a.l & c.12. Fr. 1541 e.v.: + pour luy complaire (Benoit 3:180).
  17. ^ Marg. 1. Pet. l.b. 7. Vgl. OC 55:213.
  18. ^ Fr. 1541 e.v.: philosophe Payen (Benoit 3:181).
  19. ^ Marg. De vita be. cap. 15. Vgl. Seneca, De vita beata 15.s (LCL Moral essays 2:138) en verder: De beneficiis 4.25.1; 7.31.2 (LCL Moral essays 3:254, 522); Ep. 16.5 (LCL Ep. morales 1:106); Cicero, De finibus 3.22.73 (LCL 292 e.v.), Plato, Nomoi. 4.716 (LCL 1:292 - 296).
  20. ^ Marg. Deut. 33.15 (recte 1539 - 1554: Deut. 32.c.15).
  21. ^ Fr. 1541 e.v.: ingratitude (Benoit 3:181 n. 7).
  22. ^ Fr. 1541 e.v.: + pour l'advenir (Benoit 3:182).
  23. ^ Marg. 1. Cor. 11.c.8.g.32. Vgl. OC 49:495.
  24. ^ Marg. Provo 3.b.ll. Vgl. ook vers 12 e.v.
  25. ^ Marg. Hebr. 12.c.8.
  26. ^ A: obstinatiore; se. obstinatiores.
  27. ^ Vgl. Inst. 1.17.8 e.v.; 3.4.31 . 32,35 (Afr. vert. 1:372 e.v.; 3:845 - 849, 852).
  28. ^ Marg. Matth. 5.a.l0. Vgl. oe 45:164 - 165.
  29. ^ Marg. Act. 5.g.41 (Hand. 5:41).
  30. ^ Marg. 1. Pet. 4.c.ll. Vgl. ook die daaropvolgende verse en OC 55:274 e.v.
  31. ^ Fr. 1560: à tous esprits hautains et courageux (Benoit 3:184).
  32. ^ Marg. 1. Tim. 4.c.10. Vgl. OC 52:300 - 301.
  33. ^ Marg. 2. Cor. 6.b.8. Vgl. OC 50:78.
  34. ^ Marg.2. Cor. 4.b.8. Vgl. ook die daaropvolgende verse en oc 50:54 e.v.
  35. ^ Dit moet in gedagte gehou word dat Calvyn se eerste noemenswaardige studie oor Seneca se De clementia (Sagmoedigheid) gehandel het en hy het dus deeglik met die Stoïsynse filosofie kennis gemaak. Dit is egter nie moontlik om kategories vas te stel tot watter mate hy daardeur beïnvloed is nie. Die Stoïsynse filosoof Seneca is by uitstek bekend vir sy onversetlike standpunt dat 'pyn en droefheid nie euwels' is nie. Veral in sy troosgekrifte, o.a. aan Marcia, Polybius en Helvia, en in sy werk oor rustigheid van die mens se siel (De tranquillitate animi) stel hy sy standpunt, ten spyte daarvan dat Cicero, bekende Romeinse redenaar, reeds sterk kritiek teen die Stoïsynse standpunt ge opper het omdat hulle met allerlei redenasies probeer bewys dat pyn geen euwel is nie - vgl. o.a. sy Tusc. Disp. 2.12.20 e.v.; 4.17.37 e.v. (LCL176 e.v.; 366 e.v.). Vgl. ook Inst. 1.16.8; 3.4.28; 3.7.10 (Afr. vert. 1:313; 3:841; 895) waar Calvyn uitdruklik die Stoïsynse opvatting in verband met lotsbeskikking verwerp.
  36. ^ Fr. 1560: un simulacbre de patience (Benoit 3:185) A: saptenttoe (recte: patientiae)
  37. ^ Fr.: Il yen a aussi maintenant entre les Chrestiens de semblables (Benoit 3:185). Dit is nie duidelik na wie Calvyn as noot Stoici - nuwe Stoïsyne -verwys nie, waarskynlik na die geestelike Libertyne van wie hy së: Quand les autres sont en affliction ilsfont des robustes, disans, que c 'est blaspbemer de se plaindre, ou de faire semblant d'en rien sentir - Contre la secte des Libertins (OC 7:199).
  38. ^ Paradoxa. Fr. 1541 e.v.: Ces opinions sauuages (Benoit 3:185).
  39. ^ Marg. Johan. 17.c.20 (recte 1553 - 1554: Johan. 16.c.20). Vgl. OC 47:386 e.v.
  40. ^ Marg.Matth. 5.a.4. Vgl. OC 45:162.
  41. ^ Marg. Luc. 22. e.44.
  42. ^ Vgl. Calvyn se Contre la secte des Libertins (OC 7:199).
  43. ^ 1553 - 1554: + Marg. Matth. 26.d.38. Vgl. OC 45:720 - 721.
  44. ^ Vgl. Calvyn se preek oor 1 Sam. 28:20 (in verband met Saul se vrees): Discamus igitur Deo iudictorum suorum minis nos terrente, bumtliari, potius quamfortem animum prae nobis ferre, ut multi solent admirabilem nescio quam fortitudmem dieere. si nullis minis terreantur, et nullo perteulo commoveantur, tanquam duriores Marpesia caute. Sed, quaeso, saxisne aut truncis bonort dabitur si neque lugeant, neque mali quidquam apprebendant? Minime gentium! Neque enim locum habet uirtus in iis qui sensum nullum babent: ac proinde non uertitur laudi bominibus, Dei iudiciis non commoveri, et eius minas non metuere: sed in malitia obfirrnari. Sed summa uirtus Christianorum est Dei timor, quo ipsius iudicia metuunt, et de se ipsis desperantes in ipsius misericordia fiduciam omnem suam reponunt- Laat ons dus leer om ons te verootmoedig wanneer God ons met dreigemente van sy oordele verskrik, eerder as om ons dapper voor te doen soos baie mense dit gewoonlik die een of ander wonderbaarlike dapperheid noem as hulle deur geen dreigernente bang gemaak en deur geen gevaar beïnvloed word nie net asof hulle harder as die rots van Marpesië (dit is 'n berg op die eiland Paros waar marmer ontgin is) is. Maar nou vra ek jou: Word rotse ofboomstompe geëer as hulle nie bedroef word of enige kwaad ondergaan nie? Want daar is nie plek vir deug in mense wat geen gevoel het nie en daarom word mense ook nie geloof omdat hulle nie deur God se oordele beïnvloed word en sy dreigemente nie vrees nie maar eerder in hulle kwaad versterk word. Die grootste deug van Christene is egter hulle vrees vir God; daarvolgens vrees hulle sy oordele, laat alle hoop op hulleselfvaar en stel al hulle vertroue in sy barmhartigheid (O'C 30:670). Vgl. ook sy preek oor Job 1:20 (O'C 33:93). Fr. 1541 e.v.: Or il conuient que ceux ... perdent courage et se désespèrent quand ils se voudront addonner à patience (Benoit 3:186).
  45. ^ Fr. 1560: + à ton plaisir (Benoit 3:186).
  46. ^ Marg. Iohan. 21.c.18. Vgl. OC 47:454 e.v.
  47. ^ Necessitas - noodwendigheid is in die Stoïsynse leer nou aan fatum - die noodlot, verbind; vgl. Seneca, De prouidentia 5.8 (LCL Moral essays 1:38).
  48. ^ Vir die lydsaamheid wat ealvyn self aan die dag gelë het, vgl. Beza se lewenskets (Afr.vert. 1:74): "Hy het in sy smarte dikwels Dawid se woorde in versugting geslaak: 'Ek het stilgebly, o Here, omdat U dit gedoen hef" (OC 21:44).
  49. ^ Fr.: qu 'iceluy ne fait rien, sinon d'une iustice bien ordonnêe (Benoit 3:187).
  50. ^ Fr.: + des Philosophes (Benoit 3:187).
  51. ^ Calvyn meld by verskeie geleenthede die geestelike blydskap wat Christenwees meebring. Vgl. o.a. sykommentare oor 1 Tess. 5:16 (OC 52:174 - 175); Ps. 32:11 (OC 31:323); sypreekoor 1 Sam. 2:1 (OC 29:285 e.v.), en sy brief aan Admiraal de Coligny (OC 17:318 - 320); en Bartles se Konkordansie van die 1559-uitgawe van die Institusie vir verwysings na die verdere gebruik van die uitdrukking gaudium spirituale (Benoit 3:188 n. 1).