'n Geslote Weg vir Twyfelaars?
'n Geslote Weg vir Twyfelaars?
Is daar wel ʼn uitweg vir dié wat twyfel?
Vir elke bidder maak die brief van Jakobus die poort wyd oop:
En as een van julle wysheid kort kom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.Jakobus 1:5
Aan almal?⤒🔗
Werklik aan álmal? Word die deur, as ons verder lees, nie juis vir die twyfelaar gesluit nie:
Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ʼn golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie.Jakobus 1:6,7
Beland ʼn twyfelende mens nie deur dié woord in die put nie? Staan hy buite die moontlikheid van verhoring, wat alle ander bidders ontvang?
ʼn Sterk Toring←⤒🔗
Nee, dit is nie so nie. Kom ons kyk bietjie dieper waaroor hierdie gedeelte gaan.
Dit gaan oor versoeking; oor verdrukking en vervolging ter wille van die geloof, waarin die gelowiges aan wie Jakobus hier skryf, hulleself ook bevind. Hulle het nie geweet hoe hulle as kinders van die Here moet lewe nie. Moes hulle sús optree of só? Hieraan meedoen of nie meedoen nie? Praat of swyg? Dit sal ons in ons tyd, waarin norme so vinnig verander, ook goed kan verstaan.
Om die regte besluit te kon neem oor hoe om as kinders van die Here te lewe, was wysheid nodig. En, as iemand aan dié wysheid te kort skiet, dán mag hy God daarvoor bid, skryf Jakobus. Dan sal God dit eenvoudig en sonder verwyt gee. Daarop mag die kind van die Here gelowig vertrou. Het die Here Jesus nie self hierdie belofte gegee nie?
Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee.Johannes 16:23
Dan gaan Jakobus verder deur te sê dat die kind van die Here nie daaraan mag twyfel of God wel getrou en magtig is om die belofte te vervul nie. Wie daaroor twyfel, hink op twee gedagtes. Sy hart is nie op God alleen gerig nie. Hy verwag ook nog wysheid van iets of iemand anders. En dan moet hy nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie.
Waaroor gaan dit dus hier? Dit gaan oor die vraag of iemand wel ten volle en alleen op die God van die beloftes bou. En dit is juis hierdie beloftes wat die twyfelende mens tot God laat roep. In sy eie denke en soeke sien hy geen uitkoms nie. Daarmee het hy hom vasgeloop.
Maar, gelukkig ken hy die Woord van God en op grond dáárvan roep hy nou die Here aan. Sy verwagting is alleen op God. Dán is die Here ʼn skuilplek en ʼn sterk toring teen die vyand (Psalm 61:4); ook teen die vyand van twyfel. Die Here wat lééf! Sý hand is nie te kort om te red nie, selfs uit die nette van die twyfel. Al die twyfel is nie in staat om aan sy mag en bereidheid enigsins afbreuk te doen nie. Daarvan vind ons in die Skrif bemoedigende voorbeelde.
Petrus←⤒🔗
Die voorbeeld van Petrus. Hy het op die water geloop. Dit was nie bravade nie — die Here Jesus self het hom geroep:
“Kom!”
“...Maar toe hy die sterk wind sien, het hy bang geword; en toe hy begin sink, roep hy uit en sê: Here, red my!”Matteus 14:30
Is Petrus toe nie verhoor nie? Hy het immers getwyfel aan die mag van die Here? Ons lees verder:
En Jesus het dadelik sy hand uitgesteek en hom gegryp en vir hom gesê: ‘Kleingelowige, waarom het jy getwyfel?’vs.31
Kleingeloof is geloof wat klein dink van God en sy mag en sy bereidheid om te help; geloof wat daarom ook nie vas op Hom vertrou nie; geloof wat deur die twyfel verlam word! Petrus is wel oor so ʼn twyfel bestraf, maar die deur is nie daaroor vir hom toegemaak nie.
ʼn Vader←⤒🔗
ʼn Ander voorbeeld (Markus 9:14–29): ʼn Vader het ʼn seun gehad wat “ ʼn stomme gees” gehad het. Die dissipels kon hom nie genees nie.
In v. 21 vra die Here vir die vader: “Hoe lank is dit al dat dit hom oorgekom het?” En die vader antwoord: “Van sy kindsdae af.” Hierdie was dus, so te sê, ʼn hopelose geval.
Dan vra die vader baie ernstig die Here se hulp (vs. 22): “Maar as U iets kan doen, ontferm U oor ons en help ons.”
Dan stel die Here Jesus die vader voor die noodsaak van geloof !
“As U iets kan doen...”? Die wanhopige vader het gedink dat die belangrikste vraag is of die Here wel “iets kan doen”.
Maar dít is glad nie aan die orde nie. Wat wel aan die orde is, is of die vader glo dat die Here wel iets kán doen.
Daarom sê Jesus vir die vader (vs. 23): “Alle dinge is moontlik vir die een wat glo.”
Dít is waarop dit aankom.
Beteken dit dat die krag van die vader se geloof sy seun moes genees?
Nee, dit is nie wat dit beteken nie! Dit beteken dat die vader die genesing enkel en alleen van die Here moet verwag. Hierdie gelowige verwagting van die vader is eerstens ter wille van sy seun, maar in geen mindere mate nie, ook ter wille van homself, in sy ongeloof.
In vs. 24 staan daar: “En dadelik roep die vader van die kind met trane uit en sê: Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp!”
Dit is dus nie so dat Petrus en hierdie vader eers lank in die moeras van hulle twyfel moes rondtrippel, totdat hulle voete êrens ʼn vaste punt gevind het, en dan vanuit hulle selfgevonde steun mag hoop op redding nie. Nee, juis nie! Ten spyte van die vader se ongeloof, kom die Here die vader te hulp, en die seun word genees.
←⤒🔗
Die weg van gebed←⤒🔗
Die verhaal is nog nie klaar nie. Dit was nie net die vader wat gewankel het tussen geloof en ongeloof nie. In vs. 28 vra die dissipels vir Jesus: “Waarom kon ons hom (onreine gees) nie uitdrywe nie?” Die antwoord van Jesus hierop is: “Deur julle ongeloof” (Matteus 17:20).
Kleingeloof het by Petrus die vorm van twyfel aangeneem. Twyfel, waarvoor die Here ook nou nie vir hom die deur toemaak nie. Die rede vind ons in vs. 21: “Hierdie geslag gaan nie uit behalwe deur gebed en vas nie.”
Jesus wys hulle die weg van gebed.
Hulle, en ons, spreek tot God, nadat Hý eerste tot hulle en ons gespreek het.
“[B]aie naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart, om dit te doen.”Deuteronomium 30:14
Ook die woord van gebed, wat in die nood van twyfel die toevlug tot God is.