Die Heerskappy van Christus in die Lewe van die Gelowige
Die Heerskappy van Christus in die Lewe van die Gelowige
⤒🔗
Bybelse Perspektief: Die Feit van Sy Heerskappy←⤒🔗
Op Pinksterdag het Petrus aan die Jode geproklameer: "Laat dan die hele huis van Israel sekerlik weet dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle gekruisig het" (Handelinge 2:36).
Hierdie stelling 50 dae na die opstanding van Jesus was 'n waarlik opmerklike een van die vroeg-Christelike kerk: Jesus van Nasaret was sowel Messias as Heer, Kyrios.
Die Griekssprekende Jode het daardie naam gebruik vir die Hebreeuse Adonai. As Jesus dus Kyrios genoem word, beteken dit dat Hy goddelike status het in die oë van die apostels. Maar dit was nie alleen opmerklik vanuit Joodse standpunt gesien nie; in die Grieks-Romeinse wêreld was die term slegs gereserveer vir die keiser. Dat die Christene Christus Heer/Kyrios genoem het, het meegebring dat die keiser dit nie was nie. Hoekom Jesus as Heer aanbid?
Twee redes: sy opstanding uit die dood en sy Hemelvaart, waargeneem deur baie getuies. Die dissipels het Hom aanbid: "En hulle het Hom aanbid en na Jerusalem teruggegaan met groot blydskap" (Lukas 24:52).
Toe begin hulle ook met nuwe oë te kyk na die Ou Testament, ook na wat Jesus oor Homself in die OT gesê het: soos in Psalm 2 en 89, Jesaja 11 en 42. Die profesieë was vervul soos die Christene getuig in Handelinge 4:23-31:
En nadat hulle losgelaat was, het hulle na hul eie mense gegaan en alles vertel wat die owerpriesters en die ouderlinge aan hulle gesê het.
En toe hulle dit hoor, het hulle eendragtig die stem tot God verhef en gesê: Here, U is die God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het.
wat deur die mond van u kneg Dawid gesê het: Waarom het die nasies gewoed en die volke nietige dinge bedink?
Die konings van die aarde het saamgestaan en die owerstes het saam vergader teen die Here en teen sy Gesalfde.
Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het,
om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind.
En nou, Here, let op hulle dreigemente en gee aan u diensknegte om met alle vrymoedigheid u woord te spreek,
deurdat U u hand uitstrek tot genesing, en tekens en wonders deur die Naam van u heilige Kind Jesus plaasvind.
En toe hulle gebid het, is die plek geskud waar hulle saam was, en hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek.
Die implikasie van Jesus as Heer/Kyrios beteken dat Hy goddelike status het en aanbid moet word: Filippense 2:9-11:
Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom 'n naam gegee wat bo elke naam is,
sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is,
en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.
Sy heerskappy staan dus vas: Koning van die konings en Heer van alle here.
Maar die Een wat Heer van die kosmos is en ook Hoof van die kerk, wil ook Heer wees van elke individu! Hy wil 'n noue, intieme band met ons hê. Waar aardse heersers ver verwyder is van die gewone onderdaan, is Jesus Heer van ons persoonlike lewe: 'n waarlik verstommende perspektief.
En wat ons Eienaar in gedagte het, is dat ons gereinig en geheilig sal wees van alle sonde en onreinheid. En dit lei ook tot 'n nuwe gehoorsaamheid, nie 'n uitwendige nie maar 'n diepe innerlike gehoorsaamheid. Hierin is ons volgelinge van Hom. Maar ook is gehoorsaamheid in die wêreld gehoorsaamheid "in die Here".
So is die vrou onderdanig aan die man, die kinders aan die ouers, slawe aan hul meesters en behandel meesters hul slawe billik, en het die mans hul vrouens lief, en dit alles "in die Here" (Kolossense 3, 4).
Hierdie gehoorsaamheid aan die Here vind sy neerslag in ons gedrag en Paulus gee daar groot aandag aan in Romeine 12-16: lees dit gerus slag deur.
Opsommend kan ons sê dat Jesus Christus Heer van die skepping is en Heer van die kerk, en ook Heer van die persoonlike lewe van elke gelowige.
Hy het hulle gekoop met sy bloed so dat hulle aan Hom behoort. Sy doel is om hulle lewe te reinig, en Hy doen dit deur 'n noue geestelike verhouding met elke gelowige en deur elke gelowige die gawe van die Heilige Gees te gee.
As Here het Hy die reg gekry om die lewe van die gelowiges te regeer. Daarom word hulle geroep om Hom gewillig en met liefde te dien. Met ander woorde: die nuwe gehoorsaamheid word deur die Here gegee en word verwag van die gelowiges.
Kerk-Histories←⤒🔗
Kerk-histories gesien het in die vroeë kerk die opwinding al gou plek gemaak vir 'n ander benadering: die kerk en veral die biskop het belangrik geword, veral toe die kerk in die Romeinse ryk staatskerk word. Die aandag aan heiliges en veral die heilige maagd Maria en die misoffer het Jesus Christus na die agtergrond gedryf.
Dit het die Reformasie geneem om weer die plek aan Christus te gee wat Hom toekom. So stel Calvyn in die Institusie (boek 2) die drievoudige amp van Christus op die voorgrond, namelik die van Profeet, Koning en Priester.
Calvyn stel dat die Heerskappy/Koningskap van Christus beteken dat Hy heerskappy voer oor die wêreld en op 'n besondere manier oor die kerk. Hy beskerm en vermeerder sy kerk. Die gelowiges mag vertroue hê teenoor hul vyande omdat hulle weet dat Hy sy kerk bewaar en vermeerder tot die getal van die gereddes voltallig is. In Boek 2, XV, 5 sê Calvyn:
Om dieselfde rede noem die Skrif Hom oral "Here", omdat die Vader Hom volgens hierdie wet oor ons gestel het dat Hy sy heerskappy deur Hom kan uitoefen. Want al sou daar baie heerskappye op die wêreld geroem word, het ons maar één God, die Vader, uit wie alle dinge is en ons in Hom; en één Here, Christus, deur wie alle dinge is en ons deur Hom, sê Paulus. 1 Korintiërs 8:5, 6
In Boek 3 benadruk Calvyn die gemeenskap van Christus en die gelowiges.
'n Belangrike aanhaling is uit Boek 3, II, 24: dat Christus nie buite ons is nie, maar binne-in ons woon. Hy is voorts nie alleen met 'n onskeibare gemeenskapsband aan ons verbind nie, maar Hy groei van dag tot dag al hoe meer in 'n heerlike gemeenskap met ons saam tot een liggaam totdat Hy volkome één met ons word.
In die Heidelbergse Kategismus word die heerskappy van Christus die duidelikste uitgespel: Sondag 12 word die drie ampte van Christus uiteengesit, waar gestel word dat "Hy ons regeer deur sy Woord en Gees". Dit word weer gebruik in Sondag 48 waar die tweede bede verduidelik word. In Sondag 28 word die eenheid met Christus in die nagmaal verduidelik. En in Sondag 1 word reeds gepraat van die enigste troos omdat ons aan Christus behoort. Lees ook gerus Sondag 32.
Dis duidelik dat die heerskappy van Christus aspek van die Christelike geloof is wat verwaarloos is, maar wat weer na die voorgrond kom as die kerk van deformasie na reformasie gaan. 'n Duidelike les uit die geskiedenis is, dat as Christus uit die middelpunt van mense se geloof uitgeskuif word, dan gaan die algemene vlak van die Christelike lewe omlaag.
Prof Visser gee dan 'n beeld van drie gemeentes, een in 'n Suid-Afrikaanse township, een in 'n middelslag Nederlandse of Engelse stadsgemeente en een in "down-town" van 'n groot stad soos Toronto.
In al drie is die geloofslewe aan roetine onderwerp en hy vra homself dan: "Waarom is die verlostes nie ook meer geheilig nie?" Hoekom stem leer en lewe nie meer ooreen nie? Dit gaan ten diepste oor twee aspekte: die gelowige se gehoorsaamheid en Christus se heerskappy oor die gelowige.
En dan is daar twee verkeerde dinge wat altyd die Christelike lewe bedreig: antinomianisme en wettisisme. Antinomianisme is dat die Christelike vryheid van die wet so benadruk word dat die noodsaaklikheid vir die gelowige om daeliks sy sonde te bely en erns te maak met lewensheiliging, onderbeklemtoon word. Dis dan 'n evangelie sonder wet, en geloof sonder werke. Wettisisme is die teenoorgestelde: as dit domineer dan word gehoorsaamheid meer as die vrug van die geloof; gehoorsaamheid aan die wet word dan gesien as deel van die regverdigmaking deur die geloof. Die prediking word moralisties, die Christelike sekerheid en vreugde verdwyn en wat oorbly is 'n selfgesentreerde vroomheid. Dis die wet sonder evangelie, werke sonder genade.
Voorbeelde←⤒🔗
As die evangelie reg verstaan word, sê die Christengelowige: "Ek is gered deur Christus, daarom sal ek Hom gehoorsaam."
As antinomianisme domineer, sal mens hoor: "Ek is gered, dus hoef ek die wette nie meer te gehoorsaam nie."
As wettisisme domineer sal dit wees: "Ek moet gehoorsaam om gered te word.''
Die antinomianis sê: "Geen wette vir my nie!" Dit wys op 'n basiese onwil om Christus te gehoorsaam.
Die wettisis sê: "Ek sal my eie reëls maak en baie daarvan". Dit wys op net so 'n onwil tot gehoorsaamheid.
En albei benaderings kan voorkom by dieselfde persoon: Ons ken seker almal predikante wat wetties en moraliserend in die preek is, maar in hul private lewe 'n sondige lewe lei. Pleks van die totale verdorwenheid van die mens te preek, preek hulle teen slegte gewoontes.
Die mens is siek en nie dood in sonde nie: dit was die analise van 900 preke in Duitsland gepreek deur 125 Lutherse predikante.
In die VSA word dikwels die twee tipes prediking gevind: een moralisties, die ander relativisties. Die moralistiese preek is teen oneerlikheid en leuens en vertel hoe eerlik en waarheidsgetrou Jesus was en die hoorders moet dit navolg.
Die relativistiese manier is om te sê al is ons oneerlik en leuenagtig: ons sondes is vergewe, veral as ons hard probeer om beter te lewe.
Wat egter moet gebeur is om diepgevoelde bekering te preek, redding in Christus voor te hou en om ons te verheug in die genade van Christus se versoeningswerk.
In Nederland is veel nadruk gelê op die verbond met sy belofte en bedreiging, maar die verpligtinge onder die verbond word dikwels oorbeklemtoon sodat hier ook weer die gevaar ontstaan van wettisisme en moralisme.
In die Afrika-kerke is die stryd teen die tradisie dikwels vervang deur Christelike voorskrifte wat weer tot 'n nuwe wettisisme lei.
Om op te som: die Heerskappy van Christus eis die hele mens op. Dit vra totale onderwerping aan die HERE Jesus Christus. Dit is onderwerping aan 'n Meester wat ons meer liefgehad het as enigiemand anders. Dis nie 'n swaar juk soos die juk van wettisisme nie. Wettisisme plaas 'n las op mense, 'n las wat die mens nie kan dra nie, namelik om wette en reëls te gehoorsaam om God te behaag. Die juk van Christus is lig. Hy vra dalk meer, maar dan belowe Hy om te gee wat Hy verwag.