Bron: Die Kerkblad, 1989. 2 bladsye.

Romeine 12:1-2 - Geen Konformasie, maar Metamorfose

Lees Romeine 12:1-5

Dit is nie genoeg om maar net van die evangelie te weet nie. Dit moet 'n uitwerking in ons lewe hê. Kan ons wat weet van die genade en liefde van God in ons lewe maar vandag en more met ons gewone sondige en ondankbare lewe voortgaan?

As die ware geloof in ons harte ingeplant is, en ons nuwe mense geword het, dan moet ek verander: my maatstawwe moet anders word; my optrede en gedrag moet dan deur die Woord van God beheer en gelei word. My manier van praat, my gesindheid teenoor my naaste, my optredes teenoor my medemens, my verhouding teenoor my huwe­liksmaat, my kinders en ouers ver­raai so dikwels ons swakhede. Maar meer nog: my wyse van gemeen­skap met God toon so maklik my onvolmaaktheid en gebrek aan erns en toewyding. Ons doen dikwels so min as moontlik in ons verhouding met God en sy kerk.

Luister na Paulus: "stel julle lig­game as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer". Dit is tipiese (Ou Testa­mentiese) offertaal wat Paulus hier besig. Die beeld wat hy in gedagte het, is die hele offerprosedure van die offer waar die diere gereeld op die altaar geplaas is. Offers is altyd God-gerig. Dit is 'n manier van be­taling aan God en 'n bede om genade en seën.

Uiteindelik was Christus se offer die finale betaling aan God vir al ons sonde en skuld, en ook 'n bewys van God se seën.

Maar juis daarom: as ant­woord op die offer van Christus – ­offer julle liggame. Julle lewende liggame! Die tyd van diere-offers is verby; so ook die tyd van dooie of­fers waar die bloed gevloei het.

Offers🔗

Nou verwag God van ons liggaam­like en lewende offers. Ons moet onsself op die altaar plaas. Wat be­doel Hy? Dat ons onsself – wat in Christus 'n nuwe lewe, en ook die Heilige Gees ontvang het — aan Hom moet toewy.

Hierdie liggaam van ons moet aan Hom geoffer word. U weet self hoe ons juis ons liggame, d.w.s. ons kragte, ons gevoel, ons verstand en hande en voete en al ons energie so maklik as instrumente van ongereg­tigheid kan gebruik. Ons kan ons volkome uitput in diens van hierdie wêreld in plaas van om dit primêr in diens van God se koninkryk te doen.

So 'n volkome toewyding in diens van God se koninkryk beskryf Pau­lus as 'julle redelike godsdiens'. Wat bedoel hy hiermee? Teen die agtergrond van sy tyd beteken dit dat die Christelike geloof grootliks van die Joodse of Judaïstiese gods­diens verskil het. Die Joodse gods­diens het ontaard in uiterlike en verstandelose en inhoudlose seremonies. Die Christelike godsdiens was ook anders as die Griekse misteriegodsdienste waar die gods­diens tot 'n soort mistieke en eksta­tiese vlak vervlak is, en waar die liggaam van die mens as 'n hinder­nis en struikelblok na ware eenheid met die gode gesien is.

Die Christelike godsdiens is an­ders: dit is nie 'n koue en verstande­lose saak nie, en bestaan nie uit 'n reeks inhoudlose seremonies nie. Dit is eweneens ook nie 'n ekstatiese en blote sensasionele gevoelsaak nie.

Nee, dit lê beslag op ons liggaam en gees; op ons hele verstand, al ons kragte en ons hele hart en siel.

God gebruik ons ten volle, en sy Heilige Gees verander my geheel en al. My denke en verstand word ook verander. Paulus sê nie verniet dat ons geloof ook 'n saak van die rede of denke is nie. Hiermee bedoel hy dat die Christelike geloof, onder meer, 'n logiese en rasionele gods­diens is.

Verstand en Denke🔗

Daarom se hy ook dat ons in ons verstand en denke moet verander, sodat ons kan begryp wat die wil van God is. Die evangelie van Jesus Christus moet reg verstaan word; met ons verstand moet ons dit be­gryp. Hy sê letterlik dat ons ver­stand voortdurend 'n metamorfose moet ondergaan. Alleen die Heilige Gees kan dit in ons en vir ons be­werk. Hy maak ook my denke heel en spreek my diep in my binneste aan, sodat ek kan weet wat reg en verkeerd is. Dan begin ek insien dat God se wil altyd goed is en dat ons Hom altyd moet behaag en dien en dat sy wil oor my lewe altyd die beste is.

Die Christelike geloof vereis van elkeen van ons dat ons ons ook ver­standelik sal inspan om na 'n preek te luister, om self die Bybel as openbaring van God se wil te bestudeer en om dan verstandig en verant­woordelik te lewe. Wie so begin lewe is besig om hom aan God te offer.

Daar is nêrens in hierdie lewe 'n plek of geleentheid waar God se wil nie van toepassing is nie. Elke oomblik van my ganse bestaan moet ek deur die Woord en Gees gelei word om te verstaan wat die regte optrede sal wees. Dan moet ons die beeld en voorbeeld van Christus navolg: ek moet volkome gehoor­saam wees en myself aan God oor­gee.

Ons is verplig om die evangelie te begin uitlewe. Met die wêreld kan ons nooit konformeer nie, want hier­die wêreld is boos, sê die Woord. Ons moet begin dink wat ons doen en moet doen – en plaas dan u lig­game op die altaar, uit dankbaar­heid vir die genade en offer van Jesus Christus aan die kruis.