Pastoraat in die Breedte
Pastoraat in die Breedte
Pastorale versorging in die gemeente begin al hoe meer vasloop. Myns insiens is die agtergrond hiervan dat ons ʼn te skrale visie op die pastoraat het. Ons sien dit meestal net as “opsig en tug”. Maar dit lei onherroeplik tot ʼn verskraling van die karakter van egte pastoraat. Bowendien word die pastoraat dan al baie gou slegs ʼn “amptelike” saak.
Ek wil in hierdie artikel laat sien dat die Bybel ons ʼn pastoraat leer wat baie breër is.
Amp en Gemeente⤒🔗
In die sig op pastoraat is jou uitgangspunt natuurlik baie belangrik. Dit is voor die hand liggend om te redeneer vanuit die woord ‘pastor’. So dui ons ons ampsdraers aan. Hulle mag self, in die Naam van die groot Herder, herderlik (pastoraal) besig wees in die gemeente. As jy hierdie benadering kies, dan sal jy veral die amptelike kant beklemtoon. Jy redeneer dan vanuit die taak van die ampsdraer.
Maar hierdie benadering het ook sy besware. Want as jy nie ʼn ampsdraer is nie, dan voel jy baie gou minder betrokke. Jy het immers geen spesiale pastorale taak nie? Wil dit dan sê dat jy dus geen enkele pastorale bemoeienis met jou medegelowiges het nie? Niemand sal durf om dit te beweer nie. Die ampsdraers is ten slotte nie die mense wat die werk in die gemeente namens ons waarneem nie.
Dit deug dus nie as ons slegs vanuit die amptelike taak redeneer nie. Dit lewer nou juis ʼn versmalling op. Ons moet ons ook as gemeente aangesproke voel as ons deur God op die pad gestuur word: op pad na die ander toe. Wie aan hierdie invalshoek vashou, sal sien hoe breed die pastorale roeping wat op ons afkom, in feite is.
Ek wil probeer om dit aan te toon deur verskillende dimensies van die pastoraat te laat sien.
Bystand←⤒🔗
Ek dink bystand is die mees elementêre funksie van pastoraat. Wanneer jy ʼn ander persoon bystaan, wil dit sê dat jy ondersteuning en hulp aan die ander een bied. Dit sal meestal gaan oor moeites wat jy ervaar, maar sukkel om alleen te verwerk. Ons het mekaar in die gemeente nodig om die bitterheid van die lewe en die beproewings van God te kan verwerk. Maar nie slegs dit nie. Dit is ook in voorspoed belangrik dat ons bymekaar is. Die gemeenskap van die heiliges omvat alles wat die Here in ons lewe gee.
Een woord wat gereeld in die Bybel in hierdie verband genoem word, is vertroos. Vertroos mekaar, skryf Paulus (1 Tessalonisense 4:18, vgl. 2 Korintiërs 2:7). Ons sien reeds by hierdie woord hoe beperk dit is as ons praat oor ‘opsig en tug’. ʼn Opsiener kyk meer hóé iemand leef. ʼn Trooster is saam met die ander by die bron waaruit ons lewe sy houvas ontvang. (As jy mooi daarna kyk, is daar in bystand ook ʼn duidelik diakonale kant.) Ek dink dat ʼn mens ook nog op ʼn ander manier kan sien hoe breed pastoraat eintlik is. As jy naamlik regtig bystand wil verleen, vereis dit ʼn verhouding met die ander een. As jy ʼn ander een regtig wil help om iets te verwerk, dan is dit eintlik nodig dat jy saam-ly met die ander een. Jy is naby, bereid om iets van die pyn te voel, saam die aanvegtinge te ervaar. Dit is nie moontlik sonder ʼn fundamentele verhouding met die ander een nie.
Juis op hierdie punt voel die ouderlinge baie keer beperk in hulle moontlikhede. Veral die predikante. Dink aan ʼn gemeente met die ideale grootte: so 350 siele. Is dit moontlik om met al 350 ʼn werklike verhouding te hê? Elke dominee weet dat dit nie moontlik is nie. Dit beteken dat die dominee, selfs in ʼn redelike gemaklike pastorale situasie, dikwels nie uitkom by die elementêre vorm van pastoraat nie.
Maar die ouderlinge ervaar ook hier probleme. Hulle doen die pastoraat naas hulle gewone werk. Hulle het boonop nog baie vergaderwerk ook. Die resultaat is dat baie ouderlinge gou bly is as hulle een keer per jaar by al hul besoekpunte uitgekom het. En by sommige besoekpunte kom hulle tydens hul jaarlikse besoek vir die heel eerste keer. Wie kan hulle verwyt? Maar hulle moet ook erken: Ons kom as ampsdraers glad nie daarby uit om ʼn hegte verhouding op te bou met die mense in my wyk nie.
Ek weet dat baie dominees en ouderlinge met skuldgevoelens rondloop oor hierdie punt: ‘Ek kom te min uit by die mees elementêre vorm van pastoraat. Dit vra so baie om ʼn ander een by te staan, dat ek dit maar met min mense kan regkry om so ʼn hegte verhouding op te bou.’
Is dit erg? As die predikant en die ouderling dit alleen moet doen, ja… Maar gelukkig is dit nie so nie! Ons is as lede van Christus se liggaam aan mekaar gegee! Ons het as gemeentelede baie geleenthede teenoor mekaar om pastoraal besig te wees. Juis die elementêre bystand wat ons almal ʼn slag nodig het, kan ʼn mens as gemeentelede op ʼn goeie manier aan mekaar gee. Daarvoor is nie opsig en tug nodig nie. Ons pastoraat kan baie groei in die breedte.
Begeleiding←⤒🔗
ʼn Tweede funksie van pastoraat sou ek graag wil tipeer as begeleiding. Jy kan al die vorme van geestelike leiding wat ons in die kerk teëkom, daarmee saamvat – en daar is heelwat van sulke vorme. Om geestelike leiding te gee in Christus se gemeente, is dit nodig om te vermaan, toe te rus, te bestraf, te weerlê, te onderwys, ens.
Dieselfde kleur is dikwels in al hierdie woorde teenwoordig. ʼn Mens sien dat jy hier baie meer in die sfeer van ‘opsig en tug’ verkeer. Dit is natuurlik veral die “oudstes” wat op hierdie manier geroep word om in die kerk op te tree. Die leiding van die gemeente word aan hulle opgedra (1 Timoteus 5:17). Dit beteken dat hulle sterk op hierdie punt moet konsentreer.
Nou sien ʼn mens ook op ʼn baie ander manier dat pastoraat breër is as wat ons dikwels aanneem. Vermaning, weerlegging, bestraffing, ens. is woorde wat dui op die pastoraat. Hulle kom dan ook dikwels terug in die huisbesoeke. Maar hierdie dinge gebeur natuurlik net so goed in die prediking. Dit is ook ʼn veld waarop die geestelike leiding van die gemeente baie mooi tot haar reg kan kom. Pastoraat beperk homself nie tot ‘opsig en tug’ deur huisbesoek nie, maar oorvleuel ook ʼn groot deel van die preek.
Ek konstateer dus dat begeleiding as pastorale funksie sterk in die rigting van die oudstes wys. In die praktyk blyk tog dat baie oudstes ontevrede is oor die moontlikheid wat hulle het om leiding te gee. Dit hang nogal saam met die feit dat hulle dikwels te laat ingeskakel word. Geestelike leiding is in ons tyd nogal nodig by allerlei etiese sake. Byvoorbeeld oor huwelik, gesinsvorming en egskeiding. Maar dit kom reëlmatig voor dat mense in die gemeente op hierdie punt leiding nodig het, sonder dat die dominee en ouderling daarvan bewus is. Die oomblik wanneer die ampsdraers betrokke raak, is dit dikwels al te laat om nog werklike begeleiding te kan doen. Regte geestelike leiding in die persoonlike sfeer vra natuurlik ook na ʼn regte verhouding waarbinne sulke begeleiding ʼn goeie plek kan kry. Wat dít betref is pastorale begeleiding ʼn verdieping van pastorale bystand.
So ʼn verdieping beteken ook dat die oudstes in die praktyk gou die grense van sy moontlikhede bereik – ook al is dit sy spesifieke taak. Maar moet hy dan alleen die werk doen? Is dit regtig die beperkte kring van die oudste wat hierdie spesifieke aspek van pastoraat toegewys kry? Ek dink nie so nie. Ons sien immers duidelik hoe hierdie taak aan die gemeente in haar geheel opgedra word. Ons word opgeroep om op mekaar toe te sien (vgl. bv. Hebreërs 12:15), mekaar teregwys (1 Tessalonisense 5:14), ens.
Ons is dus nie eksklusief aangewese op die ampsdraers vir geestelike leiding nie. En dit is ook heel verstaanbaar. Want sulke leiding hou in dat jy deur die naam en wil van God en sy bedoeling met ons lewe ter sprake te bring in die konkrete situasies van ons lewe. Dit is nie slegs die oudstes wat oor hierdie moontlikheid beskik nie. Die evangelie is aan die gemeente toevertrou. Ons kan mekaar ruimskoots daarmee begeleidend van diens wees. Ook in hierdie opsig kan ons pastoraat nog baie in die breedte groei.
Versoening←⤒🔗
ʼn Derde funksie van pastoraat is versoening. Dit was nog altyd ʼn baie belangrike dimensie in die pastoraat. Baie mense is van God en mekaar vervreem. Dit is die pastor se pragtige roeping om hulp hierin te bied en diens te doen met die oog op versoening.
As ʼn mens nadink oor hierdie aspek, is ek geneig om hier veral ʼn taak te sien vir die ampsdraers. Daar loop op hierdie punt immers ʼn baie duidelike lyn van die kerkdiens na die pastoraat. Vanuit die prediking en die bediening van die Nagmaal, sien jy direkte lyne na die versoening in die pastoraat. Myns insiens is dit ook reg. Dit is ook die mooi van ampsdraer wees, dat jy ʼn sterk eenheid kan sien tussen wat jy op Sondag doen in die kerk en deur die week in die huis.
Dit geld natuurlik net so seker vir die gemeentelede. Want as dit gaan oor versoening, dan is die wese van die kerk in gedrang. In bystand of begeleiding kan dit baie keer sterk plaasvind binne die individuele sfeer. Maar by versoening is die kerk baie meer direk in beeld. Dit is immers skuld en konflikte wat ʼn wig dryf in jou lewe. ʼn Wig tussen jou en God, tussen jou en die ander, tussen jou en die kerk. Versoening beteken dat die vervreemding genees kan word. En daardeur sal die wonder van kerkwees altyd weer ʼn nuwe plek in jou lewe kry.
Dit maak nou juis dat gemeentelede ook ʼn belangrike taak het by die versoening. Hulle is dikwels die eerstes wat die vervreemding kan opmerk. As ʼn lid van die liggaam op die buiterand gaan staan en nie meer saam met ʼn ander lid wil saamleef nie, is die gemeente dikwels eerste bewus daarvan. Ek weet dat dit dan dikwels die neiging is om die dominee of die ouderling by die saak in te roep. Maar die eerste taak lê by die lede wat opmerk dat daar êrens in die liggaam ʼn stremming is.
Lê die opdrag tot versoening nie eintlik opgesluit in die gesamentlike viering van die Nagmaal nie? “Omdat ons almal deel het aan die een brood, is ons saam één liggaam. En dit moet ons ook deur ons dade aan mekaar bewys”. Salig is die vredemakers (Matteus 5:9). Dit is nie ʼn oproep slegs aan ampsdraers nie. Dit is ʼn woord vir al God se kinders. Hier is ook baie ruimte vir pastorale groei in die breedte.
Ideaal en Werklikheid←⤒🔗
Die tendens van hierdie verhaal is duidelik: dat ons na die verbreding van die pastoraat toe moet beweeg. In hierdie verband wil ek wel ʼn misverstand uit die weg uit ruim. Ek wil nl. glad nie suggereer dat daar in ons gemeentes buite die amp om niks sou gebeur nie. Inteendeel. As dominee kom jy hartverwarmende voorbeelde daarvan teë. Jy bemerk dat mense vir mekaar bid, mekaar help, raad gee, teregwys, steun, bemoedig, ens.
Maar tegelykertyd merk ʼn mens ook op dat daar nog baie gedoen moet word in die onderlinge pastoraat. Die kultuur waarin ons lewe, maak dit ook nie vir ons gemaklik in hierdie opsigte nie. Ons lewe in ʼn tyd van oppervlakkigheid en koue doenigheid. Wie kry in so ʼn sfeer nog tyd vir die bou van ʼn hegte verhouding met ander? Ons is gesteld op ons privaatheid en individuele selfstandigheid. Wie waag dit om in so ʼn sfeer iemand anders te vermaan? Ons word vertroud gemaak met die vraag na geldingsdrang en mondigheid. Wie sien dan nog ruimte om geestelike leiding te gee? Dit is alles faktore wat gemeentepastoraat sterk kan belemmer.
Die beeld van ʼn gemeente wat regtig funksioneer as ʼn liggaam, waarvan die lede ook werklik saamleef, is in werklikheid dikwels moeilik herkenbaar. Myns insiens moet ons erken dat gemeentepastoraat by ons behoorlik onderontwikkeld is. Maar juis daarom is dit belangrik dat ons ons visie op pastoraat nie sal verskraal tot ʼn taak wat volledig onder opsig en tug van die kerkraad val nie.
Gemeente en Amp←⤒🔗
Uit die beeld wat ek globaal in die artikel geskets het, trek ek die volgende konklusies: die grondvorm van pastoraat is die onderlinge pastoraat van die gemeente. Die bron en die roeping van die pastoraat is gegee aan die Nagmaalstafel, waar ons aan mekaar verbind word deurdat ons deel het aan die een Brood (1 Korintiërs 10:17). Gemeentepastoraat is gegee met die feit dat ons saam lede van één liggaam is. As één lid ly, dan ly alle lede saam (1 Korintiërs 12:26).
Natuurlik moet ons meer daarvan sê. Want as ons in die Bybel lees oor die gemeente, dan is dit altyd ʼn amptelike gestruktureerde gemeente. Christus het ampsdraers aan sy kerk gegee om die gemeente toe te rus tot diensbetoon (Efesiërs 4:12). Dit beteken dat die kernstruktuur van die pastoraat altyd amptelik bepaal sal word. ʼn Amptelike taak beteken dat ʼn mens ʼn voorganger in die gemeente is. Jy loop voor in diensbetoon aan en van die gemeente.
Al hierdie dinge is reeds redelik bekend vir ons. Ek glo ook nie dat ek met hierdie artikel iets nuuts na vore bring nie. Tog dink ek dat die werklikheid van ons pastoraat agterbly by die beeld wat die Nuwe Testament van gemeentepastoraat teken. Soos gesê, word ons visie van gemeentepastoraat versmal deur die invalshoek van ‘opsig en tug’. Solank as wat dít ons visie bepaal, sal gemeentepastoraat onderontwikkeld bly. Daarom is dit slegs nodig dat ons die praktiese konsekwensies trek uit dit wat die Nuwe Testament sê oor pastoraat. Juis die praktiese konsekwensies is myns insiens nodig vir ʼn pastoraat wat homself heeltemal uitstrek oor die breedte van Christus se hele gemeente.