Efesiers 2:8-10 - Gered: uit Genade, deur die Geloof, tot Goeie Werke!
Efesiers 2:8-10 - Gered: uit Genade, deur die Geloof, tot Goeie Werke!
Lees Efésiërs 2:8-10
Hierdie opskrif is sekerlik een van die mees sentrale waarhede van ons Christelike geloof. Dit is ook een van die basiese waarhede wat sekerlik al die heel ergste aangeval en vermink is. En dit is die groot antwoord oor hoe ons Christene geword het en hoe dit moontlik is dat ons Christene kan wees.
Ook is hierdie een van die wonderlike waarhede wat in die tyd van die Reformasie herontdek is. Vir eeue tevore is dit deur die kerklike burokrasie verduister en vervals; maar in die Reformasie weer ontdek.
Alleen uit genade is ons gered, deur geloof alleen. Nie uit goeie werke nie, maar tot goeie werke. Hiermee het Paulus die mees basiese foute van ons mensheid in die algemeen, maar ook die mees basiese dwalings van die kerk deur die eeue weerlê.
Die eerste basiese dwaling is dat die mens nie kan aanvaar dat die diepste sin van ons bestaan van buite onsself kom. Dit is as ’n Godgegewe genadebewys aan ons geskenk. Die ewige lewe is nie iets wat ons vir onsself kan uitwerk nie. Dit is ’n genadegawe en ’n skeppingsdaad van God.
Die tweede basiese dwaling waarmee die mensheid en ook die kerk deur die eeue besmet is, is om die heerlike gawe van die ewige lewe goedkoop te maak. Die idee dat die mens self sy bestemming kan bepaal, deur sy eie prestasies, is goedkoop in vergelyking met die sentrale Bybelse openbaring dat die ewige lewe ’n genadegawe en ’n skeppingsdaad van God in en deur Christus is en dat ons dit deur die geloof alleen kan kry.
Met hierdie teksverse voor ons gee die apostel Paulus ’n samevatting van sy hele redevoering van hoofstuk een af: Hoe uitnemend groot die krag van God is, en hoe God se uitverkiesende genade binne in ons tot uitvoering kom. Ook is dit in wese ’n samevatting van die hele Bybel, ’n opsomming van God se ewige genadeverbond, ’n uitdrukking van God se ewige raadsplan en hoedat ons deel daarvan word. In kort: Die ewige lewe is alles en ’n gawe van God wat ons nie kan verdien nie. Dit is gratis, maar dit is nie goedkoop nie.
Die Apostel werk hierdie Samevatting in vers 8-10 uit in Drie Stellings:⤒🔗
-
Eerste maak hy die positiewe stelling in vers 8.
-
Dan versterk hy dit in vers 9 met die teenkant in ’n negatief.
-
En in vers 10 vat hy hierdie duursame boodskap saam deur die grondslag daarvan te verkondig.
1. Alleen uit Genade←↰⤒🔗
Ons is Christene, kinders van God, suiwer alleen uit God se genade. Dit is so ’n belangrike vertrekpunt dat hy dit eintlik in vers 8 reeds vir die tweede maal binne ’n paar verse sê. Nooit sal ons kan aanvoer dat ons iets van die saligheid verdien het nie. Wanneer ons die woord ‘genade’ hoor, moet ons onsself as skuldiges voor God se ewige gerig sien. Ter dood veroordeel; dit is wat ons verdien.
Ons is alleen op grond van Christus se verdienste begenadig. Ons sondige daad het ons in die ewige dieptes van die dood gedompel. Dit is ons prestasie. Berge val op my, heuwels bedek my. Watter vreeslike onreg het ek teen God en teen my medemens gepleeg! As ons aan die kruis moes hang deur God se vloek, kan ons maar een kreet uiter, net soos die kruiseling langsaan Jesus gesê het. Ons is vervloektes omdat ons dit verdien het. Tot die dood toe sleg. Dit is ons verdienste. Dat ons mag lewe en die heerlike lewendwekkende kragwerk van God mag ervaar, is slegs ’n onverdiende guns wat God ons bewys.
Daarom, bejaarde mense, weet goed dat u dit nie verdien om oud te wees nie.
En jonge broeders en susters: u het geen regte waarop u aanspraak kan maak dat u mooi en jonk en sterk kan wees nie.
Liewe kindertjies, ook julle verdien dit nie om lewenslustig te wees en te droom dat julle eendag groot sal wees nie.
Gesonde mense, weet maar, julle verdien dit nie om gesond te wees nie.
Ons verdien dit nie om met mooi motors rond te ry nie. Ons verdien dit nie om in mooi huise te bly nie. Ons verdien nie goeie betrekkinge nie. En bowenal, ons verdien nie om ons hoop uit te strek na die ewige lewe, na die verhewe stad, na die nuwe aarde, en na al die seëninge daarvan nie. Die ewige lewe met sy volle pakket word omhul met die slagspreuk: Genade alleen! Die apostel het nooit moeg geword om dit vir die gemeentes te sê nie. En hoe kon hy ook anders: As hy maar net teruggedink het aan daardie Saulus van Tarsus wat Jesus so gehaat het, en aan die Christelike kerk wat hy met die banvloek wou tref. En as hy oordink wat alles intussen met hom gebeur het, ook al is hy op die oomblik dat hy hierdie brief skryf ’n gevangene in Rome dan kon hy maar net een ding bely: Ek is ’n verloste, ek is ’n kind van God alleen uit die genade wat God aan my verleen het. Wie van ons kan enigiets anders sê? Elke ou verdienstetjie wat ek in my lewe kan aanwys, is so goedkoop soos strooi. Dit verdwyn as dit brand ruik.
Dit bring ons juis by die radikale teenstelling wat Paulus hierna maak: Die feit dat ons Christene is, gee ons geen rede om te loop en spog nie. Hierdie verlossing uit genade deur die geloof kom nie uit onsself nie. Die mens kan nie sy eie bestemming uitwerk soos wat die algemene redenasie van die groot denkers vandag is nie. Kyk maar net hoe soek die mense na oorwinnings: hulle skiet mekaar flenters, hulle smag na sport oorwinnings, hulle hunker na blink prestige. Paulus verwys in die verband nog ’n keer na homself. Na allerlei dinge waarop hy nogal in die verlede gesteun het. Sy afkoms: Hy was ’n bloedlyn-afstammeling van die Hebreërs. Hy het uit die geslag van Benjamin gekom. En sy persoonlike prestasies was tog so belangrik. Hy was ’n fariseër, onberispelik in die nakoming van die wet, en ’n onblusbare yweraar – ’n vervolger van die Christene. Maar hy sê self dat hierdie dinge drek is in vergelyking met die egte saligheid in Christus Jesus. Die redding kom nie uit onsself nie. As dit uit onsself moes wees, sou dit goedkoop wees.
Dit is merkwaardig hoe uitgebreid die Prediker al hierdie menslike prestasies onder die son beskrywe, dit kom tot niks. Dit is tevergeefs. Dit is ’n gejaag na wind. En hoe is ons nie geneig om te spog wanneer ons voel dat ons iets goeds reggekry het nie! Hoe dikwels gaan dit nie ook maar so met toegewyde gelowiges nie? Soos die gelykenis van die fariseër wat Jesus vertel het nie. Want toe daardie fariseër (Luk. 18:9) sê dat hy twee keer per week vas, het hy die waarheid gepraat. Toe hy gesê het dat hy ’n tiende gee van alles wat hy besit, was hy dodelik akkuraat. Die fariseërs was nie net praters nie. Hulle het waarlik gedoen! Juis daarom het hulle die evangelie van die kruis van Jesus Christus so verag; hulle wou nie die woord ‘genade’ hoor nie.
Genade trek ’n streep deur hul verdienstes. Hulle kan nie meer vertrou op wat hulle sien en doen nie, hulle moet vertrou op wat hulle nie gesien en nie gedoen het nie. Hulle moet vertrou op wat Christus vir hulle gedoen het. Hulle moet oorgaan na die onsienlike. Hulle moet glo! Hulle prestasies is skielik niks werd nie. Hulle kan hulself nie meer bo die res van die volk laat uitstyg nie. Hulle kan hulself nie meer beter as die ander bevolkingsgroepe ag nie. Hulle kan nie meer rassisties wees en diskrimineer en spog nie. Hulle kan nie meer neus in die lug rondom ander sondaars loop nie. Hulle kan hulself nie meer beter beskou as die hoere en die tollenaars nie. Dit alles kan hulle nie verlos nie. Vir hul verlossing moet hulle God se genade omhels; nie die werke nie.
Dit geld ook vir ons. Ons kan nie sê dat ons tog ’n beter skool het nie. Of ’n beter gemeente. Of beter standaarde. Hoe tragies dat mense die evangelie van genade verag omdat hulle dan nie meer kan spog nie. Maar, wag nou dominee! Ons is nie meer in daardie kategorie van die goeie werke nie. Ons aanvaar die geloof as die weg waardeur ons die genade omhels. Waarlik, ons ry nie met daardie mooi motors omdat dit ons aansien verhoog nie. Ons jaag ook nie skoonheidsalonne en kunskompetisies na omdat ons wil spog nie. Ons omhels suiwer en alleen God se genade deur die geloof! Goed so, jonge broeder en suster. Maar luister dan ook goed na die teks van die Heilige Gees: die genade deur die geloof. Dit is ’n gawe van God. Selfs daardie hardwerkende geloof van jou is nie jou prestasie nie. Moenie sê: ons het darem ’n sterker geloof as al daardie ander nie. Die geloof waardeur ons God se genade ontvang is niks beters nie as daardie begenadigde straatvrou s’n wat Jesus se voete met haar trane gewas en met haar hare afgedroog het nie. Daardie besef van sondes en vergiffenis van sondes. Dit is alleen God wat jou dit maak doen. Dis ’n gawe van God.
2. Begenadigde Verlostes←↰⤒🔗
En hiermee gaan Paulus in vers 10 tot by die diepste wortel van ons Christenskap. Dat ons begenadigde verlostes is in Christus, en dat ons dit deur die geloof ontvang. Dit is alles die resultaat van God se handewerk. Gelowiges is die resultaat van God se skeppingswerk. Maar dan is dit ook belangrik dat ons besef dat hierdie gawe nie goedkoop is nie. Hy het ons in Christus deur sy Gees herskep – nie om verder te mors in die sonde nie. Maar geskape tot goeie werke. Christus het vir al ons sondes betaal. Hy is ook die Een wat ons tot ’n nuwe lewe opwek. En wanneer hier gesê word dat ons deur God herskep is, dat ons saligheid letterlik die handewerk van God is, noem Paulus ook hier dat dit in Christus is. Aan die Galásiërs stel Paulus dit baie treffend: Galásiërs 4:19: “My kinders, vir wie ek weer in barensnood is totdat Christus in julle ’n gestalte verkry.”
Deur die werke word ons hoe langer hoe meer vernuwe tot die ewebeeld van die Here Jesus Christus. Die enorme krag wat God in die gelowiges werk, is nie onvrugbaar in ons nie. Dit bewerk daagliks bekering – die aflê van die oue sondige mens en aantrek van die nuwe mens wat na God geskape is. In die meestergestalte van Christus sien ons presies hoe God die goeie werke vir ons voorberei en voorbeskik het sodat ons daarin kan wandel.
Daardie meesterplan het die HERE vir Moses op kliptafels beskryf, ’n tienpuntige volmaakte portret van die Here Jesus Christus. Wie in Christus herskape is, word ook hoe langer hoe meer tot sy ewebeeld vernuwe. Nie sonder baie stryd nie. Nie sonder baie struikel en val nie. Nie sonder ’n al dieper ontdekking van ons eie swakhede en sonde nie. Maar tog – ’n kragwerk! ’n Nuwe strewe! ’n Lewende hoop! ’n Groeiende soeke na die volmaakte! ’n Brandende hart! ’n Vurige liefde. Soos mense wat die onsienlike werklikheid al hoe helderder sien – ons hemelse Bruidegom. Wat deur al hierdie aardse stryd heen begeer om met sy volmaaktheid oorklee te word; om te verlang om die Here Jesus van aangesig tot aangesig te mag aanskou, aan sy beeld gelykvormig te wees, omdat ons Hom sal sien soos wat Hy werklik is.
Geskape in Christus Jesus tot goeie werke;
-
wat God voorberei het,
-
sodat ons daarin kan wandel.