2 Petrus 1:19-21 - Die Vaste Profetiese Woord
2 Petrus 1:19-21 - Die Vaste Profetiese Woord
En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op 'n lamp wat in 'n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte; terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif ʼn saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van ʼn mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.
2 Petrus 1:19-21
Toe die apostel Petrus hierdie woorde neergeskryf het, was hy reeds 'n ou man. Hy het reeds geweet dat die einde van sy lewe naby is. Of hy geweet het dat hy daar in Rome 'n marteldood sou sterf, soos wat uiteindelik gebeur het, weet ons nie. Maar met sy dood voor oë skryf hy hierdie laaste brief, byna soos 'n laaste testament, aan sy broeders en susters in die geloof, aan die kerk.
En watter droewige omstandighede wag daar vir die kerk! In sy brief voorsien Petrus dat hulle die prooi gaan word van allerlei dwaalleraars, mense wat die kerk van die gesonde leer wil wegrokkel agter valse leringe aan. En hulle gaan dit ook baie effektief doen, want hierdie dwaalleraars is mense wat indruk maak met die baie oortuigende manier waarop hulle hul versinsels aanbied – "kunstig verdigte fabels" noem die apostel dit in vers 16.
Is dit die kerk wat die apostel nalaat? 'n Prooi vir die dwaalleraars met hulle onwaarhede en versinsels? Nee, Petrus skryf hierdie laaste brief juis om die gelowiges aan te spoor om – teen alle dwaalleringe in – aan die waarheid vas te hou, om vas te staan in die waarheid wat hy en die ander apostels aan hulle verkondig het. Hoe kan die gemeente seker wees dat die apostels die waarheid aan hulle verkondig het? Daar is drie redes. Hierdie drie redes word in verse 16 tot 19 deur die apostel genoem.
Oor en Ooggetuie⤒🔗
In die eerste plek sê hy in vers 16: "Ons was aanskouers van sy majesteit. Met ons eie oë het ons Hom in sy majesteit gesien." Hiermee verwys Petrus na die dag toe hy en Jakobus en Johannes gesien het hoe Jesus deur God op die berg verheerlik word. Hulle was ooggetuies, nie net van sy verheerliking nie maar van alles wat Jesus gedoen het toe Hy sy Messiaanse werk op aarde kom voltooi het. En as ooggetuies was hulle getuienis betroubaar; betroubaar en waar.
Nie net ooggetuies nie, maar ook oorgetuies. Want, sê Petrus in vers 18, "ons het ook God se stem uit die hemel hoor kom toe Hy Jesus verheerlik het". En daarmee gee hy ook die tweede rede aan waarom die apostels se getuienis betroubaar en waar is. Hulle was oorgetuies! Met hulle eie ore het hulle gehoor wat God die Vader daar op die berg van verheerliking gesê het, en ook wat die Seun as die Gestuurde van die Vader alles gesê het toe Hy vir drie jaar lank met hulle op aarde was.
En nou die derde rede. Die gee Petrus in vers 19: "En", skryf hy, "ons het die profetiese woord wat baie vas is". Water profetiese woord? Die 1983-vertaling maak dit duidelik deur te vertaal: "die boodskap van die profete", dit wil sê die boodskap wat God in die Ou Testament deur die profete bekend gemaak het. Die apostels se prediking is dus betroubaar omdat dit aansluit by die Ou Testament, dit is by die geskrewe Woord van God. Hierdie profetiese woord, sê hy, "is baie vas". So vertaal die 1953-vertaling, dink ek heeltemal korrek. Die Woord van die Here soos Hy dit laat opteken het, is baie vas. Daar kan geen twyfel oor sy Woord bestaan nie. Vas en onveranderlik: dit mag nie verander of verdraai word nie.
En wat Petrus hier van die Ou Testament sê, geld net so van die geskrifte van die Nuwe Testament, wat op daardie stadium natuurlik nog in wording was. Want hoor net wat skryf hy in 3:15 van die briewe van Paulus. Hy skryf: "Ongeleerde en onvaste mense verdraai dit, net soos die ander Skrifte, tot hulle eie verderf". Ook Paulus se briewe, en desgelyks ook die ander boeke van die Nuwe Testament, is net soos die profetiese woord, vas en seker.
Waarom is dit so vas en seker? In vers 21 skryf Petrus die woorde wat so belangrik is vir ons belydenis aangaande die Kanon, wat in artikel 3 van die Nederlandse Geloofsbelydenis feitlik woordeliks aangehaal word en wat so 'n kosbare plek in die gereformeerde teologie inneem: "Want geen profesie is ooit deur die wil van 'n mens voortgebring nie, maar deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek". Daarom is die Bybel vir ons onbetwisbaar vas en bestaan daar by ons geen twyfel oor die onweerlegbare waarheid daarvan nie. Omdat dit wat mense daarin neergeskryf het nie uit mense kom nie, maar deur die inspirasie van die Heilige Gees vir hulle in die hart en gees en verstand gelê is.
So stel Petrus aan sy lesers die gronde waarom sy getuienis en die van die apostels vas, seker is: dit is naamlik gegrond op oog- en oorgetuienis, en dit is saam met die Ou Testament die geïnspireerde Woord van God wat baie vas is.
Daarom kan die gelowiges – hulle destyds daar in Klein-Asië aan wie Petrus sy brief geskryf het, maar ook die gelowiges van alle tye – ook ons, aan die Bybel vashou as die absoluut vasstaande en betroubare waarheid wat van God self kom.
Maar daarmee is die laaste woord nog nie gespreek nie. Want wie met die vrae en kwellinge van sy lewe na die Bybel toe gaan, kom gou agter dat hy nie op alles klinkklare antwoorde in die Bybel kry nie. Nie net met ons elkeen se persoonlike lewensvrae is dit so nie, maar ook met allerhande vraagstukke waarmee die kerk deur die eeue heen worstel – die Bybel gee nie vaste antwoorde nie. Dink maar aan ons eie Nasionale Sinodes se worsteling om antwoorde oor die wyse van nagmaalviering te kry. Geen duidelike vaste Skrifuitsprake hieroor nie. Wat nou van die vastigheid van die Bybel? Of moet ons maar volstaan met dit wat wel vas is, en dit wat nie uitdruklik daar staan nie maar as onvas beskou om maar aan menslike willekeur oorgelaat te word?
Die woorde van vers 19 lei ons na 'n antwoord toe. Op die profetiese woord wat baie vas is, moet ons "ag gee soos op 'n lamp wat in 'n donker plek skyn". Met beeldspraak, deur 'n vergelyking met 'n lamp wat lig gee, word verduidelik hoe God deur sy Woord ons oor dinge wat vir ons onduidelik en onvas lyk, na duidelikheid en vastigheid lei, "soos 'n lamp wat in 'n donker plek skyn…". Kom ons dink net vir 'n oomblik aan wat hierdie beeld sê.
Sonder 'n lamplig verdwaal 'n mens maklik in die donker en kan jy jou straks verongeluk, want jy kan nie die struikelblokke rondom jou raaksien nie. Maar in die ligstrale van die lamp kan jy sien waar die pad loop en watter struikelblokke bestaan. Die lamp sê nie vir jou waar om te loop nie. Jy moet self besluit. Maar die ligstrale van die lamp maak dit vir jou moontlik om verantwoordelike besluite te neem. So is die Bybel ook soos 'n lamp wat ons donker lewenspad verlig. Oor die baie vraagstukke van ons lewe gee dit dikwels nie klinkklare antwoorde nie. Dit sê nie watter beroep of watter lewensmaat jy moet kies, of watter huis jy moet koop nie. Maar in sy Woord maak God aan ons bepaalde beginsels bekend, soos roeping en vertroue op God en sy liefde, beginsels wat soos ligstrale vanuit sy Woord ons lewenspad voor ons uit verlig. En in die lig van daardie beginsels besluit ons dan in geloofsverantwoordelikheid wat die regte pad is om te kies en wat die struikelblokke is om te vermy. Só bring die Here deur sy Woord ook vastigheid in ons alledaagse bestaan.
Hoe Weet Ons←⤒🔗
Die vraag is nou: hoe weet ons of ons die ligstrale van die Woord reg sien? Met ander woorde: is ons afleidings uit die Skrif nie op die ou einde tog maar blootgestel aan ons eie willekeur nie? Die antwoord op hierdie vraag is baie belangrik vir elkeen van ons wat die Woord van die Here moet verkondig. Is my eie uitlegging van die Skrif bloot maar 'n willekeurige saak? Iets wat op eie insig berus? Mag ek my eie uitleg van die Skrif met vrymoedigheid aan die gemeente voorhou as dit wat God aan die gemeente sê, of nie?
In vers 20 skryf Petrus: "Julle moet veral dit weet, dat geen profesie van die Skrif 'n saak van eie uitlegging is nie". Hiermee verskuif hy die fokus na die uitleg (die epilusis) van die Skrif. En spesifiek die uitleg met die oog op profesie. Hier verwys "profesie" myns insiens nie meer na die Ou Testamentiese profesieë nie, maar na profesie soos dit dikwels in die Nuwe Testament bedoel word, naamlik die prediking. Dink maar aan die bekende 1 Korintiërs 14:3 waar Paulus skryf: "Hy wat profeteer, spreek tot mense woorde van troos en stigting en bemoediging".
Oor hierdie profesie gaan dit ook hier in vers 20. Geen profesie, geen Woordverkondiging, kan reg geskied as dit maar op eie uitlegging berus nie. Wat nodig is, is dat hy wat die Skrif uitlê, dit sal doen met die leiding en verligting van die Heilige Gees. Die Gees wat die Bybelskrywers geïnspireer het om nie hulle eie gedagtes nie maar God se woorde neer te skrywe. Daardie selfde Gees lei en verlig ook die Bybeluitlegger sodat hy nie maar sy eie uitlegging gee nie, maar die uitleg wat die Gees daaraan wil gee. In die Kanoniek sê ons: die Heilige Gees is die Eintlike Outeur van die Bybel en ook die Eintlike Verklaarder daarvan.
Dit beteken dat niemand kan waag om die Skrif uit te lê en daardie uitleg aan die gemeente te verkondig as die Heilige Gees nie in hom woon en werk nie. Daarmee word onderstreep dat ons eerste taak as predikante is om in ons persoonlike geloof te bly groei en in 'n lewende verhouding met God te leef. Biddend leef en werk, dat God deur sy Gees ons sal lei en aan ons sal gee om sy Woord reg te verstaan.
←⤒🔗
Hoe Gee die Gees dit aan Ons?←⤒🔗
Vir 'n antwoord hierop moet ons terugkeer na die beeld van die lamp wat op die donker plek skyn. As 'n mens uit 'n helder verligte huis in die donker uitstap, met net 'n lamp by jou, lyk sy lig vir die eerste ruk vir jou maar betreklik dof. Sy ligkring lyk vir jou maar baie klein. Maar hoe meer jou oë aan die lamplig gewoond raak, hoe helderder skyn die lamp vir jou en hoe wyer word sy ligkring. Ek dink 'n mens kan dit ook toepas oor hoe die Gees ons lei om die Bybel uit te lê. Hoe meer blootstelling 'n mens aan die Bybel kry, hoe meer jy daaraan gewoond raak om jou pad in die lig van die Bybel te soek, hoe duideliker word sy strale vir jou en hoe wyer kring sy lig in jou lewe uit.
Toegepas op ons taak van Skrifuitleg: die Heilige Gees lei en verlig ons gees om die Bybel uit te lê juis deur ons meer en meer aan die Bybel bloot te stel. Dit kom neer op harde werk van volgehoue Skrifondersoek en deeglike eksegese. Wat 'n duiselingwekkende taak. Wat 'n heerlike troos. Harde werk, maar solank ons dit in biddende geloofsafhanklikheid aanpak, weet ons dat ons die uitleg wat ons in die prediking aan die gemeente voorhou, nie 'n saak van eie uitlegging is nie, maar die uitleg is wat die Gees van God aan ons gee.
Vanuit hierdie wete kan ons met vrymoedigheid die profetiese taak waartoe die Here ons roep aanpak en enduit deurvoer, selfs te midde van die kwaaiste aanslae teen die kerk van die Here soos dié wat die apostel Petrus in sy brief voorsien. In dankbaarheid weet ons dat dit wat ons preek, kan standhou. Dat dit nie in die lug hang nie, maar vas en seker is. Omdat Hy wat ons roep en lei en toerus, aan ons sy Woord gegee het wat vas en seker is en omdat Hy deur die krag van sy Gees dit tot die einde toe as vas en seker sal bewaar.