Bron: Die Kerkblad, 1989. 13 bladsye.

Menseregte

vuiste

Reaksies in Die Kerkblad (Maandblad van die GKSA) van 25 Oktober 1989 op 'n redaksionele artikel oor 'n werkstuk van die Suid-Afrikaanse Regskommissie insake mense- en groepsregte.

Redaksionele artikel (Brandpunt) 13 September 1989:

"Handves vir Menseregte" – Is dit Bybels Verantwoord?🔗

Die Suid-Afrikaanse Regskommissie het 'n dokument van 490 bladsye voorberei, met die titel 'Working Paper 25 – Project 58: Group and Human Rights'. Dis 'n pleidooi vir die instelling van 'n Handves van Menseregte en 'n totale herskrywing van die Suid-Afrikaanse Grondwet. Dit is egter interessant dat in die dokument staan dat 'the Church is perhaps the most vigorous champion of hu­man rights…' Die beskerming van menseregte is deel van die program van die Wêreldraad van Kerke (WRK), die Gereformeerde Ekumeniese Raad (GER), die Sinode van Biskoppe van die Rooms-Katolieke Kerk en die Ge­reformeerde en Lutherse Wêreldbondgenootskappe (p. 197).

Kerkleiers is versoek om memoranda te stuur aan die Regskommissie, en eerwaarde Peter Storey van die Me­todistekerk, kanunnik R.C.R. Briggs van die 'Church of the Province of South Africa', en kardinaal Owen McCann van die Rooms-Katolieke Kerk het die behoefte aan 'n menseregtehandves bevestig. Dit was ook die geval by die Christian Science-Kerk, die Apostoliese Geloofsen­ding, Jeug met 'n Missie, Judaïsme, Islam en Hindoeïsme. Selfs die NG Kerk het 'n positiewe antwoord gestuur.

Menseregte – 'n Nuwe Evangelie van Verlossing?🔗

In die dokument word beweer dat menseregte die laas­te uitweg is om hierdie wêreld van finale vernietiging te red (p. 189). Klink dit nie asof die menseregte-leer 'n nuwe evangelie van redding geword het nie? Dit word feitlik op een vlak geplaas met die Evangelie van ons Here Jesus Christus. Die Regskommissie sê dan ook dat dit werklik hul oortuiging is dat diegene wat mensereg­te as onchristelik en onbybels beskou totaal uit pas is met die ware Christelikheid (p. 312). Hulle wat dit egter as Christelik beskou, beskik oor groei en lewenskrag. Hulle is op pad na 'n toekoms wat hoopvol is (p. 190).

Waar Staan dit In die Bybel?🔗

Waar in die Bybel staan dat ons ons hoop moet stel op menseregte?

Nêrens word daar eers gepraat van menseregte nie. Christus eis slegs dat die mens 'homself verloën' (Matteus 16:24), 'sy lewe verloor' (Markus 8:35) en 'almal se dienaar' word (Markus 10:43). Nêrens praat Christus van 'n inherente of onvervreembare soewereine geregtig­heid, en van outonome persone vir wie selfvervulling 'n fundamentele prioriteit is nie. Op geen stadium het Hy op menseregte vir Homself aanspraak gemaak nie, en dit ook nie aan sy volgelinge verleen nie.

Om daarom te sê dat die menseregte-ideologie Chris­telik is, is in stryd met die Bybel. Dit is duidelik huma­nisties met 'n utopiese hoop: hoop op vryheid, sekuriteit, vrede, geluk en geregtigheid – alles deur die mens self geskep. Alles van hier benede – niks van bo af nie. Pragtige beloftes word gemaak, soos bv. in die Freedom Charter: "Die volk sal regeer"; "Alle bevolkingsgroepe sal gelyke regte hê"; "Die mense sal deel in die land se rykdom"; "Daar sal werk en veiligheid wees"; "Die deur van geleentheid en kultuur sal oop wees"; "Daar sal vrede en vriendskap wees". Al hierdie beloftes word gemaak sonder die minste verpligting, sonder opoffering, selfverloëning of harde werk. Daar word ook geen morele eise gestel nie, nie vir eerlikheid, spaarsaamheid en soberheid nie, en ook nie vir getrouheid en dissipline nie.

Die Beeld van God🔗

Die basis vir die menseregte-evangelie is die oortuiging dat die mens inherent goed is, dat hy 'n intrinsieke 'waar­de' het en 'n reg op menswaardigheid, omdat hy die beelddraer van God is. Volgens prof. J. M. Potgieter (UNISA) hou die mens daarvan om dit wat hom vlei, te glo. Dit wat nie opoffering vra nie, maar voordeel beloof en voorspoed binne die hele spektrum van vleeslike be­geertes. Is die sondige mens die beelddraer van God? In Genesis en elders word aan ons gesê dat God die mens na sy beeld geskape het, en hom as heerser bo alle dinge gestel het. Mens moet egter nog verder lees. Die mens het in sonde geval en die beeld van God is geskaad. Jesus Christus het egter gekom en Hy is nou 'die beeld van die onsienlike God' (Kolossense 1:15). Christus maak dit moontlik vir die sondige mens om te verander en vernuwe te word. Hierdie 'nuwe' mens – nie almal nie – dra die beeld van God. As dit nie so was nie, watter nodigheid is daar vir die Evangelie van Christus? Wat­ter nodigheid dat die mens hom bekeer van sy sonde, as hy dan in elk geval die beeld van God is? Om te sê dat die sondige mens die beeld van God is, is niks an­ders as die 'teologiese ekwivalent' van die onaanvaarbare humanistiese beginsel dat die mens goed is.

grondwet🔗

Die Goeie Mens?🔗

Die bewering dat die mens goed is, plaas hom op die­selfde vlak as Christus wat sonder sonde was. Hoe kan mens Christus in die lewe van 'n onboetvaardige moor­denaar, 'n gewelddadige, arrogante, hipokritiese mens sien; in 'n owerspeler, dief of dronkaard? Christus sê: "Hy wat my gesien het, het die Vader gesien". Kan die sondige mens ooit sê: Hy wat na my kyk, kan God sien? Hoegenaamd nie! Om daarom die sondige mens met die sondelose Christus te vergelyk, en beide te sien as die beeld van God, is verkeerd en lasterlik.

Menseregte is daarom gebaseer op 'n nie-Christelike uitgangspunt. In plaas daarvan om die sondige mens in te perk, bemoedig en beskerm hulle eintlik sy vleeslike begeertes. Die 'Handves van Menseregte' wat die SA Regskommissie bv. voorstel, is meer begaan oor die reg­te van die wettelose, die 'gearresteerde', 'aangeklaagde' en 'veroordeelde' as die regte van die burgers met 'n goeie naam (pp. 471 – 480). 'n Eerlike persoon het nie spe­siale 'regte' nodig om te kan assosieer, dissosieer, bymekaarkom, lees, praat, optree of reis nie. Die regte van die gearresteerde, aangeklaagde en veroordeelde blyk hoofsaaklik daarop gemik te wees om die magte van die polisie te beperk. Om die waarheid te sê, dit word openlik gestel dat die hoofdoel van die menseregte-handves wat deur die SA Regskommissie voorgestel word, die verbreking van die 'soewereiniteit van die Parlement' is, om die grondwet te herskryf, 'om die wetboek te suiwer', en om die 'volk' te laat regeer.

'n Totaal Nuwe Grondwet?🔗

Volgens hulle het Suid-Afrika 'n totaal nuwe oriëntasie nodig. Dit is nie genoeg om maar net onregverdige wette te skrap en te hervorm nie. Deur middel van 'n massiewe 'opvoedingsproses' moet die 'totale bevolking' van Suid-Afrika bewus gemaak word van menseregte. Skool­kinders deur 'vakke', en studente, d.m.v. 'n leerstoel vir menseregte aan elke universiteit (pp. 484, 489) sal spe­sifieke teikengroepe wees, totdat almal in 'n referendum vir die Handves van Menseregte sal stem – om nooit weer geskrap te word nie, behalwe deur ’n driekwart meerderheid. Om die proses aan die gang te sit, sê die Regskommissie, moet die Parlement nou 'n 'verklaring van beleid ten gunste en ter ondersteuning van so 'n wet maak as deel van 'n toekomstige Suid-Afrikaanse grondwet' (p. 488).

Die Kerk die Ywerigste Kampvegter?🔗

Mens hoef nie 'n geleerde te wees nie om te sien dat, as dit geïmplementeer word, die voorgestelde mense­regte-handves, met sy gevolglike magsverskuiwing en humanistiese wetstelsel, die Christelike kultuur van Suid-Afrika vir altyd sal vernietig. Die wet se hoofeise blyk dieselfde te wees as die van die Kairosdokument, nl. om 'die tiranne van hulle mag te ontneem en 'n regverdige regering daar te stel vir die welsyn van al die mense' (KD p. 24/25). Aangesien die Kommissie beweer dat 'die kerk die ywerigste kampvegter vir sulke regte' is (p. 197) en dat menseregte 'aan die wortel van die Evangelie lê, die geheel van teologie en openbaring ', is dit nodig dat ge­lowige Christene hierdie dokument lees en dan aan die Regskommissie skryf en hulle mening gee – volgens die dokument.

kinderregte🔗

Die Eis van die Liefde🔗

Natuurlik is dit nodig dat die staat onregverdige wette hervorm, maar sover dit die Christelike Kerk aangaan, moet dit voortgaan om God se Gebooie te verkondig, die Liefdesgebod te bevorder, alle mense te kersten, en te lewe volgens wat Jesus Christus in Lukas 6:31 sê – "En soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen". Dit moet die basis van ons wetstelsel en alle menseverhoudinge wees.

(Gedeeltelik oorgeneem uit 'Gospel Defence League' Junie 1989. Lees ook Die Hervormer, September 1989, bl. 4).

Marinus Wiechers, Pretoria-Noord, Skryf:🔗

Geagte Redakteur,

Dit is met groot ontsteltenis en diepe te­leurstelling dat ek die Brandpunt-artikel oor 'n handves van menseregte in Die Kerkblad van 13 September 1989 gelees het. Die artikel bied 'n totale skewe en – met respek gesê – onkundige beoordeling van die Regskommissie se werk­stuk oor mense- en groepsregte. Met skaamte is verder in die dagbladpers kennis geneem dat hierdie artikel die standpunt van ons kerk sou weerspieël. Wat uiters sorgwekkend is, is die summiere stelling dat "menseregte daar­om gebaseer (is) op 'n nie-Christelike uitgangspunt." Dit is waar dat wêreldwyd daar allerhande ideologiese sieninge oor menseregte bestaan, soos die Regskommissie tereg uitwys. Dit doen egter geensins afbreuk aan die feit dat menseregte vir die Christen-gelowige 'n kern­saak in sy godsdienspraktyk en belewe­nis behoort te wees nie.

Die Bybel is vir die gelowige 'n absolute gedragskode na leer en lewe. Ironies genoeg word juis in die gewraakte artikel die kern van die saak aangespreek waarom die Christen-gelowige eenvoudig as Bybelse opdrag menseregte en vryhede moet handhaaf en nastreef. Jesus Christus, soos in die artikel aangehaal, gee die uitdruklike opdrag in Lukas 6:31:

En soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen.

Hierdie wederkerige doen dui tog op optrede van een mens jeens 'n ander en vra uitdruklik vir behandeling op gelyke vlak met wedersydse erkenning en waardering van mekaar se waardigheid, aansprake, regte en vry­hede. Die gebod van wederkerige, gelyke menslike optrede jeens mekaar is nie iets vaags of iets wat net ewe vroom in die gemoed weggebêre kan word nie. Dit moet positief uiting in konkrete hande­linge vind. Ek mag nie my buurman se eiendom beskadig nie en ek kan verwag dat hy ook op dieselfde wyse teenoor my goed sal optree. Waarop maak ek aan­spraak? Dat ons nie op mekaar se eien­domsreg inbreuk sal maak nie. Net so kan ons oor en weer van mekaar verwag dat ons nie op mekaar se eer, waardig­heid, vryheid, privaatheid en liggaamli­ke integriteit inbreuk sal maak nie. Dit is presies waaroor die gebod op weder­kerige, gelyke menslike optrede gaan. En dit is presies waaroor erkenning van menseregte en vryhede gaan. En dit is waarom die owerheid as dienaar van God ook erkenning en uitdrukking aan dieselfde gebod moet gee.

Die Bybel eis naasteliefde in gesindheid en in optrede. Dit is waarom ek as Chris­ten-gelowige met alle oortuiging en Skrifgehoorsaamheid menseregte en vryhede moet voorstaan en bevorder. Dit is waar­om ek die Regskommissie se werkstuk heelhartig ondersteun.

Prof. T. J. Kruger, Fakulteit Regte, PU vir CHO, Skryf:🔗

Geagte Heer

Vergun my enkele opmerkings rondom die rubriek "Brandpunt" (Die Kerkblad, 13/9/89) onder die opskrif: "Handves vir Menseregte – is dit Bybels verantwoordbaar?"

Ongelukkig moet ek sê dat die (naam­lose) skrywer van die artikel ruimskoots van die tegniek van verdagmaking-deur-assosiasie gebruik maak: etiketteer die uitgangspunte rondom "menseregte" as nie-Christelik, koppel dit gerieflik aan die Kairos-dokument en verdoem dan die pogings om die Suid-Afrikaanse regs­orde te verfyn deur middel van die daar­stel van 'n menseregtehandves (MRH) as on-Bybels. So eenvoudig is die saak egter nie.

klokkies

Om verstaanbare redes is dit (heel be­gryplik) so dat die begrip "menseregte" die alarmklokkies laat afgaan: die blote woord herinner aan 'n liberalisties-humanistiese uitgangspunt wat die mens as sentraal en boonop as algenoegsaam voorstel. So 'n uitgangspunt is vanself­sprekend vir die Gereformeerde onaan­vaarbaar. Maar nou moet 'n mens ver­sigtig wees om nie die spreekwoordelike baba (of tien babas, soos u rubriekskry­wer doen) saam met die badwater uit te gooi nie. Anders gestel: is daar in "men­seregte" nie dalk iets uit die Christelike en dus Bybelse geregtigheidseis verskuil nie? Is Lukas 6:31 (soos deur die skrywer aangehaal) nie juis presies in ooreen­stemming met dit wat die beskerming van "menseregte" op die oog het nie? Ek meen wel so.

Eerstens iets oor wat menseregte nie is nie. Menseregte is nóg simbool van die mens se algenoegsaamheid, nóg 'n afwy­sing van Christus se uitreddende genade: dit is nie universeelgeldende regte nie, maar is afhanklik (vir die erkenning en toepassing daarvan) van die gestalte­gewing daaraan binne staatsverband; dit is nóg regte sonder 'n plig-kant as teenhanger, nóg is dit "superregte" van die een of ander aard.

Menseregte (ek verkies die term funda­mentele regte) is reeds vir eeue lank deel van die Westerse regstradisie – ook van ons eie Romeins-Hollandse regstradisie. Dit is slegs sedert daardie regte – veral sedert die Tweede Wêreldoorlog – as "menseregte" herdoop is, dat daar van­uit bepaalde kringe 'n renons in daardie regte te bespeur is. Tog is menseregte, oftewel fundamentele regte, vir baie jare reeds deur ons reg erken – of klink die volgende regte wat vers en kapittel deel van ons regstradisie uitmaak, dalk onbe­kend?

  • die reg om nie arbitrêr gearresteer te word nie;

  • die reg om nie sonder die redelike vooruitsig op verhoor aangehou te word nie;

  • die reg op regsverteenwoordiging en om die eie saak voor die geregshof te mag stel;

  • gelykheid voor die reg;

  • die reg op byeenkoms, meningsuiting, geloofsoortuiging en gewetensoortui­ging;

  • die reg op vryheid van beweging;

  • die reg om eiendom te mag besit.

Daar is baie meer sulke fundamentele regte wat genoem kan word, maar ek volstaan by die pasgemeldes.

AI die gemelde fundamentele regte is juridiese regte, dus afdwingbaar in 'n geregshof. 'n MRH is bloot daarop gemik om daardie regte juridies te verskans, dus te voorkom dat die staatsowerheid daardie regte arbitrêr en eensydiglik van die staatsonderdaan/burger ontneem. 'n MRH is dus per definisie beperkinge wat die owerheid op homself plaas in so verre dit die fundamentele regte van sy bur­gers aangaan – maar altyd met die voorbehoud dat, sou faktore soos openbare orde, openbare sedes of die voort­bestaan van die staat bedreig word, daardie regte beperk mag word. Soda­nige beperkings word dan normaalweg ook in die menseregtehandves self be­paal. Die mate waartoe die regte beperk mag word, word bepaal deur 'n bevoegde geregshof, en wel aan die hand van die Grondwet. Iets soos 'n noodtoestand mag byvoorbeeld meebring dat sekere fundamentele regte vir 'n tydperk beperk mag word.

Die netto-resultaat is dat by beide die staatsowerheid en die burger 'n groter sekerheid bestaan oor die posisie van albei, en dat die howe as arbiter in die proses van belange-afweging optree. En dit is (in 'n neutedop) wat bedoel word met 'n menseregtebedeling.

Tans word die regsorde in Suid-Afrika onderlê deur die sogenaamde beginsel van parlementêre soewereiniteit wat in kort daarop neerkom dat die howe nie die gemelde arbitersrol kan speel nie, omdat die parlement letterlik enige wet (hoe onbillik of onregverdig of onchristelik ook al) mag maak en die howe (juis by gebrek aan 'n MRH) bloedweinig kan doen om die situasie te rektifiseer. Is dit die tipe situasie wat die skrywer van die rubriek verkies? 'n Oppermagtige wet­gewer wie se woord (hoe onbillik of on-Bybels dit ook al mag wees) wet is, en howe wat die onbillike wette – buig of bars – moet toepas?

Onderliggend aan die skrywer van die rubriek se standpunte lê 'n gevaarlike (ek sou selfs sê Bybels-onverantwoor­bare) premisse en/of denkpatroon. Dit is naamlik die "ons" en "hulle"-benadering: "Ons" is eerlik, regverdig en goed, en "hulle" nie. Wie is "hulle"? "Hulle" is die "wettelose", die "gearresteerde", die "aangeklaagde". Verder: deur "hulle" die beskerming van hulle fundamen­tele regte te ontsê (soos die skrywer doen) begaan die skrywer 'n elementêre denkfout: hy/sy veroordeel mense en vind hulle byvoorbaat skuldig bloot om­dat hulle "gearresteerdes" of "aange­houdenes" is, en dit sonder dat hulle skuld juridies in 'n geregshof bewys is. Merkwaardig! Deur sy standpunt bewys die skrywer juis hoe hoog die nood vir 'n MRH in Suid-Afrika reeds geword het. Want as die wetgewer soos die skrywer dink, sal ons tronke eersdaags nog voller aan (onverhoorde) "gearresteerdes" en "aangehoudenes" sonder die vooruitsig op verhoor wees, as wat tans die geval is. Die "goeie naam" van 'n persoon het geen jota of tittel te make met die feit dat alle mense geregtig is op gelyke behan­deling voor die reg nie.

regter

Om boonop te beweer dat 'n "eerlike per­soon" nie spesiale regte nodig het om te assosieer, bymekaar te kom, te lees, praat of reis (ensovoorts) nie, getuig óf van totale gebrek aan kennis oor wat in Suid-Afrika aan die gang is, óf verstommende naïwiteit. Baie mense wat eerlik glo dat, sê, die Suid-Afrikaanse politieke bestel onbillik is, word juis vanweë daardie eerlikheid oor hulle politieke sieninge sekere fundamentele regte ontsê – en byvoorbeeld sonder verhoor gearresteer en aangehou. Kortom, eer­likheid het niks te make met die feit dat alle landsburgers in beginsel oor dieself­de kam geskeer behoort te word nie: inbreukmaking op fundamentele regte moet die uitsondering eerder as die reël wees. Dit is juis wat 'n MRH onder meer op die oog het. Is dit on-Christelik?

'n MRH is allermins daarop gemik om die regstelsel of die Christelike kultuur van Suid-Afrika vir ewig te vernietig. Dit is, inteendeel, juis daarop gemik om die regstelsel te verfyn en die nodige balans daarin terug te plaas, die Bybelse eise van geregtigheid aan almal na te streef en so 'n staatsgemeenskap daar te stel wat die Christelike kultuur van Suid-Afrika nie net in naam nie, maar ook in praktyk, waardig sal wees.

Prof. H. J. Schutte, Stellen­bosch, Skryf:🔗

Geagte Redakteur,

Waarom word daar altyd beweer dat die idee van menseregte gebaseer is op die aanname dat die mens inherent goed is wat dan 'n verwerplike humanistiese beginsel is?

Ek was nog altyd onder die indruk dat een van die groot lesse wat die Bybel ons leer, is dat daar 'n hoër reg bestaan wat uitstyg bo die willekeur van aardse ower­hede. Die geskiedenis van Nabot se win­gerd en Natan se teregwysing aan Dawid oor Batseba wys tog dat daar 'n reg is wat selfs deur aardse owerhede gehoor­saam moet word. Trouens, die feit dat God self die owerspelige vrou met 'n ver­maning laat gaan het, terwyl die wet vereis het dat sy gestenig moes word, is duidelik 'n geval van regspleging wat heenwys na 'n agting vir Sy handewerk wat selfs meer fundamenteel is as die geskrewe wet van daardie tyd.

Die gedagte dat die mens na die beeld van God geskape is, was tog nog altyd 'n grondslag vir die Joodse en die Christe­like etiek. Dink daaraan dat ons liggame ook 'n tempel van die Heilige Gees ge­noem word en dat ons gemaan word om God in ons (en ander) se liggame te ver­heerlik.

Na watter "reg" verwys Miga as hy uitroep: "Mens, die Here het jou bekend ge­maak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God." Die "reg" waarna verwys word, is reg aan mense.

In die rubriek Brandpunt van Die Kerkblad van 13 September word gevra: "Hoe kan mens Christus in die lewe van 'n onboetvaardige moordenaar, 'n ge­welddadige, arrogante, hipokritiese mens sien; in 'n owerspeler, dief of dronkaard?" Miskien kan ons die ant­woord vind as ons probeer om met die gesindheid van Jesus na hulle te kyk soos Hy na die owerspelige vrou en na die moordenaar langs Hom aan die kruis gekyk het.

Ek haal weer aan: "Die 'Handves van Menseregte' wat die SA regskommissie bv. voorstel, is meer begaan oor die regte van die wettelose, die 'gearresteerde', 'aangeklaagde' en 'veroordeelde' as die regte van die burgers met 'n goeie naam. 'n Eerlike persoon het nie spesiale 'regte' nodig om te kan assosieer, disassosieer, bymekaarkom, lees, praat, optree of reis nie. Die regte van die gearresteerde, aangeklaagde en veroordeelde, blyk hoofsaaklik daarop gemik te wees om die magte van die polisie te beperk."

Ek dag dat Christus ook vir die gearres­teerdes, aangeklaagdes, veroordeeldes en sondaars gekom het. Die gees van "O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbre­kers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie" wat hieruit blyk, is verbysterend. En waar kom die skrywer daaraan dat eerlike persone nie spesiale regte nodig het om te kan assosieer, disassosieer, bymekaarkom, lees, praat, optree of reis nie? Ek veronderstel dat "eerlike" mense al hierdie dinge kan doen in lande soos Rusland, China, Roemenië en hier in Suid-Afrika, sonder 'n enkele hinder­nis. Dit is slegs die "oneerlikes" wat verhoed word om dit te doen. En om daaraan te dink dat die magte van die polisie beperk moet word – hierdie eksem­plare van onberispelike optrede!

polisie

As ek artikels soos hierdie een lees kry ek altyd die ongemaklike gevoel dat weerstand teen die omskrywing van menseregte gebied word, nie soseer om­dat die uitgangspunte dan on-Christelik sou wees nie, maar omdat mense bedreig voel in hulle geprivilegeerde magsposi­sies. Dit kan hulle miskien dwing om 'n keer werklik reg te laat geskied aan die gearresteerdes, aangeklaagdes, diewe, bedrieërs, egbrekers en tollenaars. Erger nog, dit kan hulle miskien dwing om daardie genade van God, wat in elke mens leef, te erken in mense van 'n an­der ras en ander kleur. Dit is tog soveel makliker om in die binnekamer die blik vertikaal te hou en jouself te verseker dat alles goed is tussen God en jouself as om met 'n horisontale blik jou as 'n medegevangene tot jou medemens te wend en te doen wat Miga vra. Loof ons dan nie elke Sondag God met jubellied en gebed nie? Hou die blik vertikaal en wend jou af van die verfoeilike horison­tale humanistiese siening!

Nee, meneer die redakteur, die laaste sinnetjie in die artikel verbloem die miskenning van die Liefdesgebod wat uit die hele inhoud straal.

Prof. M. A. Kruger, Magalies­kruin, Skryf:🔗

Geagte Redakteur,

Die "Brandpunt" van Die Kerkblad 13­-09-1989 oor "Handves van Menseregte – is dit Bybels verantwoord" kan in sekere opsigte skerp bevraagteken word.

  1. Die styl is van die begin af verdag­makend. Dit lê in "Dit is interessant dat in die dokument staan dat "the Church is perhaps the most vigorous cham­pion…!" Ook in: "selfs die NG Kerk het 'n positiewe antwoord gestuur".

  2. Volgens u sê die dokument dat die Christene wat dit as gewens beskou oor groei en lewenskrag beskik en dat hulle op pad na 'n toekoms is wat hoopvol is. Hiermee kan ek my vereenselwig, indien, soos die Christene dit seker bedoel, hulle nie hulle hoop op mense vestig nie, maar op God, terwyl hulle tog menslike verantwoordelikheid beklemtoon. Maar dis mos darem nie dieselfde asof daar nou gesê is dat 'n mens jou hoop moet stel op menseregte nie?

  3. U sê dat Christus slegs selfverloëning ens. eis. Dis tog nie waar nie. Hy sê dat ons moet doen aan ander wat ons aan ons self gedoen wil hê. Dis die agtergrond vir menseregte. Dis nie 'n klomp mense wat vir hulle self eis nie, maar wat saam met Christus en die profete se: Doen reg aan ander. Hoeveel keer roep die profete nie daarvoor nie!

  4. Dat menseregte omskryf en gehand­haaf moet word, is so Bybels as die Bybel self. Dit gaan vanaf die boeke van Moses dwarsdeur die Bybel.

  5. As ons nie oor menseregte wil praat nie, moet ons die tweede deel van die Tien Gebooie ook skrap. Dit gaan im­mers daaroor.

  6. Die Nasionale Sinode van 1985 het oor die menseregte-dokument van die GES wat voor hulle gedien het soos volg be­sluit:

    "GES-verklaring oor menseregte (vgl. 2.8). Die Sinode spreek sy hoë waardering uit vir die insiggewende en deeglike rapport "RES testimony on human rights" en oordeel dat dit 'n unieke en waardevolle bydrae vanuit 'n suiwer Gereformeerde gesigspunt oor die veelbesproke tema van menseregte bevat. Die kritiese ont­leding van die verskeie standpunte oor die saak is objektief en beklemtoon die noodsaaklikheid van 'n eie Skrifgefun­deerde perspektief.
    Besluit: Goedgekeur."

    Dit is vir my goed dat die Bybelse eise so kragtig in die staatkundige bestel ingewerk sal word. Dit sluit ook aan by Artikel 36 NGB.

  7. Indien die dokument wel beweer dat menseregte die laaste uitweg is om hierdie wêreld van finale vernietiging te red, is die opstellers inderdaad ver verkeerd, soos u sê. Natuurlik wil niemand beweer dat dieselfde saak nie vanuit 'n humanis­tiese en ongeloofs-hoek verkeerde aksen­te tot gevolg het nie. Ons taak as Chris­tene is om te help toesien dat menseregte in die staatkundige bestel Christelik sal wees en nie om alles te verwerp nie.

Bybel en vergrootglas🔗

Dr. J. M. Vorster, Derdepoort, Skryf:🔗

Geagte Redakteur,

Ek wil graag reageer op u redaksionele artikel: "Handves van Menseregte – Is dit Bybels verantwoord?" in Die Kerk­blad van 13 September 1989. Die betrokke artikel meld dat die dokument van die SA Regskommissie wat handel oor menseregte in Suid-Afrika basies humanisties is en "die Christelike kultuur in Suid-Afrika vir altyd sal vernietig." Teenoor hierdie skerp en ongenuanseer­de stellings wil ek graag die volgende teenargumente aanvoer:

  1. U stel op bl. 7 van die betrokke uit­gawe dat diegene wat sê dat menseregte Christelik is "in stryd is met die Bybel". Sou u dieselfde sê van ons Nasionale Sinode 1985 se besluit waarin hy die getuienis van menseregte van die GES vir sy rekening neem? Ek haal die besluit van die Sinode 1985 aan: "Die Sinode spreek sy hoë waardering uit vir die insigge­wende en deeglike rapport "RES testi­mony on human rights" en oordeel dat dit 'n unieke en waardevolle bydrae van­uit 'n suiwer Gereformeerde gesigspunt oor die veelbesproke tema van menseregte bevat." (Acta, 1985, bl.651). Wanneer die verslag van die Regskom­missie met die besluit van die Sinode ver­gelyk word, dan blyk dit dat daar nie veel verskil bestaan oor die erkenning en be­skerming van die bepaalde basiese menseregte nie. Trouens, ek meen dat baie van die sake wat deur ons Sinodes oor Volkereverhoudinge besluit is, ook in die Regskommissie se verslag gestel is. Ek wil ook verwys na die insiggewende artikel van prof. J. L. Helberg in "In die Skriflig" 1984, bl. 4-13, getitel: "Die Ou Testament en menseregte." Na, myns insiens, oortuigende Skrifverklaring sê hy op bl. 11: "Afsluitend kan oor menseregte in die Ou Testament gesê word: Mense het regte..." Die erkenning van menseregte moet dus nie sonder meer as humanisties afgemaak word nie. In die gereformeerde etiek word die noodsaak van 'n Bybels-verantwoorde erkenning van menseregte ter wille van staatkun­dige orde en vrede vandag algemeen aanvaar.

  2. U meld verder op bl. 8: "In plaas daarvan om die sondige mens in te perk, bemoedig en beskerm hulle eintlik sy vleeslike begeertes". Dit hang saam met die argument dat die akte van mensereg­te nie die pligte van mense uitdruk nie. Daarteenoor moet gesê word dat die regte van een persoon, pligte by die an­der impliseer. As Christen is dit bv. my plig om my werknemer sy verdiende vergoeding te gee. Terselfdertyd het my werknemer die reg om van my 'n reg­verdige loon te verwag. Dit is dus nie 'n geldige argument om regte en pligte teen mekaar af te speel nie – die een impli­seer die ander. Die erkenning van menseregte, met die pligte wat dit meebring, beperk juis die sondige mens se vleeslike begeertes. Menseregte is daarom ook 'n praktiese uitdrukking van die liefdesge­bod wat u tereg in u slotparagraaf be­klemtoon.

  3. Die argument dat die akte van menseregte "die Christelike kultuur vir altyd sal vernietig", hou ook nie steek nie. Die Regskommissie het juis die regte van groepe, ook godsdienstige groepe, beklemtoon. Daarin word die bekende re­formatoriese beginsel van godsdiensvry­heid, aanbidding en die reg tot Christelike kultuur gehandhaaf en beskerm. So kan die Christen beskerming geniet in 'n gemeenskap wat al hoe meer van God vervreem. Teenoor u stelling wil ek sê: Juis vir die handhawing van ons Christe­like kultuur het ons die akte van menseregte nodig.

  4. In die lig van bogenoemde, pleeg u onreg teen die Regskommissie deur hulle akte te koppel aan die "Kairosdoku­ment". Hierdie twee dokumente is in agtergrond, inhoud en gerigtheid heeltemal verskillend en handel hoegenaamd nie oor dieselfde sake nie. U doen dieselfde met die ongenuanseerde stelling op bl. 7 wat lui: "Dit word feitlik op een vlak geplaas met die Evangelie van ons Here Jesus Christus". Nêrens maak die Regskommissie so 'n aanspraak in hulle dokument nie, en hierdie argumente kan by die leser van Die Kerkblad, wat uit sy kerklike publikasies prinsipiële leiding verwag, 'n onregverdige skewe beeld van die verslag van die Regskommissie ontlok.

Dit mag wees dat die ongenuanseerde stellings en onbewese argumente voorkom in die gedeelte wat u oorgeneem het uit die "Gospel Defence League". Maar as dit so is, moet die redaksie steeds die argumente kontroleer ten einde ons Kerkblad te vrywaar van 'n onbillike oordeel oor ander – soos wat, myns in­siens, in hierdie geval met die S.A. Regs­kommissie gebeur het.

Die kerkblad🔗

Rosil Jager, Sasolburg, Skryf:🔗

Geagte professor d'Assonville

Die artikel "Handves vir Menseregte – ­is dit Bybels verantwoord?", gedeeltelik oorgeneem uit "Gospel Defence League" Junie 1989 en "Die Hervormer" Septem­ber 1986 bl. 4, bied 'n teleurstellend opper­vlakkige kommentaar op ’n indringende regsdokument van beduidende belang vir die staatkundige ontwikkeling van die RSA.

Dit is jammer om te verneem dat die Gereformeerde Kerk geen christelik­wetenskaplike begronding onderneem het vir plasing of kommentaar op die verslag van die Regskommissie nie.

Ek versoek hiermee graag dat so 'n besinning deur gereformeerde vakweten­skaplikes vir plasing in "Die Kerkblad" onderneem word.

Ds. S. J. van der Walt, Potchef­stroom, Skryf:🔗

Geagte Redakteur

Ek reageer graag op u redaksionele ru­briek "Gereformeerde Kerke vra drie dinge van die regering" en op u Brand­punt-rubriek "Handves vir menseregte – is dit Bybels verantwoord?" in Die Kerkblad van 13 September 1989. Daar­oor enkele broederlike opmerkings:

  1. Betreffende u Brandpunt-rubriek:

    1. ​U opskrif asook uitdrukkings soos: "Om daarom te sê dat die menseregte-ideologie Christelik is, is in stryd met die Bybel" en "Menseregte is daarom geba­seer op ʼn nie-Christelike uitgangspunt" wek die indruk dat menseregte, volgens u, op grond van die Bybel deurgaans te veroordeel is.

    2. Hoe rym u standpunt met die goed­keuring deur die Nasionale Sinode van 1985 (Acta, 651) van die verklaring oor menseregte deur die Gereformeerde Ekumeniese Sinode van 1984 in Chicago. Die Nasionale Sinode het onder meer ten opsigte van die Skriftuurlike fundering van menseregte deur die GES-verklaring sy hoë waardering vir die insiggewende en deeglike rapport uitgespreek. Die Nasionale Sinode van 1988 het in breë trekke hierdie standpunt herbevestig deur 'n beswaarskrif teen die aanvaarding van die GES-verklaring oor mense­regte deur die Sinode van 1985 nie te laat slaag nie (Acta 1988, p. 303)

    3. In 'n reeks artikels oor menseregte in Die Kerkblad (3 en 17 Oktober 1984; 14 en 28 November 1984; 12 Desember 1984) het prof. S.C.W. Duvenage aange­toon dat menseregte humanisties vertolk en toegepas kan word, maar dat mense­regte as sodanig ook Bybels te verant­woord is.

    4. In u rubriek wek u beredenering van die beeld van God die indruk dat daar geen verband tussen die beeld van God en die sondige mens is nie. In sy beantwoording van die genoemde beswaar­skrif stel die Nasionale Sinode van 1988 (Acta, p. 313) dit duidelik dat alle mense na die beeld van God geskep is, al is die beeld wat vertoon word in die mens as gevolg van die sondeval verwronge. Ver­dorwenheid van die mens se natuur beteken nie die verlies van die geskapenheid na die beeld van God nie. Onderskeid moet egter gemaak word tussen "beeld van God wees" en "beeld van God ver­toon".

  2. Betreffende u redaksionele rubriek: Die drie dinge wat u namens die Gerefor­meerde Kerke van die regering vra, is reg en goed. 'n Opreg-bedoelde versoek: Wil u nie ook hierdie redaksionele kom­mentaar opvolg met een wat in die gees van art. 28 KO handel oor dit wat die ker­ke vir die regering moet doen nie?

Prof. J.M. Potgieter, UNISA, Skryf:🔗

Geagte Redakteur,

Dit is verblydend dat daar in die Gerefor­meerde Kerke sterk bedenkinge teen die humanistiese menseregte-ideologie en die SA Regskommissie se voorgestelde menseregtehandves bestaan (Die Kerk­blad 1989-09-13, 7-8). Vroeër het ook die Hervormde Kerk hom teen die beoogde handves uitgespreek (Die Hervormer September 1989, 4). Dus is die Regskom­missie se bevinding dat "al die groot kerke" menseregte "vanuit die Christe­like en Bybelse standpunt steun", onjuis: Ook kan nie saamgestem word met die kommissie se verklaring dat "diegene wat menseregte as onchristelik en on­bybels beskou, totaal uit pas is met die ware Christendom" nie (sien par. 10.55 van die Regskommissie se Werkstuk 25 Projek 58 oor Groeps- en Menseregte). Die ingrypende nadelige geestelike, mo­rele en sedelike gevolge van die Regs­kommissie se voorgestelde handves word klaarblyklik nog nie ingesien deur diegene wat op ondeurdagte wyse hul steun aan die menseregteleer toesê nie. Om maar een voorbeeld te noem: Artikel 30 van die voorgestelde handves vereis dat die grense van menseregte op grond van byvoorbeeld die goeie sedes bepaal moet word deur die norme wat "in 'n demokratiese gemeenskap aanvaarbaar is" (bl. 484). Hierdie bepaling sal noodwendig lei tot die invoer van sekere on­aanvaarbare norme wat in "demokratie­se gemeenskappe" soos die VSA en Wes-Europa geld. Onder meer die verbod op Christelike onderwys in openbare skole, die wettiging van sekswinkels en prosti­tusie; die vryelike beskikbaarstelling van pornografie, grootskaalse aborsies en selfs die erkenning van homoseksuele "huwelike" wat in sekere "demokratiese gemeenskappe" gangbaar is, sou vol­gens die Regkommissie se voorstel ook vir Suid-Afrika as norm kon dien. (Terloops, is daardie kerke en kerkleiers wat menseregte as "Christelik" aanvaar, eweneens bereid om die vermelde konsekwensies van die Regskommissie se voorgestelde maatstaf as "Christelik" aan te merk? )

vlae Suid Afrika

Lesers moet besef dat dit by die voorge­stelde handves van menseregte nie so-seer om nuwe regte gaan nie, maar om die invoer van 'n omvattende nuwe lewens- en wêreldbeskouing, gebaseer op onder meer sekere laakbare norme en beginsels "wat in 'n demokratiese ge­meenskap aanvaarbaar is". Dit is dan ook waarom die Regskommissie aanbe­veel dat die instel van so 'n handves voorafgegaan moet word deur "'n opvoed­kundige fase" waartydens die bevolking "opgevoed" moet word vir die nuwe be­deling; en waarom ook die NG Kerk (wat menseregte skynbaar steun), verklaar dat 'n "menseregtekultuur" eers geskep moet word "om 'n sukses van mensereg­te te maak".

Mens kry die indruk dat mense in hul haas om van die huidige politieke bede­ling weg te beweeg, eenvoudig aanvaar dat enigiets wat in die plek daarvan kan kom (soos die menseregtebedeling), noodwendig goed is. So 'n benadering is kortsigtig, simplisties en gevaarlik. Omdat die menseregtebedeling aan die sondige mens groter vryheid bied om sy sondige begeertes ongekontroleerd uit te leef, sal die erkenning van menseregte volgens die Regskommissie se voorstelle, Suid-Afrika onder meer op 'n vin­nige glybaan plaas na dieselfde sedelike verval en geestelike bankrotskap wat in sekere "demokratiese gemeenskappe" aangetref word. 'n Nuwe politieke bede­ling vir Suid-Afrika behoort egter nie die voortreflikhede in die land se sedelike, morele en geestelike erfenis te vernietig nie. Waarom sal 'n "nuwe Suid-Afrika" meer geregtigheid weerspieël as die be­volking, onder meer weens die invoer van 'n humanistiese menseregtehandves, sedelik en moreel te gronde gegaan het?

Gaan dus voort om die menseregteleer op Christelike gronde sterk teë te staan.

Prof. G. J. C. Jordaan, Teologie­se Skool Potchefstroom, Skryf:🔗

Geagte Redakteur,

Langs hierdie weg wil ek waardering uitspreek vir die Brandpunt-artikel oor die Handves vir Menseregte (KB 13/9/89). Die artikel was 'n waarskuwing op die regte tyd om nie agter alles aan te gaan wat onder die vaandel van Christelikheid bemark word nie. Die uitsprake van die regskommissie dat diegene wat menseregte as Christelik beskou "oor groei en lewenskrag beskik" terwyl diegene wat 'n ander mening huldig "uit pas met ware Christelikheid is", vorm m.i. deel van 'n blote bemarkingstrategie!

Geloofsnugterheid word gevra. Gerefor­meerdes, vir wie die Woord van God die rigsnoer van die lewe is, is geroepe om hierdie handves vir menseregte aan die Skrif te toets (vgl. 1 Johannes 4:1 en 1 Tessalonisense 5:21). As dit die toets deurstaan, moet ons dit behou, so nie, moet ons daarvan wegbly (5:22).

Aan die Skrif gemeet, vertoon die voor­gestelde Handves egter maar vaal en vlak! Die Handves roep 'n mens op om die reg van mense te handhaaf. Die Skrif roep 'n mens tot veel meer op: Om die reg van God te handhaaf! Die Handves soek die welbehae van mense. Die Skrif vra veel meer: Die welbehae van God!

Die naasteliefde, selfverloëning en diensbaarheid wat die Handves vereis, ver­toon pateties oppervlakkig teen die naasteliefde, selfverloëning en diensbaarheid wat God van sy geredde kinders eis! Die beloftes van vrede, vriendskap en veiligheid van die Handves is maar 'n floue nabootsing van die heerlike beloftes van God in die Skrif !

Die Bybel is vir ons 'n onverbeterlike Handves waarin God ondubbelsinnig stel hoe ons sy reg moet oppas, ook ten opsigte van ons naaste. Die probleem is natuurlik dat mense uit ongehoorsaamheid en ongeloof weier om die Handves wat God gegee het, na te volg. Die antwoord op die probleem is geloof en bekering tot die God van die Bybel. Nou lyk dit egter of die slim mense 'n ander antwoord het: 'n Eie handves.

My vraag is: As die Handves van God dan nie (kan?) slaag nie, watter hoop het die Regskommissie dat hulle voorgestelde handves kan slaag?

Prof. Victor d' Assonville, Teolo­giese Skool Potchefstroom:🔗

In oorleg met die Redaksiekommissie, skryf prof. d' Assonville hierdie brief in sy persoonlike hoedanigheid en nie as Redakteur van Die Kerkblad nie. Hy neem dus al­leen volle verantwoordelikheid daarvoor.

(Prof. D’ Assonville was die Redakteur ten tye van die plasing in Die Kerkblad van die artikel onder bespreking – RSS).

Aan die begin wil ek dit duidelik stel dat dit hier gaan oor die SA Regskommissie se voorgestelde Menseregte-akte of ook genoem Menseregtehandves soos opge­neem in Werkstuk 25 (Projek 58: Groeps- en Menseregte) en nie oor ander dokumente nie. Op vier bladsye na is dit 'n lywige dokument van 500 bladsye (hierna genoem MRH). Dit is dus heeltemal onmoontlik om op alle aspekte in te gaan en ek beperk my tot die belangrikste beginsels waarin hierdie MRH nie die toets van die Bybel en die Gereformeerde Be­lydenis kan deurstaan nie:

1. Die Bedenklike Oorsprong en Grond­slag🔗

Die SA Regskommissie erken vanaf bl. 24 dat die filosofie oor menseregte by John Locke, die humanis van die 17e eeu ontstaan het. Hulle erken verder dat die filosoof van die Franse Rewolusie, Jean-Jacques Rousseau met sy "idilliese natuurstaat" as "'n hipotetiese konstruksie" en die "daarstelling van 'n bepaalde staatsor­de" hierdie idees van Locke verder ge­propageer het (MRH, bl. 25). Ek sou kon bewys dat die Duitse filosofie van die "Verligting" van Immanuel Kant (1724-1804) met sy oorbeklemtoning van die menslike verstand ten koste van die Christelike geloof, een van die sterkste bronne van die ideologie van menseregte is. Eienaardig dat die MRH nie hierby uitkom nie.

Uit die belangrike geskrif van die Christen-staatsman Groen van Prinsterer (19e eeu) "Vrijheid, gelijkheid, broederschap" (1848), is dit bo alle twyfel duidelik dat die ideologie van menseregte verder 'n produk van die beginsels van die Franse Rewolusie is.

Een ding is baie duidelik: Die Bybel is nie die bron van die soort menseregte wat in die SA Handves gepropageer word nie. Wat wel hier gebeur, is dat baie pogings aangewend word om 'n Bybelse of Christelike aanpassing te maak met 'n samestelling van uitsprake en standpunte van teoloë, sekere kerke en heidense godsdienste (o.a. die Islam en Hindoeïsme, bl. 35) wat op een vlak gestel word. Oor die regte van God wat Hom toekom, staan hier geen woord nie. Die mens is aanhoudend in die middelpunt.

Dwarsdeur Werkstuk 25 is 'n poging om te bewys dat 'n handves vir menseregte 'n goeie ding is, 'n goeie ideologie uit die wêreld en dat die Bybel daarmee ooreen­kom. Dit word nêrens bewys nie, maar slegs op hoorsê van sekere teoloë en ker­ke aanvaar.

Vryheid gelykheid broederschap

2. Miskenning van die Sondeval🔗

Die eerste on-Bybelse standpunt in hier­die MRH is dat die sondeval in die Para­dys misken word. Dit kom uit in die Werkstuk se hantering van die beeld van God deur eenvoudig daarvan uit te gaan dat alle mense beeld­draers van God is, ongeag die vereiste om gelykvormig aan die beeld van Jesus Christus te wees (Romeine 8:29).

Vóór die sondeval is die mense geskape na die beeld van God (Genesis 1:26). Met die sondeval is hierdie beeld egter, vol­gens Calvyn, uitgewis, vernietig. Die oorspronklike Latynse woorde wat hy twee keer in sy kommentaar oor hierdie vers gebruik, is "deleta est". Vergelyk die Engelse woord "delete". (Terloops: eienaardig dat onder die Gereformeerde teoloë Calvyn nie in die Werkstuk aange­haal word nie.)

Wat van hierdie beeld van God na die sondeval oorgebly het, is slegs onduide­like "lineamenta" = vae, onduidelike buitelyne. Hierdie beeld "is so bederf en so vermink, dat ons in waarheid kan sê dat dit uitgewis is ('deleta est')". (Cal­vyn oor Genesis 1:26. )

En dan kom Calvyn met 'n baie belangri­ke uitspraak: "Volgens hom (d.i. Pau­lus) is die geestelike wedergeboorte niks anders, as die herstelling van die beeld van God nie" (Kolossense 3:10, Efesiërs 4:23). Hoe op aarde kan nou beweer word dat alle mense, ongekwalifiseerd, buite Christus om, beelddraers van God is? Die onduidelike, vae "buitelyne" word hier (omdat die sondeval misken word), verhef tot uitgangspunt wat nie in die By­bel geleer word nie.

3. Alle Mense Verdien om Hel toe te Gaan🔗

Van nature is ons almal geneig om God en ons naaste te haat (Heidelbergse Kategismus, antwoord 5). Romeine 3:10 leer: "Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie".

By die doop van elke kind in 'n Gerefor­meerde kerk bely die ouers dat "ons kin­ders in sondes ontvang en gebore en daarom aan allerhande ellende, ja, aan die verdoemenis self, onderworpe is". Van hierdie doemwaardigheid hoor ons niks in die MRH nie. Van die erfsonde hoor ons ook niks in die Werkstuk wat hom op die "christelikheid" beroep nie. Alleen die mens se regte word aange­prys.

4. Wat is die Beeld van God Volgens die Gereformeerde Belydenis?🔗

Volgens antwoord 6 van die Heidelbergse Kategismus (lees die Bybeltekste onderaan) is God se beeld "ware geregtigheid en heiligheid".

Wat het nou van hierdie geregtigheid en heiligheid in die gevalle sondige mens oorgebly? Dit is juis oor hierdie begrippe van geregtigheid en heiligheid waaroor daar 'n radikale verskil tussen die wêreldse humanisme en die Evangelie be­staan.

Die MRH gaan selfs verder en haal sonder teenspraak 'n uit­spraak aan waarin die mens ongekwalifi­seerd "as kind van God" gehuldig word (bl. 193). Ongelooflik! Almal, Christene en heidene, is nou sommer "kinders" van God.

5. Die Begrip "Geregtigheid"🔗

Die begrippe "reg" en "geregtigheid" word deurgaans in die MRH as juridiese terme gehanteer en nêrens in die Bybel­se betekenis nie.

Geregtigheid volgens die Bybel beteken nie menseregte nie. Volgens die Heilige Skrif is die begrip geregtigheid 'n term wat geheel en al gelaai is met die evan­geliese inhoud van God se genade sonder enige verdienste (regte?) van die mens (vgl. F.J. Pop: Bijbelse Woorden en hun geheim).

6. Hierdie Handves die Wêreld se Enigste Redmiddel?🔗

Sonder teenspraak word op bl. 191 van die Werkstuk aangehaal dat "die enigste en miskien die laaste middel wat hierdie wêreld van finale ondergang moet red", "die ideaal van die regte van die mens" is.

Hier kom die leer van menseregte vol­gens die MRH se Werkstuk blatant in die plek van die Redder Jesus Christus. Dit is totaal on-Bybels. Wat nodig is, is nie 'n "redmiddel" (die Handves) nie, maar die enigste Middelaar. Ook geen skepsel nie (vgl. Sondag 5 van die Heidelbergse Kategismus). Ook geen mens se maaksel of 'n "ding", filosofie, stelsel of ideologie kan ooit "die enigste redmiddel" vir ons land of die wêreld wees nie. As dit verkondig word, is dit afgodery.

Verder: Wat is volgens die "mensdom" wat op dieselfde bladsy aangehaal word, die "finale ondergang, van die wêreld"? Volgens die Bybel is dit God se oordeel met 'n oordeelsdag. By God is "die on­dergang van die wêreld" die voltooiing van sy herskepping. Daar sal 'n nuwe he­mel en 'n nuwe aarde wees, want die eer­ste hemel en die eerste aarde sal verby­gaan (Openbaring 21:1). Vir die gelowiges is dit geen "ondergang" waarvan die wêreld gered moet word nie, maar die begin van die ewige, volmaakte heerlikheid!

mond toegeplak

7. Mag God se Naam maar Gelaster word?🔗

Artikel 8 van die Handves lui soos volg: "Die reg op vryheid van spraak en om inligting te bekom en te versprei". Mag ek as Christen op grond van God se Woord ooit aan so 'n liberale "mensereg" toegee? Mag enige iemand (selfs die heiden) nou maar sommer die Naam van God laster omdat hy onbeperkte vryheid van spraak besit en dit sy "mensereg" is om die God van die Bybel te vloek?

Dan het die staat ook geen mag meer om Godslastering, pornografie, antichriste­like lektuur, satanisme, ens. te bekamp nie. Die poorte vir die boosheid word wawyd oopgegooi. Geen sensuur meer nie. Elkeen kan sê wat hy wil, ook al vloek hy die heilige God.

Die voorstanders van die MRH sal dade­lik antwoord: O nee, art. 30 sorg dat dit nie sal gebeur nie, want daar word o.a. "die goeie sedes" verskans. Hierop sê ek as 'n kritikus van die MRH: Gaan lees deeglik wat die maatstaf in art. 30 is. Dit is "goeie sedes" wat slegs tot die mate en op 'n wyse wat "in 'n demokratiese ge­meenskap aanvaarbaar is" moet geld (bl. 484).

Hier kom die aap heeltemal uit die mou: God se Woord is nie meer die maatstaf vir "die goeie sedes" nie, maar die "de­mokratiese gemeenskap".

Dit is on-Bybels. En volgens die soge­naamde "demokratiese gemeenskappe" wat ons in Europa en die VSA ken, behels dit die wettiging van prostitusie, sekswinkels, aborsie, onbeperkte pornogra­fie, wettige homoseksuele "huwelike", ens. waarna prof. J.M. Potgieter ook in sy brief verwys.

8. 'n Nuwe Geloofsbelydenis🔗

Die feit dat op bl. 314 by implikasie be­weer word dat iemand wat die Handves vir menseregte kritiseer "totaal uit pas is met die ware Christendom", dui op 'n nuwe definisie en spesifisering van die Christendom.

Alreeds deur my skrywe van hierdie arti­kel in Die Kerkblad word ek en elke teen­stander van die MRH gebrandmerk as iemand wat nie 'n goeie Christen is nie. Ons is "totaal uit pas met die ware Chris­tendom", bloot omdat ons dit kritiseer. Hier het die Christendom 'n nuwe konfes­sie gekry.

Volgens die Werkstuk van die Handves is die saak van menseregte tot 'n "uni­versele credo" (geloofsbelydenis) verhef (bl. 191).

So uiters noodsaaklik is hierdie "geloofs­belydenis" van menseregte dat die stuk verder die volgende van 'n gereformeer­de teoloog sonder teenspraak aanhaal: "Nie net vir ons (d.i. Suid-Afrika) nie, maar vir die ganse wêreld het dit letterlik 'n saak van lewe en dood geword" (bl. 191).

Hoe is dit tog moontlik dat gereformeerde teoloë ooit saam met hulle Gerefor­meerde Belydenisskrifte sulke standpun­te as grond vir ʼn SA Handves kan ver­dedig? 'n Saak van lewe en dood? – hier­die humanistiese "geloofsbelydenis"?

9. Ten Slotte🔗

Gaan iemand dit regkry om halt te roep? Dit lyk nie so nie. Van bladsye 492 tot 496 is die Plan van Aksie klaar uitgespel. Die voorstel aan die regering is dat dit in 5 fases gaan verloop.

So dringend noodsaaklik as wat die voor­standers van hierdie Handves vir mense­regte dit vir die "redding" van Suid-Afri­ka ag, net so dringend noodsaaklik is dit vir die teenstanders (blykbaar 'n klein minderheid) dat hierdie poging gestuit word, omdat dit nie op die Bybel gegrond is nie, maar op die beginsels van die Wêreld-humanisme (die mens in die middel­punt). Ook omdat hierdie Handves nooit "die enigste redmiddel" van Suid-Afrika kan wees nie. Jesus Christus is die enig­ste Middelaar tussen God en mens en ook tussen mens en mens.

Sonder My kan julle niks doen nie.Johannes 15:5