Die Christen se Ewige, Egte Blydskap HK Sondag 22, Vraag en Antwoord 58
Die Christen se Ewige, Egte Blydskap HK Sondag 22, Vraag en Antwoord 58
Kan u sê dat u gelukkig is? Dat u blydskap het? Of is u lewe bra moeitevol, 'n gejaag na wind?
Dit is 'n vraag na aanleiding van wat ons in hierdie deel van die Heidelbergse Kategismus bely: Dat ons nou reeds in ons harte die begin van die ewige vreugde gevoel. Ja ons praat slegs van 'n begin, maar dit is die begin van 'n ewige blydskap! Ondervind u daardie vreugde in die hart, of is u lewe 'n klaaglied?
Natuurlik moet ons versigtig wees om lugkastele te bou met ons gevoelens in ons harte, want ons harte bly steeds vol sonde en daarom is dit nie goeie aanwysers van die waarheid nie. Dit kan dus ook wees dat ons sondigheid ons verhinder om die vreugde te ondervind wat God wil hê ons moet ervaar.
Nogtans leer die HERE ons dat die lewe van 'n Christen gekarakteriseer word deur blydskap. Die woord wat ons so dikwels hoor is: Salig. Welgeluksalig.
Die Oorsaak van die Ewige Vreugde⤒🔗
Was Adam en Eva in die paradys gelukkig? Was hulle lewe 'n lewe van vreugde en blydskap, of nie?
Die antwoord op hierdie vraag is beslis positief. Adam en Eva het nie van angs en depressie geweet nie. Daar was nie allerlei pyn wat die genot van die lewe verdryf het nie. Dit is veral oorvloedig aangewys toe die HERE God by die voltooiing van sy skeppingswerk verklaar het: Dit is baie goed! (Genesis 1:31). En dit het Adam en Eva se bestaan ingesluit. Selfs die genot en die blydskap wat hulle twee gehad het, was goeie genot en blydskap. Dit was 'baie goeie' genot en blydskap.
Hierdie blydskap het weggesterf met die sondeval. Adam en Eva het die geluid van God gehoor wat wandel in die aandwindjie. En Adam en Eva het hulself verberg! Waarom? Adam het gesê: Ek was bang! In die plek van vreugde en uitbundige paradysblydskap was dit nou angs en vrees omdat hulle aan God se uitdruklike instruksies ongehoorsaam was.
Die ongehoorsaamheid het beteken dat hul liefdes- en vredesband met God verbreek is.
Wat hul lewe daar in die paradys so vreugdevol en genotvol gemaak het, was die wete dat hulle Skepper hulle Vader is, die Een wat alle seën aan hulle gee. Daar was 'n innige lewensgemeenskap met God.
Die sondeval het veroorsaak dat hierdie band verbreek het. Dat Adam en Eva van God vervreem is en dat hulle alleen was. God het hulle uit die tuin van innige gemeenskap met Hom verdryf. En die aarde waarheen die HERE hulle gestuur het, was vol van dorings en distels, moeites en vrese. Die vrou se smarte is grootliks vermeerder in die geboorte van kinders en om hulle groot te maak. Die man moes op 'n vervloekte aarde gaan werk en sy brood in die sweet van sy aanskyn eet totdat hy terugkeer na die aarde waaruit hy geneem is. Salige vreugde is waaraan Adam en Eva in die paradys gewoond was. Dis soos Paulus skryf:
Want om hierdie rede sug ons ook en verlang om met ons woning uit die hemel oorklee te word.2 Korintiërs 5:2
Die dieptepunt van die hartseer en die smart was nie maar net allerlei moeites en verdriet hier op die aarde nie. Dit was veel erger. Die feit dat God die mens uit die tuin uitgedryf het, het beteken dat Hy die band van innige gemeenskap met die mens afgesluit het.
Dit het beteken dat die mens uit die teenwoordigheid van God uitgeban is.
Dit beteken selfs dat die mens van sy lewensbron afgesny is. En om van die lewensbron afgesny te wees sal noodwendig daarop uitloop dat die vreugde van die lewe iewers gaan verdwyn. En om weggestuur te word op 'n vervloekte aarde met dorings en distels het niks anders impliseer as 'n lewe onder die voortdurende aanslag van die Satan nie.
Dit is die wortel van ons mense se probleem: Op elke sondaar rus die wraak van God. En ongeag wie daardie sondaar is, ongeag hoeveel die Satan omgee vir sy kinders, of hulle miljardêrs is en of hulle Olimpiese helde is en of hulle die hele wêreld regeer nie; daardie sondaars het fundamenteel geen vreugde en geen blydskap in die lewe nie.
Waarom nie? Omdat die donderwolke van God se wraak oor die sondaar hang. En geen briljante vindingrykheid van die mens of enige kragte van die Satan kan 'n sondaar verlos uit die wraak van die beledigde Skepper nie.
Vreeslik is dit om te val in die hande van die Lewende God, onse God is 'n verterende vuur!Hebreërs 12
En aangesien die sondaar die lewensband met God verbreek het, kan hy poog om groot genot op hierdie aarde vir homself te vergader. Maar hy het intussen wesentlik geen vreugde nie. Asaf het dit reeds in Psalm 73 agtergekom:
Wie ver van u sy weg wil gaan,
stap op 'n donker afgrond aan.
U roei hul uit wat U gesmaad het,
in troueloosheid U verlaat het…
Maar hier kom ook die evangelie in. Nog voordat God die mens uit die Paradys verdryf het, het Hy vyandskap gestel tussen die nageslag van die vrou en die nageslag van die slang. God het belowe dat die Verlosser wat uit die vrou gebore sal word die slang se kop sal vermorsel. Betaal vir al ons sondes, God se wraak ten volle in ons plek dra, God se mense verlos van die mag van die Satan, en hulle weer versoen met God, weer een met God se heilige wil. In die volheid van die tyd het God sy geliefde Seun na die aarde gestuur om sy uitverkorenes weer met God te verenig.
Christus het sy hemelse vreugde en heerlikheid afgelê en Homself onder ons ellende en pyne van die aardse lewe kom verneder. Ook vir Hom is die vreugde geheel weggeneem soos ons van Hom lees:
Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie.
Al die angste en smarte van die hel het oor Hom gekom, bange Godverlatenheid sodat ons nooit meer deur God verlaat sou wees nie. In soveel woorde het Jesus sy instruksies aan sy dissipels gegee om nie te vrees vir die dag van môre nie… oor eet en drink en aantrek nie. Jesus het vir ons verligting en bevryding verkry. Verlos soos Israel uit die slawerny van Egipteland, so ook verlos uit die heerskappy van die Satan en sy magte.
Nou kan ons bekommernisse en angste ook opgelig word, soos Paulus ons deur die Gees beveel:
Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.Filippense 4:6En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.Filippense 4:7
Ons lees dat God inderdaad groot blydskap en vreugde wil gee vir die wat in sy verbond lewe. In Oud-Israel was meer as 'n derde van die dae van die jaar, (die Sabbatte ingesluit) feesdae, geleenthede om saam te kom en voor die HERE bly te wees vanweë sy oorvloedige seëninge. En dit is wat God wil hê dat sy mense moet besit: Blydskap in die lewe. Geniet die verlossing wat God genadiglik geskenk het aan sy onverdienstelike mense.
En dit is nie al nie. Gaan lees weer al die verbondseëninge wat God belowe om uit te giet oor sy mense wat aan sy verbond getrou lewe. Onthou net die voorspoed en vrede wat God gegee het onder die vroeë regering van koning Salomo. Gaan lees die hooglied van Salomo en sien hoe graag die HERE wil hê dat jy jou liggaam en jou huwelik moet geniet.
So het die Here Jesus, toe Hy op aarde geleef het, gedurigdeur opnuut blydskap en opligting gebring vir die mense wat Hy aangeraak het. Christus het gekom om genesing te bring in die verhouding van sondaars met God, en daardie genesing moes ook gevolge hê in die lewe van elke dag. Daarom vermaan die apostel Paulus in Filippense 4:4:
Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!
So is die ewige blydskap 'n gawe van God se genade in Jesus Christus.
Ontvangers van die Ewige Vreugde←⤒🔗
Maar wie is die mense wat hierdie blydskap in ontvangs neem? As die ewige vreugde 'n gawe van God se genade in Jesus Christus is, is dit noodwendig logies dat diegene wat die vreugde ontvang die mense is wat in Christus as Verlosser glo, mense wat vergewing van sondes ontvang het. So het Paulus dit ook in Filippense 1 uitgeroep:
Vir my is die lewe Christus!
Tog word hierdie waarheid grootliks betwyfel. Nie net deur so baie mense in die samelewing nie, maar ook deur kerkmense. Daar is sommige wat dink dat 'n lewe van eenvoudige gehoorsaamheid aan God se gebooie eintlik maar 'n vervelige saai lewe is. En wat doen hulle dan?
Hulle gaan soek plesier. Hoe? Deur die begeertes van die vlees na te volg. Wees maar 'n bietjie wêrelds. Wees maar 'n bietjie stout, want dit is opwindend, dit laat die adrenalien pomp… dit is lekker.
Maar is dit rêrig soveel vreugde? Is die bevrediging van ons sondige begeertes lonend? Bring dit werklik blydskap? Daar was 'n tyd toe die kinders van Israel in kontak gekom het met die dogters van Moab (Numeri 25). Hierdie dogters het die jongmanne van Israel uitgenooi na die 'offerandes van hulle afgode' (vs 2). Seksuele losbandigheid het 'n groot deel van die Moabitiese offerandes uitgemaak.
Teenoor die streng reëls wat aan die jongmense van Israel geleer is, was hierdie losbandige uitnodiging baie aantreklik. Dit het hulle harte en hulle begeertes geprikkel. En wat kan dan nou verkeerd wees met 'n bietjie plesier?
Maar wat was dan die HERE se reaksie hierop? Die HERE se toorn het oor Israel ontvlam, en die HERE het beveel dat elkeen wat aan daardie hoerery deelgeneem het doodgemaak moes word.
Het God dan nie vir Israel 'n bietjie genot gegun nie? Inderdaad wil die HERE hê dat sy mense vreugde moet hê, maar dan moet dit God-gesentreerde genot wees. Goeie genot. Daardie genot met die Moabitiese meisies was nie vreugde in die ware sin van die woord nie. Dit was sonde. Dit het die wraak van God oor hulle gebring. Die jeug van Israel se sensasie van genot het uit sonde-gevulde harte gekom en was verdraai. Die resultaat was God se vervloeking op die sonde. En dit is nie genotvol nie.
Waarom was dit reg dat God se wraak so op die sonde toegeslaan het? God se heiligheid is altyd die eerste rede daarvoor. Sy heilige verbintenis met ons is die belangrikste rede. Maar daar is ook ander redes. God wil sy kinders beskerm teen die ellende en hartseer, die pyn en verdriet wat die sonde veroorsaak. Hy sien verder die lewe in as wat ons hier en nou kan sien. God wil sy kinders beskerm. Hy wil dat hulle die lewe werklik kan geniet. En om dit te verseker, dat ons werklik die lewe kan geniet, daarom verbied God die sonde.
Mense se goddeloosheid en boosheid bring die wraak van God oor hulle. En hoe kom die wraak tot uiting? Deur die sondaars met morele blindheid te tref sodat hulle nog erger sondes doen. Seksuele sondes. Alle seksuele dade buitekant die heilige huwelik word met die noodwendige gevolge gestraf: Byvoorbeeld met ongeneeslike veneriese siektes.
En as daar steeds nie bekering is nie, word sulke sondaars oorgegee aan hulle goddelose begeertes en gesindhede wat huise opbreek, huwelike vernietig, vriendskappe tot niet maak, wat die sondaar uitwerp en eenkant gooi met niemand wat meer vir hom omgee nie.
Waarom is hierdie dinge die gevolge van onbekeerlike sonde? Een belangrike rede is dat God mense graag die lewe wil laat geniet. Maar daar kan geen genieting wees as die verhouding met God verbreek is nie. So laat God dan die sondaar die bitter vrugte van sy sondes proe. God maak die lewe van die sondaar leeg, sodat die sondaar afgebreek word, sy sondes bely, en terugkeer na God vir genesing (Esegiël 18:32).
Wie is dit dan wat ware vreugde geniet? Dit is nie die mense wat hulself oorgee aan die begeertes van die sondige natuur nie. O ja, kattekwaad en goddeloosheid laat wel die adrenalien pomp, en vir ons gevalle vlees is dit sekerlik groot pret. Maar laat ons dit goed hoor: Die wraak van God besoek ons in ons sondes. Die pret van die wêreld is niksseggende vreugde.
Wil jy die lewe en sy volheid geniet? Daar is net een manier en dit is om versoen met God deur Jesus Christus te lewe.
Om in die krag van die Gees in harmonie met die bevele van God te lewe. So bely die Psalmdigter van Psalm 16 dit:
By U is ewig vreugde en volle vrede en in u hand 'n snoer van lieflikhede.
Vervolmaking van die Vreugde←⤒🔗
Lewensvreugde kom van God alleen en is alleen moontlik omdat Christus sondaars met God versoen het. So is dit dus dat alleen diegene wat met God versoen is, ware lewensblydskap kan hê. Net hulle het sondevergiffenis ontvang. Net hulle leef nie meer onder die angs van God se wraak nie.
Maar ons weet ook almal dat al het ons ook blydskap in die vergewing van sondes, tog het ons steeds nie volle blydskap in hierdie lewe nie. Die lewe het so baie sorge en probleme. En ons bly in onsself steeds tot sonde geneig. Daarom ervaar ons dikwels dat ons vreugde skielik oorskadu word met smart en hartseer.
En so is dit dan ook nie verniet dat ons in die kategismus praat van die begin van ons ewige vreugde nie. In hierdie aardse tranedal ontvang die kind van God niks meer as die begin van die ewige vreugde nie.
Wanneer die jongste dag aanbreek, sal dit totaal anders wees. Dan sal daar volheid van vreugde deurbreek. Want dan sal God al die trane afvee, en dood sal daar nie meer wees nie, geen geween en pyn meer nie. Vandag is daar steeds sondes in die wêreld en in ons lewens. Ons proe ook daagliks die bitter vrugte van ons sondes, bitterheid wat die geloofsblydskap so maklik wegneem.
Maar in die laaste dag sal die sondes weg wees. Dan sal daar lewe met God in die volste sin van die woord wees. Ons sal met Hom leef en Hy met ons … die ewige lewe.
Ons reik daarna uit met groot verlange. Maar ons mag ook meer doen as dit. Die ewige lewe is nie iets net vir die verre toekoms nie. Die ewige lewe is iets wat ons nou reeds in Christus besit. Ons geniet nou reeds vergiffenis van sondes, ons geniet nou al versoening met God. Om Christus ontwil het ons nou al reeds 'n hemelse Vader, en Hy voorsien vandag reeds in ons behoeftes.
Daarom hoef ons nou al reeds in hierdie jammerdal nie met kommernisse aan te gaan nie. Vir my is dié lewe Christus en die sterwe 'n wins. Ons is in sy hande, so vas en verseker dat sonder sy wil geen haar van ons hoof sal val nie.
Dit is lewe. En alleen dit gee ons oneindige vreugde vandag en vir ewig.