Verlate
Verlate
Tog is die Persone, so onderskeie, nie gedeel nie en ook nie onderling gemeng nie. Want die Vader het die vlees nie aangeneem nie, ook nie die Heilige Gees nie, maar die Seun alleen. Die Vader was nooit sonder sy Seun of sonder sy Heilige Gees nie...
Art 8 Nederlandse Geloofsbelydenis
En nou, Vader, verheerlik My by Uself, met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was. Johannes 17:5
Eenmaal, lank lank gelede, meer as tweeduisend jaar gelede, het die oomblik aangebreek in die hemel. Die engele het hulle asem opgehou, omdat die groot oomblik aangebreek het. Hulle het die Drie wie altyd Een was altyd so voor hulle gesien – maar Een van die Drie het nou weggegaan. Sy majesteitlike glans het verdof, sy blitsende glorie het ineengekrimp. Daar het Hy gestaan, Hy wat altyd so vol was, maar nou so ... so leeg.
En toe gaan Hy. Die oneindige diepte in. Het neergedaal in die moederskoot van ’n vrou, voorlopig niks meer as ’n klompie selle nie.
En in die Hemel was Sy Plek Leeg⤒🔗
Mag ’n mens dit eintlik so sê? Hy was God en bly God. Sy oneindige majesteit het die heelal gevul. Kon sy plek in die hemel werklik leeg wees, ook al het Hy mens geword op aarde? Of mag ’n mens eintlik die vraag nie eers stel nie? Tog, as ’n mens nadink oor die Goddelike Drie-eenheid, dan is sulke vrae onvermydelik. Miskien is dit juis so dat jy deur dié soort vrae des te beter besef hoe groot die misterie is. Hy het God gebly, en mens geword! Hy het sy plek in die hemel verlaat, en tegelyk het Hy medeheerser van die heelal gebly.
Miskien dink u dat dit alles glad nie eintlik saak maak nie. As God het Hy immers in direkte kontak met die Vader en die Gees gebly, nie waar nie?
Maar besef ons genoegsaam dat slegs Hy alleen mens geword het? Hy alleen het die gang van vernedering gevolg. Hoe intens sou Hy nie verlang het na die heerlikheid wat Hy by sy Vader gehad het nie!
En die Vader – Hy was bereid om sy Geliefde af te staan. Altyd kon die Drie onvoorstelbaar geniet van mekaar se volledige nabyheid – en nou was daar afstand. Hoe presies dit alles gewerk en gevoel het, kan ons nie inskat nie. En tog, as ons ’n bietjie daarby stilstaan... Die Vader moes toesien dat sy enige Seun so hulpeloos word. En dan die onverskilligheid teenoor die sonde waartussen Hy moes lewe, selfs van sommige diep gelowige Israeliete, wat so bot kon optree, ten spyte van hulle geloofsvertroue. Ongelooflik! Dit sny deur ’n Vaderhart! Hoeveel keer het Vader, Seun en Heilige Gees nie oor volharding in die weg van verlossing gepraat nie, elke keer as Jesus gebid het.
Ja ook die Gees. Want Hy wat die harte deursoek, het op baie plekke net harde rots gevind. Hy wat altyd die Woord se woorde kon geniet, moes toesien hoe Jesus se woorde agteloos opsy geskuif is, selfs deur sy vertroude leerlinge.
Nee, ons sal ons nooit kan indink hoe God dit ervaar het om sy Seun so te moet afstaan nie. Dit word wel verhaal hoe die Seun aan die kruis sy uiterste skreeu van ellende gegee het: “My God, my God, waarom het U My verlaat?”
Hierdie uitroep kan ons maklik verkleineer deur te sê: regtig verlaat was natuurlik nie moontlik nie. Hulle het mekaar tog lief? Hoe kon die Vader regtig kwaad word vir sy Seun?
Nee, in wese kon dit inderdaad nie. Maar dit was afgespreek dat die Vader, ondanks al sy liefde, op die agtergrond sou bly terwyl sy Seun so brutaal aangerand word. Dit is vooraf ooreengekom dat Hy die hemel sou sluit. En dat die Seun dwarsdeur die hele hel moes gaan sonder enige hulp van bo.
Stel jou voor, ’n vader wat moet toesien hoe sy seun doodgemartel word! En hy kan niks doen nie. Maar God was nie magteloos nie. In ’n breukdeel van ’n sekonde kon Hy vir sy Seun kies. Maar hy het volgehou om vir ons te kies. Elke martelike sekonde na sekonde.
Wie kan ooit weet hoe die Vaderhart gebloei het gedurende die drie ure duisternis? Wie kan ooit weet hoe die Seun gesnak het na een bemoedigende woord van bo?
Ek besef dat ek met menslike woorde skryf, met menslike gevoelens. Ek kan my God se pyn nie indink nie.
God, U wese, U liefde is te groot vir my. Ek kan nie anders as om U te aanbid nie.