Lukas 5:39 - Die Oue is Beter
Lukas 5:39 - Die Oue is Beter
En niemand wat ou wyn gedrink het, wil dadelik nuwe hê nie; want hy sê: 'Die oue is beter'
Lukas 5:39
Wanneer jy dink dat alles goed gaan, is die neiging altyd om by die bekende te bly. Laat dit by die beproefde! Wanneer iemand kom met idees van verandering en vernuwing, word dié sommer gou as ’n onrusmaker gesien. Verandering laat stof opwaai. Só was dit ook toe Jesus op aarde gekom het. Wanneer die koninkryk van die hemele in Israel kom, laat dit baie stof opwaai. Almal het nie met entoesiasme gereageer nie. Die teendeel is eerder waar. Wie hou immers van verandering? Dit vra van almal ’n nuwe oriëntasie. Die vertroude en bekende moet soms rond- of weggeskuif word. Dit het dalk nie meer plek in die vertroude gang van sake nie. Dit is wat gebeur wanneer Christus ’n plek in ’n mens se lewe kry, wanneer Hy beheer oorneem in mens se lewe; wanneer Hy die oriënteringspunt van ons lewe word. Christus maak dinge nuut. Nie almal hou daarvan nie. Nie almal kan dadelik die nuwe situasie goed waardeer of hanteer nie. Party staan selfs vyandig teenoor die nuwe van Jesus.
Jesus het op ’n opvallende manier tyd en ruimte vir sondaars by Hom gemaak. Dit het die lewe van Christus elke dag bepaal. Maar hoe langer hoe meer ook die lewe van sy dissipels. Want kort voor lank is daar nie net klagtes teen Jesus nie, maar ook teen sy dissipels. Die Fariseërs sien nie net by Jesus ongehoorde dinge nie. Óók sy leerlinge tree ongehoord op. Hulle word daarop aangespreek dat hulle saam met tollenaars en ander sondaars eet (5:30).
Jesus se omgang met sondaars en die tyd wat Hy maak vir sondaars, het gevolge vir sy dissipels. Hulle neem ook ’n nuwe houding teenoor sondaars in. In hulle lewe word dit duidelik dat die verkondiging van die evangelie aan sondaars nie die einde is van evangelisasie nie. Die Here se bedoeling is dat daar ’n pad met mense gegaan moet word. Die verkondiging van die evangelie wil sondaars intrek in die kring rondom Jesus. Jesus roep nie mense op tot geloof om hulle daarna aan hulle self oor te laat nie. Daarvan getuig die groot feesmaal wat met baie tollenaars en ander sondaars in Levi se huis gehou word.
Juis by hierdie feesmaal saam met sondaars, word die dissipels hulle houding teenoor die sondaars verkwalik. Lukas noem uitdruklik dat die Fariseërs ’n probleem het met Jesus se dissipels. Die oorsprong van die probleem lê by Jesus. Dit is Hý wat Levi na Hom geroep het. Dit was Jesus wat vir Levi by die tolhuis sien sit het en vir hom gesê het: “Volg My!”. Jesus laat sien dat dit nie moontlik is om net na Hom te luister sonder om Hom nie ook te volg nie. Hy versamel sondaars rondom Hom. Werklik mense wat nie die mees fatsoenlike in die samelewing van Israel was nie. Dit is die mense wat Hom so nodig het. By hulle moet Hy wees.
Hierdie wonderlike gebeurtenis vra om ’n fees! Levi reël daarom ook ’n “groot feesmaal”. By hierdie fees van ’n sondaar wat by Jesus ’n plek gekry het, hoort ook die dissipels van Jesus. Dit is die houding wat pas by die gemeente van Christus. Die gemeente moet ’n plek wees waar sondaars die roepstem van Christus mag hoor. Maar ook ’n plek waar daar vreugdefees gehou word wanneer gehoor gegee word aan die roepstem. Die houding van Jesus teenoor sondaars vra ook om ’n nuwe houding van die gemeente. Dit is die houding wat bepaal word, nie deur die verdienste van mense nie, maar deur die nuwe tyd wat aangebreek het met Christus se koms na die aarde. Die hemelryk se genade het in die persoon van Jesus tot by sondaars gekom.
Maar dit is nou presies hier waar die Fariseërs se strydpunt met Jesus en sy dissipels lê. Daar bestaan tog ’n duidelike kerklike kalender in Israel. As daar gepraat word van bekering, dan pas feestelike etes en ’n gedrinkery tog nie daarby nie. Moet die dissipels nie deur hul nugtere lewensstyl laat sien dat bekering vir hulle ’n saak van erns is nie?! By bekering pas tog vasdae. Onthouding van voedsel en feestelikhede. Só maak die Fariseërs ten minste tweemaal per week en kyk maar na die dissipels van Johannes die Doper … ook hulle vas dikwels saam met hul gebede! Daarby pas tog nugterheid en nie vrolikheid nie! Hoe kan Jesus se dissipels eet en drink? Kort hulle nie ’n bietjie erns in die lewe nie? Waar daar besef van sonde is, pas daar tog bietjie meer soberheid? Is dit wat hier in Levi se huis gebeur nie bietjie uitsonderlik nie?
Ja, dit wil Jesus nie ontken nie. Maar hier is tog inderdaad iets heel besonder aan die gebeur! Hier gebeur iets totaal uniek. Hier is ’n klomp genooide bruilofsgaste en die Bruidegom is hier by hulle: sal daar dan nie fees gevier word nie? Is daar groot en baie sondaars by die ete? Ja, maar meer. Hier is veral bevryding! Genade. Genade wat die sonde oorwin soos in die lewe van Levi gesien toe hy geroep is. En dit is wat gevier moet word. Sonde wat deur genade verslind word! Ja, daar is groot en geharde sondaars teenwoordig. Maar meer as dit is teenwoordig. Die Bruidegom wat na sy genooide gaste gekom het. Hy het deur sy teenwoordigheid sy hemelse koninkryk naby gebring. Levi het genooi vir ete. Jesus het daarvan ’n bruilofsfees in die kleine kom maak. Kan die bruilofsgaste dan vas terwyl die Bruidegom by hulle is?
Die antwoord op elke vas en gebed van Israel sit saam met Levi aan tafel. Hoe kan dit dan wees dat daar gevas word?! Jesus se teenwoordigheid by Levi beteken dat daar eerder geëet en gedrink kan word as dat daar gevas word. Daar kan tog nie gevas en gebid word asof Jesus nog nie gekom het nie. Asof Hy nie teenwoordig is nie. Jesus laat sien dat die inrigting van die kerklike lewe ingerig word volgens Hom. Daar kan nie ’n invulling wees van ’n lewe met God sonder om rekening te hou met Jesus nie.
Hierdie begin van ’n hele nuwe tyd maak Jesus self duidelik deur twee mooi beelde te gebruik. Twee gelykenisse. Eers ’n gelykenis oor ’n lap van ’n nuwe kleed op ’n ou kleed. Die lap van die nuwe kleed pas nie by die oue nie. Jesus kan nie ingepas word by die ou fees- en vastye van Israel nie. Hy met sy teenwoordigheid en hemelvaart is bepalend vir hoe ons ons lewens moet inrig. Óf ons bly vashou aan die oue … maar dan skeur die nuwe … dan verloor ons dit wat Christus vir ons wil gee. Óf ’n mens neem vir Jesus sonder enige reserwes aan en leef dan in ’n nuwe situasie met ’n nuwe middelpunt, met ’n nuwe kalender. Fees- en vasdae word dan vanuit Jesus bepaal. ’n Nuwe lap kan nie gebruik word om ’n ou kleed te lap nie. Van die nuwe lap kan ’n mens veel eerder ’n nuwe kleed maak. ’n Mooi nuwe lewe met Christus as middelpunt.
Die tweede gelykenis maak dit verder duidelik. Wil jy nuwe wyn geniet, dan moet jy dit ook in nuwe sakke gooi. Die nuwe wat Jesus bring is nie om die oue op te lap nie, en die nuwe wyn is nie daar om die oue aan te vul nie. Die Fariseërs probeer om Jesus en sy dissipels vas te hou in dit wat heersend in Israel was voordat Jesus gekom het. Die vraag wat ons lewens egter moet bepaal is: Leef ons uit die nuwe wat Jesus gebring het en laat ons ons hele lewe daardeur bepaal?
Die verandering wat Jesus gebring het, laat stof opwaai in Israel. Die Fariseërs wou by die bekende en vertroude bly. Jesus en sy dissipels was daarom as onrusmakers gesien. Hulle het die lewe soos ingerig volgens die wet van Moses, deurmekaar gekrap. Hulle was gewoond om die ou wyn te drink. Hulle wil nie dadelik die nuwe hê nie. Die hele kritiese vraag oor die optrede van Jesus en sy dissipels teenoor en met die sondaars wil sê: die oue is beter. Dit laat Jesus egter nie toe nie. Jesus het op aarde verskyn en verlossing vir sondaars gebring. Hy wil alles nuut maak. Sy koms het gevolge vir die ou wyn. Vir die ou manier hoe Israel se lewe ingerig was. Sý koms bepaal hoe ons kerklike lewe ingerig moet word in ons omgang met elkeen wat by Christus vergifnis van sonde ontvang het.
Jesus wil dat die nuwe wyn in nuwe sakke gegooi word. Sý verskyning op aarde is méér as Moses. Méér as Salomo. Méér as Dawid. Omdat die Fariseërs tevrede is met die ou wyn, staan hulle so krities teenoor die nuwe wyn. In plaas daarvan om die nuwe wyn maar eers te proe, staan en kritiseer die Fariseërs wat Jesus en sy dissipels doen. Die kritiese vraag na ons vandag is of ons ons lewens inrig volgens die nuwe wat Christus gebring het. Is ons houding teenoor sondaars volledig bepaal vanuit die nuwe wyn wat Christus gebring het? Voed ons ons kinders op om te drink van die nuwe wyn? Is ons opvoeding nie soms ’n versnit van ou gebruike gemeng met iets van die evangelie nie? ’n Nuwe lap op ’n ou kleed, maak dat dit skeur. Dan verloor ons alles.