Ds. Dirk Postma, "Een Vriend van het Zendingswerk"
Ds. Dirk Postma, "Een Vriend van het Zendingswerk"
Dirk Postma was bekend as ’n kalme, bedaarde en rustig redenerende mens. Maar dit was juis die saak van die sending wat hom op ’n bepaalde geleentheid met groot drif en animo laat spreek het en hom tot ’n uitbarsting laat kom het. Die geleentheid: ’n Ontmoeting van Postma en die kerkraad van Burgersdorp met die gemeente op 25 November 1870. ’n Hele drama is besig om af te speel ... gesindhede en standpunte staan lynreg teenoor mekaar.
Besluite oor die Sending⤒🔗
’n Jaar tevore reeds het die Algemene Vergadering van Kaapland besluit dat in elke gemeente “zal gesproken worden over de zaak der zending”. Die kerkrade rapporteer dan 16 Mei 1870, maar vir Postma was dit ’n bitter skok om te hoor dat die meeste van hulle “voor het tegenwoordige geene kans zien om na buiten te werken.” Op advies van Postma het die Algemene Vergadering toe onder andere besluit dat elkeen wat die naam Christen wil dra, en met die Gees vervul is, uit liefde die sendingbevel sal wil nakom. Elke gesinshoof moet by ongelowige wittes en swartes in sy huis en diens met woord en voorbeeld die evangelie verbrei.
Die Algemene Vergadering het ’n omvattende besluit geneem en dit – ook in druk onder die gemeentes versprei – waarin ’n hele sendingbeleid as’t ware uitgestippel word en, wat selfs rekening hou met die moontlikheid dat sending buitelands aangepak kan word. Postma se visie is in hierdie besluit beliggaam. Skerp reaksie vanuit sekere kringe binne die gemeentes is egter hierteen ontketen. Trouens, hierdie besluit sou in die komende maande en jare vir Postma baie spanning en ellende besorg.
25 November 1870←⤒🔗
Dit bring ons by die vergadering van 25 November 1870 van Postma en die kerkraad met die gemeente van Burgersdorp. Lidmate en predikante van elders het ook hierdie belangwekkende vergadering bygewoon. Postma spreek die gemeente toe. Eers herinner hy hulle dat die stigting van die Gereformeerde Kerk die sending as newedoel gehad het. Dan wys hy op die wye ontevredenheid oor die besluit van die Algemene Vergadering, sommige is selfs “zeer gestoord tegen ons bedienaren des Woords en tegen allen die dat antwoord met Gods Woord in de hand verdedigen.” Profeties waarsku hy daarteen, “want gij zoudt u alzoo stellen niet slechts tegen ons maar tegen God zelven. En hoe hard zal u dat vallen de verzenen tegen de prikkels te slaan, nl. tegen God te strijden.” Postma kom tot ’n uitbarsting. Hy het lank genoeg mooi gepraat, lank genoeg gesluk, lank genoeg die vrede en eenheid van die kerk probeer bewaar. Langer kan dit nie! As die Algemene Vergadering in sy besluit dwaal, moet die teëstanders dit uit Gods Woord aantoon. Na ’n ernstige woord van waarskuwing doen hy dan 'n apostolies bewoë beroep op die gemeente: “Mijne Geliefden! Laat ons alzoo Christi bevel volvoeren opdat wij ook aan Christi belofte mogen deelhebben!”
Postma – ‘Een vriend van het Zendelingswerk’←⤒🔗
Dat Postma ’n vurige pleitbesorger vir die saak van die sending sou wees, kon in sy afskeidstoesprake en preke in Nederland al beluister word. Dit sien ons ook in sy eerste optredes na hy in Suid-Afrika aangekom het. Postma is met reg voorgestel as die roepingsbewuste idealis wat diep onder die indruk was van die hoë roeping om die evangelie aan alle volkere te bring.
Na sy aankoms in Kaapstad toon Postma groot belangstelling in die sendingaksies van die Nederduits Gereformeerde Kerk en ander Sendinggenootskappe. By sy eerste besoek aan ’n sendinggemeente kom hy diep onder die indruk van “hoe één geloof ons één maakt in Christus onzen Heer, ons Hoofd en Koning.” In die omgewing van Stellenbosch het hy ’n sendingskool besoek. Dit was vir hom “een heerlijke dag, als ik nog zelden in mijn leven gesmaakt heb.”
In Transvaal aangekom, bring hy spoedig ’n besoek aan die Tswanakaptein, Magato, naby Rustenburg. Ook hier is sy verwagting dat die Here hulle nog bereid sal maak vir die gawe van die evangelie.
Postma bereik dus die land van sy bestemming, die terrein van sy arbeid, met ’n idealisme wat, ten opsigte van sy sendingtaak, hoë vlugte geneem het. Spoedig (na 11 Februarie 1859) sou sy aandag só in beslag geneem word deur die vestiging en uitbou van die verskillende gemeentes, dat hy nouliks nog intensiewe aandag aan die sending kon gee. Nietemin het dit nooit uit sy belangstellingsveld verdwyn nie en in De Zuid-Afrikaan van 7 April 1859 word vermeld: “De eerwaarde Postma is een vriend van het zendelingswerk onder de heidenen, ja een sterke voorstander daarvan.”
Die Eerste Daadwerklike Sendingwerk←⤒🔗
Later, as predikant te Burgersdorp en tegelyk belas met die opleiding van predikante, het Postma tweeweekliks op Sondae – tussen die eredienste – ’n diens in die tronk vir gekleurde gevangenes gaan hou. Sover bekend was dit die eerste daadwerklike poging in die Gereformeerde Kerk, van die kant van ’n kerkraad, om iets aan die sending te doen. Die vrugte op hierdie eerste poging van Postma het nie uitgebly nie. Die voorbeeld het intussen deurgewerk en die Almanak van 1872 vermeld dat nou ook eenmaal ’n maand diens gehou word in die gevangenis te Colesberg en dat te Philipstown elke Sondagaand vir die Kleurlinge ’n diens gehou word. En in 1877 meld die Almanak dat naas die vorige plekke nou ook dienste vir Kleurlinge gehou word in Barkly-Oos, Steynsburg en Venterstad. Ds. Postma se geringe poging om iets daadwerkliks te doen, het tog aansteeklik gewerk.
Agtergrond en Motiewe vir die Antipatie teen Sending←⤒🔗
Postma het nooit die diepte en reg van die Boeremense se verset teen die ‘sending’ gepeil nie. Hy kon dit ook moeilik doen. Self is hy sterk beïnvloed deur die gees van die Reveille en Piëtisme wat veral gedurende die eerste helfte van die 19e eeu sterk in Europa was. Hy benader dan ook die sending soos ’n Europese idealis en koester geen beswaar waar kerstening die inheemse kulture afbreek en na ver-Europesing van Afrikavolke lei nie. Alhoewel Postma spoedig by die lidmate in Transvaal en die Vrystaat geleer het om meer genuanseerd oor sending te dink en te praat, het sy sterk sendingmotief en filantropiese ideale die Gereformeerde lidmate verkeerd opgevrywe. Postma was ook onbewus van die jarelange kerklike spanninge en stryd teen ‘gelykstelling'.
Die Gereformeerde lidmate weer was mense wat oor die sending baie sterk oortuigings gekoester het en wat hulle teen enigiemand tot die uiterste sou verdedig. Hierdie oortuigings het hulle oorsprong by die konserwatiewe en eenvoudige Boeremense van die eerste helfte van die 19e eeu wat met die vyandskap van ’n Britse imperialisme te doen gekry het, wat in ’n bondgenootskap met die Londense Sendinggenootskap ’n beleid van gelykstelling toegepas het. Die sendelinge van die LSG het ook geen geheim gemaak van hulle afkeer van die Boerebevolking nie. Die berugte Swarte Ommegang van 1812, waarin sendelinge op hoorsê-klagtes en valse getuienis ’n groot aantal Boere voor die hof gesleep het, is ’n duidelike voorbeeld hiervan. Daarteenoor het die ledige, sede- en bandelose lewe, en by name die dronkenskap en veediefstalle by en vanuit sendingstasies, die Boeremense diep geskok en oortuig dat hierdie sending pêrels voor varke gooi.
Dat die Boere – teen hierdie agtergrond gesien – ’n weerstand ontwikkel het teen die (Genootskaplike) sending, is te begrype. Dit is van hierdie Boere en hulle nageslag wat met die Groot Trek, en later as veeboere, die binneland ingetrek het, wat nou behoort het aan die Gereformeerde Kerk en deur ds. Postma gekonfronteer is met hulle sendingroeping. Dit is dan ook die rede waarom daar so ’n skerp reaksie vanuit sekere kringe binne die gemeentes daarteen ontketen is. Tog is dit ’n bedroewende feit dat baie lidmate as gevolg van hulle antipatie teen misbruike in die sending, nou ook vyandig gesind geraak het teen die sending as sodanig.
Postma se Besondere Verdienste←⤒🔗
Dit was dan ook die besondere verdienste van Postma dat hy met sy sendingliefde en -ywer voortgegaan het om teen hierdie sterk stroom op te roei. Hy het met ’n hoogs ontplofbare en spanningsvolle situasie te doen gekry en tog geslaag om oor jare heen vooroordele uit die weg te ruim. Sonder om sy standpunte te verswyg en hoewel hyself op ’n keer tot uitbarsting kom en tug op die anti-sendingmense wou toepas – het Postma se deurgaans kalme, besadigde optrede, die gemoedere grootliks gekalmeer en geleidelik die mense oortuig.
Só was Postma se arbeid en stryd dan nie tevergeefs nie. Met sy liefde en ywer het hy grondliggende oortuigingswerk gedoen. Omdat hy die toekomstaak helder gesien het, kon hy die weg vir die kerke aanwys.