Bron: Die Kerkblad, 1990. 3 bladsye.

Ds. Dirk Postma, Sy Joernaal

ou boek en pen

Ds. Dirk Postma se “Joernaal” is een van sy belang­rikste skriftelike nalatenskappe.

Ds. Postma het die dagboek begin op die dag dat hy afskeid geneem het van die gemeente Zwolle in Nederland. Die Sinodale Kommissie van die Christelike Afgeskeie Ge­reformeerde Kerk het hom benoem om na die ZAR te reis. Hy moes ge­reeld aan die Kommissie rapporteer oor sy werksaamhede. Sy dagboek het hom gehelp om die Rapporte op te stel. Vandag is hierdie dagboek van 249 bladsye een van die unieke stukke wat in die Argief van die Ge­reformeerde Kerke in Potchef­stroom bewaar word.

Twintig maande nadat ds. Postma sy dagboek begin het, was die boek waarin hy sy inskrywings gemaak het, reeds vol geskryf. Hy was teen hierdie tyd ’n predikant van die Ge­reformeerde Kerk in Suid-Afrika. Dit was nie meer vir hom nodig om aan die Sinodale Kommissie te rapporteer nie, maar hy het steeds aantekeninge bly maak. Hierdie aantekeninge het ongelukkig nie vir ons behoue gebly nie. In September 1873 het ds. Postma die aan­tekeninge verbrand, omdat hy dit as “eeue Opschrijving van eigengereg­tigheid” beskou het. ’n Aantal van die inskrywings oor sy familie en plekke wat hy besoek het, is in ’n “Memoriaal” van 38 bladsye opge­neem.

’n Mens leer ds. Postma in sy Joernaal ken as iemand wat in die geloof sy vaderland verlaat en ter wille van die verkondiging van die Evangelie na ’n vreemde land ver­trek het.

Geroepe Dienaar🔗

Ds. Postma het sterk geroepe gevoel om die Woord te bedien. Die geeste­like nood van mense het hom ge­weldig aangegryp. Sy liefde het ge­brand vir die uitbreiding van God se koninkryk onder die swartmense van Afrika en sy stamverwante uit Europa.

Ds. Postma het geen geleentheid verby laat gaan om die Woord te verkondig nie. Op sy reis per skip uit Nederland na Suid-Afrika het hy by die kaptein toestemming gekry om soggens en saans godsdiensoe­feninge te hou. Al was dit vir hom swaar dat daar so weinig belangstel­ling in die godsdiens was, het dit hom nie verhoed om sy werk ge­reeld te doen nie. Tydens die reis het hy ongeveer 20 Psalms en feitlik die hele Evangelie van Matthéüs be­handel. Daar is ook ’n koerantjie op die skip uitgegee waarin hy ’n by­drae “voor de eeuwigheid” gemaak het.

Na die lang en vermoeiende reis op die see, was dit vir ds. Postma ’n groot vreugde om weer die Woord in ’n gemeente te kon verkondig. Oor Sondag 18 Julie 1858 het hy geskryf “Deze dag was voor mij heerlijk.” Die dag was vir hom só aangenaam, omdat hy die dag drie keer gepreek het.

Hy het nie net prediking geniet nie, maar Woordverkondiging onder alle omstandighede. Nadat hy by ge­leentheid ’n gesprek gevoer het met iemand wat nog in sonde geleef het, het hy in sy dagboek opgemerk dat sulke werk waarlik spys vir mens se siel was. Die bevrediging wat hy daaruit gekry het, het vergoed vir al die luukse wat hy moes prysgee deur die ontwikkelde Nederland te verlaat. Om die Woord aan siekes te bring, het hom ’n genoegdoening verskaf wat hy nie in woorde kon uitdruk nie.

skepe

Ds. Postma het ’n besondere werkywer gehad. Die feit dat hy met die stigting van die Gereformeerde Kerke die enigste predikant was, het beteken dat hy duisende kilometer moes aflê om die Woord oral te be­dien. Van sy eerste 162 weke in die bediening van die Gereformeerde Kerke, was hy 117 weke op reis! Dit het 13 togte ingesluit wat gewissel het van ’n week tot 20 weke.

Suidelike Afrika🔗

Met ds. Postma se vertrek uit Nederland, het hy nie geweet wat vir hom aan die suidpunt van Afrika sou wag nie. As voorsorgmaatreël het hy vir hom ’n rewolwer uit Nederland saamgebring, maar na­dat hy opgemerk het dat die toe­stande nie so gevaarlik was nie, het hy die vuurwapen aan pres. M.W. Pretorius oorhandig.

Daar het geleenthede opgeduik waartydens ’n rewolwer miskien tog nuttig sou gewees het. Nie lank na­dat hy van sy rewolwer ontslae ge­raak het nie, was hy op ’n geleent­heid onderweg na die Marico-dis­trik. ’n Leeu het in die pad verskyn, maar die man wat ds. Postma bege­lei het, het die leeu verwilder deur sy sweep te klap! Die predikant uit Europa se pad het verskeie kere daarna weer met leeus gekruis.

Dit was nie alleen Afrika se diere wat gevaar ingehou het nie. Selfs die paaie (of gebrek aan paaie) het dit gevaarlik gemaak om te reis. Op ’n keer het die wa waarop ds. Postma en sy vrou deur die Vrystaat gereis het, omgeslaan. Die reisigers het gelukkig net met skrape aan die arms en bene van die ongeluk afge­kom.

Afrika se natuurskoon het ook nie ongesiens by ds. Postma verbyge­gaan nie. By verskillende geleent­hede het hy veral Natal se skoonheid besing. Die Umgeni-waterval het hy as “Verbazingwekkend, voor­waar!” beskryf. As waarnemer van die natuur het hy onderweg van Natal na die Vrystaat opgemerk dat die strome in Natal van links na regs voor hom gevloei het en in die Vry­staat van regs na links.

In Afrika moes ds. Postma nuwe gewoontes aanleer. Dit was vir hom vreemd dat die inwoners aan die Kaap ’n dag koud genoem het, maar dat dit nie eens nodig was om ’n vuur te maak nie. Die vrugte aan die suidpunt van Afrika was vir hom iets besonders. Die lemoene, suur­lemoene, nartjies en druiwe het hom getref.

Bekende Persone🔗

Ds. Postma het baie gereis. Ge­durende hierdie reise het hy verskil­lende mense ontmoet. In sy dagboek vind ons die name van ’n hele aantal bekendes uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis.

Kort na sy aankoms in die ZAR het ds. Postma M.W. Pretorius ont­moet. Na die ontmoeting het hy ’n Statebybel aan die president ge­stuur saam met ’n begeleidende brief. In die brief het hy verskoning gemaak dat hy nie ’n ‘prachtband’ aan hom kon stuur nie. Ds. Postma het afskrifte van Psalm 119:105 en Psalm 106 in die Bybel saamgestuur.

waterval

President Pretorius het op sy beurt ds. Postma die volgende dag besoek. Daarna het die President ’n erediens bygewoon waar ds. Post­ma voorgegaan het.

Nog ’n bekende persoon van wie mens in die Joernaal lees, was ds. Dirk van der Hoff. Alhoewel daar aanvanklik ’n hartlike vriendskap ontstaan het, het die stigting van die Gereformeerde Kerke meegehelp dat die vriendskap nie van lange duur was nie.

Ds. Postma het ook die bekende ds. A. Murray van Bloemfontein ontmoet. Selfs voordat ds. Postma in die ZAR aangekom het, het ds. Murray met hom kontak gemaak met die oog op ’n beroep na die Vry­staat. Ds. Postma is nie lank daarna na Winburg beroep, maar hy het nie die beroep opgevolg nie.

Ds. Postma het selfs na die stig­ting van die Gereformeerde Kerke op goeie voet met ds. Murray gebly. Hy het een Sondag (Pinkster 1859) in ds. Murray se gemeente in Bloemfontein gepreek. In die Joer­naal lees mens dat ds. Murray “zeer vriendelijk en liefderijk jegens” ds. Postma was.

Ds. Postma het tydens sy reise ook die bekende sendeling, eer­waarde Robbert Moffat, ontmoet. Hy was reeds ’n bejaarde man toe hy met hom kennis gemaak het. Nog ’n bekende geestelike uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis waarvan melding gemaak word in die Joer­naal, was eerwaarde Erasmus Smit.

Ds. Postma het kort na sy aan­koms aan die suidpunt van Afrika met die meeste leiers in die gebied kennis gemaak. Hy is deurgaans goed ontvang. Telkens is melding gemaak dat daar groot dankbaar­heid is oor sy koms.

Die Joernaal (en Memoriaal) bied ’n mens ’n kykie in die hart van ’n man wat deur sy hele lewe gepoog het om alleen aan God gehoorsaam te wees. Uit sy persoonlike aan­tekeninge is dit duidelik dat die Here ’n man met besondere gawes aan ons kerkverband gestuur het. Sy hele lewensingesteldheid word mis­kien die beste weergegee deur die laaste aantekening in sy Memoriaal. Die aantekening gee die teks wat hy gebruik het om sy vyftigste jaar in die bediening te herdenk. Die teks was Psalm 115:1 “Nie aan ons, o Here, nie aan ons nie, maar aan u Naam gee eer, om u goedertieren­heid, om u trou ontwil.”