Vloektaal
Vloektaal
’n Persoon se taalgebruik is ’n uitdrukking van sy diepere binnekant en is dus ’n weerspieëling van so iemand se verhouding tot God. Jesus het gesê:
Van binne af, uit die hart van die mens, kom die slegte gedagtes: onkuisheid, diefstal, moord, owerspel, hebsug, kwaadwilligheid, bedrog, losbandigheid, afguns, kwaadpratery, hoogmoed, ligsinnigheid. Al hierdie dinge kom van binne af en dit maak ’n mens onrein. Markus 7:21-23
Vloektaal kan na vore kom as die ligsinnige gebruik van God se Naam as ’n uitroepteken, stopwoord of kragwoord, of die vervormde misbruik van God se Naam in woorde soos: hete, hetetjie, heerlikheid, jislaaik, jissie, magtie, hemel ens. En dan is daar ook bepaalde kragwoorde soos donder ens. Die rede waarom iemand vloek kan wees dat hy vloek uit ’n gevoel van onmag en nou meen hy dat ’n paar knope die nodige sal doen en probeer hy met vloektaal aan sy woorde en standpunt groter krag gee. Eintlik is vloektaal dus ’n teken van minderwaardigheid en innerlike swakheid.
Vloektaal is Verkeerd⤒🔗
Vloektaal word in die Bybel baie duidelik as verkeerd beoordeel. Jakobus beskrywe die tong as ’n vuur en ’n wêreld van ongeregtigheid – ’n onbedwingbare kwaad vol dodelike gif wat kan besmet (vgl. Jakobus 3:6-8). En in Matthéüs 12 waarsku Jesus dat ons van elke ydele woord eendag sal moet rekenskap gee (vers 36 en 37). Hierbo het ons ’n gedeelte uit Markus 7 aangehaal waar kwaadpratery spesifiek aangedui word as slegte dinge. En nou gaan dit nie net om vloektaal wat aan die Here se adres gerig is nie, maar dit gaan ook om die gebruik van vloektaal teenoor jou medemens. In Matthéüs 5:22 lees ons:
Verder elkeen wat sy broer uitskel vir ’n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir ’n idioot, is strafbaar met die helse vuur.
Vloektaal teenoor jou medemens waarmee jy hom verneder, neerhaal en verdoem, word ten sterkste deur die Woord van God verbied.
Vloektaal en die Wet van God←⤒🔗
In die Wet handel die derde gebod spesifiek oor die misbruik van die Here se Naam en dan stel die Kategismus in die verklaring van die derde gebod dit duidelik dat daar geen groter sonde is en een wat God meer vertoorn as die misbruik van sy Naam nie. Dit is so omdat ons die Naam van God nooit van sy wese kan losmaak nie. God se Naam is eintlik God self. Daarom is ’n ligsinnige misbruik van God se Naam ’n aantasting van God self. In die derde gebod word die mense verbied om die Here se Naam ydellik te gebruik. Letterlik beteken die woord ‘ydel’ leeg, hol, niksseggend en oppervlakkig. Iemand wat dus die Naam van die Here ydellik misbruik, gebruik die Naam asof dit hol, leeg en niksseggend is en ten diepste kom, dit daar op neer dat so iemand die Here ook as iemand niksseggend sien. Waar die heilige Naam van God as ’n stopwoord misbruik word, of om spog en lag op te wek, verraai dit ’n krenking en lastering van die Naam van die Here wat ’n direkte aanranding van God se Persoon is.
Waak ook teen die gebruik van verbloemde vloekwoorde. Dit is die woorde waarna ons hierbo verwys het. Dit is eintlik maar net ’n versagtende en verbloemde misbruik van God se Naam. Sommige verbloemde vloekwoorde is ook daarop gerig om jou medemens te verwens. So ’n vloekwoord is bv. ‘verdomde’. Daarmee verwens en verdoem jy jou naaste en dit mag nie volgens die sesde gebod. In dié gebod eis God dit dat ons ons naaste moet liefhê en hy verbied dit dat ons ons naaste mag wond of doodmaak selfs met ons woorde en gedagtes (kyk na die verklaring van die sesde gebod deur die Kategismus). Dan is daar ook die woorde soos donder en liewe hemel ens. Dit is woorde wat uitdrukkings is van God se majesteit in die natuur en deur die woorde te gebruik, betrek jy ook God se majesteit en op ’n indirekte wyse ook vir God.
Jesus roep die gelowige op om Hom openlik voor die mense te bely en dan sal Hy die gelowige openlik voor sy Vader in die hemel bely. Maar die een wat Hom voor mense verloën, so iemand sal ook deur Christus voor sy Vader in die hemel verloën word (vgl. Mattheüs 10:32 en 33). Die ydele misbruik van die Here se Naam is niks anders as die verloëning van, Christus nie.
Ons Gebed en Voorbeeld←⤒🔗
As gelowiges moet ons bid soos die digter in Psalm 19:15: “Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig” en soos Dawid in Psalm 141:3: “Sit ’n wag voor my mond, Here, hou tog wag oor wat ek sê”. Laat die voorbeeld van Christus ons altyd voor oë bly:
Hy wat geen sonde gedoen het nie, en in wie, se mond geen bedrog gevind is nie, wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie. 1 Petrus 2:23