Die Erediens as Samekoms
Die Erediens as Samekoms
By die bespreking van die name vir die erediens het ons reeds daarop gewys dat die naam samekoms die mees geskikte is om uit te druk wat in die erediens gebeur. Verder het hierdie gedagte ook na vore gekom toe aangetoon is dat dit die vergadering of versameling van die gemeente of die volk van God is. Vir die wesensbepaling van die erediens moet ons nou vervolgens let op die aard en karakter van hierdie samekoms.
Die samekoms geskied waar die Here deur sy Woord en Gees mense tot Hom roep, mense versamel rondom sy Persoon en rondom sy Woord en rondom die sakrament. Hulle word geroep uit die wêreld en uit die sonde en uit al die bande wat hulle bind, en hierdie roep verenig hulle as die gemeente van die Here. Daar is die persoonlike binding aan Hom en die vrywillige gehoorsaamheid van Hom.
Hierdie samekoms geskied deur die Naam van Jesus Christus. Hy beloof dat waar twee of drie in Sy Naam saamkom, daar is Hy in hulle midde (Matthéüs 18:20). In hierdie Naam is uitgedruk sy Persoon en sy amptelike taak as Verlosser. In sy Naam word sy hele verlossingswerk saamgevat. Dit is hierdie magtige Heilandsnaam wat mense byeen bring, wat mense trek om met Hom te verkeer. Sy Naam gee die besondere karakter aan hierdie samekoms. Dit staan en val met hierdie Naam. Waar dit wegval of waar hierdie Naam misken word, verloor hierdie byeenkoms ook sy besondere karakter en betekenis.
Dié Jesus in Wie se Naam ons in die erediens saamkom en wat in die middelpunt staan, het hierdie samekoms moontlik gemaak deur sy volledige offer aan die kruis. Daarom is hierdie Naam ook die fondament van die samekoms, die fundering daarvan en die legitimering daarvan. Ons mag in vrymoedigheid in hierdie Naam saamkom, want in en deur Hom het Hy die versoening bewerk wat die basis vorm van hierdie samekoms. Dit is die samekoms van die versoende volk van God en die grond van die versoening is die volmaakte offer wat Hy eens en vir altyd gebring het. E. Lange onderstreep hierdie waarheid:
Die besondere van die Christelike samekoms en handeling moet verstaan word hieruit dat alles wat in die kerk en deur die kerk geskied, geskied deur 'n beroep op die Naam van Jesus Christus of — in die ontvouing van dit wat hierdie Naam omsluit, geskied in Naam van die Drie-enige God … Die kerk is geheel en al samekoms, tesamesyn en samespel van mense … Die eintlike legitimasie (wettiging) van dit wat mense in die kerk met mekaar en aan mekaar doen, is die mandaat van Jesus Christus…
Omdat dit die vergadering van die gemeente is en die gemeente saamkom, beteken dit dat die hele gemeente dan ook inderdaad konkreet byeenkom en nie slegs 'n deel daarvan nie. Dit is 'n verkeerde verstaan van die erediens as samekoms, as slegs 'n deel van die gemeente saam kom en die ander kom nie saam nie en soek juis redes waarom hulle nie hoef saam te kom nie. In die samekoms in die erediens kom die kerk as die liggaam van Christus tot openbaring. Tereg sê J. Firet: "Het samenkomen van de gemeente is de grondvorm van het funktioneren als het lichaam van Christus"; die gelowiges is "in 'n nuwe samehang ingered (hineingerettet)" (Linton). Dit is 'n wonder as die hele gemeente in die erediens byeenkom en dit is 'n vreemde verskynsel op die wêreld. P. A. Elderenbosch bring nog 'n faset duidelik uit: "De gemeente is de zichtbare zijde van de Kerk, de kyriake oikia, het gezin van de Kyrios. De Kerk … is het opgerichte teken van de aanwezigheid van de opgestane Heer … Wie de gemeente vergaderd ziet, aanschouwt een mystérion; in de nederige gedaante van mensen van gelijke beweging als wij, ontmoeten wij de Bruid, met wie Christus zich heeft verenigd."
Die erediens as samekoms van die volk van God geskied in die Naam van Jesus en daarom in sy teenwoordigheid en dus voor die aangesig van die Here. Calvyn het hierdie gedagte telkens ingeskerp naamlik dat die erediens geskied voor God en sy heilige engele. Waar vandag dit so dikwels weerklink dat in die erediens gevra moet word na die geskiedenis en die wêreld en gesê word dat die wêreld die agenda van die kerk en dus van die erediens bepaal, moet ons byvoeg,
but it is God who in the Event of Jesus Christ has called the meeting.
In her worship uniquely, the Church again and again hears that call.P. W. Hoon