In die Here Sterwe
In die Here Sterwe
Die einde van ons aardse bestaan is 'n onderwerp waarmee die mediese etiek hom steeds meer besighou. Eutanasie, sterwensbegeleiding, geassisteerde pasiëntdoding, kremasie en orgaanoorplantings is maar enkele voorbeelde van onderwerpe waaroor gepraat word. Hierdie onderwerpe word dikwels moreel-eties beoordeel, terwyl 'n prinsipiële besinning wat verder gaan as die vraag of 'n sekere mediese handeling toelaatbaar is of nie, agterweë bly.
Om as Christen 'n skriftuurlike uitspraak hieroor te maak, is dit nodig om eers te gaan kyk wat die Skrif oor die einde van die mens se lewe op aarde sê. Dit is duidelik dat die Skrif ons voorgaan in wat ons kan noem: in die Here sterwe. Ek is met liggaam en siel, in lewe en in sterwe, verbonde aan my getroue Saligmaker, Jesus Christus (Heidelbergse Kategismus, Antwoord 1). Christus het immers ook gesterwe en het ons voorgegaan as Profeet, Priester en Koning, gesalf met die Heilige Gees. Daarom kan ek ook in my sterwe as profeet, priester en koning agter Christus aangaan. Ook op my sterfbed mag ek sy Naam bely (profeties), my lewe as lewende dankoffer aan Hom toewy (priesterlik) en in hierdie lewe teen die sonde en die duiwel stry (koninklik).
Ja, ook die dokter en verpleegster het 'n profetiese, priesterlike en koninklike taak by die sterfbed van die pasiënt.
Christus was Profeet in Sy Sterwe⤒🔗
Hy was gehoorsaam aan die profetiese woord dat Hy moes sterwe. Hy het profeties bely "dat alles wat van My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word" (Lukas 24:44).
"So is dit geskrywe en moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan" (Lukas 24:46).
As profeet het Christus dus die Woord van die belofte bely en dit vervul in sy sterwe.
Christus was Priester in Sy Sterwe←⤒🔗
Sy sterwe was offerdiens. "Hy het Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe" (Filippense 2:8). "Hy het die smarte van die dood ontbind" (Handelinge 2:24).
Priesterlik het Hy vir sy moeder vanaf die kruis gesorg deur haar op Johannes te wys sodat Johannes haar in sy huis geneem het (Johannes 19:27).
Priesterlik het Christus vir ons gesterf sodat ons, of ons waak en of ons slaap, saam met Hom kan lewe (1 Tessalonisense 5:10).
Sy priesterlike offer is reeds in die Ou Testament aangekondig. "Hy het sy siel uitgestort in die dood en is saam met die oortreders getel terwyl Hy die sonde van baie gedra en vir die oortreders gebid het" (Jesaja 53:12).
Priesterlik het Christus die dood aktief ingegaan toe Hy aan die kruis gesê het: " Vader, in u hande gee Ek my gees oor!" (Lukas 23:46) Hy het die offer van die dood gebring sodat ons agter Christus aan mag sterwe.
Christus was Koning in Sy Sterwe←⤒🔗
Koninklik het Hy in sy sterwe die dood oorwin. "Ek was dood, maar kyk, Ek leef tot in alle ewigheid" (Openbaring 1:18). Koninklik is Hy opgewek en het Hy opgestaan uit die dood. Hy is die Eersgeborene uit die dode (Kolossense 1:18). God het Hom uit die dode opgewek en het aan Hom Koninklike heerlikheid gegee (1 Petrus 1:21).
Koninklik het Christus die oorwinning vir sy volk bewerkstellig deur sy dood en opstanding. "Sodat die woord wat geskrywe is vervul is: Die dood is verslind in die oorwinning" (1 Korintiërs 15:54).
"Hom het God opgewek, nadat Hy die smarte van die dood ontbind het, omdat dit onmoontlik was dat Hy daardeur vasgehou sou word" (Handelinge 2:24).
Christus se sterwe was natuurlik uniek en eenmalig. Dit was die offer van die Lam wat die sondes van die wêreld weggeneem het. Nadat Hy een offer vir die sondes gebring het, het Hy vir altyd gaan sit aan die regterhand van God (Hebreërs 10). Ons sterwe is dus nie dieselfde as Christus se plaasvervangende sterwe nie. Tog het ons sterwe 'n sterwe agter die opgestane Christus aan geword. Daarom kan ons ook deur Christus Godvresend sterwe, as profeet, priester en koning.
Ons mag Profeet wees in Ons Sterwe←⤒🔗
Profeties mag ons verkondig en weet dat ons tye in God se hand is (Psalm 31:16). Ons mag die belofte van die Here bely dat Hy naby ons is by die laaste vyand. "Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my" (Psalm 23:4). "Hy sal ons lei tot die dood toe" (Psalm 48:15).
Profeties kan ons op ons sterfbed verkondig dat ons sterwe gevolg sal word deur dadelik by die Here te wees (1 Tessalonisense 5:10, Lukas 23:43). "Salig is van nou af die dode wat in die Here sterwe" (Openbaring 14:13).
Profeties mag ons ook die opstanding van die liggaam verkondig. Christus het ons daarin voorgegaan en verbind die belofte van die opstanding van die liggaam, wat Hy vir ons verwerf het, aan sy kinders se lewe en sterwe. "U dode sal herlewe, my lyke sal opstaan", sê die Here (Jesaja 26:19). Ja, ook in die Nuwe Testament hoor ons dit: "Kyk ek maak alles nuut!", "Daar sal geen dood meer wees nie, ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie" (Openbaring 21).
Die sterfbed van die gelowige is daarom 'n profetiese getuienis in die wêreld. Jou sterfbed raak dan deel van jou profetiese taak. Dit verkondig: God is die troue Verbondsgod wat trou is aan sy beloftes. En hang die volgende beloftes nie bo elke gelowige se sterfbed nie?
Want as ons gelykvormig geword het aan Hom in sy dood, sal ons dit tog ook wees in sy opstanding. Romeine 6:5
Want ons weet dat Hy wat die Here Jesus opgewek het, ons ook deur Jesus sal opwek en saam met julle voor Hom sal stel. 2 Korintiërs 4:14
As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe. Romeine 6:8
Profeet wees op jou sterfbed is moontlik omdat ons weet dat ons hoogste Profeet se woorde waaragtig en betroubaar is (Openbaring 21:5).
Profeties mag ons verder bely dat ons lewe geen absolute waarde besit nie, maar diensbaar mag wees in God se koninkryk, ook op die sterfbed. Dawid mog voor sy sterwe nog die noodsaaklike reëlings tref en sy seun onderrig in die onderhouding van die HERE se verordeninge (1 Konings 2:1-10). Daarom het ons op en veral voor ons sterfbed, as die Here ons die helderheid van verstand gee, die profetiese taak, om die weë van die HERE nogmaals aan ons kinders voor te hou.
Dit is so dat baie gelowige sterwendes nie meer kan praat en ook nie meer so helder van verstand is nie as gevolg van die onderliggende siekte. Tog is die profetiese belydenis, alhoewel nie uitgespreek nie, op hulle gesigte leesbaar. 'n Belydenis in hul gedagte wat nie meer in woorde kan uitkom nie. Ook in die laaste uur is die HERE naby ons.
←⤒🔗
Ons mag Priester wees in Ons Sterwe←⤒🔗
Ook op ons sterfbed mag ons ons lewe as 'n lewende dankoffer aan Christus toewy. Diensbaarheid op die sterfbed, selfs al is geen beweging meer moontlik nie, en is jy vasgekluister aan die bed. Dan kan jy nog 'n baie groot werk doen. 'n Werk wat seker met die meeste energie gelaai is. Dit is om te bid. Die Heilige Gees leer ons dat die gebed van die regverdige, ook sterwende regverdige, groot krag het. Al biddend kan die gelowige op sy sterfbed voorbidding doen vir die kerk en God aan sy beloftes herinner (Jesaja 62:6). Jou gebed draai dan nie net om jou eie dodelike siekte nie, maar kring uit na die wêreldwye werk van onse Here Jesus Christus. So is jy op jou sterfbed diensbaar aan die koms van die koninkryk.
Maar die offerdiens van die gelowige op sy sterfbed betrek ook die gawes wat die Here hom in hierdie lewe gegee het. Omdat hierdie gawes vir die Here is, mag jy op jou sterfbed hierdie gawes soos 'n priester offer waar dit in die diens van die Here gebruik sal word as jy nie meer daar is nie.
Priesterlik mag ons Christus verder met alle vrymoedigheid groot maak deur die liggaam, of dit nou lewendig of sterwend is (Filippense 1:20).
"Vrees vir niks wat jy sal ly nie. Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee" (Openbaring 2:10).
Ons moet bereid wees om te ly en selfs te sterwe vir die Naam van onse Here Jesus Christus. "Want ek is bereid nie alleen om gebind te word nie, maar ook om in Jerusalem te sterwe vir die Naam van die Here Jesus" (Handelinge 21:13).
"Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie" (Romeine 8:18).
Ons lees in Filippense hoe die Nuwe Testamentiese kerk gehoorsaam was aan die opdrag van Christus. Ons lees van Epafroditus wat sy lewe as 'n dankoffer aan die Here gewy het (Filippense 2:30).
Ons mag ook Koning wees in Ons Sterwe←⤒🔗
Alhoewel ons nie die dood koninklik oorwin het soos Christus gedoen het nie, mag ons op ons sterfbed koninklik van die oorwinning seker wees en dit in ontvangs neem deur die geloof. "God sy dank wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus" (1 Korintiërs 15:57).
In ons sterwe mag ons ons Koning verheerlik (Johannes 21:19). Ons sterwe mag sy koninklike oorwinning oor die dood verheerlik.
In ons sterwe mag ons ook stry teen die gevolge van die dodelike siekte wat in ons woeker. Pyn, angs en die instort van ons liggaamsfunksies mag ons teëwerk en beheer met die middels wat die Here ons gegee het. Christus het in sy genade oor jou as sterwende, dokters, veral verpleegsters, geneesmiddele en tegniese hulpmiddele geplaas. Ja, dikwels ook as die sterwe skielik kom soos 'n motorongeluk. Dit is slegs moontlik gemaak deur Christus se oorwinning. Daarom mag ons byvoorbeeld in die stryd teen pyn middels soos morfien gebruik en nuwe hulpmiddele waarmee dit toegedien kan word. Dit is Christus wat hierdie middele vir ons aanreik.
Verder het jy as sterwende ook 'n stryd teen jou eie sondige natuur. Dit verlaat mens nie as jy dodelik siek is nie. Hierdie stryd gaan voort en kan selfs feller word. Die Satan ontsien nie 'n prooi wat liggaamlik verswak is nie. Opstandige gedagtes, selfgesentreerdheid en -bejammering verhoed ons dikwels om ons taak uit te voer. Dus ook op die sterfbed moet jy die wapenrusting van God aantrek, om die pyle van die bose te kan uitblus. Hierdie aantrek van die wapenrusting is 'n koninklike taak (Efesiërs 6). Dit behels onder andere ook om die Skrif te bestudeer – hetsy self of as iemand voorlees. Om jouself te voed en te bewapen. Juis as jy siek is, het jy dit enorm nodig.
So sal die HERE ook sy kinders tot Hom neem by Christus, waar dit verreweg die beste is (Filippense 1:23).
Volgende keer DV oor die taak van die dokter en verpleegster ten opsigte van die sterwende. Die taak van die sterwende sowel as die taak van die medici vorm die basis en prinsipiële uitgangspunt waarmee ons graag in opvolgende artikels wil kyk na eutanasie, sterwensbegeleiding, geassisteerde pasiëntdoding, kremasie en orgaanoorplantings.