Jakobus 5:13-16 - Moet ons Ouderlinge die Siekes met Olie Salf?
Jakobus 5:13-16 - Moet ons Ouderlinge die Siekes met Olie Salf?
⤒🔗
Doen ons Ouderlinge maar Halwe Werk?←⤒🔗
Die vraag of ons ouderlinge met 'n kruikie met olie op huisbesoek moet gaan, is die laaste tyd weer aktueel. Ons ouderlinge kom met die Bybel in ons huise. Partymaal is daar ook lidmate wat siek is. Het die ouderlinge daar dan nie 'n taak nie? Hoekom salf hulle die pasiënte nie met olie nie? Die Bybel is hieroor tog baie duidelik? Jakobus gee in sy brief aan ouderlinge selfs die opdrag om siekes met olie te salf. Doen ons ouderlinge dan maar halwe werk en verwaarloos hulle nie 'n deel van hulle roeping nie?
God se Genesingsmetodes←⤒🔗
Die salwing van siekes staan in die Bybel in die breër konteks van genesing van hulle wat ongesteld is.
In die Bybel lees ons baie van siektes. In verband met siektes en ongesteldhede openbaar God Hom as die groot Geneesheer. "Ek is die HERE wat jou gesond maak" (Eksodus 15:26). Dit is God wat die siek mens kan gesond maak.
Dit is baie belangrik om God se genesingsmetode raak te sien. God genees op twee maniere. Daar is 'n direkte manier waarop die Here somtyds genees, maar God doen dit ook op 'n indirekte wyse. Altwee maniere waarop die Here genees, is 'n wonder.
God genees nie altyd direk nie. Hy kan dit wel doen. Op die gebed doen die Here soms wonders. Die Bybel is vol daarvan. Die normale prosedure van genesing is egter die indirekte metode. Ons moet die wonder van God se indirekte genesingsmetode nie onderskat nie. Of jy nou direk op die gebed gesond gemaak word of deur middel van 'n besoek aan die dokter, die gebruik van medisyne of 'n noodsaaklike operasie, dit bly 'n wonder van God. Ons mag die wonder van die mediese wetenskap waardeur die Here genesing wil bewerk, nie onderskat nie. Dit is uiteindelik God wat genees en daarom is die gebed by die inneem van medisyne of wanneer ons ons moet onderwerp aan mediese behandeling, altyd noodsaaklik.
Die Direkte Genesingsmetode←⤒🔗
God kan ook direk genesing skenk. Ons weet dit uit die Bybel, die sendinggeskiedenis bevestig dit en predikante in hulle bediening kan ook daarvan getuig. Ons moet egter goed in gedagte hou dat die direkte genesingsmetode van God nie die normale is nie. God gebruik die direkte genesingsmetode met 'n bepaalde doel. So 'n genesing is 'n teken. Dit verkondig iets. Wat predik so 'n genesing? God is hier! Die Koninkryk van God het hier gekom. Ons sien dit aan die begin van die openbare optrede van Jesus. Hy het begin predik en daarby ook siekes gesond gemaak (Matteus 4:23).
Waar en Wanneer gebeur Genesingswonders?←⤒🔗
Wanneer die evangelie van die Koninkryk verkondig word en op 'n bepaalde plek 'n deurbraak maak, dan volg daar soms ook genesing van siekes. Die direkte genesing vind dikwels plaas op die breuklyn van kerk en wêreld.
Wanneer Jesus dissipels uitstuur met die opdrag om die evangelie in die wêreld te verkondig, dan sal genesing op hul prediking volg (Markus 16:20). Ons moet goed let op die woordjie 'volg'. Genesing gaan nooit voorop nie. Eers prediking, dan genesing. Ons sien dit by die openbare optrede van Jesus en ook by die optrede van die apostels.
Dit blyk uit die evangelies dat hoe nader Jesus aan die einde van sy werksaamhede op aarde kom, hoe minder sien ons dat Hy wonders verrig. By Paulus kan ons dieselfde opmerk. Hy het aan die begin van sy optrede baie siekes genees en aan die einde van sy aardse loopbaan laat hy Trófimus siek in Miléte agter (2 Timoteus 4:20). Daarvoor moet 'n rede wees. Waar die koninkryk gevestig is en die kerk ontstaan het, neem die wonders meer en meer af.
Die Uitstuur van die Dissipels←⤒🔗
Ons lees in die Nuwe Testament dat Jesus sy dissipels twee keer uitgestuur het. Die eerste keer voor sy sterwe en opstanding en die tweede keer ná sy verrysenis uit die graf. By beide uitsendings ontvang die leerlinge van Jesus die opdrag om, behalwe die Woord te verkondig, ook siekes gesond te maak. Maar nou is daar 'n opmerklike verskil. By die eerste uitsending word uitdruklik deur Jesus beveel dat die dissipels olie moet saamneem en daarmee die siekes wat genees gaan word, moet salf (Markus 6:13).
By die tweede uitsending na die opstanding is daar weer die opdrag om siekes te genees, maar dan is daar nie 'n opdrag om die siekes ook met olie te salf nie (Markus 16:18).
Hoe moet ons hierdie verskil verklaar? Genesing met of sonder salwing met olie moet ons verstaan vanuit die konteks waarin dit plaasvind. Die eerste uitsending was beperk tot die Joodse volk. Binne die grense van die Joodse land moet die leerlinge van Jesus die evangelie verkondig en siekes gesond maak.
Die tweede uitsending het 'n baie wyer aksie-radius. Die dissipels moet as apostels die grense van hulle vaderland oorskry en na heidenlande gaan om daar die evangelie te verkondig. Jesus vind dit dan nie nodig om hulle ook 'n opdrag te gee om siekes met olie te salf nie. Waarskynlik is dit die geval omdat in heidenlande olie nie dieselfde simboliese betekenis gehad het as by die Joodse volk nie.
Die Opdrag wat Jakobus gee←⤒🔗
In die brief van Jakobus lees ons ook van die gebruik om siekes met olie te salf (5:14-15). Wanneer iemand siek is, moet hy die ouderlinge roep. Hulle moet olie saamneem, bid en die sieke salf. Dis nie die olie wat die sieke gesond maak nie, ook nie die gebed van die ouderlinge nie. Die Here sal hom oprig (Jakobus 5:15).
Die eerste vraag is: Wie is die ouderlinge wat ingeroep moet word? Daar is twee moontlikhede. Hulle is die oudstes van die gemeente te Jerusalem of hulle is ouderlinge van die gemeente in die verstrooiing. Ons moet in gedagte hou dat ons in die brief van Jakobus nog aan die beginperiode van die Christelike kerk staan. Daarom lê dit voor die hand om hier te dink aan die oudstes van die gemeente te Jerusalem wat van Jesus persoonlik die volmag om te genees ontvang het (Lukas 10:8-9).
Jakobus wys baie duidelik daarop dat die inisiatief tot gebed en salwing met olie van die sieke moet uitgaan. Die ouderling kan nie kom om te salf sonder dat hy ingeroep is nie. Hy kan nie 'n genesingsdiens organiseer nie. Die ouderling moet geroep word.
In die brief van Jakobus is ons soos in Markus 6:13 in die Joodse atmosfeer. Daarom moet die ouderlinge olie saamneem. By die Jode het olie 'n simboliese betekenis gehad. Olie was in die eerste plek by die Jode 'n bekende geneesmiddel (Jesaja 1:6). By siektes soos melaatsheid is olie seremonieel by die reiniging gebruik (Levitikus 14:10-18). Olie het by die Jode ook 'n kultiese betekenis gehad. Konings, priesters, profete is by die aanvang van hulle dienswerk met olie gesalf. By die offers is olie gebruik. Olie was selfs 'n simbool vir die Heilige Gees.
Siekes in die Joods-Christelike gemeenskap het dadelik geweet wat die betekenis van die olie is wanneer ouderlinge hulle kom salf het. Die olie simboliseer die reinigende krag van Christus tot genesing. Tog val in Jakobus 5:14 die nadruk nie op die salwing met olie nie, maar op die gebed. Die salwing met olie was niks meer nie as 'n teken van die reiniging en genesing wat deur die Here bewerk word. Calvyn sien die salwing met olie as 'n uiterlike teken wat heenwys na die werking van die Heilige Gees wat die gawe van gesondmaking aan die destydse ouderlinge geskenk het.
Die Taak van die Ouderling Vandag←⤒🔗
Ons moet oppas om nie Jakobus se opdrag aan die ouderlinge van sy tyd te beskou as die klassieke bewysteks vir gebedsgenesing en dan in die besonder die salwing met olie nie. Sowel Markus 6:13 as Jakobus 5:14 dwing ons om rekening te hou met die Joodse agtergrond van beide Skrifgegewens. Ons mag hierdie twee tekste nie uit hulle Joodse konteks haal en so sonder meer na ons tyd oorbring nie.
Jesus se opdrag aan sy dissipels en Jakobus se opdrag aan die ouderlinge het altwee iets wat tydelik is en iets wat blywend is. Die tydelike is die salwing, die blywende is die gebed en die verkondiging. Sendelinge en ouderlinge kan sonder olie hulle werk doen. Dit blyk duidelik by die uitstuur van die dissipels in Markus 16. Die evangelie moet verkondig word en ouderlinge moet by siekes bid.
God doen vandag nog wonders. Die evangelie word verkondig en mense kom tot bekering en geloof. By siekes word gebid en mense word gesond. Al is dit in die meeste gevalle nie direk nie, die indirekte genesing met behulp van mediese wetenskap bly 'n wonder van God. Die woorde van Jakobus hou tot vandag sy krag: die Here sal hom gesond maak (Jakobus 5:15).
Die Inhoud van Ons Gebed←⤒🔗
Ouderlinge wat siekes in hulle wyk besoek, hoef nie olie saam te neem nie. Die sieke het dit nie nodig om met olie gesalf te word nie. Wel is nodig geloof, geloof in die genesende krag van Jesus Christus. Die belangrike vraag is: Wat moet geglo word?
Op pastorale wyse kan die sieke gewys word op die geloof en daarby op die gebed van die melaatse man in Matteus 8:2: "Here, as U wil, kan U my reinig".
Twee dinge tref ons in hierdie kort smeekgebed. Die gebed bestaan uit twee dele: 'n voorwaardelike bysin en 'n hoofsin. In beide dele van hierdie kort gebed kom die geloof van die melaatse man tot uitdrukking. In die voorwaardelike bysin bely die sieke Christus se vrymag: "indien U wil". In die hoofsin bely hy Christus se almag: "U kan my reinig".
Ons ouderlinge kan sonder olie op siekebesoek gaan. Siek lidmate mag die dominee of die ouderling inroep vir gebed en voorbidding. As hulle tog maar net gaan, en die siekes die ampsdraers ontvang in geloof: geloof in Christus se vrymag en geloof in Christus se almag. Dan sal hulle ontdek dat Christus nog dieselfde is as 1900 jaar gelede.
Ons kan God nie dwing nie. Hy is soewerein. Ons moet eerbiedig en gelowig daarmee rekening hou. Maar God is ook magtig. In 'n oud-Nederlandse lied word dit op hierdie manier vertolk:
Wat zijn liefde wil bewerken
Ontzegt Hem zijn vermogen niet.