Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Gesprek met Islam

Op Saterdag 23 Julie 1988 het daar op Potchefstroom 'n openbare ge­sprek met Islam plaasgevind, wat in meer as een opsig 'n besondere belewenis was. Die inisiatief vir die geleentheid het van plaaslike Indiërs uitgegaan. Blykbaar is dié tipe van geleentheid iets waarvoor die Mohammedane nogal lief is. Sulke gespreksgeleenthede het al meer­male in Suid-Afrika plaasgevind en die Mohammedaanse spreker by die geleentheid is iemand wat meer­male daaraan meedoen. Die idee van Islam met sulke geleenthede is om daarop te wys dat daar volgens hulle eintlik nie 'n wesentlike verskil is tussen die Islam en die Christen­dom nie. Juis teen dié agtergrond is dit belangrik om voor hulle nie maar oor die Christendom te praat nie, maar om met klem te wys op die uniekheid van Christus en die ver­lossing alleen deur sy soendood. Al beskou die Mohammedane Jesus as 'n groot profeet, is dit nie genoeg nie. Verlossing kom alleen deur Jesus Christus se soendood en daar­van moet ronduit getuig word.

Vyand van die evangelie🔗

Die saak is so gereël dat ek ’n uur gehad het om oor die Christendom te praat. Daarna het 'n spreker van die kant van Islam ook 'n uur gehad. Dit is opgevolg deur 'n geleentheid vir vrae uit die gehoor, wat nog 'n verdere uur in beslag geneem het. Dit was dus nie werklik 'n debat nie, maar wel 'n geleentheid waar 'n mens die geleentheid gehad het om oor ons geloof te getuig voor 'n gehoor waarvan meer as die helfte Mohammedane was. Die spreker wat oor Islam gepraat het, was 'n mnr. Ahmed Deedat, wat die hoof is van die 'Islam Propagation Centre' in Durban. Hy noem homself 'a Muslim scholar of the Christian Bible'. Dit is ook so dat hy die Bybel baie goed ken, maar dan nie as die gesagvolle Woord van God nie, maar as die boek van die Christene. Verder is hy 'n uitnemende spreker, in die Billy Grahamstyl. Hy aanvaar nie die Godheid en die versoenings­werk van Christus nie, sodat hy eint­lik 'n vyand van die evangelie is. Daar is nie werklik grond vir 'n sinvolle debat met so 'n persoon nie, maar 'n mens kon wel die geleent­heid gebruik om 'n duidelike ge­tuienis te laat hoor, teenoor hom en voor die gehoor.

Verskillende benaderings🔗

Dit is ook so dat ’n mens vir so ‘n geleentheid verskillende benaderings kan volg. 'n Mens sou tot die aanval kon oorgaan en die Islam, die Koran en Mohammed aanval. Dit was die soort benadering wat mnr. Deedat gevolg het. Dit sou moontlik wees om bloot die Christendom te verdedig teen die aan­valle van Islam. Ek het egter geoor­deel dat dit veel beter sou wees om die geleentheid te gebruik as 'n ge­leentheid om van ons geloof te ge­tuig voor mense wat nog nie werklik met die evangelie gekonfronteer is nie. Dit het ek gedoen deur eers daarop te wys dat ons die Bybel aanvaar as die gesagvolle Woord van God, waarby niks gevoeg mag word nie. Daarna het ek 'n uiteen­setting van ons geloof gegee aan die hand van die Apostoliese Geloofsbe­lydenis. Hiervoor was veral die verklaring wat die Kategismus van die belydenis gee, baie nuttig. Aan die einde het ek 'n uiteensetting gegee van wat my geloof vir my beteken in terme van versoening met God, geloofsekerheid en 'n lewe uit die geloof. Ek het telkens na die Bybel verwys en soms lang gedeel­tes uit die Bybel voorgelees, waar­onder 1 Korintiërs 13, waarmee ek afgesluit het. Op hierdie wyse is die Mohammedane in die gehoor met God se Woord gekonfronteer en ons weet dat God deur hierdie Woord werk.

moslims🔗

Glo nie in verlossing deur Christus nie🔗

In so 'n getuienis voor Moslems, is daar 'n aantal belangrike sake wat 'n mens baie duidelik moet stel. Dit sluit in die Bybel as die Woord van God, die Drie-eenheid, die Godheid van Christus en verlossing alleen deur die soendood van Jesus Chris­tus. Die Moslems erken Jesus as 'n profeet, hulle aanvaar selfs sy wonderlike geboorte en die wonders wat Hy gedoen het, maar hulle stuit op die verlossing deur Christus en sy Godheid. Mnr. Deedat het nie soseer ‘n uiteensetting gegee van dit wat die Moslems glo nie, as van dit wat hulle nie glo nie. Verder maak hy ook baie daarvan dat daar soveel vertalings van die Bybel is dat hy nie weet wat gesagvol is nie. Hy verwys byvoorbeeld na die Roomse Bybel wat die apokriewe boeke insluit teenoor die Bybel soos ons dit het. Hierteenoor moet 'n mens stel dat vertalings as sodanig nie die finale gesag het nie, en dat die oorspronklike Grieks en Hebreeus die gesagvolle Woord van God is. Dit maak die bestudering van die oorspronklike tale vir voornemende predikante én predikante in die bediening soveel te meer belangrik.

Wesentlike verskille🔗

Op grond van die wesentlike ver­skille tussen ons geloof en die Islam is 'n dialoog nie moontlik nie, maar dit is wel moontlik om teenoor hulle 'n getuienis te lewer – en dit is alleen God wat deur die werking van sy Woord en Gees hulle tot geloof in Christus kan bring. 'n Mens mag nie ter wille van die gesprek, afstand doen van dit wat wesentlik is vir ons geloof nie, soos die sake waarna hierbo verwys is. 'n Gesprek op meer 'n persoonlike basis is ook te verkies bo so 'n openbare geleent­heid, waar die gemoedere maar hoog kan loop, soos ook by die geleentheid gebeur het. Tog is so 'n geleentheid die moeite werd, juis omdat dit die geleentheid bied om die evangelie duidelik uit te spel voor mense wat dit nie aanvaar nie. Hulle het nie meer die verontskul­diging dat hulle nie die Woord gehoor het nie. Verder het 'n mens ook die geleentheid om meer te wete te kom van wat hulle glo, wat ook noodsaaklik is as 'n mens die evangelie aan hulle wil verkondig.