Hoe gevaarlik is die Islam?
Hoe gevaarlik is die Islam?
Op 11 September 2001 is die wêreld geskud deur die aanslae op die Twin Towers in New York. Na die tyd het die Amerikaanse regering oorlog verklaar teen “internasionale terrorisme”, maar tegelyk moeite gedoen om nie die Islam as sodanig te impliseer nie. “Ons baklei nie teen die Moslems nie, maar teen ʼn groep terroriste”, het president Bush gesê. “Die Islam is ʼn vredeliewende godsdiens”, het Moslemleiers ons probeer gerusstel.
Tog bly daar ʼn ongemaklike gevoel. As nie alle Moslems terroriste is nie, hoekom was die betrokke terroriste dan almal Moslems? Kon die terroriste ook Hindoes of Boeddhiste gewees het, of het hulle dade tog iets te doen met die feit dat hulle Moslems was? Is dit maar net ʼn ekstremistiese groepie wie se dade ʼn mens nie op die rekening van die Islam as geheel mag skryf nie? Of is daar dalk in die Islam tog iets wat aanleiding gee tot hierdie tipe militante optrede?
Dit is nie maklik om die Islam te beoordeel nie, en dit help ook nie om met karikature te werk nie. Dit is nie so dat elke Moslem ʼn potensiële terroris is nie. En ook nie dat elke tweede Moslem ʼn vroueslaner is nie. Nie alle Moslems is ekstremiste wat deur ʼn intense haat teen die Christendom gedryf word nie.
Bedreiging⤒🔗
Tog moet ons stel dat die Islam beslis ʼn bedreiging vir die Christendom is. Die Islam is eerstens ʼn geestelike bedreiging omdat dit ʼn missionêre godsdiens is. Moslems het ʼn sendingywer. Dit is hulle opdrag om ander mense op te roep om hulle tot Allah te bekeer. En as hulle die oorhand kry, is die gevaar groot dat hulle dwangmaatreëls gebruik om hulle godsdiens se belange te bevorder.
Dit hang saam met ʼn belangrike kenmerk van die Islam: Die Islam ken nie ʼn skeiding van kerk en staat nie. Die hele lewe, ook die owerheid, moet deur die godsdiens beheers word. As die Islam die oorhand in ʼn land kry, is die gevolg dikwels dat die sogenaamde ‘sjaria’-wette ingevoer word (soos byvoorbeeld onlangs in dele van Nigerië gebeur het).
In die tweede plek is dit tog so dat die Islam ʼn aggressiewe streep in hom het. Die meeste Moslems is sonder twyfel vredeliewende mense, maar daar is ook strydlustiges onder hulle. In die Islam is daar baie verskillende strominge, van gematig tot ekstreem, van vredeliewend tot militant.
Enigiemand wat onlangs die TV-beelde gesien van die Indonesiër Amrozi wat meer as tweehonderd mense se dood veroorsaak het met ʼn bomaanslag op Bali, sal verstaan wat met ekstremisme bedoel word. Toe die doodvonnis oor hom uitgespreek is, het “the smiling bomber” triomfantelik omgedraai en met ʼn breë glimlag sy duim opgesteek na sy advokate. Dit was duidelik dat hierdie man hoegenaamd geen berou oor sy dade het nie. Hy het dit alles vir Allah gedoen.
Ekstremisme←⤒🔗
Die groot vraag is nou: Is hierdie ekstremisme in lyn met die beginsels van die Islam? Of beweeg dit buite die grense van die Islam-teologie? Die probleem is dat die Koran verskillende denkrigtings toelaat. Die Koran bevat vredeliewende maar ook militante uitsprake. Daar is vredeliewende woorde in die Koran, byvoorbeeld die dikwels aangehaalde uitspraak: “Laat daar geen dwang in die godsdiens wees nie” (Soera 2:256). Die Koran sê ook dat ‘die gelowiges’ (d.w.s. Moslems) sal agterkom dat Christene hulle dikwels goedgesind is.
Maar daar is ook verse wat ʼn meer militante houding weerspieël. In Soera 9:5 is daar ʼn oproep om nie-Moslems dood te maak: “Maak hulle dood waar julle hulle aantref…” En in Soera 9:29 staan daar: “Bestry diegene wat nie in Allah en in die Laaste Dag glo nie, en wat nie as verbode beskou wat Allah en sy Profeet as verbode gestel het nie.”
Radikale Islam-teoloë redeneer dat laasgenoemde verse van ʼn later datum as eersgenoemde is en dus eersgenoemdes vervang. Dit sou dan beteken dat die Koran die militante benadering sanksioneer.
Behalwe die feit dat die Koran as militant geïnterpreteer kan word, moet ons ook besef dat die Koran nie die enigste bron vir die Islamitiese geloof nie. Naas die Koran is daar ook die Hadith. Dit is die geïnspireerde verslag van die woorde en dade van Mohammed wat ʼn hoë aansien geniet by Moslems. Verder gebruik Moslem-teoloë ook geskrifte uit die Islamitiese tradisie om standpunte te bepaal.
Bowendien is daar nog die stroom Islamitiese geskrifte wat oor die jare verskyn het. ʼn Rigting wat in die 20ste eeu sterk geword het, is die Islam-fundamentalisme. Dit is basies ʼn reaksiebeweging teen (Westerse) sekularisasie wat die oplossing soek by ʼn terugkeer na die ‘fundamentele’ beginsels van die Islam. Die militantes is waarskynlik slegs ʼn klein groep onder die fundamentaliste, maar dit lyk of hulle sterker word.
Die Islam-ekstremisme het sy eie leiers en sy eie geskrifte. ʼn Bekende skrywer is die Egiptenaar Syed Quth wat in totaal 24 boeke geskryf het. Hy is in 1966 in sy eie land tereggestel maar het daarna martelaarstatus by sy volgelinge gekry. Militante Moslems gebruik nie alleen die Koran as rigsnoer nie, maar ook die boeke van ‘heilige manne’ soos Syed Quth.
Jihad←⤒🔗
Daar is baie vrae oor die begrip ‘jihad’. ‘Jihad’ staan algemeen bekend as ‘heilige oorlog’. Gematigde Moslems sê dat die woord iets anders beteken, naamlik om die saak van Allah te bevorder deur persoonlike toewyding aan hom. Dit mag dalk die letterlike vertaling wees, maar dit is veelseggend dat die woord ‘jihad’ gewoonlik in die konteks van die stryd teen nie-Moslems gebruik word. Daar moet stryd gevoer word teen heidene, Jode en Christene. Die wat nie wil bekeer nie, mag bly lewe, maar hulle moet ʼn spesiale belasting betaal.
Islamitiese geskrifte verwys dikwels na die heilige oorlog. In die Koran lees ons dat diegene wat in die heilige oorlog sneuwel die hoogste beloning sal ontvang: “Moenie dink dat diegene wat op Allah se weg gedood word, regtig dood is nie. Nee, hulle lewe in die teenwoordigheid van hul Heer.” (3:169) En ʼn ander vers: “Hy wat op die weg van Allah stry en dan gedood word of oorwin, sal ʼn ontsaglike loon ontvang.” (4:74)
Dit beteken egter nie dat mense gewoonlik met die swaard tot die Islam bekeer word nie. In Westerse lande, insluitende Suid-Afrika, het die Islam intussen miljoene aanhangers gekry, sonder dat mense gedwing is om Moslem te word. Volgens Islamitiese voorskrifte mag die ‘mense van die Boek’ (Jode en Christene) nie gedwing word om Moslem te word nie. In Islamitiese state sal hulle egter tweederangse burgers wees.
Verbod←⤒🔗
Is daar vryheid van godsdiens onder die Islam? Tot ʼn mate, ja. Jode en Christene sal oor die algemeen nie gedwing word om hulle godsdiens prys te gee en Moslems te word nie. Aan die ander kant is dit so dat Christelike sending in die meeste Islamitiese lande verbied word.
Bowendien is ʼn Moslem nie vry om Islam vaarwel te sê en na ʼn ander godsdiens oor te gaan nie. Dit kan selfs lewensgevaarlik wees. Een van die mees gerespekteerde Islamleiers van die laaste eeu, die Pakistanse teoloog Maududi, het gesê dat sowel die Koran as die Hadith die doodstraf eis vir iemand wat afvallig word. Die Koran sê: “Sal julle dan nie stry teen diegene wat hul ede verbreek het nie?” (9:13) En die Hadith word soos volg aangehaal: “Enigiemand, ʼn gelowige (Moslem), wat sy godsdiens verlaat, moet doodgemaak word.”
As konklusie kan ons vasstel dat die Moslems nie almal militante ekstremiste is nie. Maar dit is duidelik dat die Islam as sodanig wel die saad van aggressie in homself ronddra. Diegene wat ekstremiste is, kan hulle beroep op uitsprake in die Koran en in talle heilige geskrifte en boeke van Moslemleiers.
Terrorisme←⤒🔗
In die lig hiervan kan met reg die vraag gevra word of die Weste op ʼn goeie manier gereageer het toe hulle oorlog verklaar het aan ekstremiste soos Osama bin Laden maar stelselmatig vermy het om na die Islam as sodanig vinger te wys. Politieke leiers het gepraat van ‘internasionale terrorisme’ maar dit was nie polities korrek om van ‘Islamitiese terrorisme’ te praat nie. Die VSA het met mag en mening in Afghanistan ingeklim om die Al Qaida-beweging te probeer uitskakel. Die wortel van die probleem, naamlik die feit dat daar ʼn ingebore veroweringsdrang in die Islam sit, is egter nie aangespreek nie.
Mohammed het sy volgelinge geleer dat alle godsdienste voor hom, insluitend die Jodedom en die Christendom, in hulle tyd goed was, maar dat die Islam die finale en universele godsdiens is. Moslems glo stellig dat eens die hele mensdom die Islam sal omhels, Allah sal aanbid, en Mohammed as profeet sal erken.
Vandag het reeds meer as veertig lande ʼn Moslem-meerderheid. Moslemleiers het gesê dat dit hulle doel is om die Islam in die Weste te versprei sodat die Islam eendag die dominerende krag in die wêreld kan word. ʼn Bekende uitspraak sê: “Die Christendom is gerig op die bekering van die wêreld. Die Islam is gerig op die verowering van die wêreld.” Dit is ʼn treffende verskil.
Dar al-harb←⤒🔗
Die bekende Nederlandse sendingwetenskaplike prof. Jan Jongeneel het die aandag daarop gevestig dat Islamitiese geleerdes die wêreld in twee dele verdeel: Aan die een kant is daar die dar al-islam, die grondgebied van die Islam. Aan die ander kant is daar die dar al-harb, die grondgebied van die stryd. Volgens Islamitiese teologie is die dar al-harb al die lande waar die Islam nog in ʼn stryd gewikkel is om beheer oor te neem. Hierdie stryd is veral ʼn geestelike stryd, maar dit kan soms ook die vorm van ʼn gewapende stryd aanneem.
As ʼn mens tans die gebeure in die wêreld bekyk, kan ʼn mens die frontlyne duidelik sien: In Afrika is dit Nigerië en Soedan, in Europa is dit Kosovo en Tsjetsjnië, in Asië is dit Indonesië en die Filippyne.
Prof. Jongeneel meen dat ons sake duidelik moet stel: Of ons dit wil erken of nie, ons is in ʼn stryd met Islamitiese Imperialisme gewikkel.
Prof. Jongeneel is nie gelukkig met die Weste se reaksie op die 11 September aanslae nie. Die VSA se oorloggie in Afghanistan beteken nie veel nie en doen waarskynlik meer skade as goed. Die werklike front lê in die Westerse lande self (die dar al-harb, die grondgebied van die stryd), maar die Weste besef dit nie. Moslems mag in Westerse lande vrylik hul godsdiens beoefen en hulle beginsels uitdra, terwyl in Islamitiese lande (die dar al-islam) dieselfde voorregte nie aan Christene gegun word nie.
Jongeneel stel voor dat Westerse politici ernstig na hierdie saak moet kyk en dat daar ʼn koppeling gemaak moet word tussen die regte en vryhede van Christene in Islamitiese lande en die regte en vryhede van Moslems in Westerse lande. Konkreet stel hy twee maatreëls voor:
- Die bou van moskeë in Westerse lande moet verbied word tot tyd en wyl die bou van kerke in Islamitiese lande toegestaan word.
- As daar ʼn kerkgebou in ʼn Islamitiese land verwoes word, moet daar ʼn moskee in ʼn Westerse land tydelik gesluit word totdat die betrokke kerkgebou weer herstel is.
In hoeverre hierdie voorstelle vanuit ʼn politiese perspektief realisties is, is ʼn ope vraag. Maar dit is goed dat die aandag op die Islam se ingewortelde veroweringsdrang gevestig word. Die aanslae op die Twin Towers in New York het byna die effek gehad dat die Weste wakker geskud is uit sy drome, maar daarna is almal weer gou-gou in slaap gesus deur die versekering dat Moslems “nie almal so is nie”. Ongelukkig is die basiese probleem nog nie raakgesien nie, naamlik dat die Islam as sodanig wel “so” is.
- Jan AB Jongeneel, Islamitisch imperialisme. Artikel in Ellips, Tijdschrift van de Evangelische Hogeschool, Maart 2002.
- Warren Larsen, How Islam Sees Itself. Artikel in Evangelical Missions Quarterly, Oktober 2002.