Bron: Kompas, 2006. 3 bladsye.

Vergewing Binne die Islam

Isalam

Het u al op ʼn Vrydagmiddag ʼn moskee besoek en na die preek geluister? As Christen sou u waarskynlik bekende klanke gehoor het. Sinsnedes soos:

Lof aan Allah. Ons prys Hom, ons vra vir vergewing en hulp; vol berou kom ons tot Hom om ons vertroue alleen op Hom te stel.

Die oproep tot vergewing word voortdurend in die lewe van die moslems gehoor. Die hoogtepunt van die vergewing is die pelgrimsreis na Mekka. ʼn Vaste onderdeel daarvan is die besoek aan die Berg van Genade in die vlakte van Arafat. Daar smeek die moslems hartstogtelik om vergewing.

In feite word die vraag of vergewing ʼn bekende begrip by die Islam is, hiermee bevestigend beantwoord. Tog is dit nie so maklik nie. Dit is belangrik om te besef wat die moslems bedoel met vergewing en hoe hulle dit ontvang. Op hierdie gebied is daar naamlik ʼn groot verskil tussen die Islam en die Christendom. Alhoewel die woorde en begrippe rondom vergewing bekend klink, het dit verskillende betekenisse.

99 Skoonste Name🔗

Die moslems gebruik ʼn ketting van krale as hulpmiddel by die gebed of meditasie, die sogenaamde soebha. Dit laat ʼn mens dink aan die rosekrans wat die Rooms-Katolieke gebruik. Daar is 99 krale in die soebha. Dit is nie ʼn willekeurige getal nie. Allah het naamlik 99 “skoonste name”. Oor die gebruik van hierdie name lees ons in die Koran die volgende (7, 180):

 Die mooiste name kom Allah toe, roep Hom daarmee aan.

In hierdie lys van skoonste name is daar drie wat betrekking het op vergewing: al-Ghafoer (die vergewingsgesinde), al-Ghaffar (Die vergewer) en al-‘Afoe (Die skenker van vergifnis). Veral die eerste twee name toon baie ooreenkomste met die woorde wat in die Ou Testament gebruik word vir die “bedekking” van die sonde; versoening en vergewing. Dit kom ook voor in die naam Yom Kippoer (Groot Versoendag).

Moslems en Christene gebruik baie keer dieselfde woorde. Dit is nie vreemd wanneer ʼn mens besef hoe die Islam ontstaan het nie. Mohammed het aanklank gesoek by die Jode sowel as die Christene. Beide Jode en Christene ken die begrip “vergewing van sondes deur versoening”. Tog het hierdie begrippe ʼn eie betekenis binne die konteks van die Islam. Om dit te verstaan moet ons terug gaan na die ontstaan van die Islam.

Geen Versoeningsleer Binne die Islam🔗

Die woord “versoening” kom wel voor in die Koran. Dit handel veral oor die versoening tussen mense onderling eerder as versoening tussen Allah en die mens. Soera 4, 35 handel oor ʼn twis tussen man en vrou. ʼn Skeidsregter moet seker maak dat hulle weer versoen. Gelowiges wat in onmin met mekaar lewe word opgeroep om vrede te sluit. Die dogma van versoening tussen God en mens ken hulle nie.

Die feit dat daar nie ʼn versoeningsleer is nie hang ten nouste saam met die Moslem se visie oor Allah. Hulle ontken ten sterkste die Drie-Eenheid. Dit is een van die grootste struikelblokke tussen die Islam en die Christendom. Gelowiges wat Jesus bely as die Seun van God, begaan ʼn onvergeeflike sonde, so glo die moslems. Jesus kan dus ook nie Middelaar wees tussen God en die mens nie. Volgens die Islam kan Jesus dus ook nie die sonde van die ganse wêreld dra nie. Met hierdie opvattings verdwyn die dogma van die versoeningsleer wat leer “versoening deur voldoening”.

gebed Islam

Wanneer die Koran oor vergewing praat het dit ʼn ander betekenis as die Christelike versoeningsleer. Allah se vergewing hang saam met sy geregtigheid, dit wil sê: Allah vergewe op grond van goeie werke. ʼn Mens kan dus jou vergewing verdien. Hou dit altyd in gedagte wanneer jy in die Koran lees oor vergewing. Dit mag baie Bybels klink maar daar is ʼn hemelsbreë verskil. Neem bv die tekste uit die hadieth. Die hadieth is die woorde van Mohammed en sy metgeselle. Ek haal aan uit Hadieth Qudsi 34:

O kind van Adam, solank jy ʼn beroep op my doen en my vra, sal ek jou vergewe wat jy gedoen het. O kind van Adam, al was jou sondes tot by die wolke van die hemel, as jy my sou vra, sou ek jou vergewe. O kind van Adam, wanneer jy tot my kom met sondes so groot soos die aarde, sou ek jou vergewing gee so groot soos die hele aarde.

Hierdie woorde klink byna Bybels. Tog het die woorde sonde en vergewing ʼn ander betekenis as by die Christendom. Volgens die Islam kan ʼn mens goed doen. As jy te min goed doen is dit sonde. Sonde is ʼn fout wat reggestel moet word. Die Islam weet nie van die erfsonde en ʼn totale verdorwenheid van die mens nie.

Enersyds klink die Islam soos die Jodedom en Christendom. Andersyds het hierdie bekende begrippe ʼn totaal ander betekenis gekry. Hoe het dit gebeur? Kom ons kyk hoe die Islam ontstaan het.

Mohammed soek Aansluiting by Jode en Christene🔗

Mohammed het nie ʼn maklike jeug gehad nie. Sy vader was reeds oorlede toe hy gebore is. Op sesjarige ouderdom verloor hy ook sy moeder. Hy was dus ʼn wees en daarom baie sensitief vir onreg en onbarmhartigheid in die samelewing. Teen hierdie agtergrond moet ons sy ontwikkeling sien as hanief. ʼn Hanief was ʼn sogenaamde godsoeker wat hom afgekeer het van die Arabiese veelgodedom en gesoek het na die een ware god. Mohammed het nie goeie ervarings gehad met die burgers van Mekka en hulle godsdiens nie. Baie van hulle het hulself verryk ten koste van die weduwees en wese. Hulle het geglo dat hulle nooit daaroor verantwoording hoef te doen nie. Daar was geen sprake van ʼn oordeelsdag nie. Na die dood is alles verby…

Daarom het Mohammed aangetrokke gevoel tot die Jodedom en Christendom. Jode en Christene het elkeen een God gehad, ook het hulle geglo in die oordeelsdag. Elkeen moet verantwoording doen vir sy dade. Mohammed het geglo dat geloof in een God regverdigheid beteken terwyl die veelgodedom sinoniem was met sosiale onreg en wantoestande in die samelewing.

So het Mohammed in die jaar 622 afgereis na Medina om hulp te soek by die Jode in sy stryd teen die afgodsdienaars in Mekka. Hy het sy volgelinge opgedra om te bid met hulle aangesigte in die rigting van Jerusalem. Sy dissipels moes vas op die Groot Versoendag. Hierdie laaste opmerking is belangrik vir ons onderwerp. ʼn Mens sou verwag dat Mohammed bekend sou wees met die Bybelse versoeningsleer. Tog was dit nie die geval nie. Daarvoor is verskeie redes.

In die eerste plek het die offers op die Groot Versoendag verdwyn met die verwoesting van die tempel in Jerusalem 70 n.C. Die tempeldiens op die Groot Versoendag is toe vervang met vas, gebede en goeie werke. Mohammed het dus nooit die belangrikste aspek van die Groot Versoendag nl. die offer in die tempel, geken nie. Ons moet ook in gedagte hou dat die Bybel in Mohammed se tyd nog nie in Arabies vertaal was nie.

Mecca

Mohammed Volg Sy Eie Koers🔗

Na die oorwinning van Badr in 624 het Mohammed nie meer die Joodse hulp nodig nie. So kom sy verbintenis met die Jode en daarmee saam sy verbondenheid met die Joodse godsdiens op ʼn einde. Later kom Mohammed in aanraking met Christene en leer hy die evangelie van Jesus Christus ken. Dit word bevestig deur die feit dat Jesus op verskeie plekke in die Koran genoem word. Waarskynlik was Mohammed nie bewus van wat die apostel Paulus geskryf het oor versoening deur voldoening nie.

Ongetwyfeld het Mohammed deur die loop van die jare die evangelie van Jesus Christus beter leer ken. Maar in daardie stadium van sy lewe is die beginsels van sy leer reeds sodanig gevestig dat daar nie meer verandering moontlik is nie. Inteendeel; in die Koran word ten sterkste ontken dat Jesus aan die kruis gesterf het. In soera 4, 157 lees ons: “Hulle het hom nie doodgemaak nie en hulle het hom nie gekruisig nie, dit is ʼn versinsel”. So het Mohammed die kern van die evangelie ontken.