Sondag – Dag van die Here, Heerlike Dag
Sondag – Dag van die Here, Heerlike Dag
⤒🔗
Aktualiteit←⤒🔗
In die Nederlandse samelewing het, soos in Suid-Afrika, die Sondag ʼn geweldige verandering ondergaan deurdat die siening van arbeid op Sondag verander het. Wetgewing is vervang of vernuwe. Vroeër het gegeld dat slegs met vergunning van die owerheid op Sondag gewerk mag word. Maar nou mag werkgewer en werknemer hiervan afwyk as die aard van die werk of die ekonomiese omstandighede dit vereis. Winkeltye is meer buigbaar sodat dit by geleenthede op Sondag oop mag wees. Dit word ʼn saak van individuele en kollektiewe bedinging. Die individuele werknemer mag Sondagarbeid weier as hy dit betyds te kenne gee.
In die opsig gaan dit in Nederland nog beter as in ons eie land. Tog kom Sondagswerk as gevolg van tegnologie, internasionalisering en ekonomiese belang toenemend in Nederland voor. Die onderskeiding van noodsaaklike en barmhartigheidswerk is al hoe moeiliker om te handhaaf. Die praktiese toepassing van die vierde gebod is dikwels nie voor-die-hand-liggend nie. Met hierdie artikel word twee dele uit die rapport aan die algemene sinode en aan die kerke saam as hulpmiddel gegee: “onderwijs en getuigenis” en ʼn “praktische handreiking”. Die relevansie hiervan vir ons eie situasie is duidelik.
Christus die Heer oor die Sabbat←⤒🔗
Die vierde gebod geld ewe veel vir die Ou as die Nuwe Testament. Die nuwe testamentiese gemeente “vertaal” die tien gebooie wel in die “taalkleed” van die nuwe verbond. En die Here Jesus noem Homself die Heer oor die sabbat, maar Hy spreek Homself nie uit oor die rusdag of die rusgebod in die Nuwe Testament nie.
Vanuit Christus se persoon en werk word die vierde gebod deur ons uitgelê ten opsigte van die liefde wat gestalte kry in die genieting van die rus wat Hy aan sy volk skenk, op grond van sy verlossingswerk wat Hy voldoen het. Deur rus op die eerste dag van die week versterk ons ons geloof in die naam van Jesus Christus. Ten opsigte van die naaste blyk ons liefde daarin dat ons rus gun aan almal wat aan ons sorg toevertrou is en dat ons as gemeente saamkom om in die geloof en liefde onderwys en opgebou te word.
Waarom dan op die sewende dag en nie op die eerste dag rus nie? Omdat die nuwe in Christus gekom het. Die nuwe is in die opstanding van Christus die Middelaar van die Nuwe Verbond wat deur sy bloed die sonde en dood deurbreek het. Christus het die sabbat vervul. Hy wat die sabbat vervul het, het opgestaan uit die dood op die eerste dag van die week.
Verby is dus die sewende dag met sy tydsindeling en feeskalender, die karakter van oortreding en doodstraf, die naam van en binding aan die sabbat. Nuut en blywend van die vierde gebod is die instandhouding van die herdenking en viering van die spesiale dag van Christus se opstanding in die samekoms van die gemeente en daarmee saam die vernuwing na die beeld van Christus en in die navolging van Hom. Voorts die heiliging van die Sondag en wel daarin dat een dag opsy gesit word vir die saamkom en viering van die rus in Christus. Daarby kom ook om die rus van eie werk deur God se genade te geniet, in skepping en versorging sowel as in verlossing en heiliging: by Christus word waarlik rus gevind (Matthéüs 11:28-29), die gemeente moet deur God se Woord opgebou word om sy rus binne te gaan (Hebreërs 4). Die werkweek moet gestempel word deur die viering van die heil, die onderwys van die Skrif en die gebede. Die nuwe vryheid word beleef in ʼn lewe na God se bedoeling, waarby God se hele volk in een gemeente saamkom – die gemeente gee aan die vryheid en diensbaarheid vorm in die samekomste.
In die Kerkgeskiedenis←⤒🔗
Uit die Skrifgegewens en die vroeë kerkgeskiedenis word dit duidelik dat die kerk geleidelik vir die Sondag in plaas van die sabbatdag gekies het. Dit is nie duidelik of die apostels die viering van die Sondag onderwys het nie. In die eerste twee eeue is beide die Sondag en die sabbat gevier. Die wetgewing van keiser Konstantyn in 321 om die Sondag ʼn vrye dag in die Romeinse ryk te maak, was ʼn belangrike ontwikkeling. Dit het egter nie op ʼn teologiese uitleg of toepassing van die sabbatsgebod berus nie. Augustinus het wel die tien gebooie as norm vir die Christelike lewe deurdink, maar lê dan die sabbatsgebod vergeestelik uit. Die rus van die daaglikse werk het nie aandag gekry nie, maar die rus van die sondige werke. Thomas van Aquino in die Middeleeue wys wel op die morele aspekte van die vierde gebod en die plig tot Sondagsrus.
Calvyn het die Sondag nie sonder meer op die vierde gebod baseer nie. Die Sondag is nie ʼn verplaaste sabbat nie. Die vierde gebod is vir hom seremonieel van aard, ʼn uiterlike teken wat in Christus vervul is. God se rus na die skepping is wel ʼn voorbeeld vir ons maar geen skeppingsinstelling nie. Wel moet daar een dag wees vir diens aan God.
Sondag 38 van die Heidelbergse Kategismus veronderstel deur die gebruik van die ou testamentiese naam “sabbat” en die toevoeging “rusdag” die rus van die daaglikse werk soos dit in die Christelike samelewing vanaf Konstantyn gebruiklik was. Terselfdertyd is die inhoud van die rusdag nie die rus van die daaglikse werk nie, maar die ruimte om met God se gemeente saam te kom.
Die tweede Helvetiese Konfessie (Heinrich Bullinger) bely dat die Sondag deur die kerk gekies is as dag van samekomste en rus. Die uitgangspunt word nie in die vierde gebod gevind nie.
Die Dordtse sinode van 1618-1619 het ses reëls opgestel wat onderskei tussen seremoniële en morele aspekte van die wet – die eerste sou verbygaan en die tweede geldig bly. Vanuit Christus gesien is die onderskeiding nie te handhaaf nie. Dit is die swakte van die reëls: oor die Sondag word daar nie gespreek as dag van Christus se opstanding nie. Daar sou ook afgelei kan word dat die keuse van die Sondag willekeurig is. In die sewentiende eeu het daar ʼn groot stryd ontstaan oor die teologiese fundering van die Sondag as rusdag.
Die Westminster Konfessie bely dat God ooreenkomstig die natuurwet een dag uit sewe as besondere sabbat aangewys het. Dit geld vir alle mense gedurende alle eeue. Die dag van die Heer (opstanding) moet as Christelike sabbat onderhou word. Sondagsetiek is deur die Puriteine in Engeland op die sabbatsheiliging betrek.
Die Vierde Gebod en die Rus van die Daaglikse Werk←⤒🔗
Vandag is die wetgewing losgemaak van die gebooie van God. Die Sondag is vir baie nog ʼn dag vry van hulle daaglikse werk, maar nie die dag van die Here wat deur die owerheid beskerm word nie. In die ekonomiese lewe word daar ook al hoe meer druk op die Sondag as handel- en werkdag geplaas.
In die Ou Verbond was die sabbat en die sabbatsjaar op ʼn besondere wyse verbind aan die lewe in die beloofde land. Maar na Pinkster gaan die evangelie oor grense. God se volk leef in samelewings wat nie deur die evangelie gestempel is nie. Die Nuwe Testament lê ook nie ʼn direkte verband tussen die viering van die eerste dag van die week, die vierde gebod en die rus van die daaglikse werk nie. Uit die karige dokumentasie wil dit voorkom of die gemeente in die eerste drie eeue dikwels in die oggend en aand, voor en na die werksdag, samekomste gehad het.
Die spits van die vierde gebod is vir die Christelike gemeente nie in die rus van die daaglikse werk as sodanig nie, maar die rus in die Skepper en Verlosser, die diens aan en liefde tot God en die gemeenskap van die gelowiges in Christus. Hieraan word reg gedoen wanneer die (kerklike) lewe so georden word dat daar op Sondag die maksimum ruimte en tyd is vir die samekomste en rus en vryheid van die daaglikse werk en bedrywigheid.
Omdat die owerheid die aspek van rus op Sondag nie meer in wetgewing reël nie, behoort die gemeente haar nog meer in te span om hierdie ruimte te maak. In die lig van hierdie inspanning is die “onderwijs en getuigenis” en die “praktische handreiking” van die deputate ʼn pragtige hulpmiddel aan die kerke. Die verkondiging van die evangelie behoort sentraal te staan. Christus nooi self die vermoeides om by Hom, die Heer van die sabbat, tot rus te kom en so te rus van daaglikse arbeid.
Die Sondag en ʼn styl van Sondagsheiliging is nodig om volk van God te wees en te beleef, om die sabbat van die Here te gedenk en te geniet, om in die eenheid in Christus gemeenskaplik gevorm te word, om nuwe mense te word. Vanuit die gemeente moet die evangelie ook na die owerheid en die samelewing uitgedra word, want al word dit verwerp strek God se verlossing oor die wêreld uit.
Onderwys en Getuienis←⤒🔗
Die deputate gee ʼn samevatting onder die opskrif: “Zondag, Heerlijke dag”, as onderwysing en getuienis – hulle vergelyk dit met die onderwysing in die liturgiese formuliere in struktuur en opset, al is dit nie vir die doel geskrywe nie.
Die uiteensetting is soos volg ingedeel:
1. Christus, Heer ook van die Sabbat←↰⤒🔗
Christus is Heer van die sabbat, Matthéüs 12:8. In Hom is die vervulling van die Ou Testamentiese rusdag. Hy nooi vermoeide en belaste mense uit om tot Hom te kom en rus te vind vir hulle siele, Matthéüs 11:28-30. In sy persoon word die volle werklikheid van die vierde gebod gesien. Christus verwoord God se skeppingsbedoeling met die rusdag: die sabbat is gemaak vir die mens, Matthéüs 2:27. Die rusdag is bedoel om die mens rus te laat vind in sy Skepper en om die verlossing van slawerny en sonde te vier, Eksodus 20:8-11, Deuteronomium 5:12-15. Jesus stel ook die voorbeeld deur op die sabbat die samekoms in die sinagoge te besoek.
2. Sondag, Dag van die Kerk←↰⤒🔗
Op die eerste dag van die week het Christus uit die dood opgestaan en aan die vroue en aan sy dissipels verskyn, Matthéüs 28, Markus 16, Lukas 24, Johannes 20, 21. Ook op die eerste dag van die week gee Hy aan sy gemeente lewe en geloof deur die Heilige Gees op Pinkster uit te stort. Die Christelike kerk het op die eerste dag saamgekom om die Woord van die opgestane Heer te hoor en brood te breek, Handelinge 20:7, tot God te bid en aan die gemeenskap gestalte te gee, 1 Korinthiërs 16:1-2. Ons moet mekaar aanspoor om die samekomste nie te versuim tot op die dag van Christus se terugkoms, Hebreërs 10:25. Op die nuwe aarde sal die sabbatsrus ten volle geniet word, Hebreërs 4:9-10, Openbaring 14:13.
3. Rus en Viering←↰⤒🔗
Teenoor die tendense by owerheid en maatskappy om die Sondag se besondere karakter af te skaal, word getuig dat die Skepper die ritme van werk en rus aan die mense gegee het, Eksodus 23:11, en dat die Verlosser ons vrygekoop het uit die mag van die sonde en ons in sy gemeente tot heil roep. Die Sondag word dus gehou tot eer van die opgestane Heiland en as dag van die Christelike gemeente. Die viering van die Sondag moet so vorm kry dat dit ʼn aantreklike beeld vertoon van rus by God en gemeenskap met mekaar. Op die Sondag sal dus gerus word van die daaglikse werk, Jesaja 58:13. Uiteindelik is die doel om elke dag te leef van die rus wat ons in Hom het.
Praktiese Hulpmiddel←⤒🔗
Die deputate gee praktiese riglyne aan die hand van voorbeelde uit en met verwysing na ons daaglikse lewe. Die gevaar van moralisme word grootliks vermy deurdat die riglyne vanuit die skriftuurlike en Christosentriese deurdenking van die vierde gebod en die Sondag gegee word. Eers word die rus van werk, maar ook van sonde bespreek en hoedat die Sondag vanuit die geloof in Christus gevier behoort te word in die samekomste van die gemeente. Ook die onderwys aan die jeug word beklemtoon.
Reëlmatige Sondagarbeid word afgewys en riglyne gegee om dit te beoordeel. Hierin behoort die gemeente ook barmhartig en liefdevol met mekaar om te gaan.
Soos die gemeente ruimte maak vir die viering van die Sondag, so behoort dit ook in die huise gedoen te word. Huisreëls kan hierin die steun bied om die rus en die vrede op die dag van die Here te vind en te reël. Die Gees maak die ruimte in ons harte en deur huisreëls word ons kinders geleer om persoonlik vorm te gee aan die Sondagsrus.